Swart sambreel keer die seën van God af

Abba Vader is goed vir Sy kinders en Hy wil hulle seën deur Woord oor hulle uit te spreek.  Die Woord wat God oor Sy kinders wil spreek, moet in hulle geesharte kan inval, maar daarvoor moet hulle harte ontvanklik wees daarvoor.  Die probleem wat hier insluip, is dat daar ’n swart sambreel oor soveel van God se kinders se koppe hang en hierdie swart sambreel keer dat die Woord van God in hulle geesharte inval.  

In ’n vorige saadjie Uitroep van samekomste het ek vinnig vertel hoe Abba Vader wys dat daar mense is wat geestelik ’n Lig uit hulle harte skyn en net so is daar mense wat geestelik swart rookbolle uit hulle harte uit afskei.  Hierdie swart rookbolle gaan hang in die gees soos ’n swart wolk om die mens.  ‘The Message’ beeld hierdie swart rookbolle op hierdie manier uit:

Ephesians 2:1   “You filled your lungs with polluted unbelief, and then exhaled disobedience.”  

  Hierdie swart rookbolle gaan hang soos ’n swart sambreel oor die koppe van die mens en keer die Woord en die seën van God af.  Maar waar kom hierdie swart rookbolle vandaan en hoe kan ons ontslae raak daarvan?  ’n Swart hart skei dit geestelik af, ’n hart wat verduister is en waarom is mense se harte verduister?  Omdat hulle voed op die bose vrugte wat Satan aan hulle bied.  (Lees gerus die saadjie Vrug van die bose boom oor die effek wat verbode vrugte op die mens het.)  Om ontslae te raak van die swart sambreel, het ons die Lig van God nodig, want alleenlik die Lig van God kan die duisternis verbreek.  

 Hierdie swart sambreel is soos ’n vervloeking wat oor ’n mens se kop hang en soveel mense gee vir Satan die skuld daarvoor, daarom probeer hulle die rookbolle “wegtoor” deur oorlogvoering of om sekere woorde te spreek, maar die probleem is dat oorlogvoering teen Satan en aangeleerde woorde wat net gespreek word, nie die swart hart van die mens kan verander nie.  Solank as wat die hart verduister is, met ander woorde, so lank as wat die mens toegee aan die versoekings van Satan, sal die mens ’n swart sambreel oor sy kop hê.  

Ander sal weer met die argument kom dat die swart sambreel afkomstig is vanaf die sondes van hulle voorouers en hulle sal weer bloedlynvloeke sny in ’n poging om die swart sambreel uit die weg te ruim, maar weereens…  gaan ’n verduisterde hart verander word deur bloedlynvloeke te sny?  Alles, alles, alles draai om die toestand van die hart, die motief van die hart… dit is ons harte wat moet verander!

Hierdie swart sambreel ontstaan dus uit sonde, vals voorwendsels van die hart en ongeregtighede… pleinweg gesê:  Ongehoorsaamheid aan Abba Vader!  Dit weerhou Woord en seëninge van die mens!  Dit is soos ’n muur tussen mens en God.  Jesaja 59:2 sê:

“…julle ongeregtighede het ’n skeidmuur geword tussen julle en God…”  

