God stuur uitnodigings na Sy kinders, maar baie van Sy kinders maak die keuse om eerder die wêreldse lewe te geniet en oorgegee te wees aan die wêreld en sy dinge. Hulle stel nie eers belang om die uitnodiging te onderteken nie – hierdie stapel ongetekende dokumente lê aan die een kant van die tafel.
Aan die ander kant van die tafel lê uitnodigings wat wel onderteken is en wat met tyd gestempel sal word deur Abba Vader, wat beteken hierdie mense sal die seël van Jesus Christus op ’n bepaalde tyd ontvang. Hulle het die uitnodiging onderteken met ‘n suiwer hart en uit liefde vir Abba Vader. Hulle het die keuse gemaak om hulle ou lewe agter te laat, om hulle sondes raak te sien en dit te bely aan Abba Vader. Hulle stap die pad saam met Jesus, waar die klippe hulle nie ontsenu nie, maar waar hulle hulle oë gevestig hou op Jesus en al die probleme en moeilike omstandighede in die hand van Abba Vader plaas sodat Hy dit kan uitsorteer. Hulle probeer nie die moeilike omstandighede in hulle lewe wegtoor nie, maar probeer om ’n les uit hulle omstandighede uit te leer en met elke les wat hulle leer, leer hulle ook om Abba Vader meer en meer te vertrou met hulle lewens. Hier leer ’n mens om elke dag stil te raak voor die voete van Abba Vader om Hom beter te leer ken. Dit is op hierdie pad waar Jesus ’n mens se vuil, seer voete was en salf. Mettertyd raak ’n mens se voetsole dikker sodat ’n mens die pad makliker kan stap saam met Jesus. Ware volgelinge van Jesus sal bereid wees om deur die kruis van Golgota te beweeg omdat hulle die begeerte het om te sterf aan die self. Hulle het ook die begeerte om al die ou vuil klere (waarmee hulle uit die wêreld kom) uit te trek en eenkant in die graf op ’n hopie te plaas. Wanneer hulle in die graf is, doen God ’n geestelike hartsoorplanting waar hulle ’n nuwe hart ontvang wat klop met die Lewe van God. Dit is wanneer ons uitnodiging gestempel word met die seël van die bloed van die Lam. Wanneer ons ’n nuwe mens is met ’n nuwe hart, omhang Abba Vader ons met die bruilofskleed, wat die kleed van geregtigheid is. Dit is nie ’n fisiese kleed nie, maar die teenwoordigheid van God se Lig wat skyn vanuit ’n mens se geeshart. Die mens kan hierdie geestelike skynsel van God alleenlik hê wanneer die Lewe van God teenwoordig is in sy hart en ons ontvang die Lig van God alleenlik wanneer ons sterf aan die self, wanneer ons die keuse maak om ons sondes te laat staan en dit te bely aan Abba Vader. As ons nie die keuse van bekering maak nie, kan daar nie sondebelydenis wees nie. Ware sondebelydenis geskied alleenlik op die ware Weg. Elke keer wanneer ons nuwe sondes in ons raaksien, dit teëstaan en bely aan Abba Vader, sterf ’n stukkie van die self.
Die Lewe van God is ook die Lig en wanneer die Lig van God in en deur ons skyn, wys dit ons is Een met Hom. Wanneer die Lig in en deur ons skyn, is dit ’n bewys dat ons op die regte Weg gewandel en gesterf het aan die self. Dit bewys dat ons ware wedergeboorte ondergaan het en ons kan alleenlik die Koninkryk van God ingaan as ons weergebore is. Die Bruilofsfees simboliseer die Koninkryk van God, so ons is alleenlik welkom wanneer ons Een is met Abba Vader deur Sy Lig wat in en deur ons skyn. Dit bewys ons hartsmotief was opreg toe ons die uitnodiging onderteken het, ons het met die ware Weg beweeg na die Bruilofsfees en ons het deur die korrekte DEUR die Bruilofsfees binnegegaan.
Dan is daar nog ’n hoop uitnodigings wat onderteken is, maar Abba Vader plaas hulle eenkant en stempel hulle nie met die seël van die bloed van die Lam nie. Hier is dus iets fout met die ondertekening van hierdie dokumente: Die motief van die mens se hart was nie suiwer toe hy die uitnodiging onderteken het nie… dalk het die mens gedink die Bruilofsfees gaan vir hom baie voordele inhou of dat hy ’n maklike, voorspoedige pad daarheen gaan stap, dat hy ’n lewe van sukses en voorspoed gaan hê as hy die uitnodiging onderteken of dat dit hom Goddelike beskerming gaan bied… Wat die redes ookal was, die motief van die mens se hart was nie suiwer nie. Dit het oor homself gegaan, nie uit liefde of respek vir Abba Vader nie. Hy het die uitnodiging onderteken met die oog op die self en wat hy daaruit kan kry en hoe dit in sy vleeslike behoeftes kan voorsien… net soos die vals volgelinge van Johannes 6 wat Jesus gevolg het vir kos en genesing. God weet presies wie die vals volgelinge is en daarom sit Hy eers hierdie uitnodigings op ‘n stapel eenkant op die lessenaar voordat dit gestempel word met die seël van die bloed van die Lam. Hierdie mense probeer wel die ware Weg volg saam met Jesus, maar nou weet ons ook God gaan die motief van elke mensehart toets deur die klippe wat Hy op ons pad geplaas het. Hierdie vals volgelinge gaan nie hou van beproewinge op hulle pad nie, want hulle het die leuen geglo dat dit atyd goedgaan met Jesus se volgelinge. Omdat hulle die uitnodiging geteken het met die fokus op die self en om in die self se behoeftes te voorsien, kan hulle nie op Jesus fokus nie. ’n Mens kan net op die self OF op Jesus fokus, nie albei