“As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: Strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat die sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.”
Johannes 7:37-39 (AFR33/53)
Lees Johannes 4:1-18. Jesus knoop ’n gesprek aan met ’n vrou uit Sigem deurdat Hy vir haar vra om vir Hom water uit die put te gee om te drink. Sy kon nie verstaan dat ’n Jood met haar praat nie, want die Jode wou niks met die Samaritane te doen hê nie. Jesus antwoord haar dat as sy geweet het wat God vir die mense wou gee en wie dit is wat vir haar water vra, sou sy nie verder vrae gevra het nie. Sy sou dan eerder vir Hom water gevra het en Hy sou vir haar Lewende Water gegee het. Sy was seker baie verbaas oor Jesus se antwoord, want sy kon nie ten volle verstaan wat Jesus vir haar sê nie. Sy het dit in menslike terme verstaan en daarom vra sy vir Jesus waar Hy hierdie lewende water vandaan gaan kry, want Hy het nie eers ’n emmer en ’n tou by Hom nie. Hy is tog sekerlik nie beter as hulle voorvader, Jakob, wat hierdie put gesink het nie, so waar gaan Hy hierdie wonderlike lewende water vandaan kry? Jesus antwoord haar dat enige iemand wat van hierdie fisiese put se water drink, maar net weer sal dorskry, maar die persoon wat drink van die Lewende Water wat Hy bied, sal nooit in der ewigheid weer dors kry nie. Daar sal iets binne die persoon gebeur… Die water wat Jesus ’n persoon gee, sal sy diepste dors les deur ’n fontein binne-in hom en hierdie borrelende, Lewende Water sal maak dat die mens vir ewig lewe. Dadelik vra die vrou of Jesus vir haar ook van hierdie “wonderwater” sal gee, want die vrou verstaan dit wat Jesus aan haar gesê het, nogsteeds op menslike vlak, maar Jesus het dit op ’n geestelike vlak bedoel. Sy dink dalk aan die gemak van die lewe as sy nooit weer fisies dors sal kry nie en dan nooit weer nodig sal hê om in die hitte van die warm son uit hierdie put te kom water haal nie – dit klink wonderlik! Jesus sê vir die vrou om haar man te gaan haal, maar sy antwoord dat sy nie ’n man het nie. Jesus korrigeer haar deur te sê dat die man saam met wie sy nou bly, ook nie haar man is nie, en dat sy al vyf keer getroud was. Die vrou moes geskok gewees het! Hoe weet hierdie Man dit?
Jesus het geweet die vrou is geestelik dors; Hy het geweet daar is ’n tekort aan Lewende Water binne haar. Wanneer ’n mens ’n tekort aan Lewende Water het, het hy/sy ’n tekort aan ware Liefde. Dit is die rede hoekom die vrou van Sigem al vier mans gehad het, en die man saam met wie sy op daardie stadium gebly het, was nie haar man nie. Sy was op soek na liefde, sy het haar diep innerlike honger en dors probeer les met die liefde van mans, maar die probleem was (en is) dat geen mensliefde die diepe dors binne enige mens kan les nie. Dit is vandag nogsteeds die probleem… Saam met die vrou van Sigem, voel ons hierdie leemte, hierdie dors, en omdat ons sulke emosionele wesens is, soek ons liefde by ’n mens om hierdie leemte te vul. Die liefde van mans kon duidelik nie die leemte van die vrou van Sigem vul nie en kan ook geen mens s’n vandag vul nie. Menslike liefde kan dalk ons leemte vir ’n kort rukkie beter laat voel, maar geen mens kan ’n ander permanent voorsien van liefde nie. Op ’n stadium gaan die menslike liefdesvoorsiening min raak, die vrou se dors na liefde gaan weer terugkeer en sy gaan maar net weer na iets soek om die leemte te vul. Dink bietjie rasioneel hieroor: Hoekom voel ons vrouens baie dae asof ons mans ons nie meer liefhet nie? Ons blameer hulle vir ons gevoel van liefdeloosheid en leegheid. Ons blameer dus ons mans vir ons eie tekort aan liefde… is dit nie onregverdig nie? Ons mans is nie putte vol liefde wat getap kan word omdat ons harte leë putte is nie. Die liefde wat ons diep binne ons benodig, kan nooit deur ‘n man gevul word nie! Alleenlik deur die Lewende Water van God.