’n Swart sambreel ontstaan omdat die mens nie heers oor sonde nie… omdat die mens lewe soos hy wil en hom nie steur aan die wil van God nie.  Die swart sambreel gaan nie verdwyn wanneer die mens kerk toe gaan of dinge vir die kerk doen nie, dit gaan alleenlik verdwyn wanneer die mens se hart oorgegee is aan Abba Vader en Sy Lig uit ons harte uit skyn.  Nou is die probleem weer dat geen mens uit sy eie oor sonde kan heers nie, ons kan alleenlik oor sonde heers deur die Gees van God in ons harte… en dit is hoekom God Sy Seun aarde toe gestuur het… om die Gees van God vry te stel om vir die mens as Helper te dien.  Sonder die Gees van God sal ons altyd verlore wees, sal ons altyd ’n swart sambreel oor ons lewens hê.  Vals kerke verkonding dat Jesus gesterf het om almal se sondes uit te kanselleer, dat Jesus alle vloeke gebreek het, dat almal se sondes outomaties ALREEDS vergewe is, maar dit is leuens soos hierdie wat die mens gevange hou in die duisernis, wat hulle weerhou om Abba Vader regtig te leer ken, wat hulle weerhou om die Gees van God te ontvang, want dit gee aan die mens ’n vals gevoel van gerusstelling… dan maak dit mos nie saak as ek sondig nie, want Jesus het mos ALREEDS vir my sondes gesterf, die sonde wat ek gedoen het en al die sonde wat ek nog gaan doen, is mos ALREEDS vergewe deur die kruisdood van Jesus (Saadjie – Wanneer word ons sondes vergewe?)  So vals kerke gaan vir die mens vertel dat die kruisdood van Jesus alreeds die swart sambreel wat oor hulle koppe hang, weggeneem het en dat hulle al die seëninge van God uit genade sal ontvang…  Maar die Waarheid is dat die meeste mense wat hulleself as Christene ag, se harte nog verduister is, (sonder die Lig van God) en dat hulle deur sonde swart rookbolle afskei wat soos ’n swart sambreel oor hulle koppe hang en die seën van God afkeer.  Hulle het nog nie die Gees van God in hulle harte ontvang nie.  Moet asseblief nie die leuen glo dat ons gebore word as heiliges en dat jy die Heilige Gees in jou hart het van kleins af nie, want hoekom anders het Jesus gesê dat die mens eers moet sterf aan die self voordat hy in die Koninkryk van God sal kan inkom?  Die mens moet ’n hartsverandering ondergaan en om dit te ondergaan, moet die mens eers sterf aan die ou, sondige mens, hy moet geestelik in die graf beland waar Abba Vader ’n hartsoorsplanting doen en Sy Gees in die hart van die mens vrylaat.  Daar moet eers ’n hartsbesnydenis plaasvind en dit kan nooit plaasvind sonder dat die mens die ou, sondige mens in homself kruisig nie.  Die leuens van die wêreld weerhou die mens om te sterf aan die self en tot ware wedergeboorte te kom, want dit is te maklik om net te aanvaar dat jy alreeds verlos en gered het, dat jy “veilig” is, dat jy deur genade alleen gered is… maar in der waarheid hang daar ’n swart bose sambreel oor die mense se koppe.  Hiermee sê ek nie daar is iets wat ons self kan doen om verlossing te bekom nie, maar ons kan ook nie terugsit, maak soos ons wil en net aanvaar ons verhouding met Abba Vader gaan groei nie.  Daar is goed in die lewe wat ons moet prysgee in ’n poging om tyd met Abba Vader te spandeer en alleenlik dan sal ons verhouding met Hom groei.  Alleenlik wanneer ons gewortel raak in die hart van Abba Vader, ontvang ons die Lewe van God wat ook die Lig van God is.  Alleenlik die Lig van God kan die swart sambreel oor ons koppe verbrysel. 

 Ons kan alleenlik heers oor sonde deur die LEWE van God binne ons.  Die mens wat dus met ’n opregte hart tot bekering en wedergeboorte gekom het, wat gewortel is in die hart van God, se hart skyn Lig uit en hierdie persoon is ontvanklik vir die Woord van God;  daar is nie ’n muur tussen hom en God nie, daar is niks tussen hom en God wat die Woord afkeer nie… en die Woord sal soos val soos die reën wat op die droë, dorre land val;  dit sal die geeshart se dors les deur strome Lewende Water…

“Soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter; so sal My Woord wees wat uit My mond uitgaan; dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.”   Jes 55:10,11

Abba Vader gee ook Deuteronomium 11 om te gaan lees, wat ’n wonderlike bevestiging!  In Deutr 10 begin die gedeelte met die hoofopskrif:  “Nuwe vermaning tot gehoorsaamheid”.  God eis van ons om Hom te vrees, om in Sy weë te wandel, om Hom lief te hê en Hom te dien met ons hele hart en ons hele siel, om die gebooie te onderhou… en dan eindig vers 13 met die woorde:  “…sodat dit met jou goed kan gaan!”.  Dit kan met ons goed gaan wanneer daar nie ’n swart sambreel oor ons koppe hang nie, wanneer die Woord wat God oor jou en my wil spreek, direk in ons harte kan inval. 

Ongehoorsaamheid aan God = ’n swart sambreel met geen seën van God.                        Gehoorsaamheid aan God = seën van God. 

