Net een ware Weg

“Die Pad wat na God se nuwe wêreld toe lei, is baie moeilik en ook bitter smal.  Min mense loop daarop omdat dit groot opofferings vra.  Aan die ander kant is die pad wat na die hel toe lei, maklik om op te loop en baie breed.  Baie mense loop daarop.  Span julle daarom in om op God se smal pad te bly stap.”  Mattheus 7:14 (Die Boodskap)

Daar is net een ware Weg wat lei na die Bruilofsfees en dit is nie ’n maklike pad nie.  Ons het gesien Jesus sê in Lukas 14 en in Mattheus 10 dat dit nie maklik is om ‘n volgeling van Hom te wees nie en dat ons mooi moet bereken wat die prys is om hierdie pad te stap.  As ons in ons hart nie honderd persent bereid is om ons kruis op te tel en ons lewe totaal te oorhandig aan Abba Vader nie, moet ons dit eerder los.  Hierdie pad is die pad van bekering.  Wanneer ons tot ware, opregte bekering kom en ons rug op die wêreld draai, lei Jesus ons op hierdie pad wat lei na die kruis wat op die kop van Golgota geleë is.  Dit is ’n lang pad om te stap en hierdie pad is vol leringe, teregwysings, beproewinge en baie gesprekke met die Lig van die lewe.  Daar is baie klippe op die pad van God en elke klip is deur God op ’n bepaalde plek geplaas om ons lesse uit die lewe te leer, maar ook om ons te leer om op Hom te vertrou om die klippe uit ons pad te rol.  God het nie klippe op die breë paaie geplaas nie, alleenlik op Sy pad.  Ons moet leer om nie die weë van die wêreld te volg nie, maar die eerbare lewe te lei;  om dinge nie soos die wêreld en sy mense te doen nie, maar om elke dingetjie tot in die fynste besonderhede op God se eerbare manier te doen en om die voorbeeld van Jesus te volg.  1 Petrus 1 vanaf vers 13 handel oor die vermaning om heilig te wees en vers 15,16 sê:

“Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is:  ‘Wees heilig, want Ek is heilig.’” 1 Petrus 1:15,16 (AFR33/53)

Dit is ’n smal pad en niemand dra ’n goue kroon op die hierdie paadjie nie, alleenlik ‘n doringkroon.  Daar sal altyd verwerping, spottery en moddergooiery wees vanaf die toeskouers aan die kant van die pad, maar ons moet leer om dit op Jesus se manier te hanteer en die ander wang te draai.  Net soos Jesus die pad na Golgota met al die vernedering, pyn en lyding moes stap, moet ons ook bereid wees om hierdie pad te stap.  Ons is nie meer spesiaal as Jesus dat ons omstandighede enigsins gaan verskil van Syne of dat die wêreld ons enigsins beter gaan behandel as wat hulle Hom behandel het nie.  Jesus sê ook vir soveel wat hulle aan Hom gedoen het, sal hulle ook aan ons doen.  Dit is ’n smal pad vir sondaars en siek mense, nie vir mense wat hulleself regverdig en gesond ag nie.  Vals volgelinge se trots en hoogmoed veroorsaak dat hulle hulleself as regverdig beskou en daarom sien hulle nie hulleself as sondaars nie.  Hulle sien nie die nut daarvan in om  hulle sondes te bely nie.  Baie wettiese godsdienstiges sien hulleself as heilig omdat hulle hulle eie wette gehoorsaam en diegene wat nie hulle mensgemaakte wette wil gehoorsaam nie, word deur hulle veroordeel.  Hierdie mense volg eintlik maar net hulle eie pad na onwettige ingange van die Bruilofsfees.  Dan is daar ook diegene wat reken hulle is op die ware Weg, maar hulle lewe net soos hulle wil.  Hoekom staan daar dan in 1 Petrus 1 dat ons heilig moet word in ons lewenswandel?  Ons moet gesuiwer word van onsself en dit kan alleenlik op die ware Weg gebeur. 

