
“…al bly julle tussen mense wat korrup en sonder gewete is… juis tussen hulle moet julle soos helder ligte in ’n donker wêreld skyn. Vir hierdie mense in die geestelike donker moet julle van Christus vertel sodat hulle ook die ware lewe kan kry. Filippense 2:15 (DB)
Op ’n tyd het Abba Vader vir my ’n ontstellende visioen gewys wat my baie hartseer gemaak het: Onder gebed het Abba Vader my op ’n tipe platform laat staan wat baie hoog in die hemelruim was en dis asof ek kon afkyk op die aarde. Die aarde was swart en chaoties en daar was baie bloed wat gevloei het oor die aarde soos die mense mekaar fisies en emosioneel vermoor. Dit het my laat dink aan ‘n miernes soos die mense krioel en ywer vir hulleself. Wat my opgeval het, is dat daar sterretjies was – nie baie nie, maar die paar helder sterretjies, wat wel daar was, het rustig rondbeweeg. Hulle beweeg dan na flouer sterretjies en probeer hulle flou vlammetjies weer aan die gang kry sodat hulle soos helder sterretjies kan skitter en blink. Wanneer die flou sterretjie weer helder skyn, gaan hy weer op sy beurt om ander flou sterretjies te help skyn. Wat hartseer is, is dat sommige flou sterretjies, wat besoek word deur ’n helder ster, die keuse maak om weg te beweeg en dan word sy skynsel nog flouer. Dan sien ek twee groot vingers wat hierdie flou ster se liggie uitdoof en die uitgedoofde ster val op ’n hoop ander uitgedoofde sterre. Oral op die aarde is massiewe hope uitgedoofde sterre – dit is ’n droewige gesig. Abba Vader sê ek moet let op die kerke en ek fokus toe op al die plekke met kerktorings – baie mooi en indrukwekkende plekke, maar daar is baie min kerke waar ek sterretjies sien skyn; inteendeel, daar is eerder grys-swart rook wat vanuit die meeste kerke opstyg. Abba Vader gee Jeremia 13 om te gaan lees.
“…Then I said, listen. Listen carefully: ‘Don’t stay stuck in your ways! It’s God’s Message we’re dealing with here. LET YOUR LIVES GLOW BRIGHT BEFORE GOD BEFORE HE TURNS OUT THE LIGHTS, before you trip and fall on the dark mountain paths. THE LIGHT YOU TOOK FOR GRANTED WILL GO OUT AND THE WORLD WILL TURN BLACK! If you people won’t listen, I’ll go off by myself and weep over you, weep because of your stubborn arrogance, bitter, bitter tears, rivers of tears from My eyes…” Jeremiah 13:15,16 (MSG)
“Die lig van die slegte mense sal doodgaan. Hulle vlammetjies sal nie meer brand nie…” Job 18:5 (DB)
Ek kyk weer na die hope uitgedoofde sterre en vra hartseer vir Abba Vader of ons nie hierdie uitgedoofde sterre mag help nie? Hy antwoord dat ons onder geen omstandighede die uitgedoofde sterre weer aan die brand mag probeer steek nie. Ek verstaan nie, want Jesus het dan op aarde na die sondaars gegaan en hulle gered, maar Abba Vader antwoord streng: “Julle is nie Jesus nie! Laat die dooies die dooies begrawe!” Ons mag alleenlik na die flou liggies beweeg, hulle bemoedig en probeer help, maar as ons gestuur word na mense wie se liggies besig is om uit te brand en hulle wil nie luister of ag gee nie, draai om en skud die stof van jou voete af.
“As iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad.” Mattheus 10:14 (AFR33/53)
Diegene wat die keuse maak om hulle rug op die Waarheid te draai, is die liggies wat God totaal en al gaan uitdoof. Dit is liggies wat uit hulle eie hart ’n lig probeer skyn, met ander woorde, hulle wat deur dooie werke of eie-geregtigheid verlossing probeer bekom en nie die verlossing wat Jesus ons gee, aanvaar nie. Hulle vlammetjies is kunsmatig – kunsmatige, godsdienstige, flou vlammetjies. Hulle skyn nie vanuit hulle harte nie, alleenlik hulle dop is aan die brand. Hierdie sterre is nie in die wentelbaan waar God hulle geplaas het nie…
“…maar verdwaalde sterre vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word.”
“…they are lost stars in outer space on their way to the black hole.” Judas 1:13
God hou nie van ’n vermenging van lig en duisternis nie, veral nie in ons harte nie. Duisternis in die hart word veroorsaak deur sonde en kan van ’n eens helder skynende ster ’n baie flou sterretjie maak totdat die lig totaal uitgedoof word en die eens skynende ster op die hoop uitgedoofde sterre beland. God kan van die helder skynende sterre na die flouer sterretjies stuur om hulle bewus te maak van die duisternis wat besig is om hulle oor te neem, en wanneer die flou sterretjie sy sonde raaksien, dit bely aan Abba Vader en sy rug daarop draai, kan die sterretjie weer ’n gesonde gloed ontwikkel. Trots en hoogmoed is ongelukkig een van die grootste redes dat flou sterre nie die duisternis in hulleself raaksien nie, dat hulle nie hulle sondes aan God bely nie en later totaal uitgedoof word. In Openbaring 2:2-5 sê God dat Hy raaksien al die werke wat die mens doen, maar tog het die mense hulle eerste Liefde verlaat. Hulle is nie meer so lojaal en liefdevol teenoor Abba Vader nie. God waarsku dat as die mens nie sy gesindheid en optrede gaan verander nie, gaan God sy liggie uitdoof!