“Kyk, Ek hou julle vandag seën en vloek voor – die seën as julle luister na die gebooie van die Here julle God wat ek julle vandag beveel;  en die vloek as julle nie luister na die gebooie van die Here julle God nie, maar afwyk van die weg wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop wat julle nie geken het nie.”  Deuteronomium 11:27,28

 Gehoorsaamheid begin by ’n keuse!  Ons kan kies om die sonde en boosheid in onsself raak te sien, om die Gees van God toe te laat om ’n Lig te skyn op die lelik binne ons sodat ons dit kan erken en aan God kan bely, want dit is hierdie lelike goed binne ons wat ’n muur tussen ons en God veroorsaak.  As die mens nie sy eie swart hart wil raaksien nie, is daar nog te veel hoogmoed en trots, en hierdie eienskappe word direk aan Satan gekoppel, want dit is hoekom hy uit die hemel uitgeskop is!  

Kom ons kom terug na die groot probleem:  Mense wat ’n swart sambreel oor hulle koppe het, kan nie die seëninge van God ontvang nie.  Hulle moet eers ontslae raak van die swart sambreel!  Om ontslae te raak daarvan, moet ons dit kan raaksien en erken, ons moet die oorsprong van die swart rookbolle kan identifiseer en dit is ook hoekom ons die Woord van God het.  Die Woord van God werk saam met die Helper van God om ons verkeerdhede aan ons uit te wys, maar ons moet sterk genoeg wees om dit te kan erken en bely aan Abba Vader.  Soos die Gees van God ons help om ons sondes te oorkom, asem ons geestelik al hoe minder swart rookbolle uit, so die swart sambreel begin krimp.  Hoe meer tyd ons in die Woord en by die voete van Abba Vader spandeer, hoe meer begin ons hart Sy Lig uitskyn totdat Sy Lig so helder uit ons uitskyn dat die swart rookbolle totaal verdwyn.  Dan staan ons oop onder die hand van Abba Vader en sal die Woorde wat Hy oor ons spreek, direk in ons harte kan inval!  

Dit alles kom weereens terug na ’n opregte hart, tyd spandeer met die Woord van God, verhouding met Abba Vader en dit alles lei na gehoorsaamheid aan God.  Abba Vader se woorde aan my was die volgende:

“Showers of blessings will be pouring and raining over you. You will leap for joy” 

Op ‘n ander keer het Abba Vader ook gesê: 

“Soos die lelies van die veld – so vrolik – so sal jy blom oor al die seëninge van reën van bo. Ek wil vir jou net die beste gee. Lief My met jou hele hart en Ek laat gebeur die onmoontlike.  Vertrou My volkome en Ek sal jou die beloftes laat sien.  Dien My.  Eer My.  Gehoorsaam My!” 

Tekens van die tye

 “Kyk, die winter is verby, die reëntyd is oor, dit het verbygegaan.   Die bloeisels word gesien in die land, die sangtyd het aangebreek, en die tortelduif laat sy stem hoor in ons land”   Hooglied 2:11,12

Alhoewel ons dadelik ’n mooi prentjie kry as ons hierdie lees, gaan dit nie vir almal op ’n mooi prentjie dui nie.  Die bloeisels wat gesien word, is mooi, maar dit dui ’n tyd van gereedheid aan, ’n tyd van oordeel.  Vir diegene wat goeie vrugte en bloeisels aan hulle bome het, is dit ’n goeie tyd wat wag, maar vir diegene wat nie ’n boom met goeie vrugte in God se hart gegroei het nie, dui dit aan op ’n tyd van vrees, verwoesting en oordeel, want die byl lê alreeds teen die wortel van die boom.  Elke boom dan wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi (Luk 3:9).  Daar is in vandag se tyd soveel dwaalleringe van godsdiens, soveel goddeloosheid, mense gee hulle oor aan bose begeerlikhede, hulle doen net wat hulle wil en dink hulle godsdienstige rituele gaan hulle red…

 Die bloeisels laat my ook dink aan die Skrif in 2 Kor 2:14-17 wat gaan oor ’n reuk wat versprei word.  Bome wat bloeisels dra, versprei ’n geur…vir baie is dit ’n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word, maar onder die wat verlore gaan, is dit ’n reuk van die dood…

Die tortelduif wat sy stem laat hoor in die land is God se boodskappers wat Hy uitstuur net soos Hy Noag en al die profete uitgestuur het.  Hierdie tortelduiwe sing nie altyd mooi liedere nie, maar klaagliedere en gesug en wee, en daarom haat die wêreld en sy mense hulle.  Hulle is vir die mensdom ’n onaangename reuk waarvan hulle niks hou nie, want die mens in die wêreld wil net mooi dinge hoor;  hulle wil hoor Jesus het vir hulle sondes gesterf en dat almal daardeur gered is.  Hulle wil nie hoor dat hulle die self moet kruisig, hul lewe moet aflê en Jesus moet volg nie;  hulle wil nie hoor dat hulle klipharte verander moet word nie, hulle wil niks hoor van gehoorsaamheid nie en daarom preek kerke nie vir mense om hulle sondes te laat staan nie.

