Hier volg die “Audio”:
Hoofstuk 4
Daar is baie mense wat glo dat ons nie in ’n vervloeking kan leef nie omdat Jesus gesterf het vir die mensdom se sondes. Hulle glo dat almal outomaties gered en verlos is en dat daar geen vloeke op ’n mens se lewe kan wees nie. Hulle glo dat wanneer ‘n mens kerk toe gaan en met die mond bely om in Jesus te glo, die mens gered en verlos is, maar nou het ons gesien dat die meeste mense wat bely om in God te glo, alleenlik met die mond bely en nie met die hart nie. Omdat hulle nie in Jesus glo met die hart nie, is dit vals belydenis wat hulle net nog sterker vasketting in die duisternis. Mense wat glo dat ons nie in ’n vervloeking kan leef nie, is uiters naïef. Hulle glo God is ’n God van liefde wat aan ons net goed wil doen, en ek stem saam… God is ’n God van Liefde, maar God is ook ’n jaloerse God en Hy deursoek elke persoon se hart – Hy weet of die persoon glo met die mond en of hy glo met die hart. God gaan Hom nie om die bos laat lei of Hom laat flous deur die mond van die mens nie en diegene wat die Woord van God ken, sal dit ook agterkom.
Jesus se sterfte het nie die duistere toestand uitgekanselleer nie! Jesus se sterfte het nie ieder en elkeen se sondes op die daad vergewe en die mens verlos en gered nie. Jesus se sterfte het nie gemaak dat elke mens in die Lig-toestand van God ingebore word nie. Ek weet dit word in ons koppe ingeprent vandat ons klein is, maar dit is die leuens van Satan wat die mensdom op strepe na die hel lei. Jesus se sterfte aan kruis het soveel groter betekenis as wat die mens geleer word. Die gehoorsame sterfte van Jesus het vir die mensdom ’n deurgang geskep sodat die mens wat sterf aan die self, kan deurbeweeg na die Lig-toestand van God. Alleenlik hier (in die Lig-toestand) kan die mens ’n ware verhouding met Abba Vader hê. Met Jesus se sterfte, is Sy Gees vrygestel om die mens wat opreg is van hart, in staat te stel om te beweeg na die Lig-toestand van God. Die mens wat nog nie deur die kruis beweeg het na die Lig-toestand van God nie, is nog nie gered of verlos van die sonde, die dood of die bose nie. Hulle funksioneer nogsteeds in die duisternis met ’n vloek wat oor hulle lewens baasspeel deurdat hulle aangaan met die godsdiens, reëls en sondes van hulle voorouers en nie daarmee breek nie.
DIE MENS ONTVANG NIE OUTOMATIESE VERLOSSING VAN DIE KETTINGS, BANDE, VERVLOEKING, DOOD EN BOSE OMDAT JESUS GESTERF HET AAN DIE KRUIS NIE!
As dit so maklik was en die hele wêreld gered en verlos is deur die kruisiging van Jesus, hoekom het Jesus dan so klem gelê op die feit dat enigiemand wat agter Hom wil aankom, homself moet verloën, weer gebore moet word, sy kruis moet optel en Hom moet volg? Jesus sou nie so klem daarop gelê het as ons sommer net outomaties verlossing ontvang het deur Sy dood nie.
Met ander woorde, die mens het sy eie omgewing vervloek en dit is geensins anders in vandag se tyd nie… Ons sondes veroorsaak ’n vervloeking oor onsself en ons lewe. God sê in Romeine 1:24 in Die Boodskap dat Hy Sy Naam nie deur die modder sal laat sleep nie, daarom het Hy besluit om die mense vir hulle sonde te straf deur hulle aan hulle eie lot oor te laat. Wanneer die mens aan sy eie lot oorgelaat word, moet hy woon in die vervloeking wat hy self geskep het. Ongelukkig het ons voorouers se sondes en rebellie teen God alreeds ’n vervloekte atmosfeer geskep in die boksie waarin ons gebore word. Ons word grootgemaak in hierdie vervloekte boksie. Ons moet begin besef dat ons vasgevang is in bande en kettings en dat ons in ’n vervloeking leef, want wanneer ons dit besef en volwasse genoeg is om dit te erken, kan ons op ’n punt kom waar ons ons sondes sal raaksien en daarmee breek in ’n poging om te ontsnap uit die vervloekte omgewing.
Kyk die woorde van Deuteronomium 28 oor seëninge en vloeke:
“As jy dan goed luister na die stem van die Here jou God om sorgvuldig te hou al Sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die Here jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. Hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die Here jou God.” Deuteronomium 28:1,2 (AFR33/53)
Lees gerus die lys seëninge wat volg in Deuteronomium 28 wat oor ons sal kom wanneer ons God gehoorsaam. Net so sal ons ’n vervloeking smaak as ons ons nie steur aan God nie:
“As jy nie luister na die stem van die Here jou God, om sorgvuldig te hou al Sy gebooie en Sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal…” Deuteronomium 28:15 (AFR33/53)
Lees gerus self die lys van vloeke wat jy oor jouself sal bring deur ongehoorsaamheid. Dan sê Eksodus 15:26 ook die volgende:
“As jy getrou na die stem van die Here jou God luister en doen wat reg is in Sy oë, en luister na Sy gebooie en al Sy insettinge hou, sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie, want Ek is die Here wat jou gesond maak.” Eksodus 15:26 (AFR33/53)
Ons word dus vasgeketting in boksies deur godsdiens, reëls, tradisie (wat sekere rituele insluit), die sondes van ons voorouers (waarmee ons aangaan) en dan nog ons eie sondes ook. Satan beheer ons deur hierdie kettings. Ons skep ons eie vervloekte omgewing waarin ons moet funksioneer deur ons eie sondes asook die sondes van ons voorouers wat ons aan die lewe hou en nie mee breek nie. So lank as wat ons in die boksies funksioneer, so lank gaan ons nooit in oorwinning kan leef nie. Hoe word ons bevry van hierdie boksies? Hoe word ons bevry van al hierdie kettings wat ons gevange hou? So lank as wat die kettings daar is, bly ons ’n gevangene van die duistere, vervloekte wêreld. Ons moet op ’n manier breek met hierdie kettings om te kan ontsnap uit die vervloekte boksie, maar hoe?
Die wêreld leer aan die mens om bloedlynvloeke te sny en dat dit kwansuis die mens uit sy penarie sal verlos. Om met rympies en woorde die kettings te probeer breek, is nie die antwoord nie. Die enigste antwoord lê in Jesus Christus wat die kruis geplant het wat vir ons ’n deurgang is na die Lig-toestand. Jesus is ook die Lig, die Woord, wat op ons harte moet skyn in die duisternis.
“…waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het, om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig.” Lukas 1:79 (AFR33/53)
So, kan ons in ’n vervloeking leef? Natuurlik kan ons! Ons word inteendeel in ’n vervloeking ingebore in die wêreld. Ons word grootgemaak in vervloekte boksies wat in die duisternis geleë is. Die ergste is dat die kettings en bande binne die boksies ons boonop nog vasgeketting hou in die vervloeking. Wat veroorsaak die vervloeking? Sonde! Sonde van ons voorouers het alreeds die omgewing vervloek en ons eie sondes vervloek ook ons omgewing om bestaan vir ons moeilik te maak. Nou is die vraag: Hoe kom ons weg van hierdie vervloeking dat dit nie ’n invloed op ons lewe het nie?