Category Archives: Die Uitnodiging

Afsluiting

God stuur uitnodigings na Sy kinders, maar baie van Sy kinders maak die keuse om eerder die wêreldse lewe te geniet en oorgegee te wees aan die wêreld en sy dinge.  Hulle stel nie eers belang om die uitnodiging te onderteken nie – hierdie stapel ongetekende dokumente lê aan die een kant van die tafel.  

Aan die ander kant van die tafel lê uitnodigings wat wel onderteken is en wat met tyd gestempel sal word deur Abba Vader, wat beteken hierdie mense sal die seël van Jesus Christus op ’n bepaalde tyd ontvang.  Hulle het die uitnodiging onderteken met ‘n suiwer hart en uit liefde vir Abba Vader.  Hulle het die keuse gemaak om hulle ou lewe agter te laat, om hulle sondes raak te sien en dit te bely aan Abba Vader.  Hulle stap die pad saam met Jesus, waar die klippe hulle nie ontsenu nie, maar waar hulle hulle oë gevestig hou op Jesus en al die probleme en moeilike omstandighede in die hand van Abba Vader plaas sodat Hy dit kan uitsorteer.  Hulle probeer nie die moeilike omstandighede in hulle lewe wegtoor nie, maar probeer om ’n les uit hulle omstandighede uit te leer en met elke les wat hulle leer, leer hulle ook om Abba Vader meer en meer te vertrou met hulle lewens.  Hier leer ’n mens om elke dag stil te raak voor die voete van Abba Vader om Hom beter te leer ken.  Dit is op hierdie pad waar Jesus ’n mens se vuil, seer voete was en salf.  Mettertyd raak ’n mens se voetsole dikker sodat ’n mens die pad makliker kan stap saam met Jesus.  Ware volgelinge van Jesus sal bereid wees om deur die kruis van Golgota te beweeg omdat hulle die begeerte het om te sterf aan die self.  Hulle het ook die begeerte om al die ou vuil klere (waarmee hulle uit die wêreld kom) uit te trek en eenkant in die graf op ’n hopie te plaas.  Wanneer hulle in die graf is, doen God ’n geestelike hartsoorplanting waar hulle ’n nuwe hart ontvang wat klop met die Lewe van God.  Dit is wanneer ons uitnodiging gestempel word met die seël van die bloed van die Lam.  Wanneer ons ’n nuwe mens is met ’n nuwe hart, omhang Abba Vader ons met die bruilofskleed, wat die kleed van geregtigheid is.  Dit is nie ’n fisiese kleed nie, maar die teenwoordigheid van God se Lig wat skyn vanuit ’n mens se geeshart.  Die mens kan hierdie geestelike skynsel van God alleenlik hê wanneer die Lewe van God teenwoordig is in sy hart en ons ontvang die Lig van God alleenlik wanneer ons sterf aan die self, wanneer ons die keuse maak om ons sondes te laat staan en dit te bely aan Abba Vader.  As ons nie die keuse van bekering maak nie, kan daar nie sondebelydenis wees nie.  Ware sondebelydenis geskied alleenlik op die ware Weg.  Elke keer wanneer ons nuwe sondes in ons raaksien, dit teëstaan en bely aan Abba Vader, sterf ’n stukkie van die self.  

Die Lewe van God is ook die Lig en wanneer die Lig van God in en deur ons skyn, wys dit ons is Een met Hom.  Wanneer die Lig in en deur ons skyn, is dit ’n bewys dat ons op die regte Weg gewandel en gesterf het aan die self.  Dit bewys dat ons ware wedergeboorte ondergaan het en ons kan alleenlik die Koninkryk van God ingaan as ons weergebore is.  Die Bruilofsfees simboliseer die Koninkryk van God, so ons is alleenlik welkom wanneer ons Een is met Abba Vader deur Sy Lig wat in en deur ons skyn.  Dit bewys ons hartsmotief was opreg toe ons die uitnodiging onderteken het, ons het met die ware Weg beweeg na die Bruilofsfees en ons het deur die korrekte DEUR die Bruilofsfees binnegegaan. 

