Category Archives: Siekte

Waar kom siekte vandaan?

Waar kom siektes vandaan?  Kom dit van God af?  Is dit Hy wat mense tref en hulle siek maak of is dit die werk van Satan?  Of bring mense siektes oor hulleself deur sonde en verkeerde keuses?  Is dit dalk iets wat jou voorouers verkeerd gedoen en sodoende ’n vervloeking op jou lewe geplaas het?

As jy die vorige saadjies gelees het, sou jy sien dat ons as sondige, vleeslike mense gebore word met ’n vleeslike DNA.  Niemand is perfek nie en almal het maar hier en daar ’n ’n swakker geen wat ons fisies by ons ouers gekry het wat ons kan siek maak.  Ek glo dat Abba Vader daardie geen sluimerend kan laat lê, met ander woorde, dat hy nie geaktiveer word om ons siek te maak nie.  As die siekte-geen wel geaktiveer word, is dit soos ’n skakelaar wat aangeskakel word, maar ek glo dat Abba Vader daardie skakelaar weer kan afskakel.  Dus, ons vleeslike, liggaamlike gene wat ons fisies by ons ouers geërf het, kan ons wel siek maak…  Om meer hieroor te lees, lees gerus die saadjie oor Depressie…  

Dan is daar die geval waar ons siekte oor onsself kan bring deur verkeerde keuses!  Wanneer ons nie op die pad van God wandel en nie Sy wil soek nie, maak ons verkeerde keuses wat God nie verheerlik nie en wat vir ons slegte omstandighede in die toekoms kan veroorsaak, byvoorbeeld kanker.  Lees gerus die vorige saadjie oor verkeerde keuses wat ons maak wat KANKER – dit kan ‘n wortel van bitterheid wees 

Ontstaan siekte deur bloedlynvloeke?

Hierdie groep mense glo dat siekte ontstaan as gevolg van ‘n generasievloek en dat die sonde van die voorouers aan hulle openbaar moet word sodat hulle vergifnis kan vra vir die spesifieke sonde van die voorouers –  dan sal die vloek wat byvoorbeeld siekte veroorsaak, gebreek word deur hulle kragtige woorde en sal hulle vry wees van die vloek van die voorouers en sodoende sal hulle genesing ontvang.  Die probleem is net:  Die breek van generasievloeke word nêrens in die Woord gestaaf nie.  Inteendeel, in Johannes 9 het Jesus verby ’n man gestap wat van geboorte af blind was.  Sy dissipels vra Hom toe:

“Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?”

Maar Jesus antwoord hulle:

“Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie;  maar die werke van God moet in hom openbaar word.”

Met ander woorde, die dissipels het ook gedink dat die sonde van die voorouers ’n vervloeking op die nageslag kan plaas met die gevolg dat iemand in die nageslag gestraf sal word met siekte.  Hier sê Jesus self die siekte van die blinde man is nie as gevolg van sy ouers of sy eie sonde nie, maar dat die werk van God in hom openbaar kan word.  Nêrens in die Nuwe Testament waar Jesus aan die woord is, het Hy ooit ’n generasievloek gebreek om ’n mens gesond te maak nie.  Hy het nooit die blaam op ’n generasievloek geplaas nie.  Esegiël 18 sê ook direk dat die kind nie gestraf sal word vir sy ouers se ongeregtighede nie, maar dan moet die kind nie aangaan met die ongeregtighede van die ouers of voorouers nie.  As die voorouers deel was van ’n ongoddelike sekte en die kind maak ook deel uit van die sekte, plaas die kind vervloeking op homself!  Hy moet breek met die sonde van sy voorouers, met ander woorde, kinders moenie aangaan met die sondes van hulle ouers nie.  Hulle moet die sonde kan raaksien as rebellie en ongehoorsaamheid teenoor God en nie die voorbeeld van die ongehoorsame ouers volg nie – dan is daar geen manier wat die kind gestraf sal word vir die sondes van die ouers nie.  Elke mens dra die gevolge van sy eie sonde, so nee, dit is nie die sondes van jou voorouers wat ’n siekte op jou gelê het nie.  Die lering  oor die sny van bloedlynvloeke om genensing te bekom, is van die duiwel af waarvan mense hou, want dit is ’n “quick fix”.  Om meer te lees oor die vals lering oor die sny van boedlynvloeke, lees gerus die saadjies oor bloedlynvloeke…

Kan Satan vir ons siektes gee? 

Deur sy werkers… demone…verseker!  Kyk net in die Woord van God hoeveel keer het Jesus ’n demoon uit ’n mens weggejaag en dan was die persoon gesond.  Hou nou in gedagte dat Jesus op daardie tydstip nog nie die Gees van God vrygestel het nie, so niemand het die Lig van God uit hulle harte geskyn nie en daarom kon die werkers van Satan seëvier onder die mense.  Later het Jesus gesterf aan die kruis en het Hy die Gees van God vrygestel op aarde om in ons harte te kom woon sodat ons die Beeld van God kan reflekteer.  ’n Persoon wie se hart nie skyn met die Lig van God nie, se hart is duister en hierdie persoon het geen verweer teen die werkinge van Satan nie.  Moet ook nou asseblief nie die fout maak en dink dit is net sataniste wie se harte oorgegee is aan Satan nie…  Die kerke is ook vol mense met duistere harte, mense wat met die mond getuig om in Jesus te glo, wat beweer hulle is bekeerd en wedergebore, maar wat geen verhouding met Abba Vader het nie en leef soos hulle wil… want Jesus het mos alreeds gesterf om hulle sondes te vergewe;  hulle dink dat solank hulle met die mond getuig om ’n Christen te wees, hulle veilig en verlos is van die bose… Die mensdom is ongelukkig so mislei!  Die mens wat nie ’n daaglikse verhouding met Abba Vader het nie, se hart is nie gevul met die Gees van God nie, dus skyn die Lig van God nie uit hierdie persoon se hart nie en as daar geen Lig uit ons harte skyn nie, is ons ongelukkig oorgelewer in die hand van die bose.  Kerke leer ook dat Christene nie demone kan hê nie en ongelukkig glo almal wat in die kerk sit dat hy/sy ’n Christen is en dus nie demone kan hê nie… en Satan lag lekker vir hierdie mense, want hy beheer al die tyd die sogenaamde “Christene” wat net met die mond tot bekering gekom het.  Hy kan enigiets in hulle lewens laat gebeur.  Om terug te kom na die vraag:  Kan Satan siektes veroorsaak…  As die Lig van God nie uit die hart van die mens skyn nie, is daar niks wat Satan op ’n afstand hou nie, want alleenlik die Lig van God hou vir Satan op ’n afstand, so ja, die mens wat nie opreg tot bekering en wedergeboorte gekom het nie, kan nogsteeds deur Satan geteister word deur siektes.  Hoe raak ons ontslae daarvan?  Deur bevryding?  Daar is mense wat beweer dat hulle duiwels uit ander uitdryf en dat die mense dan gesond sal wees, maar dink nou bietjie hieroor:  Wat gaan dit help as daar demone uit die mens uitgejaag word, maar nogsteeds skyn die Lig van God nie uit hierdie persoon se hart nie?  Die demone gaan net eenvouding terugkom, maar die keer bring een demoon sommer sewe maatjies saam… die persoon gaan op die ou end erger daaraan toe wees as aan die begin. (Matt 12:43-45)  God het van die begin van tye af die mens gewaarsku dat hy moet heers oor sonde en Jak 4:7 sê ook:

