Geestelike hongerte

Honger“Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.”
Mattheus 4:4 (AFR33/53)

God het die mens geskep as liggaam, siel en gees. Ons weet die liggaam is die gedeelte wat al ons organe bevat, dit is soos die dop wat die siel en gees huisves. Die siel is die deel van ons menswees waar ons eie wil, emosies en denke gesetel is. Die gees is die diepste en belangrikste gedeelte van die mens, want dit is die deel van die mens wat met God kan konnekteer. Dit is die deel wat God gebruik om in en deur ons te leef. God het die gees van die mens geskep sodat Sy Gees daarin kan woon en as die Gees van God nie in die mens leef nie, funksioneer net die liggaam en die siel van die mens, dan is die gees van die mens in dormansie. Hierdie mens is dan nie volwaardig mens nie, maar net ’n half-funksionerende wese wat ek ’n halfmens noem. ’n Halfmens LEEF nie, want hy voer net ’n bestaan. Daarteenoor is die mens wie se hart en lewe oorgegee is aan God, se geeshart lewendig met die Lewe van God. Sy liggaam, siel en gees funksioneer in harmonie en hierdie mens LEWE omdat die Lewe van God in hom teenwoordig is. Ek verwys na so ’n mens as heelmens.
Omdat God die mens gemaak het om te funksioneer as liggaam, siel en gees, kan die die mens wat geen Lewe in sy geeshart het nie, die leemte diep in sy wese voel, maar hy besef nie die leemte kom uit sy gees nie. Hy is in der waarheid geestelik honger, maar sal dit nie verstaan of erken nie, want die meeste geestelike honger mense teer op hoogmoed en trots, so baie van hulle dink ongelukkig dat hulle nie vir God in hulle lewens nodig het nie. Hulle probeer hierdie geestelike hongerte op allerhande maniere les, maar wat hulle nie verstaan nie, is dat die leemte in die geeshart van die mens alleenlik deur God gevul kan word, want God het die gees van die mens vir Homself geskep en alleenlik Hy kan die leemte in ons geeshart volmaak. Alleenlik God kan ons geestelike hongerte stilmaak.

Mense probeer die leemte of hongerpyne stil met goed uit die wêreld soos fisiese kos, drank, dwelms en ander verslawende middels. Ander probeer weer hierdie leemte vul deur liefde van mense te ontvang, om aanvaar te word of om erken te word. ’n Ander jaag weer sukses na – in sy werksplek, op die sportgrond of watter ander gebied ookal. Op hierdie manier hou die mens hom besig met allerhande onbenullighede in die wêreld wat hom op die ou end van die dag absoluut niks in die sak gaan bring nie… dit is vermorste tyd en energie wat aan niemand ewigheid kan bied nie. Al hierdie goed maak deel uit van wêreldse voedsel waarmee die mens sy geestelike hongerte probeer les, want ons almal voel daardie leemte diep binne ons, daardie knaende hongerte. Wêreldse voedsel kan die hongerpyne slegs vir ’n baie kort rukkie stilmaak, maar dan begin die hongerte maar net weer van voor af en moet ons weer ywer om die honger te stil. Dit raak een groot bose kringloop waar die vyand ons met onbenullighede besig hou sodat ons nie tyd het om by die voete van Abba Vader tyd te spandeer nie. Ons almal het net een ding nodig om ons honger gees te stil –  Die Brood van die Lewe!  Jesus!

“Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.”
Mattheus 4:4 (AFR33/53)

