“Signed, sealed and saved”

image

“…Mark me with your sign of love…”
Psalm 25:7 (MSG)

Onder gebed wys Abba Vader my ‘n groot vertrek wat my laat dink aan ’n groot kantoor.  In die middel van die vertrek staan ’n baie groot, antieke lessenaar van hout en teen die muur hang ’n groot, ronde horlosie wat ook van hout gemaak is. Ek hoor hoe tik-tik die sekondes… Ek let op na die tyd en dis amper twaalf-uur. ‘Iemand’ sit agter die lessenaar, en voor Hom op die lessenaar lê stapels en stapels papiere, asook ’n groot massiewe stempel. Hy neem een van die stapels dokumente, ondersoek elkeen noukeurig en soos die trane van Sy wange afrol, word sommige dokumente gestempel… en ander nie. Die groot ronde stempel interesseer my en ek rek oor die lessenaar om te sien watse merk die stempel op die dokumente agterlaat… ’n groot rooi kol… soos ’n bloedkol. Ek snak na my asem toe ek besef hierdie stempel is ’n stempel of seël van die bloed van Jesus Christus, en dan hoor ek Abba Vader helder en duidelik sê:

“Signed, sealed and saved”

Ek kyk weer na die stapels dokumente wat sorgvuldig en noukeurig sorteer word… die dokumente wat ’n seël van God ontvang, word aan die regterkant op ‘n hoop geplaas.  Die dokumente wat nie ‘n seël ontvang nie, word aan die linkerkant op ‘n hoop geplaas – daar is stapels en nogmaals stapels van hulle! Ek probeer fokus om te sien wat die verskil is tussen die dokumente wat die seël ontvang en die ander wat nie die seël van God ontvang nie.  Elke dokument is aan ’n sekere persoon gerig, want op elke dokument staan ‘n sekere naam. Alhoewel ek nie die inhoud van die dokument kan sien nie, kan ek wel sien dat dit deur die betrokke persoon onderteken moet word. Diegene wat hul dokumente onderteken het, ontvang die seël of stempel van God en dit is diegene wat aan die regterkant geplaas word. Dokumente wat nie deur die betrokke persone onderteken is nie, ontvang nie die seël van God nie en dit is die hope dokumente aan die linkerkant… maar toe sien ek dat daar ook ’n derde hoop dokumente is!  Hierdie dokumente is tog geteken deur die persoon aan wie dit gerig is, maar dit ontvang NIE die seël van God NIE. Hulle word ook eenkant op ’n hoop geplaas. Abba Vader gee vir my Efesiërs 1 om te gaan lees, wat ’n wonderlike bevestiging:

“It’s in Christ that you, once you heard the truth and believed it, found yourselves home free – SIGNED, SEALED, AND DELIVERED by the Holy Spirit. This signet from God is the first installment on what’s coming, a reminder that we’ll get everything God has planned for us, a praising and glorious life.”
Ephesians 1:13,14 (MSG)

Hierdie dokument wat ons moet onderteken, is die uitnodiging na die bruilof van God se Seun wat Hy aan elkeen van ons stuur. Hy roep elkeen van ons om die bruid van Jesus te wees:

“So, friends, confirm God’s INVITATION to you, His choice of you. Don’t put it off; do it now. Do this, and you’ll have your life on a firm footing, the streets paved and the way wide open into the eternal kingdom of our Master and Savior, Jesus Christ.”
2 Peter 1:10-11 (MSG)

Daar is mense wat die keuse prontuit en maklik maak om nie die bruilof by te woon nie, maar wat eerder wil aangaan met die dinge in hul eie lewe en die wêreld. Hulle steur hul glad nie aan die uitnodiging van God nie en dink nie eers daaraan om die uitnodiging te onderteken nie. Hulle kies om aan te gaan met hulle wêreldse lewe en om nie die wil van God te leef nie. Hierdie ongetekende en ongestempelde papiere word op een hoop geplaas om weggegooi te word.

Dan is daar nog ’n stapel papiere wat deur mense onderteken is, maar tot my verbasing word hierdie dokumente nie gestempel met die seël van God nie. Die dokument word ondersoek en sonder om dit te stempel, word die dokument saam met ander ongestempeldes op ‘n hoop geplaas. Hulle het die uitnodiging na die Bruilof onderteken, maar ontvang nie die stempel van God nie. Ek verstaan nie… en dan verduidelik Abba Vader dat Hy die motief van elke mens se hart ken. Hierdie hoop uitnodigings is onderteken deur mense wat met ’n sekere motief in die agterkop die uitnodiging aanvaar – hulle dink dalk die fees kan vir hulle baie voordele inhou; hulle dink dat hulle ’n lewe van seën kan hê wanneer hulle die uitnodiging onderteken, dat dit met hulle goed sal gaan… en met hierdie vals motief in die agterkop, onderteken hulle die uitnodiging. Hulle ondersoek en lees nie die uitnodiging noukeurig deur nie, maar onderteken dit haastig sodat hulle kan aangaan met hulle wêreldse genietinge. Hulle noem hulleself Christene; hulle sê hulle is bekeerd en weergebore; hulle glo hulle is gered, maar nogsteeds is hulle vasgevang in die wêreld en geniet hulle dit om deel van die wêreld en sy dinge te wees.