Dan is daar nog ’n hoop uitnodigings wat onderteken is, maar Abba Vader plaas hulle eenkant en stempel hulle nie met die seël van die bloed van die Lam nie.  Hier is dus iets fout met die ondertekening van hierdie dokumente:  Die motief van die mens se hart was nie suiwer toe hy die uitnodiging onderteken het nie… dalk het die mens gedink die Bruilofsfees gaan vir hom baie voordele inhou of dat hy ’n maklike, voorspoedige pad daarheen gaan stap, dat hy ’n lewe van sukses en voorspoed gaan hê as hy die uitnodiging onderteken of dat dit hom Goddelike beskerming gaan bied… Wat die redes ookal was, die motief van die mens se hart was nie suiwer nie.  Dit het oor homself gegaan, nie uit liefde of respek vir Abba Vader nie.  Hy het die uitnodiging onderteken met die oog op die self en wat hy daaruit kan kry en hoe dit in sy vleeslike behoeftes kan voorsien… net soos die vals volgelinge van Johannes 6 wat Jesus gevolg het vir kos en genesing.  God weet presies wie die vals volgelinge is en daarom sit Hy eers hierdie uitnodigings op ‘n stapel eenkant op die lessenaar voordat dit gestempel word met die seël van die bloed van die Lam.  Hierdie mense probeer wel die ware Weg volg saam met Jesus, maar nou weet ons ook God gaan die motief van elke mensehart toets deur die klippe wat Hy op ons pad geplaas het.  Hierdie vals volgelinge gaan nie hou van beproewinge op hulle pad nie, want hulle het die leuen geglo dat dit atyd goedgaan met Jesus se volgelinge.  Omdat hulle die uitnodiging geteken het met die fokus op die self en om in die self se behoeftes te voorsien, kan hulle nie op Jesus fokus nie.  ’n Mens kan net op die self OF op Jesus fokus, nie albei op een slag nie en daarom kan hulle nie fokus op Jesus nie.  Hulle let die heeltyd op na die klippe in die pad, dit ontsenu hulle en wanneer die mens op die klippe in die pad let, kan hy dit nie oorgee aan Abba Vader om uit te sorteer nie.  Die gevolg is dat hulle hul tone stukkend en aan flarde stamp teen die klippe.  Dit maak hulle baie kwaad, want hulle wil en kan nie glo dat Abba Vader die klippe op hulle pad geplaas het nie.  Hulle het die leuen geglo dat die volgelinge van Jesus net ’n voorspoedige lewe gaan hê, dat Hy hulle gaan help om finansiëel geseënd te wees, dat dit altyd net goed sal gaan met hulle.  Hulle gaan kwaad word vir Abba Vader en Hom beskuldig as ’n slegte God wat mense net wil straf, maar dit is nie die waarheid nie…  Abba Vader toets net die motief van die hart van die mens…  hoekom wil hulle Hom volg?  Hoekom wil hulle Hom ken?  Vir hulle eie voorspoed of tot eer en heerlikheid van Hom?  Later gaan hulle so kwaad raak oor die moeilike pad en die keuse maak om eerder terug te keer na die wêreld, na die makliker pad.  Die wêreldse breë pad is soveel makliker, want daar is nie so baie klippe wat ’n mens se voete seermaak nie, maar hier kom die hartseer gedeelte in, want Jesus is nie op die breë pad nie, alleenlik op die ware Weg.  So Jesus was nie die mense se voete op die breë pad nie, wat beteken hulle sondes word ook nie vergewe nie.  As Jesus nie ons voete was nie, is ons nie een met Hom nie, dan behoort ons nie aan Hom nie, so die mens wat met die breë pad na die Bruilofsfees probeer gaan, het nie gemeenskap met Abba Vader nie.  As ons nie gemeenskap het met Abba Vader nie, word ons sondes ook nie vergewe nie.  Mense op die breë pad sien nie hulle sondes raak nie en bely dit ook nie aan Abba Vader nie, wat beteken die mens sterf nie sukkie vir stukkie aan die self nie.  Hulle beweeg nie deur die kruis van Jesus nie, dus beland hulle ook nie in die graf nie.  Hulle vuil klere word nooit uitgetrek nie en as ons vuil klere nie uitgetrek is nie, kan ons nie die bruilofgewaad ontvang nie.  Omdat die mense nie in die graf was nie, het daar ook nooit ’n hartsoorplanting plaasgevind nie, daarom is hierdie persoon se hart nie gestempel met die Gees van God nie, hy ontvang dus nie ’n seël met die bloed van die Lam nie.  Hierdie mense beweeg met die verkeerde pad na die Bruilofsfees en wanneer hulle hul bestemming bereik, gaan hulle sien dat die breë pad hulle nie na die korrekte ingang gelei het nie.  Daarom klim hulle dan soos diewe en rowers deur onwettige ingange, maar hulle sal uitgevang word, want die Koning gaan sien dat hulle nie die kleed van geregtigheid aanhet nie en hulle sal uitgegooi word… die duisternis in.  Die Lig van God skyn dus nie in en deur hulle nie en dit is omdat hulle nooit die self afgesterf het op die ware Weg nie.  Omdat hulle nie gesterf het aan die self nie, was hulle nie in die graf waar hulle ou, vuil klere verwyder is nie.  Alleenlik in die graf ontvang ons ’n hartsbesnydenis waar ons die merk van God ontvang en dit is hoekom die mense op die breë pad nie die seël van die bloed van die Lam ontvang nie.  Hulle getekende uitnodiging word nooit deur Abba Vader gestempel nie.  Omdat hulle nie ’n hartsbesnydenis ontvang het nie, skyn die Lig van God ook nie in en deur hulle harte nie, dus het hulle ook nie die kleed van geregtigheid ontvang nie.

