’n Paar jaar gelede het Abba Vader onder gebed vir my drie skatkiste gewys. Dit het regtig gelyk soos daardie ou, houtagtige skatkiste met ’n groot slot aan die voorkant. Abba Vader het ’n groot goue sleutel in my hand geplaas en gesê die sleutel se naam is “Geloof”. Ek mag al drie skatkiste oopsluit, maar dan moet ek een van die skatkiste kies. Ek het die eerste kis oopgesluit en daarin was wysheid, kennis en insig. Die tweede kis was vol wêreldse seëninge en die derde kis was vol bloedrooi harte (soos getekende harte, nie fisiese mensharte nie). Weer het Abba Vader my gevra watter kis sal ek kies… Sit jouself nou in hierdie prentjie… Ondersoek jou hartsbegeertes deeglik en eerlik… Watter skatkis gaan jy kies? Dink eers ’n bietjie hieroor voordat jy verder lees…
Ek het gekyk na die kis vol wysheid, kennis en insig en dadelik aan Salomo gedink, want dit is wat Hy van God gevra het. God het dit aan hom gegee en hy was gereken as die wysste man op aarde; hy kon die volk van God lei deur die wysheid, kennis en insig wat God aan hom gegee het. Maar het Salomo God behaag? 1 Konings 11 vertel dat Salomo die uitlandse vroue met liefde aangehang het, al het God hulle bevel gegee dat hulle nie met vroue van ander nasies mag meng nie. Dit was ’n groot probleem in die Ou Testamentiese tyd… mans was baie maklik verlei deur die vrouens van die volke wat nie aan God behoort het nie – hulle het ander gode aanbid en wanneer die mans verlei was deur die vroue, het hulle die een ware God verlaat en saam met die uitlandse vroue die afgode begin aanbid. Salomo het ongelukkig ook in daardie gat getrap. 1 Konings 11:2-4 sê:
“Julle mag nie met hulle meng nie, en hulle mag nie met julle meng nie; hulle sal voorwaar julle hart verlei agter hulle gode aan — Salomo het hulle met liefde aangehang. En hy het sewehonderd vroue, vorstinne, gehad, en driehonderd byvroue, sodat sy vroue sy hart verlei het. En in die tyd van Salomo se ouderdom het sy vroue sy hart verlei agter ander gode aan, sodat sy hart nie volkome met die Here sy God was soos die hart van sy vader Dawid nie.”
Salomo het saam met sy uitlandse vroue agter ander vreemde gode begin aanloop en die Here was toornig op Salomo. Sy hart het afgewyk van die Here en daarom sê die Here vir hom in vers 11:
“Omdat dit so ver is met jou dat jy My verbond en My insettinge wat Ek jou beveel het, nie hou nie, sal Ek verseker die koningskap van jou afskeur en dit aan jou dienaar gee.”
So… is dit wys om die skatkis vol wysheid en insig te kies? Al gee Abba Vader aan jou al die wysheid, insig en kennis, gaan jy Hom daardeur kan behaag? Nie eers Salomo kon God daardeur behaag nie… om al die wysheid, kennis en insig te hê, beteken nie jy gaan aan God gehoorsaam wees nie. Dit laat my dadelik aan 1 Kor. 13:2:
“Al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis , en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.”
So wat help dit om die skatkis vol wysheid, kennis en insig te kies as jou eerste keuse nie die Liefde van God is nie? Dit laat my ook dink aan die Skrif in Openbaring 2 waar God sê die mens het sy Eerste Liefde verlaat.