In 2012 het Abba Vader baie duidelik vir my gesê ’n droogte gaan SA tref vir 7 jaar.  ’n 7 Jaar droogte!  Hy het ook vir my duidelik die Skrif, Jeremia 14, gegee.  Ek het soos gewoonlik gesnak na my asem toe ek hierdie Skrif lees:

1DIE woord van die Here wat tot Jeremia gekom het weens die groot droogte.  2Juda treur en sy poorte verval; hulle sit in rou op die grond, en die geskreeu van Jerusalem gaan op.  3En die vernames onder hulle stuur hulle ondergeskiktes na die water; hulle kom by die bakke, hulle kry geen water nie; leeg kom hulle kanne terug; hulle het beskaamd gestaan en in die skande gekom en bedek hulle hoof.  4Weens die land wat verslae is, omdat daar geen reën op die aarde is nie, kom die landbouers in die skande, hulle bedek hulle hoof.  5Want selfs die wildsbok in die veld lam en gooi haar lam weg, omdat daar geen jong gras is nie.  6En wilde-esels staan op die kaal heuwels, hulle snuif die wind op soos die jakkalse; hulle oë versmag, omdat daar geen gras is nie.

In Oktober 2016 wys Abba Vader hoe die beeste loop en stof opskop.  Op sekere plekke is daar nie meer kos vir die diere nie.  Van die diere begin lê en later is dit net geraamtes wat daar lê.  Dit was vir my verskriklik om te besef dat dit gaan begin gebeur in SA, want ek is ’n obsessiewe diereliefhebber.  Met hierdie beeld wat Abba Vader my wys, verduidelik Hy aan my dat ek nie hoef te huil vir die diere nie, want vir hulle is dit die loop van die lewe.  Die dier word nie op hierdie manier gestraf nie, met ander woorde, ’n dier sien en beleef dit nie as straf nie.  Maar die mens beleef dit as ’n straf, want dit is die mens wat op die ou end van die dag finansieël verloor en swaarkry.  ’n Kort rukkie nadat Abba Vader vir my gewys het oor die diere, het dit ook so begin gebeur in sekere gebiede. 

Mense het begin bid en smeek vir reën, soveel mense het geprofeteer oor reën wat val;  sommige mense het Satan beskuldig dat dit hy is wat die droogte veroorsaak en hom met leë woorde probeer beveg.  Sommige mense het selfs die arrogansie gehad om die natuur aan te spreek met “heilige woorde” en die natuur probeer beheer sodat die wolke reën moet bring.  Maar God het die droogte beplan!  God beheer die natuur, nie Satan nie.  Die natuur gehoorsaam God altyd, God besluit waar die wolke bymekaar sal kom en waar dit sal reën.  Ek het op ’n stadium vir Abba Vader gevra hoekom dit so sleg gaan in SA ten opsigte van die droogte en Hy het gesê die geestelike duisternis wat hang oor SA, is die gevolg daarvan.  Die valsheid van die mense!  Die godsdiens van die mense!  Mense ken nie vir God nie, hulle aanbid Hom nie uit liefde vir Hom nie, maar vir wat hulle daaruit kan kry.  Hy het my ’n prentjie van motte gewys en gesê SA se mense is soos ‘n klomp motte om ’n lig.  Hulle vergader in groot groepe om ’n lig om te smeek vir dit wat hulle wil hê, byvoorbeeld reën, maar wanneer hulle wel reën kry, verdywn die motte baie vinnig om die lig.  Dan is daar nie meer ’n mot in sig nie!  Waar is die mens se verhouding dan met Abba Vader?  Hy wil nie hê ons moet wees soos ’n mot om ’n lig wat smeek en wanneer ons ons sin gekry het, gaan ons aan met ons goddelose lewe nie… al die derduisende mense wat so saamgeroep word en wat hulle harte en klere skeur voor God sodat Hy dit beter met SA moet laat gaan, sodat Hy reën kan gee… waar is daardie derduisende mense se verhouding met Abba Vader wanneer hulle terugkeer na hulle normale lewe?  Abba Vader soek verhouding met die mens!  Hy wil hê jy moet Sy hart ken!  Moenie net God se hand soek vir help nie, soek Sy hart!  Raak verlore in Sy hart!         