“Weerstaan die duiwel en hy sal van jou af wegvlug!” 

Net so kan ons die vraag vra:  “Kan sonde ons siek maak?”  In Johannes 5 het Jesus ’n man genees en Jesus het vir hom gesê:

“Kyk, jy het gesond geword;  moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.”  Johannes 5:14  

As ons ’n sondige leefwyse leef, bewys dit mos ons harte is nog duister;  dat die Gees van God nie teenwoordig is in ons lewe nie, dus heers ons nie deur die Gees oor sonde nie.  Om deur die Gees oor sonde te heers, moet ons ook weet wat ons sonde is en daarom het God aan ons die Lig van die Woord gegee – om aan ons ons sondes te openbaar.  Sonder om elke dag tyd eenkant te sit en te spandeer in die Woord van God en in gebed, sal jy nooit weet watse sondes tussen jou en God staan en moeilikheid in jou lewe veroorsaak nie.  Maar soos ons tyd afsonder om met Abba Vader en Sy Woord te spandeer, sal die Lig van die Woord ons sondes uitwys en soos ons die keuse maak om die einste sondes te laat staan en deur die krag van God daaroor te heers, hoe meer sal die Lig van God deur ons harte begin skyn en alleenlik hierdie Lig gee aan die mens beskerming teen die bose.  Alleenlik Jesus in en deur ons, gee aan ons outoriteit oor Satan en sy werkers en kan hulle niks aan ons doen nie. 

Met ander woorde, wanneer ons ’n sondige leefwyse leef, is dit ’n bewys dat die Gees van God nie in ons harte teenwoordig is nie.  Daar is geen Lig wat Satan verhoed om verwoesting in ons lewe te saai nie – so ja, ’n sondige leefwyse nooi die vyand en sy werkers in ons lewe in wat ons siektes kan gee.    

Wanneer ons wel opreg weergebore is, die Lig van God uit ons harte skyn en ons deur die krag van God sonde teëstaan, sal die Lig van God die werke van Satan afkeer en sal demone hierdie mens nie kan siek maak nie.  Onthou net altyd… Satan en sy werkers sidder vir die Lig van God;  nie vir ’n mens sonder die Lig wat net Woord spreek nie.  En dit is hoekom Jesus aarde toe gekom het, gely en gesterf het… sodat die Gees van God vrygestel kan word en die Gees Sy woning in ons harte kan maak sodat ons weer die Lig van God kan rekflekteer… maar dan moet ons sterf aan die self en weergebore word deur die Gees van God.  DAN eers is ons onderworpe aan God.  Kan julle sien hoekom dit ’n mens met ’n duister hart niks gaan baat om demone uit hom te laat wegjaag nie?  Hierdie mens het eerder nodig om gelei te word deur ’n ware herder om ’n dissipel van Jesus te word en Jesus waarlik uit sy hart te volg.  Wanneer ons ’n dissipel van Jesus word en Hom volg om die regte redes, sal Hy ons verander en sal Sy Lig geestelik uit ons skyn wat die demone sal laat padgee.  Dit is hoekom ’n ware dissipel van Jesus altyd ’n hartsverandering sal ondergaan – dit is Jesus in en deur hom wat hom verander en die werkers van Satan van hom af weghou.  Daar is soveel mense wat vasgevang is in die dwaalleringe wat glo hulle het outoriteit, mag en krag oor Satan en dat hulle oorlogvoering teen hom kan doen, hom kan aanspreek soos hulle wil, maar waar in die Woord het Jesus in elkgeval ooit ’n bekgeveg met Satan opgesit?  Waar het Jesus vir ons daardie voorbeeld gestel?  Ons kry outoriteit oor Satan alleenlik wanneer Jesus in en deur ons leef – dan is dit Jesus in ons wat die outoriteit oor Satan het, nie jy as mens nie!  Mense moet regtig van hulle troontjies begin afklim wat Satan vir hulle bou van stokkies, want daardie troontjies maak dat soveel mense verlore gaan.  Dit is eintlik so snaaks en lagwekkend wanneer ’n mens die dwaallering geleer word dat jy outoriteit oor Satan het en dat jy hom moet aanvat.  Jy word geleer om hom met outoriteit aan te vat, om met ’n sterk stem te praat… As jy saggies en sonder outoriteit gaan praat, gaan Satan nie vir jou skrik nie… jy moet praat en bulder soos ’n leeu!  Jy moet hom wys jy is nie bang vir hom nie… jy moet hom wys jy is nie ’n muis nie, maar ’n leeu!  Watse lagwekkende nonsens die mensdom nog gaan uitdink…    Satan vrees geen mens nie, maak nie saak hoe stewig jy kan staan en hoe hard jy kan bulder nie… as Satan nie vir Jesus in jou kan sien nie, skrik hy nie vir jou nie en sal hy aanhou om jou te verpes… maak nie saak met hoeveel Skrif jy hom bombardeer nie!  As hy nie die Lig van God in jou kan raaksien nie, maak jy net ’n spektakel van jouself.  Hierdie mense hou hulleself en vir Satan besig met lagwekkende werke – dooie werke.  Al dryf ons duiwels uit ander uit, al “profeteer” ons in die Naam van God, al doen ons watse groot kragte in die Naam van God, maar ons ken Hom nie, ken Hy ons ook nie. (Matt. 7:21-23)  So die antwoord is:  Onderwerp jou aan God en die bose sal van jou af wegvlug!  Onderwerp jou aan die wil van God!

