Dra vrug deur LIEFDE

imagesCAB58K19

Joh 15:9: “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. BLY IN HIERDIE LIEFDE VAN MY!!!”

Onder gebed beleef ek hoe staan ek op die strand langs Jesus waar Hy met Sy vinger ’n groot hart op die seesand rondom ons trek. Ek staan styf teen Hom in die middel van die hart en Hy sê ons moet altyd so na as moontlik aan Hom leef – binne-in die hart van God en ons moet nooit ’n hunkering kry om buite die hart te funksioneer nie. Dan buk Jesus weer af om met Sy vinger iets in die hart te skryf en hierdie keer skryf Hy die volgende woorde onder mekaar: vrede, vreugde, vriendelikheid, sagmoedigheid, geduld en dan onder in hoofletters LIEFDE, waarop Hy sê: “Die belangrikste is LIEFDE!” Hy wys my daarop dat ons binne-in die hart van God moet staan en die hart simboliseer liefde, want God is LIEFDE! Wanneer ons so IN Liefde staan, so styf teen Jesus dat ons Sy hartklop kan hoor, sal ons hierdie eienskappe wat Jesus op die seesand neergeskryf het, deur Jesus begin ontwikkel en in staat wees om dit te begin leef en uitdeel. Maar as ons nie binne-in die hart van God genestel is nie, kan ons nie hierdie eienskappe deur Jesus ontwikkel nie…

Vir elkeen van ons het Jesus ’n spesiale hartklop en Jesus sê: “Leef so na aan My dat jy die ritme van My hartklop vir jou en jou lewe sal leer ken”.  Elke persoon wat na aan God leef, sal God se plan vir sy lewe leer ken en dit begin leef, want God se hart klop vir elke persoon ‘n ander ritme en dis elkeen se eie verantwoordelikheid om God se hartklop te hoor.  Om God se ritme van Sy hart vir jou te leer ken, moet jy baie styf en naby in Sy arms wees, anders gaan jy nie Sy hartklop vir jou kan hoor nie, jy gaan nie hoor wat God se plan vir jou lewe is nie. En dan hoor ek ’n pragtige lied wat sing: “Hy dra my op Sy hande en Hy tel my op Sy skoot sodat ek my kop teen Sy bors kan lê en ek Sy hartklop kan hoor.” Dit is die Here se begeerte dat elkeen so verhouding met Hom sal hê dat jy in die Gees op Sy skoot kan klim en God se hartklop vir jou kan hoor. Dit is moontlik, want waar God teenwoordig is, is niks onmoontlik nie.

God is Liefde en ons moet moet binne-in God bly, dan bly ons binne-in Liefde, binne-in die hart van God. En eers as ons binne-in Liefde bly, kan die Goddelike eienskappe of vrugte wat Jesus binne-in die hart geskryf het, begin ontwikkel in ons, maar die “voorwaarde” is dat ons IN Liefde, dus IN God moet bly!  Ons moenie God probeer “afbring” na ons toe nie, dis ons wat na God toe moet groei.  Die Here gee vir my 1 Joh 4 om te gaan lees.

Lees 1 Joh 4:7-21. ’n Baie duidelike bevestiging is vers 16:

GOD IS LIEFDE; EN HY WAT IN DIE LIEFDE BLY, BLY IN GOD, EN GOD IN HOM!!!

Daar kom ‘n tyd in elkeen se lewe wat God ons roep om in Sy hart te kom staan en God roep elkeen op ’n besonderse manier. Soms roep God deur slegte omstandighede of ander kere stuur die Here iemand oor jou pad om ‘n woord of saadjie in jou hart te plant.  Op watter manier God jou ookal roep, op ‘n sekere stadium in jou en my se lewe nooi God ons om in Sy hart te kom staan sodat ons Sy liefde kan inneem en ervaar en ons Hom kan begin leer ken.