op een slag nie en daarom kan hulle nie fokus op Jesus nie. Hulle let die heeltyd op na die klippe in die pad, dit ontsenu hulle en wanneer die mens op die klippe in die pad let, kan hy dit nie oorgee aan Abba Vader om uit te sorteer nie. Die gevolg is dat hulle hul tone stukkend en aan flarde stamp teen die klippe. Dit maak hulle baie kwaad, want hulle wil en kan nie glo dat Abba Vader die klippe op hulle pad geplaas het nie. Hulle het die leuen geglo dat die volgelinge van Jesus net ’n voorspoedige lewe gaan hê, dat Hy hulle gaan help om finansiëel geseënd te wees, dat dit altyd net goed sal gaan met hulle. Hulle gaan kwaad word vir Abba Vader en Hom beskuldig as ’n slegte God wat mense net wil straf, maar dit is nie die waarheid nie… Abba Vader toets net die motief van die hart van die mens… hoekom wil hulle Hom volg? Hoekom wil hulle Hom ken? Vir hulle eie voorspoed of tot eer en heerlikheid van Hom? Later gaan hulle so kwaad raak oor die moeilike pad en die keuse maak om eerder terug te keer na die wêreld, na die makliker pad. Die wêreldse breë pad is soveel makliker, want daar is nie so baie klippe wat ’n mens se voete seermaak nie, maar hier kom die hartseer gedeelte in, want Jesus is nie op die breë pad nie, alleenlik op die ware Weg. So Jesus was nie die mense se voete op die breë pad nie, wat beteken hulle sondes word ook nie vergewe nie. As Jesus nie ons voete was nie, is ons nie een met Hom nie, dan behoort ons nie aan Hom nie, so die mens wat met die breë pad na die Bruilofsfees probeer gaan, het nie gemeenskap met Abba Vader nie. As ons nie gemeenskap het met Abba Vader nie, word ons sondes ook nie vergewe nie. Mense op die breë pad sien nie hulle sondes raak nie en bely dit ook nie aan Abba Vader nie, wat beteken die mens sterf nie sukkie vir stukkie aan die self nie. Hulle beweeg nie deur die kruis van Jesus nie, dus beland hulle ook nie in die graf nie. Hulle vuil klere word nooit uitgetrek nie en as ons vuil klere nie uitgetrek is nie, kan ons nie die bruilofgewaad ontvang nie. Omdat die mense nie in die graf was nie, het daar ook nooit ’n hartsoorplanting plaasgevind nie, daarom is hierdie persoon se hart nie gestempel met die Gees van God nie, hy ontvang dus nie ’n seël met die bloed van die Lam nie. Hierdie mense beweeg met die verkeerde pad na die Bruilofsfees en wanneer hulle hul bestemming bereik, gaan hulle sien dat die breë pad hulle nie na die korrekte ingang gelei het nie. Daarom klim hulle dan soos diewe en rowers deur onwettige ingange, maar hulle sal uitgevang word, want die Koning gaan sien dat hulle nie die kleed van geregtigheid aanhet nie en hulle sal uitgegooi word… die duisternis in. Die Lig van God skyn dus nie in en deur hulle nie en dit is omdat hulle nooit die self afgesterf het op die ware Weg nie. Omdat hulle nie gesterf het aan die self nie, was hulle nie in die graf waar hulle ou, vuil klere verwyder is nie. Alleenlik in die graf ontvang ons ’n hartsbesnydenis waar ons die merk van God ontvang en dit is hoekom die mense op die breë pad nie die seël van die bloed van die Lam ontvang nie. Hulle getekende uitnodiging word nooit deur Abba Vader gestempel nie. Omdat hulle nie ’n hartsbesnydenis ontvang het nie, skyn die Lig van God ook nie in en deur hulle harte nie, dus het hulle ook nie die kleed van geregtigheid ontvang nie.
Mag ons die regte keuse maak om ons rug op ons sondige natuur te draai en God toelaat om ons sondes aan ons uit te wys sodat ons dit aan Hom kan bely.
Mag ons die keuse maak om die uitnodiging na die Bruilofsfees van God se Seun by te woon met opregte harte… uit liefde vir Abba Vader.
Mag ons die klippe oorgee in die hand van Abba Vader en Hom toelaat om ons daardeur te suiwer van onsself.
Mag ek en jy deur die Lig van die Woord al ons ou, vuil klere, vyeblare of ou bruidsgewaad raaksien en bely aan Abba Vader sodat Hy ons kan help om ontslae te raak daarvan sodat ons deur Jesus geklee kan word met die wonderbaarlike bruilofskleed, die geregtigheid van God!
Mag ons die pad na Golgota hand aan hand met Jesus volg waar ons die self sal afsterf en in die graf neergelê word om die merk van die Lam te ontvang.
Mag ons geklee wees met die kleed van geregtigheid en saam met Abba Vader feesvier by die Bruilof van die Lam.
“I will sing for joy in God, explode in praise from deep in my soul! He dressed me up in a suit of salvation, He outfitted me in a robe of righteousness. As a bridegroom who puts on a tuxedo and a bride a jeweled tiara, for as the earth bursts with spring wildflowers, and as a garden cascades with blossoms, so the Master, God, brings righteousness into full bloom and puts praise on display before the nations.” Isaiah 61:10 (The Message)
“I’m sending you off to open the eyes of the ousiders so they can see the difference between dark and light, and choose light;, see the difference between Satan and God, and choose God. I’m sendig you off to present My offer of sins forgiven, and a place in the family, inviting them into the company of those who begin real living by believing in Me.” Acts 26:17,18