“Maar die Here sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan.”
1 Samuel 16:7 AFR33/53
In Daniël 4 het koning Nebukadnesar ’n droom gehad van ’n boom in die middel van die aarde en sy hoogte was groot. Die boom het groot en sterk geword en sy hoogte het tot aan die hemel gereik. Sy blare was mooi en sy vrugte baie, en aan hom was vir alles voedsel; onder hom het die diere van die veld skaduwee gesoek en in sy takke het die voëls van die hemel gewoon. ’n Engel het uit die hemel neergedaal en hardop geroep:
“Kap die boom om en kap sy takke af, trek sy blare af en verstrooi sy vrugte; laat die diere onder hom uit wegvlug en die voëls uit sy takke… Laat sy hart anders word as die van ‘n mens en ’n dierehart aan hom gegee word, en laat sewe tydperke oor hom heengaan.”
Daniël 4:15,16 (AFR33/53)
Daniël was vir ’n oomblik verstom en sy gedagtes het hom verskrik, maar nogsteeds het hy die droom vir die koning uitgelê: Die hoë, groot en sterk boom wat mooi blare en baie vrugte gedra het, wat ’n woonplek en skuilplek was vir baie diere, was ’n simbool van koning Nebukadnesar. Die boom is die koning wat groot en sterk geword het, maar die koning was gewortel in die grond van die wêreld en nie in God nie. Die vrugte wat hy gedra het, kon nie Goddelike vrugte wees nie, want God sal nie ’n boom wat Goddelike vrugte deur Hom dra, afkap en in die vuur gooi nie; net bome wat ongoddelike vrugte dra. Hy het in homself geglo; hy het homself as ’n god geag en daarom het God ‘n profesie oor hom gebring sodat hy na die tydperk van sewe jaar sou erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dat Hy dit gee aan wie hy wil. Daniël het die koning gewaarsku om ag te slaan op die droom en te breek met sy sondes en ongeregtighede, maar na twaalf maande het die koning gesê:
“Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ’n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?”
Daniël 4:30 (AFR33/53)
Nadat hy gewaarsku was dat alleenlik God mag het oor die koningskap, het hy homself nogsteeds verhef en aan homself die eer gegee vir sy briljante vermoë om Babel so te kon opbou! Dat ’n mens in soveel hoogmoed en trots jouself kan verheerlik as dit God was wat opgebou het… Terwyl die woorde nog in sy mond was, kom daar ’n stem uit die hemel wat die koningskap van koning Nebukadneser ontsê. Die woord van God het in vervulling gegaan en hy is uit die mensdom verstoot; hy het plante geëet soos ’n bees en sy hare en naels het lank geword soos die van ’n arend. Na sewe jaar het Nebukadnesar sy oë na die hemel opgeslaan, sy verstand het na hom teruggekeer en hy kon die Allerhoogste loof en prys as Koning. Hy het erken dat God alleenlik die koningskap kan bevestig en dat alles uit Sy hand kom. God het koning Nebukadnesar se koningskap herstel en toe kon hy bely:
“Nou prys ek en roem en eer ek die Koning van die hemel; al Sy werke is waarheid en Sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.”
Daniël 4:37 (AFR33/53)
“En al die bome van die veld sal weet dat Ek, die Here, die hoë boom verneder, die nederige boom verhoog; die groen boom laat verdroog en die droë boom laat bloei het. Ek, die Here, het dit gespreek en gedoen.” Esegiël 17:24 (AFR33/53)
Iemand wat gewortel is in die wêreldse grond, kan ’n baie hoë “impressive” boom wees deur alles wat die wêreld hom bied. Hy kan baie groen blare dra en wanneer ons nie Goddelike onderskeidingsvermoë het nie, gaan ons nie ’n wêreldse boom kan onderskei teenoor ’n Goddelike boom nie, want die oog van die mens sien net raak wat aan die buitekant is, maar die Woord sê:
“Moenie kyk hoe hy lyk of hoe groot hy is nie… Dis nie wat ’n mens kan sien wat tel nie. Mense kyk na iemand se buitekant. Ek, die Here, kyk na ’n mens se hart!”