Daar is baie ompaaie wat baie makliker is om te volg as die Weg van God.  Dit is makliker omdat daar nie van die mense verwag word om die vleeslikheid af te sterf nie.  Daar word nie van die mense verwag om hulle sondes te erken en te bely nie.  Hulle glo die leuen dat Jesus alreeds al hulle sondes vergewe het en dat hulle net moet glo dat hulle gered is.  Verder kan hulle aangaan met hulle wêreldse lewe soos hulle wil.  As ’n mens die Woord mooi lees, veral waar Jesus aan die woord is, maak dit glad nie sin dat ons kan leef soos ons wil en net aanvaar dat Jesus vir ons gesterf het nie.  Ons moet geestelik dieselfde pad as Jesus stap en ons moet die vleeslike self met die vleeslike begeertes kruisig, want as ons nie die ou mens afsterf nie, kan daar nie ’n geboorte van ’n nuwe geestelike mens wees nie.  Ons moet dus by die kruis van Jesus uitkom en Sy kruis is alleenlik op die ware Weg.  Die kruis van Jesus is nie op ompaaie nie en dit is hoekom mense op die ompaaie nie tot wedergeboorte kan kom nie.  As die kruis van Jesus nie teenwoordig is nie, kan daar nie ’n sterfte en ’n nuwe geboorte plaasvind nie.  Ompaaie en kortpaaie loop nie deur Golgota nie, maar ’n ompad verby dit, die kruis op Golgota word dus vermy.  Daar is ook geen sondebelydenis op hierdie paaie nie;  dalk net ’n kort gebed wat agter die dominee aangebid word en dan is hulle kwansuis gered.  Die meeste kerke funksioneer op die ompaaie en kortpaaie;  hulle skep ’n goeie mikro-klimaat vir bakterieë en kieme om te vermeerder in hulle kerke;  dit raak vermaaklikheids-samekomste en die mensdom is mal daaroor – hoe lekkerder die vermaak, hoe groter is die samekomste;  hoe lekkerder die “worship”, hoe groter groei die ledetal.  Ek het ’n kerk verlaat waar ’n leraar gesê het dat hy alleenlik sal preek oor die liefde van God, en as daar iemand in sy gemeente is wat wil hê hy moet vir hulle preek oor sonde en hoe verkeerd dit is, moet hulle eerder uit sy kerk uitstap en ’n ander kerk gaan soek.  Hy het geweier om sonde op die naam te noem en mense te vermaan om hulle sondige lewe te laat staan, want God is ’n God van liefde wat mense vergewe vir hulle sondes.  Hierdie kerk en leraar is nie op die pad van God nie, want op die pad van God, gaan dit grotendeels oor sondebelydenis, om jou sondes vas te vat en die keuse te maak om dit te laat staan;  om dit te bely aan Abba Vader sodat Hy jou kan skoonmaak daarvan.  Die ware Weg is ‘n pad van heiligmaking en hoe kan God ons skoonmaak as ons nie ons sondes aan Hom bely nie?  So enige kerk of leraar wat die siening het dat hulle nie oor sonde hoef te praat nie, is verseker op ’n ompad.  Op ompaaie word die leuen ook aan die mensdom geleer dat Jesus ALREEDS vir die sondes van die mens gesterf het, so jou sondes is ALREEDS vergewe, jy kan net glo in Jesus.  Ek stry nie dat God ’n God van Liefde is nie, Hy is vol vergifnis en genade vir ons, maar God is ook ’n heilige God en dit is Sy begeerte dat ons ook heilig sal leef soos Hy heilig is.  God haat sonde, want sonde bou ’n muur tussen mens en God en dit verwyder die mens van God deurdat dit die hart van die mens verduister.  Sonde moet vasgevat word.  God wil hê die mens moet sy sonde raaksien en daaroor begin heers.  As ons nie ons sonde afsterf nie, neem ons nie ons kruis op nie en as ons nie ons kruis opneem nie, is ons op die verkeerde pad.  As jou kerk jou leer dat Jesus alreeds vir jou sondes gesterf het sodat jy gered is as jy dit glo, is ek bevrees jy is alreeds saam met daardie kerk op ’n verkeerde pad.  Kerke is veronderstel om mense te lei na sondebelydenis en om ’n ware verhouding met Jesus te bou, maar die meeste lei eerder die mens om dieper in die kerk in te groei, om eerder verhouding met gemeentelede te bou as met God…  Kerke is vermaaklikheidsbyeenkomste wat slaappille aan die mense bedien wat die mensdom in ’n heerlike beswyming hou.  Kerke sus die mensdom aan die slaap deur hulle gerus te stel in hulle sonde.  Niemand is lus om te hoor dat daar straf is vir sonde nie, maar almal hou daarvan om te hoor dat al hulle sondes alreeds vergewe is en daarom is die ledetal van hierdie gewilde vermaaklikheidsbyeenkomste so hoog.  Die hartseer uiteinde van hierdie byeenkomste is die hel, want hierdie kerke lei niksvermoedende, naïewe mense reguit na die pit van die hel en die beheerder agter hierdie bose komplot, is Satan.   

