Hoe veg ons die reuse in ons lewe? (Audio + leesstuk)

“In U Naam sal ek staan, in U Naam sal ek veg!”

  In die laaste paar maande het Abba Vader my keer op keer geleer oor Dawid en Goliat.  Dawid het fisies die reus verslaan, maar daardie reus het geestelik weer verrys en God se kinders moet daardie geestelike reus veg… nie met oorlogvoering nie, nie met ’n gebulder en ’n verhefde stem nie, maar in stille afhanklikheid van Abba Vader.  (Om meer te lees oor die valsheid oor geestelike oorlogvoering, lees asseblief die saadjies onderaan)

As ons kyk na die verhaal van Dawid en Goliat, sal ons sien Dawid het nie eers ’n oorlogsgewaad aangehad nie.  Hy het ook nie vinng ’n skietgebedjie opgesê dat God hom met ’n wapenrusting moet bedek nie.  Saul het ’n fisiese wapenrusting vir Dawid aangetrek, maar dit was vir hom verskriklik swaar en ongemaklik en hy het dit uitgetrek.  Dawid het geen fisiese swaard by hom gehad nie – net sy staf –  hy het 5 klippies opgetel en het in geloof na die reus gedraai.  Die reus het hom uitgelag en hom toegesnou omdat hy na hom toe kom met geen swaard of spies nie, maar met ’n stok.  Maar Dawid sê vir die reus:

“Jy kom na my met ’n swaard en met ’n spies en met ’n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die Here van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het.” 1 Samuel 17:45

Onder gebed laat ervaar Abba Vader my die volgende:

Ek staan in ’n afgeleë plek en toe ek opkyk, sien ek ‘n reus voor my staan – geklee in sy swaar oologsgewaad, gereed met sy swaard, spies en lans.  Sy hele oorlogsgewaad is vol geskryf met godslasterlike taal.  Ek besef dadelik hierdie reus staan in my pad en as ek hom nie verslaan nie, gaan ek nie verder op my geloofspad kan stap nie.  Natuurlik weet ek ook ek self kan hom nie verslaan nie, alleenlik Jesus binne my kan hom verslaan.  Dadelik dink ek aan Dawid wat 5 klippies opgetel het… ek kyk af na die grond, maar daar is geen klippies op die grond nie.  Ek verstaan nie hoe Abba Vader wil hê ek hierdie reus moet verslaan as ek nie klippies het soos Dawid nie.  Ek kyk na my klere… ek het ook nie ’n oorlogsgewaad aan nie, maar ’n fyn, wit, gemaklike rokkie.  Aan die kante van die rokkie is klein sakkies.  Ek druk my hand in een van die sakkies en voel daar is ’n klein, ronde dingetjie in die sakkie.  Ek haal dit uit om te kyk wat dit is, en in my hand lê ’n pragtige blink pêreltjie.  Toe ek die pêreltjie sien, het my hart sommer begin glimlag, want dadelik het dit my laat dink aan my geestelike tydperk op die eiland in afsondering waar Abba Vader my geleer het oor Manna wat Hy aan ons gee.  Die Manna was in die vorm van ’n pêreltjie – dit is so kosbaar!  So hierdie pêreltjie wat in my hand lê, is die Manna waarmee Abba Vader my geestelik gevoed het en daardeur geleer en opgevoed het.  Manna kom direk uit die hart van Abba Vader… dit is wysheid, insig en kennis vanaf God, Hy gee aan ons onderskeidingsvermoë daardeur.

Ek kyk weer op na die reus en wonder of ek hom met die pêrel moet gooi, maar dadelik kom die Skrif by my op wat sê dat ons nie ons pêrels vir die varke moet gooi nie, want hulle gaan dit stukkend trap en vermorsel.  (Varke maak ’n grap van God se wyshede, kennis en insig, want hulle kan dit nie verstaan nie).  So nee, ek gaan verseker nie die reus gooi met hierdie kosbare pêrel nie.   Ek voel weer in my sakkie en haal ’n fyn wit sakdoekie uit.  Ek draai die kosbare pêrel toe in die sakdoekie  en bêre dit weer in my sak.   Weer kyk ek in my hand en wonder waarmee ek hierdie reus gaan veg, want ek het absoluut NIKS by my om mee te veg nie. 