As ons baie menslike aanvaarding, erkenning en liefde soek, kan dit ’n teken wees dat ons vanuit ons diepste wese nog nie gevul is met die Lewende Water nie. Dit kan daarop dui dat ons verhouding met Abba Vader nie op standaard is nie en daarom is dit baie onregverdig om die gevoel van liefdeloosheid op ’n mens te blameer. Ons moet daarteen waak om water of liefde by mensgemaakte putte te soek, maar eerder fokus op ons verhouding met Abba Vader. Daar is wel ’n Put waar ons verniet Lewende Water kan ontvang wat ons gevoel van liefdeloosheid vir altyd sal laat verdwyn. Hierdie Lewende Water is ook die Liefde van God en dit word verniet aan ons gegee wanneer ons ons harte aan Abba Vader oorhandig om volgemaak te word.
God het ons geeshart op so ’n manier ontwerp dat dit alleenlik die Liefde van Jesus kan absorbeer, dit kan nie mensliefde absorbeer nie. Alleenlik ons liggaam en siel kan mensliefde absorbeer, ons geesharte kan nie. Ons geeshart het die liefde van God nodig. Die liefde van Jesus is dus die enigste liefde wat ons kan heelmaak, die enigste liefde wat ons kan genees en die enigste liefde wat ons leemtes kan vul. As ons nie gevul is met die liefde van Jesus nie, is ons leë mense en 1 Korinthiërs 13 sê sonder liefde, is ons leë, klinkende simbale. Met ander woorde, ons is leë mense sonder die liefde van Jesus! Ons is soos ’n put sonder water, en as die put van ons hart leeg is, kan ons ook aan niemand ware liefde uitdeel nie; dan deel ons vals liefde uit ’n leë put en ons doen dit deur leë woorde uit te deel, komplimente wat ons nie regtig bedoel nie of vriendelikheid met die doel om ’n ander te manipuleer. Om vals liefde uit te deel, maak ’n mens moeg, want ons moet ywer om dit uit te deel, dit kom nie natuurlik nie. Liefde wat nie spontaan uit ons geeshart kom nie, is vals liefde en is van korte duur. Geen mens op aarde kan ’n ander onvoorwaardelik liefhê as sy hartsput nie vol Lewende Water is nie. Ons kan alleenlik onvoorwaardelik en opreg liefhê wanneer ons harte gevul is met die liefde van Jesus.
As Liefde binne ‘n mens leef, is die put van die mens gevul met Lewende Water en het hierdie persoon nie nodig om ander mense uit te put vir liefde nie. Hierdie persoon kan eerder die liefde van Jesus uitdeel en op so ‘n manier Jesus aan ander voorstel. Ons moet daarteen waak om liefde in ’n mens te soek, want geen mens kan ons liefdesputte volmaak nie. Die enigste manier hoe ons liefdesputte vol kan wees, is om gekoppel te wees aan die een ware Wateraar; alleenlik dan kan ons dors geles word en ons liefdesput volgemaak word. Vra Abba Vader om jou te help om die bodem van jou put oop te breek sodat jy direk gekonnekteer kan wees met die ware Wateraar wat aan ons Lewende Water verskaf. Dan het ons nie nodig om water by ander putte te gaan haal nie en kan ons eerder Lewende Water aan ander bied.
Om terug te kom na die vrou van Sigem… Jesus het met haar gepraat, maar sy het nie Sy stem herken nie. Sy het Jesus nie geken nie. Haar hart was nie gevul met die Lewende Water nie en daarom het sy liefde op ander plekke gesoek. As Jesus uit die bloute hier langs ons moet kom staan en ons vra vir water, gaan ons Sy stem herken? Of ywer ons ook om water by ander putte te gaan haal?