Mag ons die regte keuse maak om ons rug op ons sondige natuur te draai en God toelaat om ons sondes aan ons uit te wys sodat ons dit aan Hom kan bely.  

Mag ons die keuse maak om die uitnodiging na die Bruilofsfees van God se Seun by te woon met opregte harte… uit liefde vir Abba Vader.

Mag ons die klippe oorgee in die hand van Abba Vader en Hom toelaat om ons daardeur te suiwer van onsself.

Mag ek en jy deur die Lig van die Woord al ons ou, vuil klere, vyeblare of ou bruidsgewaad raaksien en bely aan Abba Vader sodat Hy ons kan help om ontslae te raak daarvan sodat ons deur Jesus geklee kan word met die wonderbaarlike bruilofskleed, die geregtigheid van God! 

Mag ons die pad na Golgota hand aan hand met Jesus volg waar ons die self sal afsterf en in die graf neergelê word om die merk van die Lam te ontvang.

Mag ons geklee wees met die kleed van geregtigheid en saam met Abba Vader feesvier by die Bruilof van die Lam. 

“I will sing for joy in God, explode in praise from deep in my soul!  He dressed me up in a suit of salvation, He outfitted me in a robe of righteousness.  As a bridegroom who puts on a tuxedo and a bride a jeweled tiara, for as the earth bursts with spring wildflowers, and as a garden cascades with blossoms, so the Master, God, brings righteousness into full bloom and puts praise on display before the nations.” Isaiah 61:10  (The Message)

“I’m sending you off to open the eyes of the ousiders so they can see the difference between dark and light, and choose light;,  see the difference between Satan and God, and choose God.  I’m sendig you off to present My offer of sins forgiven, and a place in the family, inviting them into the company of those who begin real living by believing in Me.”        Acts 26:17,18

Verslete bruidsrokke

“Sy moet geklee wees in rein en blink, fyn linne en die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.” Openbaring 19:8

Onder gebed wys Abba Vader my ’n groot skare mense en wat my dadelik opval, is die bruidsrokke wat hulle aanhet.  Dit is nie wit nie, maar geel;  dit is erg verslete en oral is skeure wat met ander stukke materiaal gelap is.  Dit lyk soos lae en lae verouderde, geskeurde materiaal oor mekaar, want die stukke materiaal wat veronderstel is om die skeure te verbloem, is nie nuwe materiaal nie, maar ook ou en geskeurde lap.  Dit is ’n hengse deurmekaarspul, want die tekstuur van die gelapte stukke materiaal is ’n totaal ander tekstuur as die oorspronklike bruidsrokmateriaal en selfs die gelapte stukke materiaal se teksture verskil van mekaar.  Ek kon selfs die oudheid van die lappe ruik, dit was ’n nare reuk.  Die skare mense draai om en ek kyk na hulle gesigte, maar elkeen het ‘n sluier oor sy gesig.  Dit is sulke vreeslike swaar, dik sluiers dat ek nie kan verstaan hoe hulle daardeur kan sien nie.  Die sluiers is ook van baie ou materiaal gemaak, dit is ook verouderd, geel en gelap.  Ek het dadelik besef dat hierdie mense so erg versluier is dat hulle nie die Waarheid van God kan sien of hoor nie, hulle is geestelik blind en doof.  In 2 Korinthiërs 4:4 staan dat die god van hierdie wêreld die ongelowiges verblind om nie die Waarheid raak te sien nie.  

