Die saadjie binne ons

Jeremiah 1:5 (GWT) “Before I formed you in the womb, I knew you. Before you were born, I set you apart for my holy purpose.”

Ons word almal eers in die duistere wêreld ingebore as vleeslike mense met ’n fisiese DNA en dormante geeshart. Ons almal is eers wêreldse bome, geanker met vlak wortels in die sand van die wêreld met geen Goddelike vrugte nie, baie blare en droë kerns. Geen mens word heilig gebore nie, geen mens word gebore met die Lewe van God binne hom nie. Klein boompies word gevorm en gebuig om soos ’n sekere boom te lyk wanneer hulle groot is. Ons word grootgemaak deur ons ouers wat hulle “mindset” op ons afstempel en so word ons groot met ons ouers se gewoontes, waardes, persepsies en ook volgens hulle reëls, wette, tradisie en kultuur. Ons word dus op ’n vleeslike manier gevorm en gebuig deur ons ouers, ons omgewing, asook ons omstandighede, maar die boom waarin ons gegroei het, is nie wat God vir ons in gedagte gehad het nie, want Hy het nog voor Sy kinders se geboorte vir elkeen ’n Goddelike DNA verweef wat diep in hulle geesharte versteek is in die vorm van ’n saadjie.

Nog voor ons geboorte het God ons al geken, want die Woord sê:

Jeremiah 1:5 (GWT) “Before I formed you in the womb, I knew you. Before you were born, I set you apart for my holy purpose.”

Psalm 139:15,16 (Afr.33/53) “My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in U boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.”

Nog voor ons geboorte het God al ons lewensboeke geskryf oor wat Sy wens vir ons lewens is. Alles wat God vir ons bepaal het, is vasgevang in DNA wat as ’n saadjie diep binne ons dormante geesharte gebêre is en wag om te begin ontkiem op die tyd wat God bepaal het. Dit is anders as ons vleeslike DNA, want die mens wat ek en jy in die wêreld is, is nie die mens wat God geskape het nie (ek bedoel nou nie hoe jy fisies lyk nie, ek bedoel die mens wat jy diep binne is) Dit is presies hoekom Jesus gesê het die mens moet weer gebore word om in die koninkryk van God te kan ingaan. Om weer gebore te word, moet ons eers sterf, nie fisies nie, maar ons moet ons vleeslikheid, die eie ek, afsterf. Ons moet die mens afsterf wat deur die wêreld gevorm en gebuig is soos ’n boom om die mens te kan word wat God bepaal het. Eers wanneer die Goddelike DNA saadjie binne ons begin ontkiem en groei, kan ons die mens word wat God oorspronklik geskep het. Ons moet dus ons vleeslike DNA afsterf om ons Goddelike DNA te kan aanneem.

Alles rondom ons menswees is vasgevang in hierdie DNA saadjie, vanaf ons ware temperament en karakter tot ons gawes om die werk van God te doen. God het selfs vooraf besluit op watse manier Hy deur ons wil werk eendag; Hy het vooraf besluit watse instrument elkeen van Sy kinders in Sy hand sal wees en met die oog daarop het Hy aan elkeen ’n bepaalde karakter en temperament gegee. Ons moet daarna strewe om daardie mens te word wat God vooraf bepaal het.