“Skyn soos ligte in die wêreld deurdat julle die Woord van die lewe vashou!” Filippense 2:15,16 (AFR33/53)
“U is die Bron van die Lewe; deur U Lig lewe ons.” Psalm 36:10 (AFR83)
Abba Vader wil dus hê ons moet skyn en skitter soos ’n ster, maar hoe kom ons daarby uit? Hoe kan ons skyn en skitter as ons harte donker en van klip is? Geen mens wat in die wêreld vasgevang is, kan skyn met die glorie van God nie. Ons kan alleenlik skyn wanneer ons teenwoordig is in die Lig van God. Ons kan alleenlik skyn en skitter soos ’n ster as ons harte aan die brand is, met ander woorde, as die Vuur van God binne ons brand. Ons ontvang hierdie Vuur van God, alleenlik vanaf Abba Vader wat ons doop met Vuur.
“Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat na my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met Vuur.” Mattheus 3:11 (AFR33/53)
Sonder doping met die Vuur van God, sal ons nooit soos ’n ster kan skyn nie. Dis nie ’n besluit wat die mens kan maak nie, dis ’n besluit wat Abba Vader maak. Abba Vader alleen weet wanneer elkeen se hart ontvanklik is vir Sy Vuur! Die keuse wat die mens wel moet maak, is om sy lewe af te lê en sy totale lewe en hart in afsondering aan Abba Vader te offer. Abba Vader is ’n “gentleman” en Hy staan voor ieder en elkeen met Sy hande uitgestrek. Hy vra dat ek en jy ons hart in Sy hande moet plaas. Hy gaan nie net ’n mens se hart in besit neem soos Hy wil nie; Hy wag dat ons die keuse maak om in afsondering in te beweeg en ons hart in Sy hande te plaas.
Die grootste probleem waarmee ons sit, is dat wanneer ons uit die duistere boksies kom, ons nog donker harte van klip het; ’n hart van klip kan niks absorbeer of ‘n skynsel reflekteer nie. Net so min as wat ’n fisiese klip aan die brand kan slaan, kan ’n persoon met ’n kliphart se hart aan die brand slaan, met ander woorde, ons het eers nodig dat ons klipharte omgesit word in ’n hart van vlees voordat ons ’n skynende ster in die hand van God kan wees. Klip kan niks absorbeer soos ’n spons nie, dus kan hy ook nie die Liefde van God absorbeer nie en as ’n mens nie die Liefde van God kan absorbeer nie, kan ons ook nie ware liefde uitdeel nie. Daarom is klipharte emosieloos, sonder empatie en gee hulle nie om om ’n ander seer te maak nie. Klippe kan nie liefhê nie, dus kan hulle nie God se gebooie nakom nie, want God se grootste gebod is om Hom lief te hê met ons hele wese en tweedens, om ons naaste lief te hê soos onsself. ’n Kliphart is gefokus net op die self en sy eie behoeftes en kan dus net homself liefhê.
Daarteenoor kan ’n vleeshart die Liefde van God soos ’n spons absorbeer sodat hy dit weer kan uitdeel aan ander. ’n Vleeshart is ’n mens wat waarlik omgee vir ander, sy emosies is sensitief en hy sal veg teen onregverdigheid en opstaan vir die wat platgeslaan word deur die onregverdige wêreld. ‘n Vleeshart lewe, hy is aan die brand vanuit sy diepste wese, alles te danke aan die bloed van Jesus wat in en deur sy vleeshart pomp en versprei word deur sy hele wese.
“Majesteit en luister STRAAL van Hom uit, krag en GLANS vul Sy heiligdom.” Psalm 96:6 (AFR33/53)
Op ’n dag wys Abba Vader my net ’n titseltjie van Sy skynsel – Hy skyn soos die son – die goudste strale waaraan ’n mens kan dink wat ’n mens verblind – daarom kan die mens God nie sien nie – dit is regtig die goudste strale waaraan jy kan dink. Die woorde van Abba Vader is:
“Die goud in My strale is die heuning vir jou siel; dit is die kos vir jou gees; sonder dit sal jou siel en gees vergaan.”
