Hoe weet jy dat jy ander liefhet?

1E384834-EAD0-417E-83AB-E37066093A51

IMG_1091(Hierdie is een van die saadjies uit die boek “LIG Saadjies”.    Die eerste stel boeke is klaar uit, maar daar is nog ‘n stel wat nou gedruk word.  Ons gee die eerste klomp boeke gratis uit. Kontak my vir ‘n gratis boek by sonneblomsaadjies33@gmail.com of whatsapp my op 0833603072.)

“Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet:
WANNEER ONS GOD LIEFHET EN SY GEBOOIE BEWAAR!
1 Johannes 5:2 (Afr .33/53)

Weet ons regtig wat dit beteken om waarlik lief te hê? Weet ons regtig wat liefde is? Die mens se emosies en gevoelens kan so misleidend wees… kan ons regtig ons menslike emosies vertrou? Kan ons aan iemand ons liefde verklaar terwyl ons gevoelens sommer oornag kan verander? Ons kan so maklik ons harte toemaak vir iemand waarvoor ons kwansuis lief was… dan was dit mos nie ware liefde nie. God het die grootste daad van liefde aan die mens gedemonstreer deurdat Hy Sy Seun aarde toe gestuur het om Sy Woord te kom vestig en vir ons ’n pad oop te maak om terug te keer na God. Alleenlik God kan ons leer wat ware liefde is! Elke keer wanneer ek met Abba Vader praat oor die liefde, verwys Hy my na die boek van 1 Johannes.

As jy dink aan liefde, waaraan dink jy eerste? Dink jy aan jou gevoel vir jou man, kinders, familie, vriende, of dink jy aan liefde as ’n goeie daad wat jy aan mense verrig? Eintlik is ons veronderstel om net aan een ding te dink as ons die woord liefde hoor en dit is JESUS! Sonder Jesus is ons niks, is ons liefdeloos en kan ons nie liefde gee of uitdeel nie. Al is ons ook hoe “geestelik”, al praat of bid ons in tale, maar daar is nie Liefde in ons hart nie, beteken dit niks en klink die persoon vir God soos ’n leë, klinkende simbaal wat net ’n geraas maak. ’n Mens kan al die kennis van die Bybel of teologie hê, die dinge en geheimenisse van God verstaan, maar as Liefde in die hart van die mens afwesig is, is al daardie kennis niksseggend. (1 Korintiërs 13)

Sonder Jesus in ons hart, verstaan ons die woord “Liefde” totaal verkeerd en gebruik ons die woord vir iets wat Satan geskep het – soos wellus, dooie werke of brabbertaal. Hoe vinnig sê ons nie vir iemand ons is lief vir hom/haar nie? Hoeveel keer bedoel ons dit uit die dieptes van ons wese? Is dit nie ’n manier om iemand te probeer manipuleer nie? Is dit waarlik liefde? Ek lees in 1 Johannes 2 dat wanneer ons sê dat ons in die Lig van God wandel, maar ons haat ons naaste, dan lieg ons en wandel ons nie in die Lig van God nie, want as ons waarlik in die Lig van God wandel, sal ons Liefde in ons hart hê – ook vir ons vyande.

“Ek skryf aan julle ’n nuwe gebod wat waar is in Hom en in julle, want die duisternis gaan verby en die waaragtige Lig skyn alreeds. Hy wat sê dat hy in die Lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe. Wie sy broeder liefhet, bly in die Lig, en in hom is geen oorsaak van struikeling nie. Maar hy wat sy broeder haat, is in die duisternis en wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het.”
1 Johannes 2:8-11 (Afr. 33/53)

Hierdie vers het my baie laat dink oor die woord “Liefde”, want die teenoorgestelde van liefde is haat, en hoe maklik is ons nie in staat om iemand te haat nie… as ons haat, wandel ons in die duisternis! Dit is onmoontlik om van almal om ons te hou; daar is ongelukkig mense wat nie soos ons dink of voel nie en baie keer kan ons nie help om nie van ‘n persoon te hou nie. Beteken dit ons haat daardie persoon? Hoe moet ons liefde voel teenoor ’n mens waarvan ons nie hou nie? Hier het Abba Vader ingetree en my geleer dat liefde nie ’n gevoel is nie, maar ’n keuse! Dis ook nie heeltemal reg om te sê dit is ’n keuse nie, maar tog begin alles met ’n keuse…