Hierdie saadjie waarin ons Goddelike DNA vasgevang is, lê baie diep in ons geesharte verberg. Wanneer God Sy kinders op die naam roep op n gegewe tyd, sal Sy kinders reageer, want dis die Goddelike saadjie wat diep in hulle geesharte gedeponeer is, wat reageer op die roepstem van God. Wanneer ons dan die keuse maak om ons rug op die wêreld te draai, Jesus se hand te vat en saam met Hom op die ware weg begin wandel, is ons nog soos die boom met baie blare wie se wortels in die sand van die wêreld geanker is. Ons word nie onmiddelik in die hart van God gewortel wanneer ons die keuse maak om tot bekering te kom nie, dit is ’n proses wat baie tyd kan vat. God gaan ons eers toets en Hy gaan beproewinge oor ons pad stuur om van ons skoner mense te maak, want toetse, beproewinge en versoekinge is die goed wat ons harte ontbloot en ook die motief van ons harte toets. Mense wat om die verkeerde redes op die pad van God is, gaan glad nie hou van die toetse en beproewinge nie, want hulle het gedink die pad van God is ’n pad wat lei na ontelbare seëninge. Hulle sal die ware Weg verlaat, maar dit is hoe God Sy kinders skei van die res van die wêreld, want net God se kinders wat Sy saad binne hulle dra, sal deur die toetse en beproewinge kan gaan sonder om hulle geloof en liefde in God te verloor. Daar gaan dus storms in ons lewens begin losbars wat ons blare en ons takke uitmekaar gaan waai; sommige takke gaan afbreek, ander nie. God wil Sy Lig op ons geesharte skyn en ons geesharte is diep in die stomp van die boom geleë, so God moet deur al hierdie blare, takke en bas skyn om by ons geeshart uit te kom.

Efesiërs 5:13 (Afr.33/53) “Al die dinge wat deur die lig bestraf word, word openbaar; want alles wat openbaar word, is lig.”

Wanneer ons begin voed op die Woord, begin ons worteltjies in die Woord van God ingroei. Die Woord is ook ’n Lig wat aan ons al ons sonde, ongeregtighede en verkeerdhede uitwys. Soos die Lig dit aan ons openbaar en ons die keuse maak om ons rug daarop te draai, sny God die groot takke van die boom af. Elke keer skyn Sy Lig bietjie dieper ons wese in totdat ons takke so oopgesny is dat Sy Lig op ons geesharte val. Die verblindende Lig van God skud ons geeshart wakker uit die diepe slaap…

Efesiërs 5:14 (Afr.33/53) “Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.”

…dan begin die saadjie, wat diep binne ons lê, ontkiem. Stadig begin hierdie saadjie ’n worteltjie uitskiet wat direk in die rigting van God se hart groei, maar hierdie worteltjie word ’n baie sterk wortel wat deur die Woord van God breek tot binne-in die hart van God. Dit is die penwortel van geloof en dit ontstaan uit die saadjie wat God diep binne ons geplant het. Die penwortel ontvang nou die Lewe uit die hart van God en begin dit deur die hele boom versprei en soos die Lewe van God deur die boom versprei, verander die boom in die pragtige boom wat God vooraf besluit het; ’n boom wat nie verduister is deur sondetakke en baie blare nie, maar ’n boom wat die vrug van God sal dra tot Sy heerlikheid. In ’n prentjie sien ek dit soos ’n jong boompie wat deur die saad begin groei en soos die boompie groter word, breek die bas van die ou boom om die nuwe boompie af totdat dit later net die nuwe boom is wat staan in die Lig van Abba Vader. AL die ou bas sal lê om die nuwe boom; dit is soos ou klere wat uitgetrek is, want die boom is nou nuut geklee. Lees gerus Kolossense 3:1-17.