Kan God vir ons ’n siekte gee?  

As dit God se besluit is om ’n kind van Hom terug te laat keer tot stof, moet ons God se doel en plan respekteer en mag ons nie teen die wil van God optree nie.  God is Almagtig en Hy weet die beste.  Hy het klaar beplan wanneer elkeen van ons se lewens sal eindig op aarde en Hy kan dit ook doen deur middel van ‘n siekte.  Wie is ons as mens dan om God te smeek om Sy besluit te verander?  Abba Vader se wil sal altyd geskied en as ons in Sy rus bly, sal Hy ook aan ons die krag gee om Sy wil te aanvaar.  Dit bly ’n hartseer saak om ’n geliefde te verloor en ja, nie een van ons verstaan hoekom babatjies moet doodgaan of kindertjies erge siektes moet kry nie… dit bly moeilik, maar eendag sal ons verstaan.

So fisiese, liggaamlike siekte kan ontstaan uit soveel verskillende bronne en faktore, maar die belangrikste waaroor ons eintlik bekommerd moet wees, is die toestand van ons geeshart!  Is ons geeshart gesond of siek?  Reflekteer ons geeshart die Lig van God of is dit duister?  ’n Duistere geeshart is ’n siek geeshart!  Moet ons nie meer fokus op genesing van die geeshart pleks van genesing vir ons liggaamlike probeme nie?  Almal gaan so aan dat ons moet bid vir genesing vir siek mense, maar genesing van ’n siek gees is baie meer belangrik as genesing vir ’n siek liggaam.  As God in die Woord sê dat daar vir ons genesing gekom het deur die wonde van Jesus, beteken dit nie fisiese, liggaamlike genesing nie, dit beteken genesing van ’n siek en dooie gees –  genesing vir ’n duistere hart!  ’n Mens met ’n siek liggaam, maar ‘n gesonde geeshart wat die Lig van God reflekteer, is 100% beter af as ’n mens met ’n gesonde liggaam, maar ’n siek en dooie gees.  Ek bid eerder vir genesing van ’n mens se siek gees as wat ek bid vir ’n liggaamlike siek mens, want al het ons al die krag en mag van Jesus, en kan ons hordes mense genees van siektes, wat van hulle geestelike welvaart?  Jesus het BAIE mense genees, maar hoeveel van hulle het waarlik in Jesus geglo?  Hoeveel ware volgelinge het Jesus regtig gehad?  Het genesing van die liggaam vir hulle genesing van die gees beteken?  Kyk maar net weer na Johannes 6 waar die skare mense agter Jesus aangeloop het… hoekom het hulle agter Jesus aangeloop?  Omdat hulle geglo het Hy is die Seun van God?  Nee, hulle het agter Hom aangeloop sodat Hy hulle kon genees en kos gee.  Die oomblik toe Hy aan hulle verduidelik dat hulle geestelik honger is en op Hom moet voed deur in Hom te glo, het hulle almal omgedraai en weggeloop.  Dit moes darem ’n verskriklike vernedering vir Jesus gewees het…  Jesus het die stede waarin die meeste van Sy kragtige dade (soos genesings) plaasgevind het, verwyt omdat hulle Sy dade gesien en beleef het, maar nogsteeds wou hulle hulle nie bekeer nie.  (Matt. 11:20-24)  God het Jesus in die gestalte van ’n mens aarde toe gestuur om al hierdie wonderwerke en kragtige dade te doen sodat die mense kon sien en besef Hy is waarlik die Seun van God.  Jesus het dit nie gedoen om vir my en jou ’n voorbeeld te wees om Sy mag, krag en outoriteit op te neem om links en regs mense die hande op te lê en hulle te genees nie.  Hoe ongelukkig moet dit God maak as Hy alreeds besluit het om ’n mens te laat terugkeer tot as, en sogenaamde “Goddelike mense” bid genesing oor hierdie mens… dan spreek en bid hulle mos teen die wil van God?  Is hierdie “Goddelike mense” dan regtig een met God?  As hulle een is met God, sal hulle mos Sy wil aanvaar en nie teen Sy wil hulle mag en krag gebruik om ’n mens gesond te bid nie…  Die mens moet begin afklim van hul eie mensgemaakte troontjies af en besef hulle is nie God nie.  Hulle gebruik die naam van God om vir hulleself dissipels te maak wat agter hulle sal aanloop.  God roep Sy kinders om dissipels vir HOM te maak, nie vir die self nie, want dit is presies wat mense doen wat dink hulle kan loop, en links en regs mense genees van siektes.  Daar is hopeloos te veel mense daar buite wat die krag en outoritiet van Jesus vir hulleself opeis, maar dan skyn die Lig van God nie eers uit hulle gees uit nie – mense met ’n siek gees!  Hulle dryf demone uit mense uit, spreek Woord oor mense en omstandighede en glo daar is krag in hulle woorde.  Wat gaan God eendag vir hierdie mense sê?

