Is jy ‘n oop teiken vir Satan?

IMG_0392

“As ek gesondig het, wat doen ek aan U, o Mensebewaker? Waarom het U my as mikpunt vir U opgestel, sodat ek myself tot ’n las is?”
(Job 7:20 Afr. 33/53)

“As ek verkeerde goed gedoen het, wat het ek aan U gedoen? U pas mense soos ’n bewaarder op. Hoekom het U my as ’n teiken gebruik? Hoekom het U my gekies?”
(Job 7:20 Die Boodskap)

As ons kyk na Job se lewe, het Satan tog in sy doel geslaag in die sin dat Job gevoel het God straf hom onreverdig. Job het nie besef dat dit ’n verskriklike groot toets is waardeur God sy liefde en getrouheid wou toets nie. Hy het natuurlik baie vrae aan God gevra en een van die vrae was gewees: “Hoekom gebruik U my as teiken?” Job se drie vriende het dit vir hom glad nie makliker gemaak nie, want hulle het op ’n slinkse manier Job probeer oortuig dat God hom straf vir die slegte goed wat hy gedoen het, maar tog het Job diep in sy binneste geweet dat hy onskuldig is en daarom kon hy nie verstaan hoekom God Sy visier op hom ingestel het as teiken nie. Hoekom was Job ’n oop teiken? Hy was ’n oop teiken as gevolg van sy gehoorsaamheid en liefde vir God…

Job was afgesonderd vir God, hy was nie deel van die groepe of skare mense nie. Hy was soos die een enkele blom wat onder die onkruid uitgegroei het, wat geblom het in die Lig van God se genade, wat saad gevorm het om te versprei. Dit is hoekom Job vir God uitgestaan het as ’n Godvresende man. Ons het gesien in Job 1 en 2 dat God vir Satan gesê het dat daar oor die hele aarde nie ’n mens is wat Job se gelyke is nie, met ander woorde, Job het regtig uitgestaan vir God. Hy was vir Satan ’n bedreiging, want Satan wil nie hê ’n Godvresende mens se saad moet versprei oor die aarde nie. ’n Mens wat God so liefhet, is ’n frustrasie vir Satan omdat hy niks aan hierdie mens kan doen nie. Soos Job, behoort so ’n mens aan God en is God die beheerder van sy lewe. Satan mag nie uit sy eie iets aan Job gedoen het nie, maar hy moes eers toestemming by God gekry het. Daarom het Satan vir Job aangekla by God en gesê dat Job God alleenlik dien sodat dit moet goedgaan met hom. God het Satan toegelaat om Job se liefde en gehoorsaamheid te toets.

Job het uitgestaan as ’n teiken as gevolg van sy gehoorsaamheid en liefde vir God! Hy het onder die ongehoorsames uitgegroei. Hy was ‘n duidelike bedreiging vir Satan en daarom was hy ook ’n oop teiken vir Satan, maar onthou nou….al is hy so ’n mooi, duidelike, oop teiken, mag Satan nogsteeds niks aan hom doen nie. Hy moet hom eers aankla by God en God moet Satan toestemming gee om iets slegs in sy lewe te laat gebeur. God se motief is om die persoon se liefde en opregtheid te toets, maar Satan se motief en lekkerkry lê in die sin dat hy wil hê die persoon moet voel dis God wat hom straf. Hierdeur hoop Satan dat die persoon so kwaad sal word vir God sodat hy God sal vervloek en ook sy rug op God sal draai.

Wanneer is ek en jy ’n oop teiken vir Satan? Wanneer ons, soos Job, afgesonderd is vir Abba Vader, wanneer ons onder die res uitgroei om ’n blommende blom te wees in die Lig van God – wanneer Satan sy vuil kloue nie in ons kan inslaan nie. Dan het hy geen reg op ons lewens nie, ons behoort aan God en Satan moet eers by God toestemming kry as hy iets slegs in ons lewe wil laat gebeur. So, al leef ons ook hoe naby aan Abba Vader, kan daar nogsteeds slegte goed in ons lewens gebeur. Dis nie te sê dis God wat ons straf nie, inteendeel, dit kan wees dat Satan ons aankla by God omdat ons hom frustreer as ’n oop teiken waaraan hy niks kan doen nie. As God voel die tyd en omstandighede is reg, kan Hy Satan toelaat om ons te tref met die doel om ons liefde en opregtheid te toets. Dalk is dit die rede hoekom soveel mense die vraag vra: “Hoekom gebeur daar nooit iets slegs in ’n slegte, oneerlike mens se lewe nie?” Want hulle is nie ’n gevaar vir Satan nie, hulle is nie vir Satan ’n bedreiging nie en hulle word nie deur Satan aangekla voor God nie. Hulle word dalk nooit getoets nie…

Mense wat in sonde lewe, wat hulle nie steur aan die Woord van God nie, hulle wat nie omgee om ongehoorsaam te wees aan God nie, funksioneer nie in die Lig van God nie, dus funksioneer hulle in die duisternis. Hulle is altyd saamgegroepeer in groot groepe of skares; almal groei ewe hoog, niemand groei rêrig bo die normale stand van sake uit nie, dus is niemand rerig ’n oop teiken nie. Niemand is ’n gevaar vir Satan nie, hy voel nie bedreig deur hulle nie, want solank as wat hulle in die groot groepe in duisternis funksioneer, kan hy hulle beheer. Hoekom sal hy nou een van hulle aankla by God? Omdat hulle in duisternis funksioneer, het hy mag oor hulle en het hy die reg om slegte dinge in hulle lewens te laat gebeur. As daar dus slegte goed in hulle lewens gebeur, het dit niks met God te doen nie, dis nie Hy wat die mense straf nie. Slegte dinge in hulle lewens word direk deur Satan veroorsaak. Dan kan ons verstaan hoekom verpes hy diegene wat blom in die Lig van God, hy kan dit nie verdra dat hy niks aan hulle kan doen nie. Al wat hy kan doen, is om hulle aan te kla by God en te hoop dat God hom toestemmming sal gee om iets slegs in hulle lewe te laat gebeur, met die hoop dat hulle dan vir God sal kwaad raak en Hom sal verkwalik vir die sleg in hulle lewens. Hy doen dit met die hoop dat hulle God sal vervloek en hulle rug op Hom draai.