Voordat ons die aanbod van God aanvaar om saam met Jesus in die hart van God te staan, staan ons nog in ons eie hart wat ons self om ons getrek het op die seesand.  Ons is dan nog bome gewortel in die wêreld. Ons probeer geluk vind in wêreldse dinge, in verhoudinge, rykdom, aansien of eer……  Hier wil ons alleenlik in beheer wees van ons lewe, alleen besluite neem, keuses maak sonder om God te raadpleeg. Hoe onregverdig is die mens, want wanneer dinge in ons lewe skeefloop, wil ons skielik weet waar is God? Ons bevraagteken God en Sy wil en het honderd duisend vrae aan Hom, maar waar het ons vir God geplaas toe ons besluite gemaak het? Het ons vir God geraadpleeg in ons keuses? Dis baie onregverdig om God te blameer vir dinge wat skeefloop in ons lewe as ons God nie toelaat om ons lewe te beheer nie.

Wanneer ons so alleen in ons eie hart staan waar ons gewortel is in die wêreld, probeer ons baie hard om self uit eie krag die vrugte van die Gees te dra waarvan Gal 5:22 praat: “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing…” Omdat ons uit ons eie krag Goddelike vrug probeer dra, is dit vrugte en werke van eie-geregtigheid en dan is ons niks anders as Fariseërs nie.  Baie mense slaag daarin om hierdie vrugte te dra uit hul eie krag en natuurlik gee hullle ook aan hulleself die eer omdat hulle sulke goeie mense is. Wat hulle as’t ware doen, is om ’n masker op te sit en ons almal doen dit! Wanneer ons in die openbaar verskyn, besluit ons watter maskertjie ons vir daardie tyd gaan dra om ’n sekere beeld uit te dra, om dalk vir mense om ons te wys watse groot Christen ons is. Maar wat gaan diep binne aan? Wie is ek en jy daar waar niemand ons sien nie? Wat dwaal rond in ons harte en gedagtes daar waar niemand ons sien nie? Wie is ek en jy wanneer ons nie ’n masker ophet nie? Gewoonlik kan ons gesinslede daarvan getuig, want die dra van hierdie masker is nie volhoubaar nie, dus sal ons by die huis die maskertjie laat sak en ons geliefdes sal die ware persoon agter die masker ken. So wanneer ons maskers dra om die vrugte van die Gees uit te beeld, is ons vals en dra ons nie daardie vrugte vanuit ons hart nie, maar uit die vlees uit ons eie krag en daarom is dit nie ware Goddelike vrugte nie. Vals vrugte is van korte duur en sal ook nie die toetse van die lewe kan deurstaan nie. Bome van die wêreld dra vleeslike vrugte: Gal 5:19-22: “Die werke van die vlees (vrugte van die vlees) is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroëer gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.”

Lees Johannes 15:1-8

Wanneer ons tot bekering kom, moet ons God tyd gee en Hom toelaat om ons te verander na die mens wat Hy ons oorspronklik gemaak het om te wees. Ons kan onmoontlik nie onsself verander nie, die enigste manier is om verdiep te raak in die Woord van God waar ons deur ons worteltjies die Liefde van God opneem en alleenlik die Liefde van God kan ons verander in ’n splinternwuwe skepsel. En dit is net hierdie nuwe skepsel waardeur Jesus leef, wat Goddelike vrug kan dra. Ons moet ook net mooi besef dis nie die mens wat die Goddelike vrugte dra nie, dit is Jesus in en deur ons. Want soos die Liefde van God in ons hart inval en die Liefde deur ons are begin bruis, begin Jesus leef in ons en alleenlik dan kan ons deur Jesus Goddelike vrugte dra.

