Uitnodiging na die Bruilofsfees

images

“Die koninkryk van die hemele is soos ’n koning wat ’n bruilof vir sy seun berei het en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep en hulle wou nie kom nie. Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: ‘Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof.’ Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en ’n ander na sy handelsaak. En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak. Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek. Daarop sê hy vir sy diensknegte: ‘Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof.’ En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword. En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ’n builofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ’n bruilofskleed aan?’ En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Want baie is geroep, maar min is uitverkies.”
Mattheus 22:2-14 (DB)

Net soos die koning ’n uitnodiging stuur na die mense om hulle te nooi na die bruilof van sy seun, net so nooi God elkeen van ons ook uit om deel te wees van die bruilof van Sy Seun. God roep elkeen van ons om te kom feesvier saam met Hom, om saam met Hom aan die tafel te kom sit en te ontvang wat Hy aan ons wil gee. Hy rig alreeds uitnodigings aan elkeen van ons en Hy doen dit op verskeie maniere – soms laat gebeur Hy slegte goed in ons lewens wat ons op ons knieë dwing en besef God roep ons; soms stuur Hy iemand na ons met ‘n Woord van Hom af, en soms hoor jy sommer net Sy roepstem hier diep in jou hart, maar een ding is verseker: ’n Mens weet en voel duidelik as Abba Vader jou inroep na die feesmaal… en dan is die bal in jou hande en moet jy die keuse maak of jy die bruilof van die Seun van God gaan bywoon of nie… Of is daar nog te veel dinge van die lewe wat jy wil geniet voordat jy na die bruilofsfees gaan? Die ware bruilofsfees waarheen Abba Vader ons nooi, sal wel eers werklik geskied met die voleinding van die wêreld, maar dan moes ons geestelik al by die bruilofsfees opgedaag het. Ons moet nou al gereed maak vir die fees, net soos die tien maagde in Mattheus 25. Vyf van hulle het in gereedheid gewag vir die bruidegom met hulle lampies vol olie, maar vyf onverstandige maagde het geen olie in hulle lampies oorgehad nie. Hulle moes gou loop om olie te gaan kry en in hierdie tyd het hulle die koms van die bruidegom gemis. Hulle het te laat by die bruilofsfees opgedaag en aan die deur geklop, maar die deurwagter het hulle nie geken nie. Is ek en jy gereed vir die bruilofsfees?
Daar is net een ware Weg wat lei na die bruilofsfees! Alhoewel daar baie ander makliker paaie is wat lei na die bruilofsfees, lei nie alle paaie na die korrekte ingang van die fees nie, want jy sien, daar is net een spesifieke deur waardeur die feesgangers die fees kan binnegaan. Daar is net een ingang en dit is deur Jesus Christus. Jesus is die DEUR na die Feesmaal… Lees Johannes 10:1-21

In Johannes 10 is daar diewe en rowers wat nie deur die korrekte deur (Jesus) van die skaapstal ingaan nie, maar van ’n ander kant af inklim. Die dief kan nie deur die deur van die skaapstal binnegaan nie, want God is die deurwagter en net soos God Sy kinders op die naam ken, ken Hy diewe ook op die naam. Daarom moet die diewe op ’n skelm manier die skaapstal binnegaan. Die dief kom net om te steel, te slag en te verwoes en daarom lei hy sommige skape op die verkeerde paaie. Selfs al sien hy die wolf naderkom, laat hy die skape staan en vlug hy; die wolf vang die skape en jaag hulle uitmekaar. Hierdie skape het die dief gevolg as hulle herder wat hulle na die verderf gelei het. Daarom is dit van uiterste belang dat skape die stem van die goeie Herder moet ken. Skape wat nie Sy stem ken nie, kan maklik om die bos gelei word deur die vals herder te volg op verkeerde paaie. Hulle is verleidelike diewe en rowers en hulle maak die pad baie maklik vir die skape om op te beweeg; hulle beloof aan die skape ewigheid, seën en verlossing, en die arme, naïewe skape glo hulle. As hierdie skape net die stem van hulle Herder geken het, sou hulle besef het dat hulle besig is om ’n vals herder te volg.
Sien julle hoekom is dit so belangrik dat ons die stem van ons Herder moet ken – alleenlik Hy lei ons op die regte pad na die bruilofsfees. Hy lei ons ook direk na die korrekte ingang van die fees en hierdie DEUR is Jesus. Diewe en rowers gaan nie die feesmaal in deur die korrekte DEUR nie, maar hulle probeer ingaan deur skelm plekke… die groot probleem waarmee hulle te doen gaan kry, is dat ’n mens alleenlik by die korrekte DEUR geklee word met die bruilofskleed, so hulle wat deur skelm plekke ingegaan het, het nie die bruilofskleed ontvang nie en daarom sal hulle soos ’n seer oog uitstaan. Alles begin by die Herder wat ons lei en die pad wat ons volg. Die maklike paaie lei na die verkeerde ingange van die bruilofsfees. Daar is net een ware Weg wat gevolg kan word wat lei na die bruilof.