1 Samuel 16:7 (DB)
Dis net mense wat hoë bome belangrik ag, maar God weet wat gaan aan in die kern van die hart… net soos God ook weet wat gaan aan in die kern van my en jou hart. God kyk nie na die buitekant soos die mens nie, want God het oë wat die mens nie het nie en daarom sien God die hart raak. Hy weet wat gaan aan in die kern van elke boom…
Die penwortel van ’n geestelike boom groei vanuit sy hart na die hart van God, dus groei die penwortel uit die kern van die boom wat tog daarop dui dat die kern van die boom lewe. As daar geen lewe in die kern van die boom was nie, sou hy nie ’n wortel kon groei nie, maar die boom wie se geeshart ontwaak het deur die Lig van die Woord wat daarop geskyn het, is in staat om ‘n penwortel te groei. Deur die penwortel ontvang hierdie boom nou die Lewe van God. Dit word deur die kern van die boom geabsorbeer en versprei deur die res van die boom. Die kern is dus vogtig van al die liefde, lewende water en bloed van Jesus Christus. Deur Jesus, wat in en deur hierdie boom leef, kan hierdie boom Goddelike vrugte dra. Daarteenoor is die wêreldse, hoë boom in die sonde van die wêreld gewortel. ’n Wêreldse boom se kern is nog dormant, dus kan daar geen wortels uit sy hart groei nie. Die wortels wat hom anker, groei uit sy vlees en is baie oppervlakkige wortels, daarom is wêreldse bome onstandvastig en kan ’n sterk wind hulle maklik omwaai. As daar geen penwortel uit die kern van ’n boom groei nie, beteken dit die kern is dormant; omdat hierdie boom nie die Lewe van God ontvang nie, kan hy ook nie Goddelike vrugte dra nie. Sy kern is droog en daar is geen lewe daarin nie. Jy sal ook sien dat Christene wat nog in die wêreldse sand gewortel is, se geloof baie oppervlakkig is; hulle kan nie die dieper dinge van God verstaan nie. Dit is omdat hulle geestesharte nog in dormansie is en daarom is hulle geestelike oë en ore nog geslote vir die dieper dinge van God. Hulle dink op ’n menslike, oppervlakkige, vleeslike vlak en glo net dit wat menslik verklaar kan word.
“Die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie, want dit is vir hom dwaasheid; hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.”
1 Korinthiërs 2:14 (AFR33/53)
Die groot gevaar van droë-kern-bome is dat God de laaste boom op aarde gaan toets met Vuur, so God toets die kerns van die bome met vuur. Bome wat in Hom gewortel is en wie se kerns vogtig is van die Lewe van God, se kerns sal nie aan die brand slaan soos ’n droë-kern-boom nie. Die boom in God se hart gaan ook nie kan uitbrand nie. Hierdie bome sal net brand soos die brandende bos waardeur God met Moses gepraat het – Die bos het gebrand, maar dit kon nie uitbrand nie. Die vlamme kon gesien word, maar nie die blare of die takke van die boom kon uitbrand en verwoes word nie en net so sal ’n Goddelike boom se takke en blare nie skroei deur die Vuur van God nie omdat die boom deurtrek is van die Liefde van God. Hierdie bome gaan ook nie rook afgee soos ’n gewone vuur nie, maar dit gaan ’n aangename reuk afgee wat God behaag. Die droë-kern-bome, daarenteen, se kerns gaan dadelik aan die brand slaan omdat die Lewe van God nie teenwoordig is in die boom se kern, takke of blare nie. Hierdie bome gaan ’n aaklige stank afgee en hulle gaan totaal uitbrand totdat daar net ’n hopie as op die grond oorbly. Esegiël 20:47-48 bevestig dit:
“So sê die Here my God: Ek gaan jou aan die brand steek. Elke groen boom en elke droë boom in jou gaan verbrand. Die vlamme sal nie geblus word nie, dit sal elke gesig skroei, van die suide van die land af tot in die noorde. Als wat leef, sal sien dat ek, die Here, die vuur aangesteek het. Dit sal nie geblus word nie.”