Eerstens moet ons die keuse maak om Jesus te volg; dit is ’n keuse om jou rug op die wêreld te draai en Jesus se hand te vat; dit is ’n keuse om jou hart totaal oor te gee aan die Lewegewer. Om waarlik lief te kan hê, moet Jesus binne ons lewe. Geen mens kan op God se manier liefhê sonder Jesus binne hom nie, so dis nie uit die staanspoor ’n keuse wat die mens maak om ’n ander lief te hê nie, maar die mens moet eerstens die keuse maak om Jesus te volg, om Hom te dien en wanneer Hy in en deur ons lewe, kan ons begin om ander lief te hê… nie deur onsself nie, maar deur Jesus in ons! Alles begin by Jesus – om Hom te soek, om Hom lief te hê, om so na as moontlik aan Hom in die hart van God te staan en om die hartklop van Jesus te leer ken. Dan eers sal ons voel en leer wat ware liefde is en dan eers sal ons ander kan liefhê met die liefde van God. Met ander woorde, ons kan niemand waarlik liefhê as ons liefdesput nie gevul is met die Lewende Water nie, want dan eers ontvang ons ware liefde en kan ons ook ander op God se manier liefhê!

Kom ons kyk net eers na haat… Is daar ’n persoon in jou lewe waarvan jy so min hou, iemand wat jou dalk so erge onreg aangedoen het, dat jy nie sal omgee om daardie persoon in die hel te sien brand nie? As daar wel so ‘n persoon in jou lewe is, stel ek voor jy raak stil by God oor hierdie persoon, want dan het jy erge onvergewinsgesindheid teenoor daardie persoon. Onvergewinsgesindheid sit om in bitterheid en haat, wat ’n baie gevaarlike ding is – dit vorm ’n bose, bitter wortel wat binne die mens begin groei; dit dra baie lelike vrugte en kan die mens se hart pikswart maak; so haat is wanneer jy nie omgee om ‘n persoon in pyn en lyding te sien nie. Dan geld die Skrif van 1 Johannes 2 wat sê dat as ons beweer om in die Lig van God te wandel, maar ons haat ’n broeder, dan lieg ons, want ons wandel dan glad nie in die Lig van God nie. ’n Persoon wat haatdraend is, is nie op die regte pad nie en wandel nie in die Lig van God nie. As die liefde van Jesus binne die mens gevestig is, sal ons dit maklik vind om iemand te vergewe en daardie persoon te seën en vir hom te bid – pleks van vervloek. Daar is baie mense wat ons almal al te na gekom het, daar sal altyd mense wees wat ons te na sal kom, maar hoe ons die saak hanteer en oplos, is die belangrikste.
Het ons God lief?

Nou bly die vraag nogsteeds: Hoe weet ek of ek waarlik iemand liefhet en wat is ware liefde? Hoe moet ons ons naaste liefhê? Liefde gehoorsaam die wil van God, pleks van die wil van die mens. Op ’n dag gee Abba Vader my die Skrif wat al my vrae rondom “Liefde” verduidelik:

“Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet:
WANNEER ONS GOD LIEFHET EN SY GEBOOIE BEWAAR!”
1 Johannes 5:2 (Afr .33/53)

“The reality test on whether or not we love God’s children is this: Do we love God? Do we keep His commands? The proof that we love God comes when we keep His commandments…”
1 John 5:2 (Message)

“If you love Me, show it by doing what I’ve told you.”
John 14:15 (Message)

Met ander woorde, as ons God liefhet, sal ons doen wat Hy van ons vra, dus sal ons Sy gebooie gehoorsaam! Dit is ’n leuen dat die gebooie van God verval het en dat dit nie meer belangrik is nie. Jesus het nie gesterf aan die kruis sodat die gebooie moet verval nie. Doen jouself ’n guns en maak ’n studie van die Woord van God van al Jesus se woorde waar Hy oor die gebooie gepraat het.