Daarteenoor sal die mens op die pad van God alles in sy vermoë doen om Abba Vader te behaag, om verhouding te bou met Abba Vader en om Hom te gehoorsaam, want al wat vir hierdie mens belangrik is, is dat God oor hom sal glimlag.

“You’re blessed when you stay on course, walking steadily on the road revealed by God.  You’re blessed when you follow His directions, doing your best to find Him.  That’s right – you don’t go off on your own;  you walk straight along the road He set.  You, God, prescribed the right way to live; now You expect us to live it…”  Psalm 119:1-8 (MSG)

Moet asseblief nie die fout maak om te dink dat die groot skare mense op die regte pad is nie, want alleenlik die breë pad is breed genoeg vir skares om op te loop.  Die pad van God is smal en daar kan nie skares op een slag daarop stap nie. 

“…do not go along with the crowd, the empty-headed, mindless crowd…”  Ephesians 4:17 (MSG)  

Ons is baie vinnig om onsself te veroordeel deur te dink ons is verkeerd omdat almal om ons anders dink en optree as ons.  Dit is ’n ingebore karaktertrek van die mens om nie stroom-op te beweeg nie, maar om eerder die skare na te boots en die oorgrote meerderheid te volg.  Dit is mos baie makliker om met die stroom te beweeg as teen die stroom, maar die probleem lê in die afgronde waarheen die stroom oppad is!  Die mensdom in die stroom word so besig gehou met onbenullige, wêreldse dinge dat hulle nie agterkom dat die afgronde van die hel aan die kom is nie…  

Daar is net een ware Weg wat lei na die Bruilofsfees en dit is die Weg van die Waarheid en die Lewe.  God verwag van ons om ons lewenswandel skoon te hou en heilig te lewe:

“Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;  en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.” 1 Petrus 2:11-12  (AFR33/53)

Dit is nie moeilik om die pad van God te volg nie, want God is ons baie genadig deurdat Hy aan ons ’n Lig bied wat die pad vir ons verlig om ons te help om nie verder in duisternis te wandel nie.  Daarom is dit nie vir ons nodig om ‘n leraar of ’n kerk te volg nie, maar is ons veilig wanneer ons die pad volg wat die Lig aan ons uitwys.  Geen mens het ’n medium nodig nie!  Dit is hoekom Jesus gesterf het aan die kruis… Hy het daardeur die pad oopgemaak vir jou en vir my om direk met Abba Vader verhouding te kan hê.  Moenie dat ’n kerk of ’n leraar jou verbind aan Abba Vader nie, jy kan self ’n verbinding met Abba Vader hê en dit ontwikkel alleenlik in afsondering in ons binnekamers. 

“U Woord is ’n lamp vir my voet en ’n Lig vir my pad.” Psalm 119:105  (AFR33/53)

“Wees gehoorsaam aan die boodskap van God wat julle goed ken.  Daardie boodskap hou julle soos ’n padkaart op die regte pad en daardie pad sal julle vir altyd by God uitbring.” Jakobus 1:21 (DB) 

“Jesus het gesê:  “Ek is die Lig van die wêreld;  wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die Lig van die lewe hê.” Johannes 8:12  (AFR33/53)

As ons op die ware Weg is, hoef ons nooit bekommerd te wees dat ons sal verdwaal nie, want oral langs die pad is aanwysings wat God vir ons stel deur die Woord wat Hy aan ons bied.  Ons moet net die keuse maak om Jesus se hand te vat en Hom te volg. 