 “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van My Vader wat in die hemele is.  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in U Naam geprofeteer en in U Naam duiwels uitgedrywe en in I Naam baie kragte gedoen nie?  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”  Mattheus 7:21-23

Hierdie mense het nog nie gesterf aan die self nie en is ook nog nie wedergebore nie.  Wanneer ons weergebore word, haal God ons siek geeshart uit en doen Hy ’n hartsoorplanting op ons.  Hy gee ons ’n nuwe, lewende hart wat waarlik LEWE waardeur Sy bloed pomp.  Dan eers is ons geestelik gesond en kan die geestelike gesondheid deurspoel na ons siel en ook na ons liggaam – en dit is hoekom ek glo dat God ons swakker, siek gene soos ’n skakelaar kan afskakel en ons wel kan genees van ’n siekte.  Maar daarvoor moet ons fous verskuif vanaf die self na God, vanaf die liggaamlike na die geestelike, om te strewe daarna om te sterf aan die self en genesing vir die geeshart te ontvang pleks van genesing vir die liggaam.  As ons God in alle omstandighede van ons lewe soek en Hom in alles eerste stel, sal Hy die res aan ons toevoeg op SY bepaalde, perfekte tyd. 

Die slotsom van hierdie saadjie is dat ons God se hart moet soek, en nie Sy hand van genesing nie.  Siekte kan van soveel verskillende bronne af kom, maar ons moet ophou fokus op ons liggaamlike siektes en ons fokus op Jesus plaas.  Ons doelwit en motief moet wees om God beter te leer ken en ’n verhouding met Hom te bou – nie sodat Hy ons kan genees nie, maar sodat ons deur Hom vrugte kan dra wat Hom verheerlik.  Die mens wat alleenlik fokus op sy liggaaamlike, gaan sukkel om God te vind in sy lewe, want sy fokus is verkeerd.  Verskuif die fokus vanaf liggaamlike gesondheid na geestelike gesondheid en die res sal vir ons bygevoeg word deur Abba Vader.    

Soek die hart van God, nie die hand van God nie! 

  

KANKER – dit kan ‘n wortel van bitterheid wees

bitterheid

Kan ons siektes oor onsself bring?  Abba Vader het my ma as vooorbeeld gebruik om ons te leer dat ons wel siektes soos kanker, oor onsself kan bring.  Ek het my ma se toestemming om haar storie te vertel:

Ek was 16 jaar oud toe my pa op die jong ouderdom van 44 oorlede is aan ’n hartaanval.  Na ’n paar maande het my ma ’n man ontmoet wie se vrou net na my pa oorlede is.  My ma erken dat sy die Here nie geken het op daardie stadium van haar lewe nie, met ander woorde, sy het nie gestreef daarna om die wil van God te leef nie.  Sy het nog gehandel en gewandel volgens haar vleeslikheid en sy het met die man getrou.  Dit was verseker nie die wil van die Here nie, maar julle weet mos hoe maak ons… Ons maak keuses uit ons eie en vra dan vir God om ons keuses te seën, maar was jou keuse die wil van God vir jou lewe?  Hoe moet God jou keuse seën as dit nie Sy wil vir jou lewe is nie?  Hoe moet Hy jou keuse seën as Hy dit nie bepaal het nie, maar totaal iets anders in jou Lewensboeke opgeskryf het?  So as jy jou eie keuses op hierdie manier maak, is jy besig om te skryf aan jou eie lewensverhale wat God nie verheerlik of Hom gelukkig maak nie, dus kan Sy hand van seën nie oor jou keuse wees nie.  So wanneer ons keuses maak uit ons eie en nie die wil van God soek nie, kan ons ook nie ’n lewe van seën en voorspoed verwag nie. 

 My ma het nie gestreef na die wil van God toe sy die keuse gemaak het omtrent ’n lewensmaat nie;  sy het dus haar eie vleeslikheid probeer bevredig sonder om die wil van God te soek.  Sy het dus haar eie lewensverhaal bepaal en uitgeleef – sy het haar eie lewensboeke geskryf en nie dít geleef wat Abba Vader vir haar beplan het nie.  Nodeloos om te sê:  dit was nie ’n baie goeie huwelik nie en my ma was emosioneel gebreek.  Na 20 jaar het sy hom verlaat en weggetrek, maar die probleem is dat sy geestelik daardie boeke waarin sy haar lewensverhaal saam met daardie man neergeskryf het, net eenvoudig toegeklap het.  Sy wou nie dink of praat oor haar verlede nie.  Ek het op ’n stadium vir haar gesê dat sy sal moet teruggaan in haar verlede, vergewe en laat gaan… haar antwoord was dat sy klaar die boek toegemaak het.  Sy het net vorentoe gekyk en aangegaan met ’n “nuwe lewe”… Die probleem is dat nie een van ons net ons eie lewensverhaal-boeke kan toeklap en aangaan nie.  As ons ons eie lewensverhale bepaal en beplan het, met ander woorde, keuses gemaak het wat nie die wil van God is nie, sal ons daardie boeke weer moet oopmaak en aan Abba Vader moet bely dat ons verkeerde keuses gemaak het.  Hy sal jou vergewe daarvoor, maar dit beteken dat jy ook die mense wat jou leed aangedoen het, moet vergewe en laat gaan daarvan.  Ons moenie met wraak in ons rondloop nie, want dit is om gif te drink met die hoop dat die mens wat jou leed aangedoen het, sal sterf.  Dit kan nooit so werk nie, want die gif gaan jou affekteer en nie die ander persoon nie. 

