KANKER – dit kan ‘n wortel van bitterheid wees

bitterheid

Kan ons siektes oor onsself bring?  Abba Vader het my ma as vooorbeeld gebruik om ons te leer dat ons wel siektes soos kanker, oor onsself kan bring.  Ek het my ma se toestemming om haar storie te vertel:

Ek was 16 jaar oud toe my pa op die jong ouderdom van 44 oorlede is aan ’n hartaanval.  Na ’n paar maande het my ma ’n man ontmoet wie se vrou net na my pa oorlede is.  My ma erken dat sy die Here nie geken het op daardie stadium van haar lewe nie, met ander woorde, sy het nie gestreef daarna om die wil van God te leef nie.  Sy het nog gehandel en gewandel volgens haar vleeslikheid en sy het met die man getrou.  Dit was verseker nie die wil van die Here nie, maar julle weet mos hoe maak ons… Ons maak keuses uit ons eie en vra dan vir God om ons keuses te seën, maar was jou keuse die wil van God vir jou lewe?  Hoe moet God jou keuse seën as dit nie Sy wil vir jou lewe is nie?  Hoe moet Hy jou keuse seën as Hy dit nie bepaal het nie, maar totaal iets anders in jou Lewensboeke opgeskryf het?  So as jy jou eie keuses op hierdie manier maak, is jy besig om te skryf aan jou eie lewensverhale wat God nie verheerlik of Hom gelukkig maak nie, dus kan Sy hand van seën nie oor jou keuse wees nie.  So wanneer ons keuses maak uit ons eie en nie die wil van God soek nie, kan ons ook nie ’n lewe van seën en voorspoed verwag nie. 

 My ma het nie gestreef na die wil van God toe sy die keuse gemaak het omtrent ’n lewensmaat nie;  sy het dus haar eie vleeslikheid probeer bevredig sonder om die wil van God te soek.  Sy het dus haar eie lewensverhaal bepaal en uitgeleef – sy het haar eie lewensboeke geskryf en nie dít geleef wat Abba Vader vir haar beplan het nie.  Nodeloos om te sê:  dit was nie ’n baie goeie huwelik nie en my ma was emosioneel gebreek.  Na 20 jaar het sy hom verlaat en weggetrek, maar die probleem is dat sy geestelik daardie boeke waarin sy haar lewensverhaal saam met daardie man neergeskryf het, net eenvoudig toegeklap het.  Sy wou nie dink of praat oor haar verlede nie.  Ek het op ’n stadium vir haar gesê dat sy sal moet teruggaan in haar verlede, vergewe en laat gaan… haar antwoord was dat sy klaar die boek toegemaak het.  Sy het net vorentoe gekyk en aangegaan met ’n “nuwe lewe”… Die probleem is dat nie een van ons net ons eie lewensverhaal-boeke kan toeklap en aangaan nie.  As ons ons eie lewensverhale bepaal en beplan het, met ander woorde, keuses gemaak het wat nie die wil van God is nie, sal ons daardie boeke weer moet oopmaak en aan Abba Vader moet bely dat ons verkeerde keuses gemaak het.  Hy sal jou vergewe daarvoor, maar dit beteken dat jy ook die mense wat jou leed aangedoen het, moet vergewe en laat gaan daarvan.  Ons moenie met wraak in ons rondloop nie, want dit is om gif te drink met die hoop dat die mens wat jou leed aangedoen het, sal sterf.  Dit kan nooit so werk nie, want die gif gaan jou affekteer en nie die ander persoon nie. 

Om terug te kom na die storie van my ma:  4-5 Jaar nadat my ma daardie man verlaat het, het haar maag haar begin pla.  Sy het dokter gegaan waarna hy dadelik verdere toetse gedoen het.  Hulle het ’n kwaadaardige gewas in haar dikderm ontdek – KANKER!  ’n Woord wat ons almal vrees!  Die dag toe sy my bel en sê dat dit wel kanker is, het ek net gebreek voor die voete van Abba Vader.  Ek het verskriklik gehuil, want my ma word NOOIT siek nie… en noudat sy siek is, is dit sommer kanker.  Ek het gekniel voor Abba Vader en geweet hier word ek ook nou getoets…  Abba Vader het my die laaste paar maande geleer dat ons nie teen SY wil mag bid nie.  Ons moet bid na die wil van God, ons mag nie vir God hied en gebied nie.  Dit beteken vir my dat ek nie vir die Here mag vra om my ma op ’n wonderbaarlike manier te genees nie… ek moet die wil van God aanvaar, want dit wat Hy beplan het, sal wel gebeur.  Ons mag nie ons eie wil op God afdwing nie!  Terwyl ek op my knieë voor Abba Vader my hart uitgehuil het, het ek daarna meer vrede gehad en kon ek die situasie en my hartseer oorgee aan Abba Vader.  Dit is om in Sy rus in te beweeg en Hom toe te laat om te werk daar waar Hy weet werk nodig is.  God weet wat Hy doen, dis nie vir ons nodig om vir Hom te vertel wat Hy moet doen nie.