Hierdie hele proses is nie iets wat maar net gebeur omdat ons kerk toe gaan nie, of omdat ons ’n selgroep of Bybelstudie bywoon nie, want hierdie totale proses vind plaas soos ons gemeenskap met Abba Vader het. Dit gebeur alleenlik wanneer ons dinge in die wêreld afstaan om tyd by die voete van Abba Vader deur te bring, om in Sy teenwoordigheid te sit, met Hom te gesels en Hom toe te laat om ons te omvorm. Ons moet bereid wees om ons lewe en ons hart in die hand van Abba Vader te plaas en met ’n opregte hart vir Hom te kan sê: “Here, nie my wil nie, maar U wil!” Ons moet bereid wees om in gehoorsaamheid dinge in ons lewe te begin teëstaan, om deur die krag van God te begin heers oor sonde. Ons moet die verlede in die hand van Abba Vader sit, want dit gaan nie help jy tob daaroor nie, dit kan nie gedaan gemaak word nie, maar Abba Vader kan jou vergewe en jou vrymaak van jou verlede. Om te teer op die verlede kan lei na ’n siek liggaam, siel en gees, maar wanneer ons die keuse maak om mense te vergewe, sit ons daardie situasie en mense in die hand van Abba Vader en Hy weet die beste hoe om dit uit te sorteer, maar as ons dit nie in Sy bekwame hande wil plaas nie, kan Hy dit ook nie vir ons uitsorteer nie en sal dit altyd aan jou bly knaag. Die mens sal altyd ’n keuse hê! God dwing ons nie in ’n besluit in nie, Hy laat die keuse aan die mens oor, maar daarom moet ons sorg dat ons eie wil ook in die hand van Abba Vader is, want dan sal ons keuses maak wat die wil van God is en nie teen Sy wil nie. Dit is moontlik omdat die Lewe van God, wat deur ons hele wese spoel, ook aan ons ’n nuwe “mindset” kom gee. As klein boompie het die manier hoe ons grootgemaak is asook ons omgewing en omstandighede aan ons ’n sekere “mindset” gegee, dit het ons geleer dink op ’n sekere manier, maar selfs ons gedagtes en ons manier van dink moet ons oorgee in die hand van Abba Vader. Met tyd gee Hy dan aan ons ’n nuwe manier van dink wat regtig die teenoorgestelde is van die manier waarop die wêreld dink.

Die nuwe boom gaan nie weer lyk soos die ou boom nie, hy gaan totaal anders lyk en hy gaan ook ander tipe vrugte dra. Hy gaan nie baie blare hê om sondes te probeer wegsteek nie en sy takke gaan op so ’n manier geposisioneer wees dat die Lig van God deur Sy takke gaan kan skyn tot binne-in sy diepste wese. Hy gaan gekonnekteer wees met Abba Vader en ’n lewende verhouding met Abba Vader hê. Tradisie, kultuur en veral godsdiens sal nie meer teenwoordig wees by hierdie boom nie. Kyk hoe mooi maak hierdie Skrifte nou sin:

Psalm 1:3 (Afr.33/53) “Hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie, en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.”

Jeremiah 17:7-8 (The Message) “Blessed is the man who trusts Me, God, the woman who sticks with God. They’re like trees replanted in Eden, putting down roots near the rivers – never a worry through the hottest of summers, never dropping a leaf, serene and calm through droughts, bearing fresh fruit every season.”

…blooms come from the deepest seed that you planted in me…
(
Geneem uit die liedjie deur Christie Nockels)

Afgesny van jou stamboom

Abba Vader het eendag onder gebed vir my ’n baie groot boom gewys en gesê ek moet fokus op die takke van die boom. Die boom se takke was baie vertak of onderverdeeld en daar het name op die takke gestaan, ek kon duidelik die name uitmaak op die takke en ek het besef dat hierdie ons familieboom is. Uiteindelik het ek die tak gesien waarop my naam staan. God het weer die snoeiskêr geneem en die tak waarop my naam staan, eenvoudig net afgeknip met die woorde:

“Jy het nou doodgegaan!”

