Kruisiging van self / wedergeboorte

kruisiging van self

As jy die vorige saadjie gelees het, sal jy sien die skare mense ontvang ’n vals gees deur die geestelike rook wat ’n vuur afgee.  Hierdie vuur is nie die vuur van God nie, maar ‘n vreemde vuur wat ’n vreemde gees vrystel en hierdie vals gees kan baie maklik mense beset wat nog nie tot ware bekering en wedergeboorte gekom het nie.  Dit is mense wat beweer dat hulle bekeerd en wedergebore is, dat hulle glo in Jesus, maar dit is net met die mond, nie met die hart nie.  Mense wat nog nie wedergebore is nie, maar die Gees van God afsmeek by Hom, se motief is altyd vals, want die mens wat nog nie weergebore is nie, het nog nie die self afgesterf nie en as die self nog nie afgesterf is nie, gaan alles wat hierdie mens doen om die self te verheerlik.  Hulle wil dus die Gees van God of die gawes van God hê om die self op te bou en te verheerlik of dat die wêreld kan sien hoe “heilig” hulle is.  Hulle wil die wonderwerke van Jesus doen, mense genees, water in wyn verander, duiwels uitdryf…  Ek herhaal:  Die mens wat nog nie wedergebore is nie, het nog nie die self afgesterf nie as en die self nog nie afgesterf is nie, draai alles wat die mens doen, om die self!  Hulle smeek dus vir God om hulle te vul met die HG om die self op te bou in die wêreld… dit gaan nie vir hulle om die eer van God of Sy koninkryk nie, maar om eer en heerlikheid vir die self bymekaar te maak.  Hulle wil groot, heilig en belangrik lyk vir die wêreld… net soos die Fariseërs van ouds.  Hulle wil groot “werke vir God” doen, maar eintlik gaan dit nie oor God nie, maar om raakgesien te word deur die wêreldmense.  Hulle wil die werke van Jesus doen, maar hulle is nie bereid om dieselfde lydingspad as Jesus te stap nie.  Mense soek die krag van God, maar verloën God daardeur en dit is hoekom Abba Vader Sy Gees nie sal gee aan mense wat nog nie wedergebore is nie. God ken mos die motiewe van ons hart, Hy ken die geheime wat ons diep in ons harte probeer wegsteek, maar ons kan niks vir Hom wegsteek nie.  God weet mos wanneer iemand nie ware berou oor sy lewe het nie, Hy weet as die mens nog nie die self aan Hom geoffer het nie – Hy weet as die mens nog nie die self gekruisig het nie.  

“Toe sê Jesus vir Sy dissipels:  ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor;  maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind’.”         Mattheus 16:24,25 (AFR33/53) 

Wat beteken dit om ons kruis op te tel en Jesus te volg?  Om die self te kruisig?  Hoe kom ons daarby uit?  Eerstens begin dit by sonde-erkenning, om te kies om ons sondes raak te sien, om die lelik in onsself raak te sien.  Dit is hoekom God aan ons Sy Woord gegee het, want Sy Woord is die Lig wat ons sondes aan ons openbaar.  Dit skyn ’n Lig op ons sondes sodat ons dit kan raaksien en erken aan God.  Ons moet ons sondes aan God bely en die keuse maak om ons rug daarop te draai.  Die probleem is:  Ons spandeer te min tyd by die voete van Abba Vader in afsondering, want hierdie is ’n proses wat plaasvind by die voete van Abba Vader waar Hy ons leer en ons lei, maar die wêreld het mos ’n afsku aan afsondering.  Die wêreld vemaan ons om God in ’n kerk te gaan ontmoet, dat jy nie gemeenskap met die heiliges mag afskeep nie, maar daar staan ook in die Bybel dat ons alleen in ons binnekamers moet ingaan en daar tot God bid.  Jesus het baie in afsondering teen die berg opgegaan om tot Sy Vader te bid, Hy het baie in afsondering inbeweeg… hoekom staan die wêreld die voorbeeld van Jesus teë?  Om eerder in ’n tempel te gaan aanbid?  God sê ook Hy is nie teenwoordig in tempels wat met mensehande gemaak is nie, maar God wil in jou hart Sy woning maak en Hy kan alleenlik in jou hart Sy woning maak as jy jou hart in Sy hande plaas, as jy jou hart aan Hom offer, as jy jou lewe aan Hom oorhandig, as jy jou wil onderdanig maak aan die wil van God, maar vandag se mense wil nie die wil van God raaksien, aanvaar en leef nie, hulle probeer eerder God se arm draai om Sy wil te verander om hulle te pas.  Hulle bid so teenstrydig, want in een asem sê hulle vir God:  “Laat U wil geskied!” maar in die volgende sin smeek hulle God om te doen wat hulle van Hom vereis…. dit maak net nie sin nie….