Terwyl ek staan en wonder wat om te doen, sê Abba Vader:  “Maar jy het ’n swaard!”  Ek verstaan eers nie, want daar is regtig nie ’n swaard in my hand, op die grond of enige ander plek nie.  Abba Vader verduidelik dat ek nie ’n fisiese swaard nodig het nie, want die swaard sal uit my mond kom.  Die Woord en die Manna waarop ek gevoed het, het gevestig geraak binne my en ek het een daarmee geword, net soos ek Een met Jesus geraak het omdat die Gees van God binne my geeshart is.  Jesus is die Woord, Hy is ook die Lig, en net so is Hy ook die Swaard.  Met ander woorde, Jesus IN my is die Woord en die Swaard.  So die woorde wat by my mond uitkom, is die Swaard van God!   Jy het nie ’n swaard in jou hand nodig nie!  Jy het nie ’n klip in jou hand nodig nie!  Jy het nie ’n swaar ongemaklike wapenrustig nodig nie… AL WAT JY NODIG HET, IS DIE LEWE VAN GOD BINNE JOU!  Dan eers kan jy ook sê:  “Ek kom na jou in die Naam van die Here van die leërskare, die God van die slagordes van Israel!”… Dit is nie dieselfde as die mense wat geestelike oorlogvoering doen wat die term uiter:  “…in die Naam van Jesus…” nie.  Wanneer die LEWE van God binne ons is en ons gevoed het op die Manna direk uit die hart van God, hoef ons nie ’n woord te sê nie, want die Lig van God sal uit jou geeshart reflekteer.  Die Lig uit jou hart verteenwoordig die teenwoordigheid van God in jou lewe… die Lig wat reflekteer uit jou hart wys dat die Gees van God binne jou is en verteenwoordig ook die woorde:  “Ek kom na jou in die Naam van die Here van die leërskare, die God van die slagordes van Israel!”  So ons het nie groot woorde en ’n harde stem nodig nie;  ons het nie eers nodig om hierdie woorde aan die reus bekend te maak nie, want die Lig verklap alreeds dat God met ons is in hierdie geveg.  Dit is God BINNE jou wat vir jou veg… jy moet net stil wees en op Hom vertrou.  

Mense wat die geestelike wapenrusting afbid by God, is ook hulle wat geestelike oorlogvoering probeer doen.  Hulle word geleer om hulle borse uit te stoot, om op so ’n manier te staan dat die vyand sommer sal skrik as hy hulle sien… en dan bulder hulle die woorde (wat hulle as rympies aangeleer het) met mag, gesag en outoriteit uit.  Jammer vir die tone waarop ek trap, maar as jy een van die groepe mense is wat dit wel doen, was jy nog nie in afsondering by die voete van Abba Vader nie… want as jy wel in afsondering was, sou Hy jou geleer het wat die Waarheid is en sou jy geweet het jy is besig om speleltjies met Satan te speel.  As jy nog nie in afsondering was nie, is jy ook nie gevul met die Lig en die LEWE van God nie, dus reflekteer die Lig van God nie uit jou hart nie.  En as die Lig van God nie skyn uit jou hart nie, gaan Satan verseker nie vir jou skrik nie!  Mens, JY HET NIE OUTORITEIT, MAG EN GESAG OOR SATAN NIE!!!  Alleenlik God het!  God het in en deur jou gesag oor die vyand!  Mense haal Lukas 10:19 aan om met woorde die vyand te laat skrik, maar hy skrik nie vir woorde nie!  Hy word alleenlik geaffekteer deur die teenwoordigheid van God binne jou.  En dan is hy nie bang vir JOU nie – hy is alleenlik bang vir God!  Diegene wat Lukas 10:19 wil aanhaal  as bewys dat hulle mag oor Satan het, lees weer net ’n gedeelte van hierdie hoofstuk.  Maar doen jouself asseblief ’n guns en gaan lees die hele hoofstuk en dan sal julle ook sien wat Jesus vir Sy dissipels gesê het:

The seventy came back triumphant. “Master, even the demons danced to your tune!” Jesus said, “I know. I saw Satan fall, a bolt of lightning out of the sky.  See what I’ve given you?  Safe passage as you walk on snakes and scorpions, and protection from every assault of the Enemy.  No one can put a hand on you.  All the same, the great triumph is not in your authority over evil, but in God’s authority over you and presence with you. Not what you do for God but what God does for you—that’s the agenda for rejoicing.” Lucas 10:17-20 (MSG)

Mense wat dus glo dat die kruisiging van Jesus vir hulle outoriteit oor die vyand gegee het, voed op suurdeegbrood wat deur Satan uitgedink en deur mense oorgelewer word aan mekaar.  Hulle kry hulle kennis en insig deur wêreldse bronne en nie by Abba Vader nie.  Dit beteken dat hierdie mense nog nie in afsondering voor die Koning gebuig het en Hom toegelaat het om hulle te voed met Manna nie.  Alleenlik om deur God gevoed te word met Manna, verkry ons Goddelike wysheid, insig en kennis.  Abba Vader het altyd aan die begin vir my gesê:

“Kom kry jou verstand by My, My kind.”