Om terug te kom na die storie van my ma:  4-5 Jaar nadat my ma daardie man verlaat het, het haar maag haar begin pla.  Sy het dokter gegaan waarna hy dadelik verdere toetse gedoen het.  Hulle het ’n kwaadaardige gewas in haar dikderm ontdek – KANKER!  ’n Woord wat ons almal vrees!  Die dag toe sy my bel en sê dat dit wel kanker is, het ek net gebreek voor die voete van Abba Vader.  Ek het verskriklik gehuil, want my ma word NOOIT siek nie… en noudat sy siek is, is dit sommer kanker.  Ek het gekniel voor Abba Vader en geweet hier word ek ook nou getoets…  Abba Vader het my die laaste paar maande geleer dat ons nie teen SY wil mag bid nie.  Ons moet bid na die wil van God, ons mag nie vir God hied en gebied nie.  Dit beteken vir my dat ek nie vir die Here mag vra om my ma op ’n wonderbaarlike manier te genees nie… ek moet die wil van God aanvaar, want dit wat Hy beplan het, sal wel gebeur.  Ons mag nie ons eie wil op God afdwing nie!  Terwyl ek op my knieë voor Abba Vader my hart uitgehuil het, het ek daarna meer vrede gehad en kon ek die situasie en my hartseer oorgee aan Abba Vader.  Dit is om in Sy rus in te beweeg en Hom toe te laat om te werk daar waar Hy weet werk nodig is.  God weet wat Hy doen, dis nie vir ons nodig om vir Hom te vertel wat Hy moet doen nie.

Die dokter het besluit om die gewas so gou as moontlik te verwyder.  Dit was ’n groot operasie en my ma moes natuurlik vir ’n paar dae in die hospitaal bly.  In die tyd het Abba Vader my onder gebed die vergroeisel in my ma se derm gewys en gesê dat hierdie gewas ontstaan het uit ’n wortel van bitterheid.  Dit is dus nie God wat haar die kanker gegee het nie, maar die gewas het ontstaan uit haar eie verkeerde keuses wat sy gemaak het.  Sy het soveel jaar terug die keuse gemaak om met ’n man te trou van HAAR drome en nie gewag dat die Here vir haar ’n Goddelike man stuur nie.  Hierdie moeilike huwelik het haar baie emosionele seer berokken en sy was baie kwaad vir daardie man.  Sy het gesukkel om hom te vergewe en omdat sy daardie boek net toegeklap en begrawe het, het daar ’n bitter wortel binne haar begin groei.  Niks in daardie boek was uitgesorteer nie – die woede, bitterheid, onvergewensgesindheid en dalk ook wraak het aangehou woed binne-in daardie boek, en sodoende ook binne-in haar hart.  Dit was eers ’n klein worteltjie van kwaad, maar daardie worteltjie het begin groei en ’n baie lelike gewas veroorsaak wat haar dood kon beteken.  Sy het ’n operasie ondergaan waar hulle die gewas verwyder het, met ander woorde, fisies het die dokters die gewas van kwaad verwyder, maar nogsteeds moes my ma geestelik hierdie saak uitsorteer.  Sy sal moet herken dat sy die verkeerde keuses gemaak het, dat dit nie die wil van God was om met daardie man te trou nie en sy moet dit uitsorteer voor die voete van Abba Vader.  Sy sal die boek van daardie gedeelte van haar lewe wat sy self geskryf het, moet gaan uitgrawe en erken dat fouteer het, dat sy teen die wil ’n vleeslike keuse gemaak het.  En so baie van ons maak hierdie fout!  Ons klim in ’n verhouding in teen die wil van God en het dan ’n ongelukkige huwelik wat baie woede, frustrasie, haat en wraak kan veroorsaak… wat bitter wortels in ons vleeslikheid kan veroorsaak wat ons vleeslik siek kan maak.  Ons moet regtig daarop let om te handel en te wandel in die weë van die Here… in dit wat Hy vir ons beplan het en nie in dit wat ONS wil hê nie. 

 Hoe gaan jy weet of dit die wil van die Here is of nie?  Hoe gaan jy weet as jy ’n huweliksmaat kies, of dit van God af is of nie?  Een ding is verseker… as julle net een in vlees is, gaan dit ’n moeilike huwelik wees.  Ons moet EERS een in gees wees met ons huweliksmaat voordat ons een in vlees kan wees. Meer oor hierdie onderwerp, is in die saadjie:  Opsoek na die helfte van jouself…

Met ander woorde:  Het God hierdie kanker in my ma se Goddelike Lewensboek opgeskryf as ’n klip in haar pad?  Nee, Hy het nie!  Deur haar eie verkeerde keuses het sy vir haarself 20 jaar se emosionele pyn besorg en omdat sy gesukkel het om hom te vergewe vir alles wat hy aan haar gedoen het, het daar bose worteltjies binne-in haar begin groei wat die kwaadaardige gewas verooorsaak het.  Dit is wat kan gebeur wanneer ons ons eie lewensverhale skryf sonder om te soek na die wil van God.  Ons maak verkeerde keuses en skep vir onsself vervloeking vir die toekoms.  Dit is dan baie onregverdig om God te blameer daarvoor.  Al wat ons kan doen, is om daardie boek wat ons self geskryf het, uit te gaan graweerken jy het ’n fout gemaak, dat jy teen die wil van God opgetree het, vrgewe en laat gaan van bitterheid, woede en wraak teenoor daardie mense wat jou leed aangedoen het.    

Abba Vader het my ’n baie waardevolle les eendag geleer om te laat gaan oor dit wat ander ons aandoen.  Ek het vermoed dat iemand wat naby my is, my leed aangedoen het, maar het nie bewyse daarvoor gehad nie.  ’n Paar jaar later onder gebed, sê Abba Vader uit die bloute uit vir my dat DIT wat ek vermoed het, reg is.  Dit het my baie seergemaak!  Ek was dadelik sommer  ongelukkig en Abba Vader het my gevra:  Nou wat gaan jy nou daaraan doen?  Ek het so bietjie gedink en gesê:  ‘Wel, ek kan nou eintlik niks daaraan doen nie.”  Abba Vader het vir my gesê om dit net te los, want dit het niks met my te doen nie.  Ek was eers geskok dat Abba ader vir my sê dit het niks met my te doen nie, want ek het gevoel ek is te na gekom, dat daar vir my gejok was.  Ek was seergemaak!  Maar nogsteeds het Abba Vader vir my gesê:  Dit het niks met jou te doen nie!  DIT wat die mens gedoen het wat verkeerd was in die oë van God, maak my wel seer, maar die persoon het ’n baie groter probleem, want sy/haar verkeerde keuse gaan hom/haar inhaal om ’n stukkie vervloeking te skep vir die toekoms…  En die ergtste van alles, is dat hy/sy eendag voor Abba Vader gaan moet staan en verduidelik hoekom hy/sy dit gedoen het.  So ek mag nie kwaad wees vir die persoon daaroor nie, ek moet vergewe en aangaan, want dit het eintlik niks met my te doen nie.  Hierdie “mindset” het my baie gehelp om van daar af die leed wat my aangedoen word, maklik eenkant te sit en net te fokus op Abba Vader.  

