Collosians 2:7 (The Message) “Let your roots grow down into Him, and let your lives be built on Him. Then your faith will grow strong in the truth you were taught, and you will overflow with thankfulness.”
Wanneer die Lig van God op ons harte skyn en ons onteenseglik in God begin glo, begin daar ’n penwortel vanuit ons geeshart groei. Die penwortel groei ook, soos die bywortels, eers in die Woord van God in, maar hierdie wortel is so sterk dat dit deur die Woord groei, direk in die hart van God in. Hierdie penwortel se naam is “Geloof” en kan alleenlik groei saam met onteenseglike geloof in God. Dit anker ons baie diep in die hart van God. Onder gebed sê Abba Vader:
“Raak eers gewortel in die substrata en dan in die strata. Die Woord is die substrata en God is die “Strata”.”
Ek het gaan opsoek na die betekenis van die woorde “substrata” en “strata” en die betekenis het my baie opgewonde gemaak, want “Substrata” is die grond waarin wortels ingroei, en “Strata” is die rots onder die grond! Skielik het dit alles so mooi sin gemaak, want ons worteltjies raak eers verdiep en gewortel in die Woord van God, wat die substrata is, en soos die worteltjies vanaf die Woord ons geeshart bereik, begin ons onteenseglik glo in God met die gevolg dat ons ’n sterk penwortel begin groei wat diep die hart van God ingroei. Hierdie geloofspenwortel is die enigste wortel wat in die Rots kan ingroei en die Rots is God. Dit is waarlik soos vers 24 van 1 Johannes 2 sê:
1 Johannes 2:24 (The Message) “Let what you heard from the beginning sink into your life. If what you heard from the beginning lives deeply in you, you will live deeply in both Son and Father!”
Net soos enige boom water, voedingstowwe en minerale benodig vir groei en oorlewing, het ons as ’n geestelike boom dit ook nodig. Geen geestelike boom kan bestaan sonder ’n penwortel wat hom stewig anker in die hart van God en waardeur hy sy water en voedingstowwe kan opneem nie. Wanneer ons ’n penwortel in die hart van Abba Vader ingroei, neem die wortel die Lewe van God op en word dit vervoer na ons geeshart. Ons ontvang dus die Lewe van God alleenlik deur ’n penwortel wat gevestig is in die hart van God. Hierdie Lewe wat ons van God ontvang, bestaan uit drie goed: Die Liefde van God, die Lewende Water en die Bloed van Jesus Christus. Saam vorm die drie een net soos God, Jesus en die Gees van God drie is, maar tog ook Een. Hulle werk saam en kan nooit van mekaar geskei word nie. Net so werk die Liefde van God, die Bloed van Jesus Christus en die Lewende Water altyd saam en saam vorm dit die Lewe wat van God af kom. Net soos God, Jesus en die Gees van God getuig van mekaar, getuig die Water, Bloed en Liefde van mekaar en kan hulle nie afsonderlik werk nie. Al drie moet dus teenwoordig wees in die mens – as daar een afwesig is, is daar êrens ‘n fout.
Hierdie wonderbaarlike Lewe is alleenlik te kry deur gewortel te wees in die Rots. Soos ons penwortel die Lewe opneem, word dit deur die wortel vervoer na die geeshart van die mens waarvandaan dit weer deur ons hele wese versprei word deur ons geestelike are. Die bloed van Jesus begin ons van ’n kant af skoonmaak en reinig en net so versprei die Lewe van God deur ons hele wese. Dit word eers vervoer na ons sielsdimensie waar ons emosies, denke en eie wil gesetel is. Hier begin die Lewe van God ons gedagtes verander, ons kom agter ons emosies begin stabiliseer en stadig maar seker kan ons ons eie wil in die hand van God oorhandig. Ons waardes, beginsels en persepsies begin ook stadigaan verander. Dit is die Lewe van God wat ons begin verander na die mens wat God oorspronklik beplan het ons moet wees. Dan spoel die Lewe van God oor na ons liggaam waar dit ons van siektes kan begin genees. Die Lewe van God begin ons dus van ’n kant af verander en ons sal nooit die self kan verander sonder hierdie Lewe van God nie. Alleenlik wanneer ons ’n penwortel van geloof in die hart van God ingroei, sal ons die Gees van God kan ontvang wat ons baie styf aan God verbind deur die band van liefde.
Galasiërs 4:6 (Die Boodskap) “Omdat julle nou God se kinders is, het Hy die Gees van Christus na ons toe gestuur. Die Heilige Gees bind ons styf aan God vas met ’n onbreekbare band van liefde. Dit is Hy wat aanhoudend hier binne-in ons uitroep: ‘Vader, liefdevolle Vader’.”
Omdat ons nou die Lewe van God ontvang wat in en deur ons hele wese begin spoel, raak ons hart een met die hart van God en dan kan ons duidelik God se hartklop vir ons en ons lewe begin hoor. Dan begin ons agterkom wat God se doel en plan met ons lewens is. Kollosense 1:28 in Die Boodskap sê elke mens kan sy Goddelike doel in sy lewe bereik alleenlik wanneer hy in ’n intieme verhouding met Christus is. Wanneer ons so verbind is aan God, leer ken ons die ritme van God se hartklop vir ons lewe en dan begin ons hart op dieselfde ritme klop as wat God s’n vir ons klop. Soos die Lewe van God deur ons are begin bruis, begin dit ons skoonmaak en suiwer van ’n kant af, dit begin ons genees van ’n kant af en dit laat ons groei in ’n boom wat God vooraf besluit het. Ons raak een met God!