 Kyk wat sê Jeremia 14 ook oor die vals profete wat in die tyd van die droogte reën en voorspoed vir SA voorspel het… 

“13 Toe sê ek: Ag, Here Here, kyk, die profete sê vir hulle: Julle sal geen swaard sien en geen hongersnood hê nie; maar Ek sal julle ‘n duursame vrede gee in hierdie plek.  14En die Here het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle ‘n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart.  15Daarom, so spreek die Here: Aangaande die profete wat profeteer in my Naam sonder dat Ek hulle gestuur het, en wat sê: Daar sal geen swaard of hongersnood in hierdie land wees nie — dié profete sal deur die swaard en die hongersnood omkom.”

Ek glo dat die droogte besig is om te begin breek, want 7 jaar is nou verby, maar dit beteken nie voorspoed nie, want Abba Vader wys baie waters…. oorstromings, hael en vuur.  Abba Vader gee vir my Jesaja 8 om te gaan lees, ek skryf die vertaling van The Message neer, gaan lees dit gerus in die ander vertalings:

God spoke to me again, saying:  “Because this people has turned its back on the gently flowing stream of Shiloah, And gotten all excited over Rezin and the son of Remaliah, I’m stepping in and facing them with the wild floodwaters of the Euphrates,  The king of Assyria and all his fanfare, a river in flood, bursting its banks,  Pouring into Judah, sweeping everything before it, water up to your necks, A huge wingspan of a raging river O Immanuel, spreading across your land.”  Isaiah 8:5-8

  Dit help nie ons wil paranoïes raak en op hol gaan nie, al wat ons kan doen om skuiling te vind by Abba Vader.  Die eindtye is verseker op ons, God het dit lank reeds so bepaal en ons gaan nie God se arm kan draai om Sy planne en gedagtes te verander nie.  Al wat ons kan doen, is om te sorg dat ons stewig in Hom geanker en gevestig is.  Soek die hart van Abba Vader, nie Sy hand nie! 

Diere wat kniel – eindtyd

Abba Vader wys my onder gebed ’n veld vol diere… Ek kyk mooi na die diere en sien dat hulle lê, maar hulle lê nie soos ’n dier wat slaap nie… hulle lê met hulle voorpote vooruit en hulle koppe gebuig.  Die diere kniel!  Eers wonder ek of hulle kniel en smeek vir kos gedurende die droogte, maar tog is die veld om hulle baie mooi met oor as genoeg gras om te eet, so die droogte is nie die rede dat hulle kniel nie.  Dan sê Abba Vader dat die natuur, en veral die diere, die tye van God beter kan raaksien of aanvoel as die mens.  Mense besef nie dat die eindtyd op ons nie… dalk besef die mense dit, maar dis nie asof hulle hulle veel daaraan steur nie.  Hulle dink godsdiens en godsdienstige rituele gaan hulle red, dat hulle gemerk is as God se kinders as hulle gedoop is, nagmaal gebruik of aan ’n kerk behoort, maar dit is alles net godsdienstige rituele en het niks te doen met verhouding met Abba Vader nie.  Daar is so baie van God se kinders wat nog in die asvaal-afgebrande gedeelte funksioneer en dit is omdat hulle hulle ore toedruk vir Waarheid en na vals leringe luister.  Hulle spoeg die Woord van God uit hulle monde (Moet God jou behaag of wil jy God behaag?) want hulle wil nie sterf aan die self nie.  Wanneer God genoeg gehad het, gaan Hy ’n einde maak aan alles en wat dan van Sy kinders wat nog in die vaal gedeelte funsioneer?  Hulle gaan verlore gaan net soos die mense in die tyd van Noag verlore gegaan het…

 Vermaning om waaksaam te wees:  

36 Maar van die dag en die uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.  37  En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.  38 Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, 39 en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.    42  Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie….  44  Daarom moet julle ook gered wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie”