“Die pad wat na God se nuwe wêreld toe lei, is baie moeilik en ook bitter smal. Min mense loop daarop omdat dit groot opofferings vra. Aan die ander kant is die pad wat na die hel toe lei, maklik om op te loop en baie breed. Baie mense loop daarop. Span julle daarom in om op God se smal pad te bly stap.”
Mattheus 7:14 (DB)

Wanneer ons die stem van Jesus ken, sal ons alle ander stemme verwerp en nie daarna luister nie. Ons sal ook sien dat Jesus nie nodig het om deur skelm plekke in die skaapstal in te gaan nie, want die Deurwagter maak vir Hom oop en die skape luister na Sy stem; Hy roep Sy eie skape op hulle naam en lei hulle uit. Wanneer Hy Sy eie skape uitgebring het, loop Hy voor hulle uit. Die skape volg Hom, omdat hulle Sy stem ken. Jesus verduidelik aan die skare wat luister, dat Hy die deur van die skape is. Hy sê:

“Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind…. Ek het gekom dat julle lewe en oorvloed kan hê. Ek is die goeie Herder. Die goeie Herder lê Sy lewe af vir die skape. Ek is die goeie Herder, Ek ken My eie en word deur My eie geken.”
Johannes 10:911,14 (AFR33/53)

Daar is dus net een manier om by die bruilofsfees te kan ingaan, en dit is deur Jesus Christus. Alleenlik deur Hom ontvang ons verlossing en redding, op geen ander manier nie. Wanneer ons deur Hom beweeg, ontvang ons ook die bruilofskleed wat ons toegang verleen tot die fees. Die makliker paaie wat lei na die fees, is dwaalleringe wat hulle afkoms van die vyand het en wat verlossing vir die mens baie maklik maak. Hulle beweeg nie deur Jesus nie en ontvang dus nie die ware verlossing, redding en ewige lewe nie. Een van die maklikste paaie, wat ook seker die breedste pad is, is een wat die meeste van ons gevolg het: Ons word van kleins af geleer dat Jesus gesterf het vir ons sondes en daarom is al ons sondes vergewe. Ons word groot met die “mindset” dat ons sondes alreeds vergewe is, maak nie saak wat ons doen en hoe ons lewe nie, want ons is mos al klaar vergewe. So lank ons elke Sondag kerk toe gaan en met die mond bely om ’n Christen te wees, is ons gered. Ek is ook so grootgemaak en het ook op hierdie manier geglo, maar toe ek waarlik tot bekering gekom het en die werking van Abba Vader in my lewe kon voel, het ek besef ek het ’n leuen geglo. Dit is baie maklike verlossing en hierdie pad lei na die verkeerde ingang van die fees. Die mense wat hierdie roete volg, beweeg dus nie deur die DEUR van die feessaal nie, hulle ontvang nie die bruilofskleed nie en hulle gaan soos ’n seer oog uitstaan by die fees. Dit is omdat hulle nie die ware Weg gevolg het na die Bruilof toe nie, maar makliker paaie gekies het wat hulle op ontoelaatbare plekke die fees laat binnegaan het. Die probleem hoekom so baie mense die makliker, breë paaie volg wat lei na die bruilofsfees, is die vals motief van die hart van die mens. Die meeste mense wil graag die fees bywoon en wil graag die bruid van Jesus wees, maar vra jouself die vraag waarom jy deel wil wees van die bruilofsfees? Is dit om seker te maak jy ontvang die ewige lewe en spring die hel vry? Dink jy dalk aan die voordele wat die bruilofsfees vir jou kan inhou? Maak nie saak wat ons rede is nie, maar as ons hooffokus nie draai om liefde vir Jesus nie, is ons motief vals en sal dit nie ongesiens verbygaan nie. As ons lewe en ons bestaan nie draai om God te behaag nie, het ons êrens ’n verwronge motief wat ons moeilikheid kan besorg. Terwyl ons op die ware Weg saam met Jesus wandel oppad na die bruilofsfees, gaan daar baie toetse en beproewinge oor ons pad kom. God toets op hierdie manier die motief van ons hart, want mense wat vir ’n geseënde lewe of vir hul eie voordele die fees wil bywoon, sal nie die toetse van God kan deurstaan nie. Dit is op hierdie pad waar God die ware bekeerdes van die vals bekeerdes skei van mekaar.

Mag ek en jy die roepstem van Abba Vader hoor en agslaan op Sy uitnodiging na die bruilofsfees van Sy kosbare Seun.

Leave a comment