   Baie keer is ons so verblind vir ons eie sondes, want die Ou, verslete bruidsrokke (godsdiens) wat ons aanhet, verbloem ons ongeregtighede.  Godsdiens is die een groot gruwel wat mense weerhou om hulle sondes raak te sien, want hulle glo hulle is outomaties gered deur die sterfte van Jesus aan die kruis, maar alhoewel Jesus geweet het Hy gaan sterf aan die kruis, het Hy nogsteeds die mense vermaan om hulle kruis op te neem en Hom te volg.  Jesus het dit ook baie duidelik gestel dat die mens nie die Koninkryk van God sal sien as hy nie weergebore is nie (Joh 3), maar voordat die mens weergebore kan wees, moet daar eers ’n sterfte wees.  Die koringkorrel moet eers in die grond val en sterf voordat dit kan vrug dra (Johannes 12:24).  Sonder ’n geestelike sterfte aan die self, kan daar ook nie ’n geestelike geboorte wees nie en dit is die probleem met die mense by die vals vuur wat ’n vals gees ontvang.  Hulle is nog geklee met verslete bruidsklere, hulle het nog nie die ou mens afgesterf nie, maar nogsteeds wil hulle die Gees van God ontvang.  Hulle soek ’n “quick fix” sodat dit beter in hulle lewens moet gaan;  ander soek weer die Gees van God sodat hy “groot” in die oë van die wêreld kan wees.  Hy wil die werke van God doen, maar net om raakgesien te word in die wêreld.  Wat was die groot “werk” wat Jesus gedoen het?  Nie die wonderwerke wat Hy gedoen het nie, want Jesus sê self in die Woord God het Hom die werke laat doen om te getuig dat Hy die Seun van God is.  Die grootste “werk” wat Jesus gedoen het, was om Sy Vader te verheerlik deur gehoorsaam te wees om te sterf aan die kruis… presies DIT waarvoor die wêreldmense wegskram… hulle wil die Gees van God hê om die wonderwerke van Jesus te kan doen, maar die grootste “werk” wat moet plaasvind, sien hulle nie voor kans nie – om die lydingspad te stap en die self te kruisig, om die self en die self se lewe te offer aan God.  Sonder kruisiging van die self, kan die mens nie die Gees van God ontvang nie, alleenlik ’n vals gees.  Hierdie vals gees kan ook “wonders” doen, maar alles kos ’n prys en in hierdie geval is die prys die ewigheid…

Die mensdom soek die vuur van God in hulle harte – dit is die Gees van God – maar om ’n vuur aan te steek, word hout benodig.  As die mens nog nie die self gekruisig het nie, is daar geen hout van die kruis wat gebruik kan word om ’n vuur aan te steek nie.  Daar is net vals hout wat afgodshout is en dit is die vuur wat met afgodshout aan die brand gesteek word.  Dit is die vuur wat die swart rook afgee wat die mense inasem en in ’n beswyming plaas.  Hierdie swart rook wat hierdie vals vuur afgee, is ’n vreemde vuur met ’n vreemde reuk wat God nie kan behaag of verheerlik nie.  Dit is hierdie vreemde vuur wat ‘n vals gees gee aan mense met onbekeerlike harte wat nie bereid is om die self te kruisig nie.  Hierdie mense se dormante harte gaan aan die brand slaan met hierdie vreemde vuur, maar die reuk wat hulle harte afgee, is nie tot die heerlikheid van God nie.  Dit kan God nooit behaag nie!  Dit gaan net die self behaag en die mens belangrik laat voel in die wêreld.  Dit is die werk van Satan en sy sluwe trawante.