Mattheus 24

Ons MOET ’n lewende verhouding met Abba Vader hê, ons MOET gewortel wees in die hart van Abba Vader, ons moet elke dag tyd spandeer in suiwer Woord en stilraak voor Hom.  Dan eers ontvang ons die “covering” van God, dan eers skuil ons onder die vlerke van Abba Vader en sal ons beskerm wees in hierdie chaotiese wêreld.  Dit beteken nie dat daar nie slegte goed met ons kan gebeur nie, maar ons fokus sal verskuif van die wêreld na God en ons sal alles om ons sien uit die oë van Jesus.  Ons kyk met fisiese oë na die wêreld en sien net chaos, want die dinge wat rondom ons aangaan, is duidelik die tekens van die tye waaroor die Woord ons waarsku. Maar wanneer ons geestelike oë oopgaan, sal ons saam met die diere kniel en aan Abba Vader al die eer gee.  Die engele staan alreeds gereed om die oordele van God aan te kondig (Openb. 14)…

Abba Vader wys baie vir my die groot hout horlosie… die uurwyser is op 12 uur, die minute wyser is al net-net oor 12 en die sekondewyser is besig om met ’n spoed af te tik.  Hoeveel tyd daar nog oor is, sal net God alleen weet, maar as die oordele alreeds oor die aarde aangekondig word, kan daar nie meer so baie tyd oor wees nie.  Kom weg uit vals kerke en groepe wat net godsdienstige speletjies speel en raak stil voor die voete van Abba Vader dat Hy aan jou die Waarheid leer!  As die mens net kan besef hoe verskriklik belangrik gemeenskap met God is, ’n diep, lewende verhouding met Abba Vader.  

“En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is.  So weet julle ook, wanneer julle al hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.”

Mattheus 24:32,33

As ons onder die vlerke van God skuil, hoef ons nie bang te wees vir die oordele wat uitgevel word nie!  As ons in regstaande verhouding met Abba Vader is, het ons Goddelike beskerming.  Dit is vir my so mooi in Openbaring 7 waar die engele opdrag kry om die kinders van God te verseël voordat die verwoesting begin:

“En ek het ‘n ander engel sien opkom van die opgang van die son, met die seël van die lewende God; en hy het met ‘n groot stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig en gesê: Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie.”

Openbaring 7:2,3

Wat is hierdie seël?  Die is die merk van God en ons harte kan alleenlik gemerk word wanneer God ’n hartsbesnydenis op ons toepas, maar Hy kan alleen ’n hartsbesnydenis (Besnydenis van die hart – Audio) doen wanneer ons in die graf is, met ander woorde, wanneer ons die ou mens afgesterf het.  Dan verwyder Abba Vader ons kliphart en gee aan ons ’n vleeshart.  As jy die Uitnodiging na die Bruilofsfees lees, sal ook jy sien dat God uitnodigings uitstuur wat deur ons onderteken moet word.  Sekere uitnodigings word gestempel en ander word nie gestempel met die seël van God nie.  Daar is nog te veel mense wat met vals motiewe die uitnodigings onderteken, maar vals bekeerlinge sterf nie die self af nie, so hulle beland nie in die graf waar God ’n hartsbesnydenis kan doen nie.  Hulle ontvang dus nie die stempel van God nie, dus is hulle ook nie onder die beskerming van God wanneer die oordele die aarde tref nie.  

Ons het die “covering” van God nodig in hierdie tye en veral die tye wat voorlê, want dit gaan nie beter gaan nie, dit is net die vals profete wat tye van welvaart verkondig.  Hierdie “covering” van God is soos die ark in die tyd van Noag.  God SAL Sy kinders beskerm deur die chaos wat aangaan in SA en reg oor die wêreld, maar dan is dit jou verantwoordelikheid om te sorg dat jy gekonnekteer is aan Abba Vader.  Toe die waters begin val in die tyd van Noag, het God die deur van die ark toegemaak en al die mense buite het verlore gegeaan.  Die sekondewyser van Abba Vader tik-tik stadig maar seker af en elke dag is ons ’n dag nader aan die  koms van die Seun.   Diegene wat in die vaal gedeelte funksioneer, gaan nie meer ’n kans hê om na die Lig van God toe te kom nie, hulle gaan vir ewig verlore wees.  Hulle gaan vergaan soos die mense in die tyd van Noag vergaan het.  Hulle vergaan omdat hulle verkeerde keuses maak, omdat die wêreld belangrik is, omdat die self vir hulle te belangrik is, omdat hulle hulle ore uitleen aan leuens van vals profete.  Maak seker die herder wat jy volg, is die ware HERDER!  