Abba Vader verduidelik dat dit Sy hartsbegeerte is dat ons so naby aan Hom sal kniel sodat Sy goue strale ons kan binnedring. Soos Sy goue strale deur ons beweeg, verander dit ons en slaan ons harte aan die brand. Ons kliphart word bestraal deur die goue strale van God totdat dit aan skerwe spat en dit verander word na ’n vleeshart wat skyn met die Lewe van God. Kyk hoe mooi stel Job 33:30 dit:
“…om sy siel terug te bring na die kuil , sodat hy bestraal word met die Lig van die Lewe.” Job 33:30 (AFR33/53)
“Maar vir die van julle wat My liefhet en aan My gehoorsaam is, sal My verlossing soos die son wees. Wanneer dit opkom, jaag dit die donker weg en gee Lig. Daar waar die son se strale op ’n seerplek skyn, word dit vinnig gesond. So sal Ek die nuwe lewe oor julle laat kom.” Maleagi 4:2 (DB)
Ons kan dus nie sonder die goue strale van God skitter en skyn soos sterre nie en dit beteken ons moet ’n baie hegte verhouding met Abba Vader hê sodat Sy strale direk op ons harte kan val. Dit laat my dink aan Jeremia 13 wat Abba Vader gegee het oor die skynende sterre. In daardie hoofstuk sê God ook ons moet so naby aan Hom leef soos ’n band wat om Sy lyf vasgemaak is. Dis die enigste manier hoe ons die goud in Abba Vader se goue strale kan absorbeer, want ons harte kan alleenlik aan die brand slaan deur die Vuur van God. Alles begin weereens met die hoeveelheid tyd wat ons in die Woord en gebed met God spandeer.
“This is the crisis we’re in: God-light streamed into the world, but men and women everywhere ran for the darkness. They went for the darkness, because they were not really interested in pleasing God. Everyone who makes a practice of doing evil, addicted to denial and illusion, hates God-light and won’t come near it, fearing a painful exposure. But anyone working and living in truth and reality welcomes God-light so the work can be seen for the God-work it is.” John 3:19-21 (MSG)
Net soos die mensdom die Lig in Jesus probeer uitdoof het, sal die bose geslag die vuur in my en jou ook probeer uitdoof as die Vuur van God wel in ons brand. Hulle sal ons probeer stilmaak, want hulle hou nie van die Waarheid nie en hulle hou ook nie van lig wat hulle bose dade in die duisternis uitlig nie. Hulle gaan jou haat as jy hulle slegte dade aan die lig bring en hulle grootste wapen is ontkenning. Hulle sal volhou dat hulle reg is en dat jy verkeerd is, dat hulle dade reg is, dat hulle die heiliges is en dat jy die Fariseër is. Ongelukkig beweeg hulle in groot groepe en gaan hulle jou probeer intimideer. Jy gaan voel soos die een wat verkeerd is, maar gaan terug na die Woord en die voete van Abba Vader. Ek sê weer: Niks het verander van Jesus se tyd tot nou toe nie. Die groot groepe sal met ’n spul verskillende argumente, beledigings en opmerkings die wind uit jou seile probeer neem, maar dit is om hulle duistere dade te verbloem en jou soos die slegte een te laat voel. Hulle skroom nie om openlik te lieg en bedrieg nie. Hulle sal met alles in hulle probeer om die vuur binne ons te blus. Hulle probeer met ons koppe smokkel om ons te laat glo ons is van die pad af, maar ons moet sterk staan teen hulle en ons nie van stryk laat bring nie. Daarom is dit van uiterste belang dat ons soveel tyd as moontlik in die teenwoordigheid van Abba Vader spandeer waar ons Sy stem sal hoor en sal weet ons is nog op die regte pad. Hulle is ‘n klomp wolwe wat in jou ore sal raas en blaas om die Vuur in jou te blus.
Die vlam in die hart van Jesus was beslis nie ’n klein kersvlammetjie nie, dit was ’n massiewe groot vlam en daarom kon niks en niemand Sy vlam uitdoof nie! Wanneer daar wind geblaas word op ’n klein kersvlammetjie, word dit baie maklik geblus en niks kan weer daardie kers se vlam aan die gang kry nie, alleenlik ‘n bron van hitte. Wanneer daar ’n wind geblaas word op ’n groot vlam, gaan die vlam verseker nie geblus word nie – dit gaan eerder versprei! Kyk na ’n veldbrand – die grootste gevaar vir die verspreiding van ’n vuur is wanneer daar ’n sterk wind opsteek, dan hardloop daardie vlamme in alle rigtings! Dit is daardie massiewe vlam wat in ons hart moet brand! ’n Massiewe groot vlam wat geen wolf kan blus nie, maar wanneer die wolf kom met sy geraas en geblaas, sal hierdie vlam van ons hart eerder versprei na ander, sodat hulle ook die hitte van die vlam sal voel en die wolwe skaam en rooi in die gesig sal padgee! Dit is hierdie Vuur binne ons wat ons as sterretjies laat skyn in ’n donker en bose wêreld. Dan moet ons uitgaan om flou sterretjies se lig weer aan die gang te kry in ’n poging om hulle te help om helderder te skyn.
“…al bly julle tussen mense wat korrup en sonder gewete is… juis tussen hulle moet julle soos helder ligte in ’n donker wêreld skyn. Vir hierdie mense in die geestelike donker moet julle van Christus vertel sodat hulle ook die ware lewe kan kry.” Filippense 2:15 (DB)