Ek kan net dink hoe hierdie saak vir God ongelukkig moet maak… Die mens glo hy is geskape na die beeld van God, en mense sien “die mens” as die beeld van God, maar hulle dink nie dieper oor hierdie saak of laat die Gees van God toe om hierdie onderwerp aan hulle te verduidelik nie. Hulle luister net met fisiese ore na hierdie leuen, want die inligting word deur die brein geprossesseer en nie deur die geeshart nie. Dit is hoekom mense hierdie leuen so maklik glo. Dit is nie ’n leuen dat God die mens na Sy Beeld geskape het nie, maar kom ons gaan kyk net eers weer mooi wat is die Beeld van God… Is God ’n mens? Is Hy in die vorm van ’n mens?
“Loof die Here, o my siel. Here my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed – wat Uself omhul met die lig soos met ’n kleed…” Psalm 104:1,2
Met ander woorde, God is nie ’n mens nie… Hy is nie in die gestalte van ’n mens nie, want God is LIG! So toe God die mens aan die begin geskape het na Sy Beeld, kan dit nie wees dat Hy ’n fisiese, ligaamlike mens gemaak het nie. Nee, as Hy ’n mens na Sy Beeld gemaak het, het ’n mens gemaak as liggie, ’n wese wat skyn soos Hy skyn! Kyk hoe mooi sê The Message dit:
“He created them Godlike reflecting God’s nature…” Genesis 1:26 (MSG)
God het die mens gemaak om Sy beeld te reflekteer en wat is die beeld van God? LIG! So God het die mens as ’n liggie geskep. Kan die fisiese mens wat ons met die oog sien, lig reflekteer? Om hierdie mooi te verstaan, wil ek net gou julle geheue verfris oor die liggaam, siel en gees van van die mens…
Die liggaam is die buitenste dop met al die organe wat die siel en gees huisves. Ons siel is die gedeelte waar ons emosies, eie wil en denke lê. Ons gees is die diepste gedeelte van die mens waardeur God met ons werk. God het dus die gees van die mens geskep as ’n “plek” waar Hy deur Sy Gees in ons kan woon en eers wanneer die Gees van God teenwoordig is in ons geeshart, is ons in staat om die beeld van God geestelik te reflekteer. Die Gees van God is nie teenwoordig in die liggaam- of sielsdimensie van die mens nie, alleenlik in die geeshart. As ’n mens dit verstaan, maak dit sin dat God eerste die gees van die mens moes skep sodat die mens geestelik die beeld van God kon reflekteer, want God is Lig; die liggaam en die siel van die mens kan nooit die beeld van God reflekteer nie. Met ander woorde, toe God aan die begin gesê het Hy skep die mens as Beeld van Homself, het Hy nie dadelik die liggaam en siel van die mens gemaak nie, maar het Hy het die gees van die mens geskep! Later het God uit die stof van die aarde die menslike liggaam formeer en die asem van die lewe in sy neus ingeblaas. (Gen 2:7) Die mens het toe ’n lewende siel geword – dit is hier waar God die liggaam van die mens geskep het, maar God sê ook nie dat Hy het die fisiese, liggaam van die mens na Sy Beeld geskep het nie. Sy Beeld, wat Lig is, was vasgevang in die geeshart van die mens wat binne die liggaam van die mens gesetel is. So die liggaam van die mens is soos ’n dop wat die gees huisves. Die liggaam van die mens is nie vir God so belangrik soos die gees van die mens nie en dit is hoekom ons liggame weer tot stof sal verander as ons doodgaan. Jou geeshart gaan nie saam met jou liggaam dood nie, maar God sê Hy sal in die hemel vir ons ’n nuwe liggaam gee. Kan jy sien hoe belangrik is jou geeshart? Want vir God gaan dit oor ons geesharte! Dit is nie hoe ons as mens LYK wat belangrik is nie, dit is wat in ons harte aan die gang is, wat belangrik is! Ek hoop julle kan begryp hoe verskriklik belangrik ons geesharte is! Dit is die belangrikste gedeelte van die mens, want dit is die deel van die mens waar God Sy woning maak. Alleenlik wanneer die Gees van God “dwell” in ons harte, reflekteer ons die Lig van God, met ander woorde, alleenlik wanneer die Gees van God Sy inwoning in ons harte geneem het, sien God ons as Sy Beeld. As die Gees van God nie teenwoordig is in ons harte nie, skyn daar geen lig uit ons harte nie en is ons ’n duistere mens wat nie die Beeld van God reflekteer nie. So sien julle dat ons nie sommer met die fisiese oog na mense kan kyk met die opinie dat elkeen na die Beeld van God geskape is nie? Nie almal is geskape na die Beeld van God nie… alleenlik hulle wat waarlik weergebore is, hulle wat die Gees van God huisves in hulle harte… dit is die mense wat die Beeld van God reflekteer!
Dit is net die mens wat uit fisiese oë kyk wat die liggaam en die uiterlike belangrik ag, wat die liggaam bo die gees stel en soveel tyd aan hulle liggame spandeer om dit mooi te maak en so min tyd aan die gesondheid van hulle gees. Dan is dit ironies hoe vinnig ons is om te sê: Sjoe, ek is so besig, ek het nie tyd om stil te raak en Woord in te neem nie. Gaan dink ’n bietjie self oor die belaglikheid van hierdie verskoning! Die mens wat nie tyd by die voete van Abba Vader spandeer nie, kan nie die Lig van God in sy hart hê nie, so hy reflekteer verseker nie die Beeld van God nie. Die mens wat nie die Beeld van God reflketeer nie, is ook nie Sy kind nie. Alleenlik diegene wat gesterf het aan die self en weergebore is, het die Lewe of die Gees van God in hul harte ontvang en alleenlik op hierdie manier reflekteer hulle die Beeld van God.
Lees gerus Kolossense 3:1-17
“…en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis van die Beeld van sy Skepper..” Kolosense 3:10
Maar as God die mens na Sy Beeld geskape het, en Hy die mens geskep het om Sy Lig te reflekteer, wat het fout gegaan? Waar het die mens die Lig verloor en hoe kry ons weer die Lig van God? Kyk uit vir die volgende saadjie…
Reblogged this on YAHWEH-NISSI.