Die dokter het besluit om die gewas so gou as moontlik te verwyder.  Dit was ’n groot operasie en my ma moes natuurlik vir ’n paar dae in die hospitaal bly.  In die tyd het Abba Vader my onder gebed die vergroeisel in my ma se derm gewys en gesê dat hierdie gewas ontstaan het uit ’n wortel van bitterheid.  Dit is dus nie God wat haar die kanker gegee het nie, maar die gewas het ontstaan uit haar eie verkeerde keuses wat sy gemaak het.  Sy het soveel jaar terug die keuse gemaak om met ’n man te trou van HAAR drome en nie gewag dat die Here vir haar ’n Goddelike man stuur nie.  Hierdie moeilike huwelik het haar baie emosionele seer berokken en sy was baie kwaad vir daardie man.  Sy het gesukkel om hom te vergewe en omdat sy daardie boek net toegeklap en begrawe het, het daar ’n bitter wortel binne haar begin groei.  Niks in daardie boek was uitgesorteer nie – die woede, bitterheid, onvergewensgesindheid en dalk ook wraak het aangehou woed binne-in daardie boek, en sodoende ook binne-in haar hart.  Dit was eers ’n klein worteltjie van kwaad, maar daardie worteltjie het begin groei en ’n baie lelike gewas veroorsaak wat haar dood kon beteken.  Sy het ’n operasie ondergaan waar hulle die gewas verwyder het, met ander woorde, fisies het die dokters die gewas van kwaad verwyder, maar nogsteeds moes my ma geestelik hierdie saak uitsorteer.  Sy sal moet herken dat sy die verkeerde keuses gemaak het, dat dit nie die wil van God was om met daardie man te trou nie en sy moet dit uitsorteer voor die voete van Abba Vader.  Sy sal die boek van daardie gedeelte van haar lewe wat sy self geskryf het, moet gaan uitgrawe en erken dat fouteer het, dat sy teen die wil ’n vleeslike keuse gemaak het.  En so baie van ons maak hierdie fout!  Ons klim in ’n verhouding in teen die wil van God en het dan ’n ongelukkige huwelik wat baie woede, frustrasie, haat en wraak kan veroorsaak… wat bitter wortels in ons vleeslikheid kan veroorsaak wat ons vleeslik siek kan maak.  Ons moet regtig daarop let om te handel en te wandel in die weë van die Here… in dit wat Hy vir ons beplan het en nie in dit wat ONS wil hê nie. 

 Hoe gaan jy weet of dit die wil van die Here is of nie?  Hoe gaan jy weet as jy ’n huweliksmaat kies, of dit van God af is of nie?  Een ding is verseker… as julle net een in vlees is, gaan dit ’n moeilike huwelik wees.  Ons moet EERS een in gees wees met ons huweliksmaat voordat ons een in vlees kan wees. Meer oor hierdie onderwerp, is in die saadjie:  Opsoek na die helfte van jouself…

Met ander woorde:  Het God hierdie kanker in my ma se Goddelike Lewensboek opgeskryf as ’n klip in haar pad?  Nee, Hy het nie!  Deur haar eie verkeerde keuses het sy vir haarself 20 jaar se emosionele pyn besorg en omdat sy gesukkel het om hom te vergewe vir alles wat hy aan haar gedoen het, het daar bose worteltjies binne-in haar begin groei wat die kwaadaardige gewas verooorsaak het.  Dit is wat kan gebeur wanneer ons ons eie lewensverhale skryf sonder om te soek na die wil van God.  Ons maak verkeerde keuses en skep vir onsself vervloeking vir die toekoms.  Dit is dan baie onregverdig om God te blameer daarvoor.  Al wat ons kan doen, is om daardie boek wat ons self geskryf het, uit te gaan graweerken jy het ’n fout gemaak, dat jy teen die wil van God opgetree het, vrgewe en laat gaan van bitterheid, woede en wraak teenoor daardie mense wat jou leed aangedoen het.    

Abba Vader het my ’n baie waardevolle les eendag geleer om te laat gaan oor dit wat ander ons aandoen.  Ek het vermoed dat iemand wat naby my is, my leed aangedoen het, maar het nie bewyse daarvoor gehad nie.  ’n Paar jaar later onder gebed, sê Abba Vader uit die bloute uit vir my dat DIT wat ek vermoed het, reg is.  Dit het my baie seergemaak!  Ek was dadelik sommer  ongelukkig en Abba Vader het my gevra:  Nou wat gaan jy nou daaraan doen?  Ek het so bietjie gedink en gesê:  ‘Wel, ek kan nou eintlik niks daaraan doen nie.”  Abba Vader het vir my gesê om dit net te los, want dit het niks met my te doen nie.  Ek was eers geskok dat Abba ader vir my sê dit het niks met my te doen nie, want ek het gevoel ek is te na gekom, dat daar vir my gejok was.  Ek was seergemaak!  Maar nogsteeds het Abba Vader vir my gesê:  Dit het niks met jou te doen nie!  DIT wat die mens gedoen het wat verkeerd was in die oë van God, maak my wel seer, maar die persoon het ’n baie groter probleem, want sy/haar verkeerde keuse gaan hom/haar inhaal om ’n stukkie vervloeking te skep vir die toekoms…  En die ergtste van alles, is dat hy/sy eendag voor Abba Vader gaan moet staan en verduidelik hoekom hy/sy dit gedoen het.  So ek mag nie kwaad wees vir die persoon daaroor nie, ek moet vergewe en aangaan, want dit het eintlik niks met my te doen nie.  Hierdie “mindset” het my baie gehelp om van daar af die leed wat my aangedoen word, maklik eenkant te sit en net te fokus op Abba Vader.  

Om weer terug te kom na die storie van my ma:  Die gewas is verwyder uit haar dikderm en dit gaan baie goed met haar.  Die dokter het voortgestel dat hulle chemo en bestraling op haar doen net om seker te maak dat al die kankerselletjies dood is, maar sy het daarteen besluit.  Sy het in die rus van Abba Vader inbeweeg en dit in Sy hande gelos…

Daar is baie argumente en opinies oor waar siekte vandaan kom wat ek in die volgende saadjie sal vertel hoe Abba Vader my sover gelei het.                    

“Pas op dat niemand in die genade van God veragter nie;  dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.”  Hebreërs 12:15

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s