Ek het eers geskrik, maar toe sê Abba Vader dis die enigste manier hoe ’n wilde-olyf in die ware olyfboom ingeënt kan word – deur te sterf aan die vleeslike self en weer gebore te word. Met wedergeboorte word ons ingebore in die geslag van God in wat spruit vanaf Abraham. Dit is die enigste manier van verlossing – deur wedergeboorte. Die vals lering oor die sny van bloedlynvloeke is ’n mensgemaakte manier om losgesny te word van die sogenaamde vloeke wat jou voorouers se sondes oor jou eie kop bring. Deur ’n rympie op te sê, jou voorouers se sondes op die naam te noem en vergifnis daarvoor te vra sodat die vloeke jou nie kan tref nie, laat vir Satan net giggel van lekkerkry, want daardeur hou hy jou nogsteeds gevange in die duisternis terwyl jy dink jy is vry. Dit is nie die sondes van jou voorouers wat ’n vervloeking oor jou lewe bring nie, maar jy bring self ’n vervloeking oor jou eie lewe wanneer jy aangaan met die sondes en ongeregtighede van jou voorouers. Dit is elkeen van ons se verantwoordelikheid om te breek met die “mindset” waarmee ons grootgeword het, om te breek met al die tradisie, kultuur en godsdiens wat ons opgelê is vandat ons klein is. Dit is tyd dat elkeen van ons regtig voor die voete van Abba Vader gaan sit en ondersoek instel oor die sondes in ons eie lewe, om ons eie sondes te erken en te bely aan Abba Vader. Daarvoor het ons die Lig van die Woord nodig en BAIE tyd in die teenwoordigheid van Abba Vader. Dit is die enigste manier na wedergeboorte en verlossing en dit is die enigste manier hoe ons in die geslag van God ingebore kan word. Dit is om God toe te laat om ons weer van voor af te omvorm na Sy wil. Wanneer ons totaal laat gaan van die manier waarop ons grootgeword het, wanneer ons al die gewoontes verwerp het, word ons afgesny van ons vleeslike familieboom en ingeënt in die geslag van God in.

Ek dink tog ons het nou ’n tyd betree, wat die laaste uur is, wat Abba Vader dit aan al hoe meer mense bekend maak dat Sy kinders onder die gevangenis van kultuur, tradisie en godsdiens moet loskom. Die punt wat ek wil maak is dat ons nie met maklike towerwoordjies onsself moet probeer intoor in die koninkryk van God nie; dit is ’n ernstige saak dat ons weer gebore moet word in die geslag van God in. Dit is die enigste manier van verlossing en die enigste manier hoe ons daarby gaan uitkom, is deur die self te offer aan God.

Romeine 12:1,2 “…dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer… En word nie aan hierdie wêreld gelykvorming nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”

Johannes 1 verduidelik so mooi oor die ware mens wat weer gebore word:

John 1:13 (The Message) “…Whoever did want Him, who believed He was who He claimed He was and would do what He said, He made to be their true selves , their child-of-God selves. These are the God-begotten, not blood- begotten, not flesh-begotten, not sex-begotten.”

“These people didn’t become God’s children in a physical way – from a human impulse or from a husband’s desire to have a child. They were born from God.” (GWT)

Efesiërs 4:22-24 (Afr.33/53) “…dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.”

Nadat ek hierdie gedeelte geskryf het, lees ek Galasiërs 2:17-21. Ek kon net glimlag oor die bevestiging. Ek haal sekere dele aan uit die Boodskap:

“Ek is saam met Christus gekruisig. Toe Hy aan die kruis gehang het, is ek saam met Hom vasgespyker. DAAROM IS EK NOU ’N NUWE MENS. Die ou, sondige ek is iets van die verlede; dood en begrawe. Christus leef nou in my. Nou leef ek deur geloof. My hele bestaan draai om die Seun van God. Hy het my so lief dat Hy bereid was om Sy eie lewe vir my op te offer. … As ek steeds probeer om self ’n plek in die hemel te verdien deur te doen wat die wet sê, is Christus verniet aan die kruis dood.”

Mag Abba Vader glimlag oor elkeen wat hierdie leringe lees wat uit Sy hart kom en mag die Lig van God op jou skyn en jou genadig wees.

Tot U heerlikheid, Abba Vader

Ek lief U, Abba Vader, met my hele hart, met my hele siel en met my hele verstand. U alleen is Koning.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s