Mag ons tot die besef kom dat die eindtye op hande is en werk aan ons verhouding met Abba Vader sodat ons sal ook sal kniel soos die diere…

 

Godsdienstige rituele behaag net die self

FFB006D3-17A3-4E66-BDE8-E9580C52C69C

 

Ek is klaar geskryf aan die boek:  “Die Uitnodiging” en dit is baie hartseer om te besef dat daar soveel mense is wat eenvoudig net die uitnodiging na die Bruilofsfees van die Lam eenkant toe skuif en nie belangstel nie.  Die wêreld  en sy dinge is vir hulle te lekker en te belangrik.  In Jesaja 65:12 van The Message staan:

 

“When I INVITED you, you ignored Me!

When I spoke to you, you brushed Me off.  You did the very things I exposed as evil,

YOU CHOSE  what I hate!

Isaiah 65:12 (MSG)

 

Dit is vir my sulke hartseer woorde, want Abba Vader wys dat daar van Sy kinders is wat in die vaal gedeelte funksioneer, wat besig is om verlore te gaan.  God sal altyd Sy kinders op die naam roep om verhouding met Hom te bou, om Hom waarlik te leer ken, maar soveel van Sy kinders ignoreer Hom en hou hulle eerder besig met die wêreld se gemors.

Dan is daar die grootste groep mense en dit is hulle wat wel die uitnodiging na die Bruilofsfees van die Lam aanvaar, maar om die verkeerde redes.  Die motief van hulle hart is vals, want hulle wil die Bruilofsfees bywoon vir dit wat hulle daaruit kan kry, die voordeel wat hulle daaruit kan trek, wat dit vir hulle kan beteken.  Dit is die groep mense wat hulle besig hou met godsdiens en rituele en dink hulle godsdiens gaan hulle ’n plek aan die tafel by die Bruilofsfees besorg.  Dit gaan nie!  Abba Vader het niks te doen met rituele en godsdiens nie, al wat Hy soek, is jou hart, jou lewe! 

 

Ek skryf nie hierdie harde woorde om op ander se tone te trap nie, want ek het self ook deur dit gegaan.  Voordat ek tot ware bekering gekom het, het ek ook kerk toe gegaan omdat dit vir MY iets kon beteken.  Ek het myself as ’n Christen gesien en gesê ek glo in Jesus omdat ek nie graag hel toe wou gaan nie.  Die fokus was dus op myself en nie op Jesus nie.  Ek het nie in Jesus geglo omdat ek Hom wou behaag nie, ek het nie God aanbid sodat Hy oor my moes glimlag nie en dit is so verkeerd!  Later jare toe ek waarlik verhouding met Abba Vader begin bou het, het dit my begeerte begin raak om Hom te behaag sodat Hy sou glimlag oor my en ek het toe besef dat my motief nie altyd in lyn was met die voorbeeld van Jesus nie.

 

Wat is die rede van jou hart dat jy God dien?  Dat jy kerk toe gaan?  Dat jy “dingetjies” doen vir die koninkryk van God?  So min mense se motief draai uit liefde vir Abba Vader en om Hom te behaag;  die meeste mense se motief draai om die self… Hulle wil graag eendag die Bruilofsfees van Jesus bywoon omdat hulle dink dit gaan vir hulle baie voordele inhou of dat hulle dalk lekker feeskos gaan eet, dat dit vir hulle ’n ewigheid kan bied.  Hulle dink die pad wat lei na die Bruilfosfees is ’n voorspoedige pad met baie sukses, gesondheid en welvaart, maar waar in die Woord belowe God dit vir ons?  Daar is inteendeel eerder klippe op die pad waarteen ons ons tone ten bloede stamp;  daar is moddergooiers en baie verwerping op die ware pad van God.  Jesus het nie uit die wêreld se oogpunt baie sukses behaal nie;  inteendeel, Hy is met klippe gegooi, Hy is verwerp oral waar Hy gekom het… behalwe natuurlik as Hy vir hulle wonderwerke kon doen…  Maar as Hy nie vir hulle wonderwerke wou doen nie, het hulle hulle rug op Hom gedraai.  Jesus het die misbruik van die mens leer ken – die vals motief van die hart van die mens.  Dit is seker waaroor ek die meeste skryf, maar dit is wat Abba Vader my leer.  Hy het my oë oopgemaak vir die misbruik van die mensdom, vir die leuens wat mense leef.  Alles gaan vir die mens oor die self!  Om die self te behaag, om in die self se behoeftes te voldoen, maak nie saak hoe hulle moet lieg en bedrieg om dit reg te kry nie.  Hulle wil net die self behaag, maar die probleem is net… solank as wat die self behaag gaan word, sal die mens nie die vleeslike, ou mens afsterf nie.  As daar nie ’n sterfte van die ou, sondige mens is nie, kan daar ook nie ’n geestelike geboorte van die nuwe mens wees nie. 