Nou maak Joh 15 so sin wanneer ons dit lees. God is die druiweboer en Jesus die spesiale druiwestok. God bewerk die wingerd en Hy hou die takkies wat uit die druiwestok groei baie goed dop. Wanneer ons gewortel raak in die hart van God, word ons ’n takkie wat uit die druiwestok, dus uit Jesus, begin groei. Takkies wat net groei, maar geen vrug dra nie, is onvrugbaar en word deur die Boer afgeknip en in die vuur gegooi. Dit is vals takkies wat beweer om in die druiwestok gevestig te wees, maar die afwesigheid van ware Goddelike vrugte bewys die teendeel. In Matt 3 sê Johannes vir die Fariseërs wat hulle wil laat doop dat die bewys van hulle bekering sal lê in die vrugte wat hulle dra.
Takkies wat wel vrug dra, is ’n bewys dat hulle gevestig is in die druiwestok, dus in die hart van God, en die Boer versorg hierdie takkies baie mooi deur hulle te snoei en skoon te maak en dit doen God deur Sy Woord wat ons inneem. Ons moet baie na aan God leef, soos ’n takkie wat vasgegroei is aan die druiwestok, want ’n takkie wat eenkant lê kan ook nie vrug dra nie. Ons moet in God gewortel wees om ’n goeie vrugbare lewe te kan lei. Ons moet in God bly, dus moet ons in die hart wat Jesus op die seesand getrek het, gewortel bly. Wanneer ons uit die hart uit wegbeweeg, kan ons op geen manier Goddelike vrug dra nie. Joh 15:4:  “Bly in My, soos Ek in julle.  Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.”   Buite die hart van God dra ons vrug deur ons eie krag wat ons gaan uitput en ons laat uitbrand op die ou end, want dan is ons soos die takkie wat eenkant lê en nie gevestig is in die druiwestok nie – en God sê hierdie takkies gooi Hy in die vuur.

Lees asseblief Matt 7:15-23

Ons lewens moet wys dat ons reg leef! Ons moet ligloop vir mense wat rondloop met allerhande mooi godsdienstige praatjies, want baie van daardie praatjies handel oor sekere reëls wat nagekom moet word om Goddelike vrug te dra, maar geen reël wat ons nakom, kan ons die krag gee om Goddelike vrug te dra nie. Takkies wat deur reëls, regulasies en sekere wette probeer vrug dra, word ook afgeknip – Gal 5: 4: (Mes) “When you attempt to live by your own religious plans and projects, you are cut off from Christ…” ’n Mens se lewe is soos ’n vrugteboom: goeie vrugtebome dra goeie vrugte en slegte bome dra slegte vrugte. ’n Goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie en ’n slegte boom kan nie goeie vrugte dra nie. Daar wag groot probleme op alle bome wat slegte vrugte dra, want hulle word eenvoudig afgekap en in die vuur gegooi. Daar is baie mense wat maskers opsit en maak asof hulle God dien, wat om elke hoek en draai “Here en Meester”, maar wat wys hulle vrugte? Die antwoord lê in Matteus 7:19-23

Then the way you live will always honor and please the Lord, and your lives will produce every kind of good fruit. All the while, you will grow as you learn to know God better and better. (Col 1:9,10)

Daar is geen manier dat ons liefde of enige ander Goddelike vrug uit onsself kan ontwikkel nie. Ons ontvang slegs ware liefde uit die hart van God wanneer ons in God se hart gewortel is en wanneer ons wortels in God gevestig is.  Ons begin leef op die liefde van God wat ons eerstens begin verander vanaf die natuurlike na die geestelike mens en ons dan in staat stel om die vrugte van die Gees te ontwikkel. Wat baie belangrik is om te besef is dat dit nie die mens is wat die Goddelike vrugte genereer of dra nie, maar Jesus in en deur die mens. Al die eer moet na God toe gaan en nie aan die self nie.

Joh 15:5:  “Ek is die wynstok, julle die lote.  Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug;  want sonder My kan julle niks doen nie.”    

Joh 15:9:  “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad.  BLY IN HIERDIE LIEFDE VAN MY!!!”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s