Ek het al soveel keer vir Abba Vader gevra: “Hoe kan ek ooit dankie sê vir die God wat Hy vir ons is? Vir alles wat Hy vir ons doen?” En dan sê Abba Vader keer op keer: “Met jou lewe, My kind! Sê vir My dankie met jou lewe!”
Op ’n stadium het die term worship my baie gepla, want ek het besef die mens worship God nie soos Hy dit wil hê nie, die wêreld het worship goedkoop gemaak. Ek het met Abba Vader gepraat hieroor en Hom gevra hoe wil Hy hê moet ons Hom loof en prys? Hy het my gevra: “Hoe loof en prys die natuur My?” Ek het so bietjie gedink en Abba Vader sê toe: “Deurdat elke blommetjie wat Ek gemaak het, blom tot my eer!” Dit is vir Abba Vader ’n groot vreugde om elke blommetjie te sien blom en elke boom te sien vrug dra, want dit is hoe die natuur Hom loof en prys. Die natuur is Syne; Hy het dit gemaak en hoe wonderlik is dit dat die natuur Hom altyd gehoorsaam. Elke blommetjie blom op die bestemde tyd wat Abba Vader bepaal het en deurdat hulle God gehoorsaam deur te blom, loof en prys hulle die Naam van God. Sonder om ’n woord te spreek, sonder ’n geluid, sonder om te ywer, vorm elke plantjie sy pragtige blomblare om te blom op die presiese tyd wat deur God bepaal is. Hulle gehoorsaam die natuurwette wat God bepaal het en op hierdie manier loof en prys hulle die Naam van God. Dit is wat gehoorsaamheid doen en dit is wat ware worship is.
Nadat Abba Vader my verduidelik het oor die natuur se manier van loof en prys, het Hy my gevra: “Hoe loof en prys die mens My?” Die mens word van jongs af geleer om Hom te loof en prys met die mond. Ek het begin besef daar is baie meer agter worship as wat ons deur die wêreld geleer word, want ons word geleer dat ons God worship deur vir Hom te sing en dans, maar dit is net ’n titseltjie van wat ware worship regtig beteken. As jy gaan kyk na die Hebreeuse woorde van “worship”, is daar so iets soos 7 verskillende hebreeuse woorde vir “worship” en net 2 van hulle beteken om te sing en dans met musiekinstrumente. Al die ander betekenisse kom daarop neer om God te loof en prys met ons lewens… nie met woorde nie.
Van daar af sien ek die natuur met ander oë, waardeer ek elke blommetjie wat blom, elke boom wat bloeisels maak en die heerlikste reuk versprei, elke boom wat vrug dra, want dit is die natuur se manier om God te gehoorsaam, om Hom te loof en prys, om Hom te worship… deur Sy natuurwette te gehoorsaam. Die natuur dien, loof en eer God deur hulle lewe, nie met woorde nie. Die son, maan en sterre gehoorsaam God deur Sy wil uit te voer en in hul wentelbane te bly roteer en ’n lig uit te skyn. Sonder om ’n woord te spreek, getuig hulle van die grootheid van God!
Ps 19:2: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van Sy hande… daar is geen spraak en daar is geen woorde nie – onhoorbaar is hulle stem.”
Die wind, reën, hael en sneeu gehoorsaam God en waai, reën, hael en sneeu op die presiese tye en plekke wat God bepaal het. Deur hulle gehoorsaamheid aan God, loof en eer hulle God. Dit is presies wat God van ons as mens ook vra… gehoorsaamheid! Dit is ons gehoorsaamheid en liefde vir Hom wat Hom loof en prys, wat Hom worship… ne leë woorde nie.
Ons moet God worship deur ons lewe – deur soos ’n ster in die regte wentelbaan te bly wat God vir ons bepaal het, deur ‘n Lig uit te straal wat net van God af kom, deur te blom soos die pragtige blommetjie in die veld, deur vrug te dra deur Jesus wat in ons geesharte gevestig is. Deur gehoorsaamheid aan God en alleen Sy wil te gehoorsaam vir ons lewens, worship ons God! Ons kan God alleenlik worship deur ons gees, glad nie deur ons liggaam of siel nie. Ek sal dit in diepte verduidelik in die volgende saadjie…