Die mooiste voorbeeld wat vir ons agtergelaat is van ’n afgesonderde blommende blom, is Jesus. Het Jesus in skares of groot groepe funksioneer? Glad nie! Die groot groepe het heeltyd plannnetjies beraam om Hom dood te maak. Het Jesus saam met skares in afsondering inbeweeg? Glad nie! Hy het stoksielalleen die woestyn ingegaan om vir 40 dae af te sonder. Daarna lees ons ’n paar keer in die Woord hoe Hy Sy dissipels agterlaat om in afsondering te gaan bid. Jesus het nie funksioneer in skares nie, Hy was afgesonder vir God om die werk van God te doen en die wil van God te laat geskied – al het Hy geweet dit gaan baie swaar wees. Nogsteeds het Hy gese: “Nie My wil nie, Vader, maar U wil”. Jesus was verseker die grootste gevaar en bedreiging vir Satan, ek kan net dink watse groot teiken Hy vir Satan was, maar hy kon op geen manier ’n houvas op Jesus kry nie. Jesus was wel getoets in Sy vastingstydperk in die woestyn, Satan het hom direk versoek om te sondig, maar Jesus het dadelik geweet dis versoeking van Satan en kon hom kort en kragtig teëstaan met Woord. Net soos Jesus in afsondering inbeweeg het, moet ons ook afgesonder word vir God. Satan gaan ons ook in versoekig probeer lei voordat hy ons gaan aankla by God. As ons sy versoekings kan teëstaan, gaan ons hom briesend maak en moet ons nie verbaas wees as ons liefde en opregtheid vir God getoets gaan word, soos Job, nie.

Nou is daar ‘n wêreldse lering, wat verseker van Satan af kom, wat die naïewe mensdom leer dat jy nie in afsondering mag inbeweeg nie. Hulle siening is dat wanneer jy afgesonder is, jy stoksielalleen staan en ’n oop teiken raak vir Satan sodat hy jou kan aanval en met jou kan doen net wat hy wil. Waar hulle die pot mis sit, is dat jy in die eerste plek nie alleen is AS jy voor die voete van God in afsondering is nie. As jy God aan jou sy het, wat kan ’n mens of selfs Satan aan jou doen? Absoluut niks! So, as jy afgesonderd is, is jy wel ’n oop teiken vir Satan, want jy gaan uitstaan, maar die fout wat die dwaallering maak, is dat jy wel aangeval kan word deur Satan… Nee, as jy aan God behoort, sal hy eers toestemming by God moet kry. Satan versprei hierdie leuen om mense bang te maak vir afsondering, hy wil nie hê ek of jy moet in afsondering inbeweeg nie, want hy weet baie goed die kans is baie groot dat ons God gaan ontmoet in afsondering en dit probeer hy met alles in hom keer.

Opgesom, die mens wat in sonde leef, leef in die duisternis waar hy beheer word deur satan. Hulle is nie vir Satan ’n bedreiging nie en is ook nie vir hom ’n oop teiken nie, want hulle funksioneer altyd in groot groepe. Hy is nie gepla oor die groot groepe in duisternis wat agter sy vals godsdienstige leringe aanloop nie, hulle hou vir hom geen gevaar in nie. Die dinge wat skeefloop in hulle lewens, is as gevolg van die vervloeking waarin hulle funksioneer, dis nie God wat dit oor hulle bring nie. Hulle gehoorsaam Satan en die deur van hulle lewe is wawyd oop vir satan om te doen net waarvoor hy lus is. God hoef dus nie vir Satan toestemming te gee om sleg in hule lewe te laat gebeur nie! Hulle kan dus onmoontlik nie vir God blameer vir die slegte dinge in hulle lewe nie, alhoewel hulle Hom kwalik neem daarvooor. Dit is so ironies….

Satan haat mense in afsondering wat God liefhet en hy sal sy dwaalleringe so goed as moontlik probeer versprei om mense in afsondering te manipuleer om deel van die groepe te word. Is jy deel van die groepe wat vir satan geen gevaar inhou nie? Mense het die vals idee dat hoe groter die groepe, hoe groter is die krag van God wat werk deur die groep en hoe sterker staan hulle satan teë. Maar hoeveel van die mense in die groepe se harte skyn waarlik ’n lig? As daar geen lig uit die hart skyn nie, staan die persoon Satan glad nie teë nie. Die mens wat geen persoonlike verhouding met God het nie, se teenwoodigheid in ’n groep help of beteken niks. Die Here sien die regverdige raak en Hy luister na die gebed van die regverdige. Hy kyk nie hoe groot die groep is om gebede te verhoor nie. Hy sien die persoon raak wat bo die groep uitgegroei het wat ’n lewende verhouding met Hom het…

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s