En alhoewel ek dit in daardie tyd (baie jare terug) nie verstaan het nie, verstaan ek dit vandag.  Wees versigtig waar jy jou kennis vandaan kry!  Vals kennis gaan jou leer om die reus te veg met hoë woorde en om die Skrif te memoriseer en dus die reus daarmee te gooi.  As ons daarop fokus om die Skrif te memoriseer, gebruik ons ons fisiese brein om dit te onthou.  So ons fokus om ons brein en gedagtes vol Skrif te prop om daarmee te veg – maar dit het niks met ons geesharte te doen nie – is dit dan die Swaard van God?  Nee, dit is nie, want die Swaard is ook die Woord, en die Woord is Jesus!  Die Swaard is die LEWE van God in jou geeshart!  So fokus eerder daarop om gevoed te word deur Abba Vader in afsondering en hoe meer Hy jou voed, hoe meer word jy Een met Hom!  DIT is waar ons fokus moet wees!  As ons gevoed word met God se Manna, word dit later ’n pêreltjie in ons sak wat bewys dat ons die reus met die Swaard uit ons mond kan veg… met Waarheid – Waarheid wat Abba Vader aan ons geleer het.  Ek dink tog daar is verskillende tipe reuse wat ons teëkom op ons pad.  Een tipe reus is die reus waarvan koning Nebukadneser gedroom het in Daniël 2 wat uit verskillende koninkryke bestaan.  Dit is al die geestelike koninkryke (denominasies) wat ontpop in die wêreld en die mense op verkeerde paaie lei.  Die mens wat nie die Waarheid by Abba Vader self leer ken nie, gaan vir hom ’n denominasie uitkies waarvan hy hou en agter daardie koninkryk aanstap hel toe.  Wanneer ‘n mens wel die Waarheid by Abba Vader leer ken, hang jy HOM aan, en nie ‘n kerk nie.  

Die ander tipe reuse in ons lewens is mense wat nie in ons lewens hoort nie… mense wat jou irriteer, jou misbruik en presies weet hoe om jou nou en dan ’n messteek in die hart te gee.  Het ek en jy regtig sulke mense in ons lewe nodig?  Ek het te veel sulke mense in my lewe gehad en ek het op ’n punt gekom waar ek net eerlik begin raak het.  Wanneer ek kon agterkom iemand wil my weer net misbruik, het ek oop en eerlik die waarheid gepraat teenoor daardie mens en vir hom/haar presies gesê wat my gevoel is.  Natuulik het hulle absoluut niks daarvan gehou nie, want hierdie mense is gewoonlik uiterste goeie manipuleerders, en as hulle jou nie kan manupileer en beheer nie, wil hulle ook niks met jou te doen hê nie, en beskuldig hulle jou van ’n klomp nonsens.  Dit is so bevrydend wanneer ’n mens eerlik met hierdie tipe mense is en hulle dan eerder uit jou lewe verban.  Elkeen van ons is dit verskuldig aan onsself.  Dit is nie nodig om lelik te wees met daardie persoon en hulle persoonlik aan te vat nie, maar stel jou eerlike gevoel teenoor hulle en ek kan jou waarborg hulle gaan jou ‘n paar goed noem.  Jy het nie sulke mense in jou lewe nodig nie!  So hierdie mense sien ek ook as reuse in ons lewens wat ons pad versper en die enigste manier hoe jy hulle gaan verslaan, is deur die waarheid te praat en eerlik te wees oor jou gevoel oor hulle en hul dade.  Dit help nie jy wil hulle gooi met ’n pêrel nie, met ander woorde, dit gaan nie help ’n mens probeer mooipraat en doekies omdraai nie, want hulle gaan dit vertrap.  Al wat hulle nodig het, is waarheid.          

  Ek het die laaste tyd ’n groot les geleer oor waarheid en eerlikheid.  Reuse in ons lewe kan ’n klomp verskillende goed wees – ook mense in verskeie vorms.  Die groot les wat ek geleer het, is dat waarheid en eerlikheid ’n reus-verwyderaar in ons lewe is.   