Om weer terug te kom na die storie van my ma:  Die gewas is verwyder uit haar dikderm en dit gaan baie goed met haar.  Die dokter het voortgestel dat hulle chemo en bestraling op haar doen net om seker te maak dat al die kankerselletjies dood is, maar sy het daarteen besluit.  Sy het in die rus van Abba Vader inbeweeg en dit in Sy hande gelos…

Daar is baie argumente en opinies oor waar siekte vandaan kom wat ek in die volgende saadjie sal vertel hoe Abba Vader my sover gelei het.                    

“Pas op dat niemand in die genade van God veragter nie;  dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.”  Hebreërs 12:15

Depressie…

DEPRESSIE… ’n woord wat eerder vermy word, want saam met hierdie (soms ‘duiwelse’) woord kom baie veroordeling uit verskillende rigtings.  Sommige mense sien dit as die duiwel wat jou beheer en wil net die duiwel uit jou uitdryf, ander breek weer bloedlynvloeke om dit stop te sit.  Baie mense beweer dat mense met depressie nie die Heilige Gees het nie… dat hulle dalk meer kerk toe moet gaan om na die dominee te gaan luister…. sodat hulle die Heilige Gees kan kry… dan sal hulle genees word.  Al hierdie uitlatings is uiters belaglike argumente en al wat dit doen, is om die depressie-lyer net nog slegter te laat voel.  

Is depressie ’n geestessiekte wat uit jou gees ontstaan?  Baie mense beweer dat dit wel so is, maar dis net diegene wat nie die siekte het nie, wat met ’n veroordeelde vinger staan en wys na depressie-lyers wat hulle mening probeer staaf… ek weet nie waarmee hulle dit probeer staaf nie, want ek het nog nie ’n Skrif in die Woord van God raakgelees wat hierdie opinie van hulle bevestig nie.  Dit is baie maklik om ’n vinger van oordeel te wys na iemand as jy nie eers ook in daardie bootjie was nie… en ek glo dit is hoekom ek ook in daardie bootjie is… sodat ek nie ander kan veroordeel nie, maar meer as een les hieruit moet leer om weer te skryf daaroor om ander te kan help. 

Ek verduidelik hoe Abba Vader my gelei en geleer het oor depressie.  Abba Vader laat my nie toe om ’n saadjie oor ’n onderwerp te skryf as ek nie self daardeur gegaan het nie, met ander woorde, as ek dit nie self ook beleef het nie.  Ek self stap ’n pad met depressie – nie soseer met depressie self nie, maar meer met angs, maar angs en depressie loop in elkgeval hand aan hand.  Dit is baie moeilik vir die mens self en dit is net so moeilik vir die mense om hulle – hulle geliefdes.  So ek skryf hierdie stukkie nie net aan depressie-lyers nie, maar ook aan diegene wat lief is vir hulle.

Ons word as vleeslike mense gebore in ’n gebroke wêreld.  NIEMAND word vleeslik perfek aanmekaar geweef nie, NIEMAND het perfekte gene nie.  Die mens word vleeslik gebore uit die wil van die mens met vleeslike gene – sommige goed en sommige sleg.  Die slegte gene kan later in ons lewe in siektes ontaard, wat ookal die lewenswyse van die mens.  Depressie is ’n siekte net soos enige ander siekte byvoorbeeld diabetes, ’n swak hart ensovoorts.  ’n Professor in die mediese veld het eendag mooi aan ons verduidelik hoe iemand depressie kry – dit is ’n depressie-geen wat die moeilikheid veroorsaak.  Nie almal het hierdie depressie-geen nie, net soos almal nie ’n geen van ’n swak hart dra nie.  As een ouer ’n depressie-geen dra, kan daardie fisiese geen oorgedra word na die kind toe.  Die kind word nie gebore as ’n depressie-lyer nie, maar nogsteeds dra hy die depressie-geen wat eers sluimerend lê en wag.  Die depressie-geen is soos ’n ligskakelaar – dit kan aangeskakel word en dit kan weer afgeskakel word.  Die “ding” wat die depressie-skakelaar aanskakel, se naam is TRAUMA!  Nie een van ons is gevrywaar teen trauma nie, want daar gebeur slegte goed in ons almal se lewens.  As jy wel die depressie-geen dra en trauma slaan toe in jou lewe, word die depressie-geen aangeskakel en skielik verval jy in ’n depressiewe gat.  Met ander woorde:  Om depressie te kan kry, MOET jy die depressie-geen dra.  ’n Mens wat nie die depressie-geen dra nie, sal nooit in sy lewe depressie ontwikkel nie…  hy kan wel ’n gemoedstoestand ontwikkel en ’n biejtie “af” voel vir ’n ruk, maar hy sal nie in ’n depressie-gat val nie, want jy MOET daardie einste depressie-geen dra om depressie te kan ontwikkel.  Iemand wat nie die depressie-geen dra nie, is in staat om trauma op ’n heel ander manier te verwerk, maar ongelukkig sien hulle hulleself as “sterk” mense en nie as swakkelinge wat maklik in depressie verval nie.  Dit is juis hulle wat die lewe vir depressie-lyers baie moeilik kan maak, want hulle verstaan nie en weet nie hoe dit voel om in ’n depressiewe gat te val nie.  Hulle weet nie hoe dit voel om angsaanvalle te kry nie, want angs en angsaanvalle loop hand aan hand met depressie.  Hulle sien depressie-lyers as “swak” mense en plaas hulleself op ’n troontjie as sterk mense wat enigiets kan hanteer.  Hulle eerste reaksie teenoor ’n depressie-lyer is gewoonlik:  “Ruk jouself reg!”.  Dit is die ergste ding om vir ’n depressie-lyer te sê… ’n mens voel alreeds magteloos en swak, soos ’n verloorder, en ’n mens kan onmoontlik nie jouself net regruk nie.  Wanneer die depressie-geen aangeskakel word, skei jou brein nie genoeg van ’n sekere chemiese stof af nie en dit beïnvloed ’n mens se totale gemoedstoestand.  Dit is dus ’n siekte in die brein net soos iemand siek kan word van hulle niere, lewer, hart of enige ander orgaan.  So depressie is ’n siekte wat ontstaan as gevolg van ’n wanbalans in die brein.