Esegiël 20:47,48 (AFR83)
Lees asseblief Mattheus 23 oor die Fariseërs… Hierdie hoofstuk is vir ons die perfekte voorbeeld hoe ons nie moet wees nie. Jesus sê ons moet luister na alles wat hulle sê, maar ons moenie doen wat hulle doen nie. Wat hulle sê, en wat hulle doen, is twee verskillende goed. Al wat vir hulle belangrik is, is wat mense van hulle dink en sê. Wat God van hulle dink, is nie vir hulle van belang nie en daarom is hulle nie baie bekommerd oor wat in hulle harte aan die gang is nie… solank mense net vir hulle hande klap. Hulle is soos iemand wat nie omgee hoe vuil die binnekant van ’n skottel is nie, solank die buitekant, wat die mensoog raaksien, skoon is. Al is daar haat en allerhande lelike goed aan die broei binnekant, gee hulle net om oor dit wat die oog van die mens raaksien. Hulle soek eer van mense, pleks van die eer van God. Hulle is soos die hoë bome met baie blare waardeur die Lig van God nie kan skyn nie. Hulle doen alles in hulle vermoë om mooi te vertoon aan die buitekant. Die dooie werke, dus die baie blare, maak die boom so mooi sodat die mens net die mooi blare raaksien en omdat hulle so baie eer van mense ontvang vir hulle mooi blare, ontstaan hoogmoed, trots en arrogansie in hulle harte wat van hulle hoë bome maak. Die mensoog kan nie tot in die kern van ’n boom sien nie, maar God weet wanneer die kern van ’n boom droog of selfs dood is, en daarom tel baie blare nie vir God nie – baie blare is godsdienstige werke en dit word nie deur God raakgesien nie, maar wel die hart wat die werke voortbring. Fariseërs dra mooi, groot, groen blare van godsdienstige werke, reëls en wette. Hulle prent aan die wêreld ’n mooi prentjie uit van ’n gesonde boom deur al die uiterlike dinge reg te doen, maar wat gaan in hulle harte aan? Dit is alles werke sonder vrug, want hierdie bome is nogsteeds nie in die hart van God gewortel nie, dus is hulle kerns droog en dood.
As jy Esegiël 31 lees, sal jy sien God het ’n boom geplant en dit mooi laat groei, maar trots het ongelukkig die oorhand gekry oor hierdie boom (net soos Nebukadnesar in Daniël 4) en hy het gedink hy is beter as die ander bome. Hy het gedink hy kan sy top in die wolke indruk en daarom het God hierdie boom laat val. Dit kan so maklik met enige een van ons gebeur; ons moet op ons tone bly en elke dag die Gees van God toelaat om ons te ondersoek vir selfs die kleinste sondetjies sodat ons dit aan God kan bely en Hy ons kan skoonwas en reinig voordat daar ’n wortel van trots, hoogmoed of arrogansie in ons harte groei. God is getrou, en as dit ons hartsbegeerte is om skoon en rein voor Hom te lewe en ons Hom te hulp roep, sal Hy ons altyd help!
“U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep.”
Psalm 86:5 (AFR33/53)
Dit is so belangrik dat ons Abba Vader sal vra om ons te help deur die Lig van die Woord wat aan ons wys hoe ons lyk as ’n boom. Is ek en jy gewortel in die hart van Abba Vader waar ons Liefde, bloed en Lewende Water van God ontvang? Is ons ’n pragtige boom met mooi groen blare wat vrot vrugte probeer wegsteek? Of is ons blare op so ‘n manier gerangskik sodat die Lig van God tot in ons diepste wese kan inskyn en aan ons elke foutiewelike ding in ons lewe uitwys? Dit is ’n saak tussen jou en Abba Vader. As jy Hom soek vir die regte redes, sal Hy jou nooit teleurstel nie en sal Hy aan jou openbaar hoe jy lyk as ‘n boom.