Mag die valsheid van die wapenrusting en oorlogvoering vir jou ook ongemaklik wees en mag jy ook daarvan ontslae raak.  

Ekstra saadjies:

Valsheid van oorlogvoering: https://sonneblomsaadjies.com/2017/06/27/1059/

Goddelike oorlogvoering: https://sonneblomsaadjies.com/2017/06/28/goddelike-oorlogvoering/

Manna in afsondering: https://sonneblomsaadjies.com/manna-in-afsondering/

Mag ons die bloed van Jesus pleit?https://sonneblomsaadjies.com/2020/02/24/mag-ons-die-bloed-van-jesus-pleit/

Word getransformeer na jou Goddelike DNA

Eendag, onder gebed, wys Abba Vader vir my ’n normale DNA struktuur wat bestaan uit 2 stringe, maar dan wys Hy my ’n ekstra, bloedrooi DNA string wat bygelas is.  Abba Vader verduidelik dat Hy Sy kinders geskep het met ’n ekstra DNA koord van Liefde wat die mens se Goddelike DNA is.  So God se kinders het nie net ’n vleeslike DNA nie, maar ook ’n Goddelike DNA.  Alhoewel Abba Vader vir my ons Goddelike DNA as ’n ekstra rooi koord gewys het, is dit nie fisies of vleeslik ’n ekstra koord van ons vleeslike DNA nie, maar is dit in die vorm van ’n saadjie.  Ek glo dat Abba Vader dit aanvanklik vir my gewys het as deel van die mens se DNA struktuur sodat ek kon weet en verstaan dat dit Goddelike DNA is.  As Hy dit aanvanklik vir my moes wys as ’n saadjie, sou ek nie begryp het dat dit Goddelike DNA is nie, maar sou ek daarna verwys het as ’n normale saadjie.  Hierdie geestelike saadjie wat ons Goddelike DNA bevat, is diep in ons geesharte ingeweef waar dit eers in dormansie lê.  Alleenlik die Lig van God kan die saadjie laat ontkiem en groei.  Kom ons begin by die begin van die mens se lewe….

Elke persoon word fisies in die duistere wêreld ingebore as ‘n vleeslike mens met ’n fisiese DNA en dormante geesharte.  Omdat die geeshart in dormansie is, beteken dit dat die Goddelike DNA saadjie ook eers in dormansie is.  Met ander woorde, niemand word heilig gebore nie!  Niemand word gebore met Sy Goddelike DNA in volle werking nie.  Ons word gebore met geesharte wat nog vas aan die slaap is en wakker gemaak moet word.  Efesiërs 5:14 bevestig dat ons geesharte eers vas aan die slaap is wanneer dit sê: 

“Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.” Efesiërs 5:14

Ons word grootgemaak deur ons ouers wat hulle “mindset” op ons afstempel en so word ons groot met ons voorgeslagte se gewoontes, beginsels, waardes, persepsies, reëls, wette, tradisie en godsdiens.  Ons word dus op ’n vleeslike manier gevorm en gebuig deur ons ouers, ons omgewing, asook omstandighede soos traumatiese ervarings.  Elkeen se lewe is opgedeel in fases van min of meer 7 jaar.  Die eerste 7 jaar van ons lewe het ons ouers ’n baie groot invloed op die mens wat ons is, maar na die ouderdom van 7, begin ander fasette van die lewe bydra om ons te omvorm.  Ons begin keuses maak wie ons wil wees, of ons kry selfs ’n rolmodel en streef daarna om soos daardie persoon te wees en te lyk.  Ons maak ons eie vorm of ‘mold’ waarin ons onsself probeer vorm, maar die vorm of die ‘mold’ wat ons gebruik, is nie die ‘mold’ wat deur God bepaal is nie.  Die oorspronklike mens wat God beplan en geskep het, se Goddelike DNA is vasgevang in die saadjie wat in jou geeshart ingeweef is. 