 

Mense kan aan soveel godsdienstige praktyke deelneem soos hulle wil;  hulle kan die Woord op die punte van hulle vingers ken, maar as die fokus nogsteeds op die self gemik is, is hierdie persoon nie weergebore nie en is hy maar net besig met godsdiens wat niks met geloof in Abba Vader te doen het nie.

 

“You choose self-serving worship, you delight in self-centered worship – disgusting! Well, I choose to expose our nonsense and let you realize your worst fears…” 

Isaiah 66:4 (MSG)

 

 Soveel mense neem deel aan godsdienstige rituele wat hulle by ander mense hoor of leer, en dan dink hulle hulle is besig om God te dien daardeur, maar daar is ’n hengse groot verkil tussen godsdienstige rituele en verhouding met Abba Vader.  As jy elke dag vir ’n geruime tyd, tyd in suiwer Woord en gebed deurbring, sal Abba Vader aan jou die Waarheid openbaar.  Maar dit is omdat die mens luister na mensgemaakte reëls, hulle woon Bybelstudies by waar die Wooord deur MENSE aan hulle geïnterpreteer word!  Daar is ’n BAIE groot verskil in Woord wat deur mense geïnterpreteer word en Woord wat deur die Gees van God aan ’n mens in afsondering geïnterpreteer word!  Wil jy nou regtig hê mense moet jou verduidelik wat sekere Skrif beteken?  Is mense se opinie regtig  geloofwaardig?  Is dit nie die beste om die Waarheid by Abba Vader self te ontvang deur Sy Gees nie?  


“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die Waarheid, sal Hy julle in die hele Waarheid lei;  want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.  Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem wat aan My behoort, en aan julle verkondig.” 

Johannes 16:13,14  

 

Dit is hoekom Jesus God se wil kom uitvoer het op aarde… om die Gees van God vry te stel sodat die Gees ons as hulp kan wees en om ons te konnekteer aan Abba Vader, om ons te help om in die hart van God gewortel te kan wees sodat ons direk die LEWE van God kan ontvang.  Ons het nie ’n medium nodig nie!  Ons het nie rituele nodig nie!  Daardie goed hou ons weg van God af, dit bou ’n muur tussen mens en God.  Ek het nou die aand ’n praatjie geluister oor Jehowa se getuies en dit was vir my skokkend om te hoor dat wanneer iemand aan hulle vra hoe hy/sy gered kan word, dan antwooord die Jehowa getuie dat die mens moet aansluit by hulle Bbyelstudie groepe en daar sal hy leer hoe om gered te word!  So almal wat na hulle Bybelstudies toe gaan, word geïndoktrineerd, daar word robotte van hulle gemaak, hulle word wette en reëls opgelê soos dat hulle glad nie bloed van ’n ander mag ontvang nie.  Hulle mag glad nie bloedoortapping ontvang nie, want hulle koppel fisiese bloed aan die bloed van Jesus.  Maar die bloed van Jesus is nie fisies nie, dit is geestelik!  Ons moet geestelik die bloed van Jesus ontvang, dit het niks te doen met ons fisiese liggaamlike bloed nie.  Ek het die volgende oggend, na ek die praatjie geluister het, stil geraak by Abba Vader se voete oor hierdie saak en hy het dadelik vir my Romeine 10 gegee om te gaan lees.  Kyk wat staan hier:

 

“I know what enthusiasm they have for God, but is is misdirected zeal.  For they don’t understand God’s way of making people right with Himself.  Refusing to accept God’s way, they cling to their own way of getting right with God by trying to keep the law.”  

Romans 10:2,3 (NLT)

 

Wees asseblief op die uitkyk vir maniere waarop jy geïndoktrineerd raak deur ander se sienings!  Let op rituele en godsdienstige wette en reëls in jou lewe.  Daar is net een manier en dit is deur Jesus Christus! Deur plek te maak vir Abba Vader in jou daaglikse lewe!  Laat die Gees van God toe om jou te leer, want die Gees van God praat direk met ons geesharte en dit is die enigste manier hoe Waarheid vasgemaak kan word in ons harte.  Geen godsdienstige rituele gaan jou aan Abba Vader verbind nie!  Alleenlik tyd in Sy teenwoordigheid!

 

“Wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is;  en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.”

 

Mattheus 6:6