Deur op wêreldse voedsel te voed, voed jy jou vlees en jou siel, nie jou gees nie, want onthou nou… God het die gees van die mens vir Hom gemaak, so jou gees kan alleenlik die liefde en lewe van God absorbeer.  Jou gees kan nie gevoed word met wêreldse voedsel nie en groei dus nie tot sy volle potensiaal nie.  Ons vlees en siel moet eerder honger lei sodat ons gees gevoed kan word met die Brood van die lewe en hierdeur bedoel ek nie ons moet vas soos soveel geestelike boeke ’n mens probeer leer nie. As jy probeer om jou gees te voed met voedsel uit die wêreld, voed jy eintlik net jou vlees of jou siel. As jy byvoorbeeld jou geestelike honger probeer stil deur drank, dwelms, ooreet of iets van die aard, voed en bevredig jy jou liggaam, wat weer oorspoel na jou emosies wat in jou sielsdimensie lê. Jou liggaam en siel word vir ‘n baie kort rukkie gevoed, maar voor jy jou oë uitvee, is die hongerpyne maar weer terug. Jou gees word glad nie gevoed nie, net jou liggaam en siel. Wanneer die drank, dwelms of wat ookal uitgewerk is, word die emosies maar net weer negatief en weer begin ons liggaam en siel voed…
Daar is ’n baie interessante wisselwerking tussen die liggaam en siel. Wanneer ons die liggaam bevredig deur toe te gee aan drank, dwelms, seks of enigiets wat die liggaam bevredig, word die emosies ook vir ’n rukkie gesus. Daar is baie bewyse dat mense byvoorbeeld ooreet om beter te voel, daarom is baie mense emosionele eters – hulle voed die liggaam om die siel beter te laat voel. Net so het alles wat in ons siel gebeur, ook weer ’n invloed op ons liggame, byvoorbeeld: As ons konstant negatiewe gedagtes, onvergewensgesindheid, bitterheid, woede en haat koester, gaan hierdie negatiwiteit oorspoel na ons liggame, wat ons kan siek maak. Die brein is deel van ons liggaam, so ons gedagtes (wat in ons sielsdimensie lê), kan ’n invloed hê op ons brein, dus kan ons gedagtes die afskeiding van chemikalieë en hormone in ons brein beïnvloed weer lei na depressie en allerhandes versteurdhede. Wanneer ’n mens diep ongelukkig of in rou is, lê die seer in die sielsdimensie, maar tog kan ’n mens in iemand se oë die hartseer sien. Wanneer ons aanvaarding of liefde by ’n persoon vind, straal ons gesigte – weereens, dit wat in ons siel gebeur, spoel oor na die liggaam. Met ander woorde, wanneer ons ons liggame of ons siel met wêreldse kos voer, het die liggaam en siel ’n uitwerking op mekaar, maar dit kan niks aan ons geestelike hongerte doen nie.
Daarteenoor, wanneer ons ons geestelike hongerte voed met Woord en gebed; wanneer ons in ’n hegte verhouding met Abba Vader is, stil ons die diep hongerpyne. Hoe meer ons daarop voed, hoe meer gaan ons nie ’n hunkering hê na wêreldse voedsel nie. Wanneer ons gees gesond is, spoel die vrede en liefde vanaf ons gees na ons siel, wat ons emosies meer vredevol maak en wat ons meer stabiel maak. Wanneer ons emosies en denke beheer word deur ons gees, word dit dus deur Abba Vader beheer en vrede sal oor ons heers. Die vrede en liefde spoel weer vanaf ons siel na ons liggaam, wat ons meer gesonde mense kan maak. As jou gees nie gesond is nie, is jou siel en liggaam ook nie gesond nie. (Ek sê nie alle siektes ontstaan uit ’n siek gees nie)
Om hierdie saadjie op te som… ’n Halwe mens se gees is nie gevul met die Lewe van God nie. As jy die saadjies lees oor die boom wat gewortel moet wees in die hart van God, sal jy sien ’n halwe mens is dus iemand wat nie in God gewortel is nie, die persoon ontvang nie die Lewe vanaf God nie. Die mens funksioneer dus net as liggaam en siel. Hy LEWE nie, want die Lewe van God is afwesig. Halfmense voel die hongerpyne omdat hulle gees nie gevoed word nie en hulle probeer die hongerpyne stil deur alles wat Satan die mens bied in die wêreld.
Daarteenoor funksioneer die heelmens in harmonie as liggaam, siel en gees. Sy gees LEWE; die Lewe van God spoel deur sy are, want hy is gevestig in die hart van God. Hy kan ook nou en dan die geestelike hongerte voel knaag, maar dan weet hy waarheen om te draai om sy honger te les; hy weet dadelik wanneer hy te min tyd by die voete van Abba Vader spandeer.
In Deuteronomium sê Moses vir die volk:

“En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.”
Deuteronomium 8:3 (AFR33/53)

Ons moet altyd onthou dat NIKS uit die wêreld ooit ons geestelike honger kan stil nie. Ons geeshart is deur God ontwerp sodat niks uit die wêreld dit kan vul nie en solank as wat ons geesharte leeg is, is ons halwe mense. Ons geeshart kan alleenlik die Liefde van God absorbeer. Alleenlik die Liefde van God kan van halwe mense, heel mense maa

Leave a comment