Om te bepaal of ons mense liefhet, moet ons eers bepaal of ons God liefhet. Natuurlik gaan ons almal ’n onmiddellike antwoord kan gee en sê: “Ja, ons het God lief!” Maar voor ons so ’n vinnige antwoord kan gee, moet ons net eers ons harte deursoek, want wat sê ons dade? Getuig die woorde uit ons mond en ons dade van mekaar? Getuig ons vrugte en ons liefde vir Abba Vader van mekaar? Dit vat ons weer na ’n ander vraag: “Gehoorsaam ons God se gebooie?” 1 Johannes 5:2 kom daarop neer dat ons sal weet ons het ander lief eers wanneer ons God liefhet en ons Sy gebooie gehoorsaam. Om te bepaal of ons God liefhet, moet ons bepaal of ons Sy gebooie nakom en daaruit sal ons weet of ons God liefhet, en dan eers sal ons kan bepaal of ons die kinders van God liefhet…

“Hieraan weet ons dat ons Hom ken: AS ONS SY GEBOOIE BEWAAR! Hy wat sê: Ek ken Hom – en Sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die Waarheid (Jesus) nie. Maar elkeen wat Sy Woord bewaar, in hom het die Liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is.”
1 Johannes 2:3-5 (Afr. 33/53)

Wanneer ons beweer om God te ken, sal ons Jesus asook die Gees van God ken, want die werkinge van God, Jesus en die Gees van God loop altyd hand aan hand. Ons leer Abba Vader alleenlik ken wanneer ons gewortel is in Sy hart en wanneer ons leef op Sy liefde. Dan leef ons in God en God in ons en dan sal ons nie meer in sonde leef nie:

“Those who have been born into God’s family do not make a practice of sinning, because GOD’S LIFE IS IN THEM.”
1 John 3:9 (Message)

In die tyd wat Jesus op aarde gewandel het, het Hy sondeloos in gehoorsaamheid aan die wil van God gewandel. Wanneer ons wedergebore is en Jesus in en deur ons leef, is dit Jesus in ons wat God gehoorsaam – dit is nie die mens wat dit self regkry nie. Dan sal ons God waarlik liefhê, want weereens, dit is deur Jesus wat in en deur ons woon. Die persoon wat nie omgee om in die sonde te baljaar nie, wat nie sy foute wil of kan herken en erken nie, wys met sy lewe dat hy God nie ken nie. Sy dade getuig dat Jesus nie in en deur hom leef nie.

“Anyone who continues to live in Him will not sin. But anyone who keeps on sinning does not know Him or understand who He is.”
1 John 3:6 (Message)

Hierdie persoon sal tien teen een met sy mond bely om God lief te hê, om God te ken en om gevul te wees met die Gees van God, maar ongehoorsaamheid aan God bewys die teendeel.

“Dear children, don’t let anyone deceive you about this: When people do what is right, it shows that they are righteous, even as Christ is righteous. But when people keep on sinning, it shows that they belong to the devil, who has been sinning since the beginning… Those who have been born into God’s family do not make a practice of sinning, because God’s life is in them. So they can’t keep on sinning, because they are children of God. So now we can tell who are children of God and who are children of the devil. Anyone who does not live righteously and does not love other believers does not belong to God.”
1 John 3:6 (Message)

Dus, as ons wedergebore is en Jesus leef in en deur ons, stel Hy ons in staat om God te gehoorsaam en as ons God gehoorsaam, getuig dit van ons liefde vir Hom. Wanneer ons God liefhet, kan ons ook die kinders van God liefhê. Weereens is dit nie ons wat ander liefhet nie, maar is dit Jesus in en deur ons wat ons in staat stel om ander lief te hê. As jy gaan kyk na die gebooie, sal jy sien die eerste paar gebooie gaan oor om God lief te hê; om nie ander afgode te aanbid nie; om die Sabbat na te kom en om nie die Naam van God te misbruik nie. Die ander ses gebooie handel daaroor om jou moeder en vader te eer, om nie moord te pleeg nie, nie egbreek te pleeg nie, om nie te steel nie, om nie vals getuienis teen ’n ander te spreek nie en om nie iets van jou naaste te begeer nie. Met ander woorde, die res van die gebooie gaan eintlik daaroor om nie jou naaste leed aan te doen nie. Gaan weer wat sê 1 Johannes 5:2! Ons sal weet ons het die kinders van God lief wanneer ons die gebooie van God gehoorsaam!

As ons ons naaste nie leed aandoen nie, getuig dit van ons liefde vir God, asook vir ons medemens. Sien julle hoekom sê ek liefde vir ons naaste is nie ’n gevoel nie? Dit is gehoorsaamheid aan God. Ons kan alleenlik gehoorsaam wees aan God wanneer Jesus in en deur ons leef en ons kan alleenlik ons naaste liefhê wanneer Jesus in en deur ons leef. Sonder Jesus is gehoorsaamheid aan God onmoontlik. Sonder Jesus, is liefde vir ons naaste onmoontlik… So ware liefde begin altyd by Jesus…

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s