Daarteenoor sal die mens wat die die hand van Jesus gevat en saam met Hom die lydingspad na Golgota gestap het, tyd spandeer by die voete van Abba Vader en sy begeerte sal wees dat Abba Vader aan hom sal openbaar waar hy verkeerd leef.  Hy sal ’n begeerte hê om sy ongeregtighede te besef en dit neer te lê voor die voete van Abba Vader.  Hy sal ’n begeerte hê om die mens wat hy is of was, af te sterf;  hy sal homself verag!  Jesus stap die pad saam met so ’n mens en die Lig openbaar aan hom sy ongeregtighede.  Soos hy sy sondes en ongeregtighede besef en die keuse maak om dit te laat staan, sterf hy bietjie-bietjie die self af.  Omdat hierdie mens ’n begeerte het om die ou mens af te sterf, is daar kruishout wat gebruik kan word om die vuur in sy hart aan die brand te steek.  Hierdie mens is waaragtig bereid om die self, sy lewe en sy hart aan God te offer en daarom brand Abba Vader so ’n persoon se hart skoon van al sy ongeregtighede.  Die Gees van God kan dan in die skoongebrande hart Sy woning neem en die Vuur van God brand dan uit hierdie persoon se hart.  Dit is hoekom Johannes gese het dat Jesus nie met water alleen doop nie, maar ook met Vuur!

“Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie.  Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.”                                                                                                Mattheus 3:11 (AFR 33/53)

M.a.w die skare mense wat die vreemde vuur se rook inasem, is diegene wat nie hulle kruise gedra het nie, want hulle sien nie kans vir die lydingspad nie.  Hulle volg nie die voorbeeld van Jesus nie, hulle sterf nie die self af nie, hulle is nie bereid om hulle harte en lewens te offer aan God nie, so is hulle ook nie wedergebore nie.  Dit laat my dink aan die towenaar, Simon, van Handelinge 8 wat die Gees van God wou gehad het.  Hy het die apostels geld aangebied sodat hy die Gees van God kon ontvang, want hy wou ook die “werke” of wonders doen wat hulle doen.  Vals mense van vandag verskil nie veel van Simon die towenaar nie, want hulle wil ook die Gees van God om die verkeerde redes hê… sodat dit moet goedgaan in hulle lewens, met finansies, huwelike ensovoorts… alles behalwe om God te verheerlik. 

Selfondersoek 

Vra jouself die vraag:  Hoekom smeek jy die Gees van God by Hom af?  Hoekom wil jy die Vuur van God in jou hart hê?  Wat is jou WARE redes en motief?  Om ander die hande op te lê en hulle gesond te bid?  Om water in wyn te verander en “gesien” te kan word deur die wêreld?  Om belangrik te wees in die oë van die wêreldlinge?  Of is dit om God te verheerlik daardeur?  Tot Sy eer?

Het jy waarlik tot bekering gekom?  Het jy ware berou oor jou sondes en die mens wat jy is of was?  Het jy waarlik ’n begeerte om ’n beter mens te wees?

Het jy die self al afgesterf?  Het jy al jou eie wil aan God geoffer?  Is dit jou begeerte dat God deur Sy Lig elke dag jou ongeregtighede aan jou openbaar sodat jy daaroor kan heers?  Of dink jy dat jy vergewe is vir jou sondes omdat jy kerk toe gaan, maar jy leef die res van die week soos jy wil?  

As jy hierdie vrae eerlik aan jouself geantwoord het, sal jy weet of jy al die self gekruisig het of nie.  Jy sal dan weet of daar hout van die kruis beskikbaar is vir God om die Vuur in jou hart aan die brand te steek of nie…  Alleenlik wanneer die mens die voorbeeld van Jesus volg en die self kruisig en afsterf, verskaf hy kruishout sodat die ware Vuur van God kan brand in sy hart.  Die mens wat nie bereid is om die lydingspad te stap en die self oor te gee aan Abba Vader nie, verskaf geen kruishout nie, maar afgodshout wat ’n vreemde vuur in sy hart laat vlamvat wat nie tot eer van God kan strek nie, maar alleenlik tot eer van die self.     

“Toe sê Jesus vir Sy dissipels:  ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor;  maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind’.”                                                                                               Mattheus 16:24,25 (AFR33/53) 

 

Ekstra saadjies:

Vals “Heilige Gees”

Bekering

Ou, verslete bruidsrokke