Ek het weer gekyk na die skatkiste en my oë het geval op die tweede skatkis wat vol wêreldse seëninge was, maar ek het dadelik vir Abba Vader gesê ek kies verseker nie die kis vol seëninge nie. Ek glo nie in God omdat ek iets daaruit probeer kry nie… sodat God my vleeslike begeertes moet bevredig nie… so die tweede kis was vir my nie eers ’n opsie nie. As jy die saadjie gelees het wat handel oor DIT wat ons van God af bid, of dit wat ons van God vra, (Wat vra ons van God?) hoop ek hierdie saadjie sal die prentjie mooier voltooi. As jy Mattheus 6:19-34, asook Lukas 12:22-34 lees, sal julle sien Jesus sê ook dat ons ons nie moet kwel oor die lewe nie. Dit is nie waar ons fokus moet wees nie en dit is beslis nie wêreldse genot en seëninge (ons eie wil) wat ons van God moet vereis en vra nie. Jesus sê in Mattheus 6:32 dat heidene hierdie goed soek en vra, maar ons hemelse Vader weet mos dat ons al hierdie dinge nodig het. Ons almal het ook al die Skrif gehoor dat ons nie skatte op die aarde bymekaar moet maak nie, maar dat ons skatte in die hemel bymekaar moet maak. As ons vir God vra om in ons vleeslike behoeftes te voorsien, maak ons verseker nie skatte in die hemel bymekaar nie, maar probeer ons ons eie lewe beter of lekkerder maak. God weet wat ons vleeslike behoeftes is en Hy sal daarin voorsien sonder dat ons vra. Hy sal vir ons gee wat Hy weet ons nodig het. Diegene wat die skatkis vol rykdom, roem en seën kies, is diegene wat God gebruik en misbruik vir wat hulle wil hê. Hoe baie mense is daar wat na God draai wanneer dinge swaar gaan in hulle lewens en hulle dink dat die “slegte goed” in hulle lewens uitgesorteer sal wees wanneer hulle na God draai. Sodra dinge weer beter begin gaan, vergeet hulle baie vinnig van God. Die tweede skatkis laat my ook dink aan dit wat die “prosperity leraars” die mensdom leer dat God jou WIL seën, dat jy Sy oogappel is, dat jy so belangrik in Sy oë is dat Hy vir jou net die beste wil gee. Ja, dit is so, God is hierdie wonderlike God, maar God verwag ook van Sy kinders om daarna te streef om Hom te ken! God gaan Hom ook nie laat misbruik met vals woorde wat uit ons monde uitkom nie. Hy weet wat gaan aan in ons harte… Hy weet wie diegene is wat smag na die tweede kis vol seëninge, wat Hom kwansuis aanbid en kwansuis in Hom glo net om hierdie seëninge te ontvang. God gaan verseker nie met Hom laat speel nie. Hy weet wie glo met die mond in Hom en wie glo oneentseglik uit die hart in Hom.
Dan kyk ek na die derde skatkis vol bloedrooi harte wat vir my die liefde van God simboliseer en JA, JA, JA… DIT is wat ek wil hê! Daar is iets wat ek baie meer as enigiets anders in die wêreld wil hê, en dit is die Liefde van God. Ek kies die kis vol harte, want ek wil die Liefde van God ervaar! Ek kies die Liefde van Abba Vader en gemeenskap met Jesus bo enigiets anders as wat die wêreld my kan bied. Ek wil gevul wees met die Liefde van God, want dan sal ek aan Hom gehoorsaam kan wees; ek sal Goddelike vrugte kan dra wat God verheerlik. Ek wil gewortel wees in die hart van God en gevul word met Sy LIEFDE. Ek wil veel eerder God se LIEFDE hê as wêreldse seën, wysheid, kennis en insig. My grootste begeerte is om Abba Vader te behaag in alles wat ek doen, ek wil so graag hê Hy moet na my kyk en glimlag, en ek weet ’n mens kan Abba Vader alleenlik behaag deur gehoorsaamheid, maar ons kan ook nie uit ons eie gehoorsaam wees nie; ons het die Gees van God daarvoor nodig, ons het die Liefde van God nodig. Na ek die skatkis vol liefde gekies het, sê Abba Vader:
“Soek eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Mattheus 6:33