“Before I formed you in the womb, I knew you.  Before you were born, I set you apart for my holy purpose.”  Jeremiah 1:5  (GWT) 

Voor ons fisiese geboorte het God ons geken en het Hy ons lewe op aarde vooruit beplan en opgeskryf in ons lewensboek: 

“My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.  U oë het my ongevormde klomp gesien;  en in U boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alle bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.” Psalm 139:15,16

Die TPT vertaling sê dit so mooi:

You saw who you created me to be before I became me, Before I’d ever seen the light of day, the number of days you planned for me were already recorded in your book. Psalm 139:16 (TPT)

Met ander woorde, voor ons geboorte het God bepaal wat jou doel op aarde sou wees;  Hy het bepaal wat Hy DEUR jou wil werk op aarde.  Dit is die wil van God vir jou lewe en alles is opgeskryf in jou Goddelike Lewensboek.  Elkeen van God se kinders se ‘purpose of life’ verskil van mekaar… hier en daar kan ’n ietsie wees wat ooreenkom met ‘n ander persoon se ‘purpose’, maar elkeen se Lewensboek is uniek geskryf deur Abba Vader.  Die werk wat Hy deur jou wil doen, vereis ’n sekere temperament, karaktertrekke en talente, en al hierdie goed wat jy benodig om jou doel uit te leef, is ingeweef in jou Goddelike DNA.  Dis vir my so wonderlik om te dink dat Abba Vader eers ons lewens en doel op aarde bepaal het en daarvolgens verweef Hy elkeen se Goddelike DNA met ’n spesifieke temperament, karakater en talente.  Elkeen se DNA profiel lyk anders;  daar is nie een mens wie se DNA identies is aan ’n ander een nie.  So ons wonderbaarlike God bepaal eers ons doel op aarde en wat Hy deur ons wil werk.  Hy skryf alles op in ons Lewensboek, so alles wat in ons Lewensboek staan, is die wil van God vir ons lewens.  En nou gaan die meeste mense vra:  Maar hoe weet ons wat die wil van God vir my lewe is?  Solank as wat jy vasgevang gaan wees in die wêreld en godsdiens, gaan jy nie weet wat die wil van God vir jou lewe is nie, maar soos jy in afsondering tyd begin spandeer by die voete van Abba Vader, sal jy die ware God leer ken.  Jy sal begin Een raak met Hom, en net so sal jou lewe ook Een met Hom begin raak… en sonder dat jy dit bewustelik beplan of besef, begin jy outomaties Sy wil uitleef.  Soos God se Lig op jou lewe begin skyn, so sal die Lig ook op jou geeshart begin skyn en sal jou dormante geeshart uit die diepe slaap ontwaak.  Dit beteken dat die Lig van God ook op die DNA saadjie sal skyn en die saadjie sal begin ontkiem en groei in die mens wat God jou oorspronklik gemaak het om te wees.  Jou Goddelike DNA sal begin oorneem en (weereens) sonder dat jy dit bewustelik beplan of besef, begin sekere fasette van jou menswees verander en word jy getransformeer volgens jou Goddelike DNA.  

Brothers and sisters, in light of all I have shared with you about God’s mercies, I urge you to offer your bodies as a living and holy sacrifice to God, a sacred offering that brings Him pleasure; this is your reasonable, essential worship. Do not allow this world to mold you in its own image. Instead, be transformed from the inside out by renewing your mind. As a result, you will be able to discern what God wills and whatever God finds good, pleasing, and complete.  Romans 12:1,2

In die vorige saadjies, het Abba Vader my gelei om te skryf oor Sy genade en goedheid vir ons, en dat ons nie Sy genade moet misbruik nie.  God offer aan elkeen genade in ’n poging om die mens te help om tot ware bekering en wedergbeoortte te kom.  Sonder die genade van God kan geen mens dus tot ware bekering kom nie.  Ongelukkig word God se genade omskep in iets wat misbruik kan word deur die mensdom deurdat hulle God se genade vir hulleself wil opslurp en dit gebruik  en misbruik om te leef soos hulle wil.  Hulle reken dat God ’n God van Liefde is (en Hy is, maar Hy gaan Hom nie laat misbruik nie) en daarom het Hy Sy Seun laat sterf vir ons sondes…. sodat al ons sondes van die verlede vergewe is en al die sonde wat ons nog gaan doen, ook alreeds vergewe is.  Dit is gee aan die mens ’n ‘ticket’ tot vryheid om te leef soos hy wil, solank hy net kerk toe kom en sy tiende saambring.  Hoe belaglik, maar dit is hoe God se genade en goedheid misbruik word.    

Die mens wat die genade van God begin verstaan en sy hand in Jesus se hand plaas en hom laat lei deur die groer Hand, sal tot ware bekering en wedergeboorte kom deur die genade van God.  Die genade van God begin hierdie mens transformeer na die mens wat God oorspronklik geskep het deurdat Sy geeshart wakker word en die saadjie begin groei.

Die vraag waarmee elkeen van ons kan stilraak, is: Waar is jy gewortel? Want daar waar jy gewortel is, sal bepaal of jou DNA saadjie kan begin ontkiem of nie.