Johannes 6:56 (Afr. 33/53) “Wie My vlees eet en My bloed drink, bly in My en Ek in hom!”
Hierdie Skrif beteken nie ons moet met woorde die bloed van Jesus oor ons pleit nie, dit beteken ons moet deur die geloofspenwortel die bloed van Jesus in onsself opneem totdat dit deur ons are bruis en ons die nuwe Lewe kan voel pols deur ons hele wese. Daar ontstaan ’n geestelike eenheid tussen ons en God, en Jesus word die fokus van ons lewe. Wanneer Sy bloed deur ons liggaam pomp, weet ons Hy is deel van ons. Op ’n dag het die Here my gevra hoe weet ek ek glo in Hom? Dadelik kon ek Hom antwoord dat ek glo, want ek kan Hom voel hier binne my. Ek hoor Hom met my praat en ek beleef Sy liefde. Hoe kan ek nie glo in Hom as ek Hom so duidelik kan VOEL nie? Die Here gee vir my Romeine 10 om te gaan lees en in vers 6 in die Boodskap is die bevestiging:
Romeine 10:6 (Die Boodskap) “As jy in God glo, weet jy dat Christus die heeltyd naby is.”
Jy sal weet as jy in God, en God in jou is.
Johannes 8:23,24 (Die Boodskap) “Julle is kinders van hierdie ou aarde. In hierdie wêreld is julle wortels ingeslaan. My wortels lê egter nie in hierdie wêreld ingeslaan nie. Nee, Ek kom uit die hemel. Daarom kan Ek vir julle sê dat julle besig is om God heeltemal mis te loop. GLO in My. GLO dat Ek is wie Ek sê Ek is. Anders gaan julle sonder God sterf. Elke sonde wat julle gedoen het, sal dan teen julle tel.”
Om geanker en gevestig te wees in die Rots, laat my dink aan die Skrif in Mattheus 7:24-27 oor hoe en waar die verstandige teenoor die dwase man hul huis bou.
“Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ’n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. Die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots!”
Wanneer ons ’n penwortel in die Rots ingroei, sal ons ’n stewige en sterk boom groei wat enige storm kan deurstaan. ’n Dwase man wat sy huis op sand bou, is soos ’n boom gewortel in die sand van die wêreld – daar is geen vastigheid of sekuriteit nie en wanneer die waterstrome en winde kom, sal hierdie boom, net soos die huis op sand, nie staande kan bly nie!
Ons het die Lig van die Woord van God nodig om aan ons te openbaar waar ons gewortel is en ons moet eerlik met onsself wees oor hierdie saak. As ons net eers tot die besef kan kom dat ons in die sand van die wêreld gewortel is en ons in ’n vervloeking leef wat ons self skep, kan ons begin let daarop en dit aan God begin bely wat ons verseker dan sal help. Ons kom alleenlik tot hierdie besef deur die Lig van die Woord wat ’n lig op ons duistere harte begin skyn. Onthou net, hoe meer ons die Woord begin inneem, hoe dieper groei ons in die Woord in totdat ons later ’n penwortel in die hart van God ingegroei het. Dan eers raak ons een met God deurdat Hy Sy Lewe in ons harte begin deponeer.
Om op te som, soos ons voed op die Woord van God, ontwikkel ons eers fyn worteltjies wat in die Woord ingroei. Soos ons worteltjies in die Woord ingroei, groei daar ook wortels vanuit die Woord in ons geestelike wese in. Soos die worteltjies in ons wese ingroei, openbaar dit aan ons alles wat God wil hê ons moet by Sy voete aflê om skoon te raak. Wanneer die wortels van die Woord ons hart bereik, ontwaak ons geesmens uit die diepe slaap deurdat die Lig van die Woord ’n lig skyn op ons slapende geesharte. Wanneer ons gees ontwaak, groei ons ’n geloofspenwortel vanuit ons geeshart, deur die Woord, tot binne in die hart van God! Die eerste fyn worteltjies wat ons in die Woord ingegroei het, verskil van die sterk, stewige penwortel, want dit is net die geloofspenwortel wat in die hart van God kan ingroei. Met ander woorde, soos ons die Woord inneem, ontwikkel ons geloof bietjie vir bietjie totdat ons geloof so sterk is dat dit in die hart van God kan ingroei. As ons nie genoeg voed op die Woord nie, sal ons nooit genoeg geloof kan ontwikkel om gevestig te raak in die hart van God nie en as ons nie gevestig raak in die hart van God nie, kan ons nie die Lewe van God ontvang nie. Dus, al lees ons nou en dan die Woord en al bid ons nou en dan tot God, maar ons maak staat op verlossing deur kerk toe te gaan, ontvang ons nie die ware Lewe nie. Om die ware Lewe te ontvang, moet ons ’n baie naby verhouding met Abba Vader bou.
Collosians 1:6 (The Message) “The same Good News that came to you is going out all over the world. It is bearing fruit everywhere by changing lives, just as it changed your lives from the day you first heard and understood the truth about God’s wonderful grace.”
1 John 2:24 (The Message) “Stay with what you heard from the beginning, the original message. Let it sink into your life. If what you heard from the beginning lives deeply in you, you wil live deeply in both Son and Father!”
Psalm 31:3 (Amplified) “You are my ROCK and my fortress; for Your name’s sake You lead me and guide me.”
24