Wat interressant is,is dat dit medies bewys kan word dat die ouderdom van ’n mens ’n rol speel om die depressie-geen in werking te stel.  As ’n kind (wat wel die depressie-geen dra) op ’n jong ouderdom aan trauma blootgestel was, beteken dit nie hy gaan onmiddelik aan depressie begin ly nie, maar depressie hou daarvan om toe te slaan in die tienerjare wanneer die hormone ook nog deurmekaaar en nog nie so lekker in plek is nie.  Na die tienerfase, kan die depressie verbeter, maar hulle reken dat die meeste mense wat die depressie-geen dra, op 40 weer in ’n depressiewe gat kan val.  Daar is ontsettend baie mense daar buite wat ly aan depressie of angs, maar nie die waarheid in die oë wil staar nie, want hulle reken hulle is te “sterk” om aan depressie te ly.  Hulle kies eerder om met die probleem saam te leef as om hulp te kry.  Dit is nie maklik om met hierdie siekte saam te leef nie en gewoonlik maak depressie-lyers (wat nie op medikasie is nie) die lewe vir die mense om hulle baie onsmaaklik, want depressie veroorsaak woede-uitbarstings, frustrasie, ongeduld, liefdeloosheid teenoor homself en ander, hulle het nie lus vir die lewe nie…  Dit is onregverdig van ons om die lewe vir ons geliefdes moeilik te maak omdat ons nie die waarheid in die oë wil staar nie… omdat ons nie geklassifiseer wil word as ’n depressie-lyer nie en omdat ons nie medikasie wil neem om ons te help nie… want ons is mos sterk….

Is depressie ’n siekte van die gees?

As julle die saadjie lees het oor Liggaam, siel en gees, sal julle verstaan dat die brein ’n orgaan is wat in die liggaam geleë is.  Die brein is nie ’n deel van die gees nie, so hoe kan iemand sê depressie is ’n siekte van die gees as depressie ’n wanbalans in die brein is?  Jou brein lê nie in jou gees of in jou siel nie – jou brein is ’n orgaan wat in die liggaam gevestig is.  Hoe kan ’n mens sê dat iemand depressie het omdat hy nie die Heilige Gees in sy lewe het nie?  Heilige Gees werk vanuit ons gees, nie vanuit ons liggaam nie.  Ons liggame is net ’n fisiese “spacesuit” wat ons siel en gees huisves.  Ons liggame sal tot niet gaan eendag, dit sal terugkeer tot stof, maar die gees bly lewe.  So depressie het niks met jou gees te doen nie;  dit is ’n depressie-geen wat in jou liggaam geleë is wat weer jou brein beïnvloed wanneer die geen “aangeskakel” word.     

Gaan jy ontslae kan raak van depressie deur bloedlynvloeke te sny? 

As ’n mens nou logies daaroor dink:  Die mense wat glo in die vals lering oor die sny van bloedlynvloeke, sien depressie as ’n swak toestand van die gees, en as hulle nou in die gees die bloedlynvloek van geestesversteuring breek, sal die depressie verdwyn.  Maar die oorsaak van depressie lê in die gene in die liggaam, en nie in die gees nie.  As depressie ’n siekte van die brein is as gevolg van ’n fisiese depressie-geen in die fisiese liggaam, wat gaan dit help om bloedlynvloeke te sny?  Die sny van bloedlynvloeke kan mos nie jou fisiese gene gou-gou verander nie, want as hulle so in die gees bloedlynvloeke sny, werk hulle mos in die geestesrealm… in jou gees.  Moet tog asseblief nie so naïef wees nie!  Om in die gees te spreek, kan baie gevaarlik wees en mense probeer daardeur God speel. 

Wat van bevryding?  

Kan bevryding nie dalk jou depressie wegvat nie?  Daar is seker sommige gevalle waar bevryding nodig is, maar dit is nie die geval met ware depressie nie, want depressie is ’n siekte wat ontstaan uit ’n depressie-geen.  Dit is nie ’n demoon nie!  Ek glo daar is demone wat mense siek kan maak, maar dit is nie altyd die geval met depressie nie.  Wanneer jy na aan God leef en Sy Lig skyn uit jou hart, kan die werkers van Satan (demone) in elkgeval nie naby aan jou kom nie.  Maar nou moet ons hierdie saak uit alle rigtings bekyk, lees gerus die saadjie:  Verwoesters in ons siel om hierdie gedeelte ook mooi te verstaan.  As jy jouself simbolies kan sien as ’n boom, moet die top van jou boom oopgesny wees sodat die Lig van God geestelik binne-in jou kan inskyn.  Wanneer die top van jou boom nog nie oopgesny is nie, kan die Lig van God jou ware menswees (jou geeshart) nie bereik nie, en as die strale van God nie tot binne-in jou siel en gees kan inskyn nie, kan daar verwoesters (demone) in jou siel wees wat ook simptome van depressie kan veroorsaak soos woede-uitbarstings, humeurigheid, geïrriteerdheid, ongeduld, tye van liefdeloosheid, ensovoorts.  Hierdie verwoesters sal alleenlik padgee as die top van jou boom oopgesny word en die strale van God op hulle skyn.  So as jy simptome het van depressie en die top van jou boom is nog nie oopgesny nie, kan dit wees dat daar verwoesters in jou siel is wat die simptome van depressie namaak.  Dan gaan medikasie (anti-depressante) nie vir jou help nie, want die medikasie gaan fisies op jou brein werk, maar die verwoesters werk nie op jou brein nie, hulle werkskaf in jou siel wat jou emosies omkrap en omvergooi, jou humeurig en sommer ’n mislike mens maak.  Die medikasie gaan dus nie die demone kan wegjaag nie, so dit gaan nie help vir die persoon nie – die simptome gaan maar net aangaan, al neem hulle medikasie.  Al wat hulle gaan help, is om verhouding met Abba Vader te bou, om hul sondes raak te sien en te bely, om die Woord van God te bestudeer en om in die hart van God gewortel te raak.  Dan word die top van die boom oopgesny en die werkers van Satan vlug.  Die simptome van depressie sal dan verdwyn.  Dit beteken hierdie mens het nooit die geen van depressie gehad nie, so die simptome van depressie was nie ’n wanbalans in die brein die, maar was veroorsaak deur demone.     