“Take me by the hand;  lead me down the path of truth…  He gives the rejects His hand, and leads them step-by-step.  From now on every road you travel will take you to God.  Follow the Covenant signs;  read the charted directions.”  Psalm 25:5,9,10 (MSG)

As ons die keuse maak om Jesus se hand te vat en die pad saam met Hom aan te durf, sal Hy ons nooit alleen los nie.  God sal almal wat Hom liefhet, wat Hom dien en gehoorsaam, se hande vat en help om die regte keuses te maak.

Moddergooiers  

Daar is baie spotters en moddergooiers langs die pad wat ons uitjou en dink ons is baie eensaam omdat ons nie deel van die skare is nie, maar die ironie van die saak is dat hulle nie vir Jesus langs ons kan sien nie.  Die moddergooiers gaan nie hou van dit wat ons sê of dit wat ons doen nie en daarom gaan hulle ons keer op keer bestook met modder.  Hulle gaan nie daarvan hou as ons ’n leuen op die naam noem nie;  hulle gaan nie daarvan hou dat ons hulle aanvat oor sonde nie;  hulle gaan nie hou van die waarheid wat uit ons monde kom nie, want die waarheid kla hulle gewete aan en die waarheid is soms bitter.  Die modder wat hulle ons mee gooi, kan in elkgeval niks aan ons doen nie, want as ons die salwing van God oor ons het, kan niks aan ons vassit nie.  Dit drup van ons af en daar sal geen teken van modder op ons wees nie.  Ons moet leer om nie te fokus op die moddergooiers langs die pad nie en ons mag hulle nooit teruggooi met modder nie.  Psalm 37 in Die Boodskap sê ons moenie eers ons energie mors om oor hulle te praat nie.  Fokus net op Jesus en die goeie dinge wat jy vir ander kan doen en Abba Vader sal jou op die regte pad hou.  Vers 12-14 van Psalm 37 sê dat slegte mense niks van God se kinders hou nie en dat die boosdoeners altyd sal probeer om God se kinders uit die weg te ruim, maar God lag vir hulle, want Hy weet hulle tyd raak min.  Hulle dag sal kom.  Slegte mense sal altyd mense wat op die regte pad is, probeer doodmaak – nie fisies nie, maar geestelik.  Saam met die moddergooiers en spotters, is daar ook baie wolwe langs die pad wat geklee is in skaapsklere – hulle is die vals profete en vals leraars wat enigiets in hulle vermoë sal probeer doen om ons te oortuig om die afdraaipaaie te kies wat ons sal teruglei na die skares.  Lees Deuteronomium 13:1-5.  Vers 5 in The Message staan vir my uit: 

“… that prophet or visionary must be put to death.  He has urged mutiny against God, your God, WHO RESCUED YOU FROM EGYPT, WHO REDEEMED YOU FROM A WORLD OF SLAVERY AND PUT YOU ON THE ROAD ON WHICH GOD, YOUR GOD, HAS COMMANDED YOU TO WALK!”   Deuteronomy 13:5 (MSG)

Vermy kortpaaie, ompaaie en breë paaie!  Nie een van daardie paaie lei deur die kruis van Jesus oppad na die korrekte ingang van die Bruilofsfees nie.  Dit is hoekom al die ander paaie maklike paaie is om te stap – die mens hoef nie te sterf aan die self nie… maar as daar nie ’n sterfte nie, is daar ook nie ’n opstanding vir die mens deur Jesus nie.  Om deur die kruis te beweeg, beteken om deur Jesus te beweeg;  dit beteken om te sterf aan die self sodat Jesus in en deur ons kan leef.  Nie een van die ander paaie kan dit aan ons bied nie. Hou Jesus se woorde in gedagte:

“Wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.  Wie sy lewe vind, sal dit verloor;  en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.” Mattheus 10:38,39 (AFR33/53)  

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s