Die mens kan dalk die res van die mensdom bluf, maar niemand kan vir God bluf nie. Hy ken elke mens se hart en Hy weet presies hoekom elke mens die uitnodiging onderteken. God weet wie die mense is wat nog nie met hulle volle hart Sy wil volg nie omdat die wêreldse lewe vir hulle nog te lekker is. Hulle wil met een voet by die fees en die ander voet in die wêreld staan. Hulle aanvaar nie die uitnodiging na die bruilof uit liefde vir Jesus nie, maar om persoonlike welvaart, alles draai weereens om die self…

As jy weer kyk na die Skrif in Mattheus 22, was daar sekere mense by die bruilofsfees wat nie korrek geklee was nie en daarom was hulle nie welkom by die fees nie. Dit is die mense wat deur die vyand mislei was; hulle het nie die stem van die ware Herder geken nie en het die verkeerde herder gevolg wat hulle gelei het om deur skelm plekke die fees te betree. Ons het gesien daar is net een ingang en dit is deur Jesus Christus. Hierdie groep mense beweeg nie deur die DEUR (wat Jesus is) nie, maar hulle klim deur vensters en ontoelaatbare plekke. Hulle het die vyand se maklike, breë paaie gevolg wat lei na verbode ingange; hulle het nie die smal pad saam met Jesus gevolg nie. Dit is die mense wat die fees wil bywoon vir eie gewin of dat hulle nie in die hel moet beland nie. Hulle het die uitnodiging met vals motiewe onderteken; dit het nooit vir hulle oor Jesus gegaan nie, maar oor die self. Dit is diegene wat hulleself in die wêreld sien “wenners”; hulle beskou hulleself as ’n oorwinnaar met ’n goue kroon, maar al die tyd soek hulle net die beste vir hulleself. God ken die motief van elkeen se hart en daarom is hulle uitnodiging nie gestempel met die bloed van Jesus nie. Omdat hulle die maklike pad gevolg het, het hulle nie deur die korrekte ingang ingegaan nie en daarom het hulle ook nie die bruilofsgewaad ontvang nie en sal hulle soos ’n seer oog uitstaan by die bruilofsfees. Ons het in Mattheus 22 gesien wat gebeur met diegene wat nie korrek geklee is nie…
Dan is daar nog ’n groep uitnodigings wat opmekaar geplaas word en hierdie uitnodigings is onderteken, sowel as gestempel. Hierdie mense aanvaar die uitnodiging na die bruilof van God se Seun, nie uit ’n oogpunt van persoonlike welvaart nie, maar uit diepe respek en liefde vir Jesus Christus. Hulle maak die keuse om Jesus met alles in hulle te volg en om Sy voorbeeld te volg. Omdat Abba Vader weet hierdie mense se harte is opreg in hulle keuse sonder enige bymotiewe om die lewe vir hulleself lekkerder te maak, word hulle uitnodigings op ’n sekere tyd gestempel met die bloed van die Lam.

“…in wie julle ook, nadat julle die Woord van die Waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte…”
Efesiërs 1:13 (AFR33/53)

Psalm 25:7 in The Message sê dit so mooi:

“…mark me with your sign of love…”
Psalm 27:7 (MSG)

Is ek en jy bereid om ons harte en ons lewens aan God te offer? Want dit is wat ons doen wanneer ons die uitnodiging onderteken met ’n opregte hart; dan is ons waarlik bereid om ons totale lewe en hart in die hand van God te plaas, en om God toe te laat om Sy wil te laat geskied in ons lewens. Maar diegene wat die uitnodiging onderteken met vals motiewe, sal nie bereid wees om hulle harte en lewens te oorhandig in die hande van Abba Vader nie. Hulle wil gered wees, maar op hulle eie terme.
Waar pas ek en jy in hierdie prentjie in? Het jy al die keuse gemaak om die bruilof van die Seun van God by te woon? Het jy al jou uitnodiging onderteken? As jy het, wat was jou rede of die motief van jou hart dat jy die uitnodiging onderteken het? Ek dink elkeen van ons kan in afsondering voor die voete van Abba Vader hierdie vrae vir onsself gaan uitwerk…

Leave a comment