As jy wel depressie het as gevolg van ’n wanbalans in jou brein (wat ‘n siekte is) en jy loop wel hand aan hand met Jesus (het verhouding met Abba Vader), sal die top van jou as boom oopgesny wees en kan die strale van God tot binne-in jou gees en siel inskyn.  Daar sal dan nie verwoesters in jou siel kan wees nie, want hulle kan die Lig van God nie verdra nie en geepad onmiddelik as die Lig van God in jou inskyn.  Dit is dan dus nie verwoesters in jou siel wat jou die simptome van depressie gee nie, maar ’n wanbalans in die brein en daarom sal medikasie kan help vir jou.    

Onthou altyd – Satan en sy werkers kan die Lig van God nie hanteer nie en daarom sal hulle vanself padgee as die Lig van God op hulle val.  Dit is baie gevaarlik om vir bevryding te gaan as die top van jou boom nog nie oopgesny is nie, want dit beteken jou siel en gees is nog duister en Satan en sy werkertjies is mal oor duisternis.  Nou word hulle met groot woorde en ’n gebulder aangevat en uitgejaag, maar nogsteeds skyn God se Lig nie in jou in nie… en wat gebeur dan?  Die werkers van Satan kom terug, maar hierdie keer bring hulle nog ’n paar maatjies saam wat jou toestand gaan vererger.  

Met ander woorde, as die top van jou boom oopgesny is en die strale van God vul jou, sal jy weet of jou simptome veroorsaak word deur verwoesters in jou siel en of jy ’n swak depressie-geen het wat vasgevang is in jou vleeslike DNA.  Ek glo dat God almagtig is en dat enigiets moontlik is met Hom, so ek glo Hy kan ons help om die depressie-geen weer af te skakel, maar dan sal dit gebeur op God se tyd.

Kan God ons genees van depressie?      

Natuurlik kan God ons genees!  Enigiets is moontlik vir Hom!  Hy kan ons help om die depressie-geen weer af te sksakel sodat ons sonder medikasie kan funksioneer, maar nou moet ons ook net weer versigtig wees om nie die aangesig van God te soek nét om genesing te kry nie.  Ons moet nooit net die hand van God soek nie, ons moet die hart van God soek, ons moet gewortel raak in die hart van God.  Ons moet ophou fokus op onsself en ons fokus moet verskuif na Abba Vader, om te leef tot Sy heerlikheid en om vir Hom vrugte te dra. As God praat van totale genesing in die Woord van God, is dit eerstens genesing van ons geeshart… om die toestand van ons geeshart te herstel en genees, want dit is ons geeshart wat vir God belangrik is, nie ons fisiese liggame nie.  Ek sê ook nou nie ons fisiese liggame is nie vir God belangrik nie, maar verstaan asseblief wat ek probeer sê dat ons geesharte vir God die belangrikste is, want dit is die toestand van ons geeshart wat ons aan God koppel of nie.  ’n Dormante geeshart sonder die Lig van God, is nie gekoppel aan God nie, maar dit is waaroor dit vir God gaan – dat ons verhouding met Hom moet hê, dat ons Sy Beeld sal reflekteer.  As jy die saadjie gelees het:   Die mens as die beeld van God?  sal jy sien ons reflekteer die Beeld van God uit ons gees, dit het niks met ons liggame te doen nie, dit het niks met ons vleeslikheid te doen nie, en die depressie-geen lê nie in ons gees nie, dit lê in ons vlees – in ons liggaam.  So niemand kan met die argument kom dat ons gemaak is (vleeslik) na die Beeld van God en ons daarom nie gebore kan word met slegte fisiese, vleeslike gene nie – dan kan ons kwansuis nie gebore word met ’n depressie-geen nie, maar gee ’n demoon dit vir ons.  Dit kan nie so wees nie.  Om die Beeld van God te reflekteer, het niks met ons liggame te doen nie, dit het alles met die toestand van ons geeshart te doen.  So as jy ly aan deperessie, is dit nie omdat jy nie ’n kind van God is nie, dit is omdat jy ongelukkig ’n fisiese depressie-geen geëerf het by een van jou ouers.  Dit het niks met jou gees te doen nie en dit kan ook nie jou gees beïnvloed nie.  Ons moet net bly vertoef in die Woord en die teenwoordigheid van Abba Vader, maak nie saak wat in ons liggame aangaan nie.  Dit gaan nie oor jou vleeslike DNA nie, dit gaan oor jou Goddelike DNA, daardie saadjie wat Abba Vader binne jou geplaas het… daardie saadjie waarop die Lig van God moet val sodat dit kan ontkiem om te groei binne-in die hart van God in… dan sal die Lewe van God vanuit jou geeshart begin borrel.  Die Lewe word versprei na jou sielsdimensie (jou gedagtes, emosies en eie wil) en dit begin jou as mens verander.  Jou gedagtes, waardes en beginsels begin verander en hoe meer die Lewe van God ons verander, hoe meer raak ons gefokus op die heerlikheid van God, om gehoorsaam te wees aan Hom, maak nie saak of ons ’n swak depressie-geen dra nie!  Raak gefokus, gevestig en gewortel in die hart van Abba Vader.