Dink julle nie ook dat God daarna smag dat ons Hom en Sy Liefde moet begeer soos ons wêreldse seën, wysheid en kennis begeer nie? Dink jy nie ook God sal so graag wil hê dat ons na Sy teenwoordigheid sal soek soos ons na sommige wêreldse goed soek nie? En nou wonder ek maar net… Salomo het gevra vir wysheid, kennis en insig om die volk goed te kan lei, maar tog het hy nie in die weë van God gewandel nie, want God het Sy volk vermaan om nie met een van die ander nasies se vrouens te trou nie. Salomo was rebels in hierdie opsig en het baie vrouens uit ander nasies gehad wat hom oorgehaal het om hulle afgode te aanbid. Ek wonder maar net wat die verskil sou gewees het as Salomo eerder gekies het dat God sy hart volmaak met SY LIEFDE, van Sy teenwoordigheid… Ek is seker as Salomo God en Sy heerlikheid eerste gestel het, sou God hom nogsteeds toevertrou het met wysheid, insig en seëninge, en dan sou hy so ’n liefde vir God gehad het dat hy aan God gehoorsaam sou gewees het… Maar dit is nou sommer net my eie denke, dis nie dat ek ’n storie uit die Ou Testament wil herskryf nie. Dit het so gebeur en is vir ons opgeteken om vir ons ’n les daaruit te leer, maar die les wat ek daaruit leer, is om God en Sy Liefde altyd eerste te stel. God se kinders wat gekonneteer is aan Hom, sal outomaties God en Sy Liefde eerste stel, want die Lewe van Jesus binne hulle stel hulle in staat om so te voel. Dit is nie uit die mens uit nie.
Die sleutel se naam is “Geloof”, net soos die penwortel wat in die hart van God ingroei, se naam “Geloof” is. Dit is oneentseglike geloof, nie oppervlakkige geloof nie. Oppervlakkige geloof kan nooit die mens ’n penwortel laat groei wat binne-in die hart van God kan indring nie. Alleenlik wanneer ons deur ‘n penwortel van geloof in die hart van God geanker is, ontvang ons die Liefde van God wat deur ons totale wese versprei word. Die Liefde van God gaan ons verander, ons vleeslike begeertes gaan verander, so wêreldse seën gaan ons nie meer pla nie; ons gaan nie meer ’n hunkering hê na wêreldse goed nie; ons gaan nie meer onsself vir die wêreld aanloklik probeer maak nie. Wanneer ons die Liefde en Lewe van God in ons geeshart het, sal Abba Vader in elkgeval met ons werk deur ons geeshart en sal Sy Gees die Woord van God aan jou interpreteer wat aan jou Goddelike wysheid, kennis en verstand sal gee. Maar wees gewaarsku… wêreldse kennis, wysheid en insig verskil van God s’n, en dit is hoekom Abba Vader aan jou die dwaalleringe van die wêreld sal begin openbaar… en die wêreld gaan nie daarvan hou nie, jou vriende en dalk familie gaan ook nie altyd daarvan hou nie. Maar ons moet ophou om wysheid en kennis in die wêreld te soek, maar kies die kis vol bloedrooi harte; kies eerstens die Liefde van God, spandeer tyd in die Woord en by die voete van Abba Vader – soek eers die Koninkryk van God en die res sal aan jou toevertrou word as God weet jou bedoelinge en motiewe is opreg. As ’n mens se hart opreg is en jy is oorgegee in die hande van God, hanteer ons deur die krag van God situasies anders, ons kyk met ander oë na die wêreld en alles om ons verander. As ons die Liefde van God kies, sal Hy die res ook aan ons gee.
“Al sou ek die tale van mens en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie. Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë – hulle sal tot niet gaan; of tale – hulle sal ophou; of kennis – dit sal tot niet gaan. Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan. Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind; maar nou dat ek ‘n man is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê. Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.” 1 Korinthiërs 13:1-13