Hierdie versluierde mense staan in baie groot groepe en hulle glo hulle is korrek geklee om die Bruilofsmaal van God by te woon, hulle DINK hulle is gered en verlos, maar al die tyd is hulle so erg verblind en is hulle eintlik net deel van godsdienstige rituele.  Die bruidsrokke wat hierdie skare mense aanhet, gaan hulle beslis nie toegang verleen tot die Bruilof van die Lam nie.  Dit is so in teenstelling met die bruidsgewaad wat die Woord beskryf in Openbaring 19:8 (Afr. 33/53)

  “Sy moet geklee wees in rein en blink, fyn linne en die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.”

Die linne van hierdie skare mense se bruidsrokke is beslis nie blink en fyn nie en dit gee ’n mens verseker nie die idee van reinheid nie… veral nie die reuk wat dit afgee nie.  Hierdie bruidsrokke is mensgemaak en dit het sy afkoms van tradisie, kultuur en godsdiens.  Mense in verouderde, geel, gelapte bruidsrokke probeer geregtigheid of verlossing verkry deur godsdiens wat sy ontstaan het uit die wortels van rituele en tradisie wat oorgelewer is vanaf die voorvaders waaraan mense vasklou.  Dis ’n klomp nagebootste religieuse, mensgemaakte wette en reëls wat nie hulle oorsprong van God af het nie en wat hulle geestelik blind en doof maak vir die Waarheid as gevolg van die swaar sluiers wat oor hulle gesigte hang. 

“Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.  Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor;  en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.”  Mattheus 13:14-15  (Afr. 33/53)

Mense wat geklee is met swaar, ou bruidsrokkeen sluiers, se geestelike oë is nog blind en hulle geestelike ore is nog doof, met ander woorde, hulle geesharte is nog in dormansie, en wanneer die geeshart in dormansie is, skyn daar geen Lig uit die hart van die mens nie.  Omdat die geeshart nie lewe nie, kan hulle nie geestelik hoor of sien nie en daarom gaan alles wat hulle hoor, by die een oor in – waar dit deur die brein verwerk word as logiese inligting – en dan gaan dit weer by die ander oor uit.  Die geeshart van die mens is gladnie betrokke in hierdie proses nie en daarom kan die mens geestelik niks verstaan nie.  Dit is  presies wat godsdiens is!  Godsdiens het niks met die hart van die mens te doen nie, want godsdiens verseker dat die geeshart in dormansie bly en alle godsdienstiges is geklee met hierdie ou bruidsrokke.

 Ek luister ’n paar aande terug ’n praatjie oor Jehova se getuies en hoe hulle te werk gaan en ek kon nie help om dadelik te dink aan mense wat geklee is met ou, verslete bruidsrokke nie.  Volgens die praatjie wat ek gehoor het, is hulle groot doel om mense te betrek by hulle Bybelstudie…  As iemand hulle vra hoe hul gered kan word, antwoord hulle dat die mense hulle Bybelstudie moet bywoon en daar sal hulle leer hoe om gered te word.  Het Jesus nodig gehad om allerhande Bybelstudies by te woon om te leer hoe om Sy Vader te dien en te behaag?  Glad nie!  Hy het in afsondering gaan stilraak by Sy Vader en self by Hom die Waarheid geleer.  Daarna het Hy die leer van die Fariseërs weerstaan en Sy dissipels ook gewaarsku om weg te bly van die suurdeegbrood van die Fariseers af – suurdeegbrood is dwaalleringe.  Hy het gevoed op hemelse Brood wat net Abba Vader kan gee.  Mense wat nog nie gered is nie, gaan gebreinspoel word by hierdie Bybelstudies.  Die Woord word aan hulle geïnterpreteer deur mense en nie deur die Gees van God nie.  Ons het nodig dat die Gees van God die Woord van God aan ons interpreteer, nie mense nie!  En wanneer gebeur dit?  Wanneer jy tyd opoffer om in die teenwoordigheid van Abba Vader in te beweeg waar jy met tyd gekonnekteer kan raak aan die enigste Lewegewer.

Die mens moet ontslae raak van ou, verslete bruidsrokkke, want dit is godsdiens, tradisie en rituele wat die mens in die duister vasgeketting hou sodat die mens nooit die heerlikheid en glorie van Abba Vader kan aanskou of ervaar nie.  Dit weerhou die mens om gekonnekteer te raak aan Abba Vader, om gewortel te raak in Hom, en in en deur Sy Liefde te leef.  As jy die Boom-boek gelees het, sal jy weet hierdie mense is gewortel in tradisie en godsdiens – in mensgemaakte reëls en wette;  hulle is nie gewortel in die hart van God nie.  Daar is geen penwortel nie.  Mense in ou bruidsrokke kan nooit vrugte van die Gees dra nie, en dis die vrugte wat Jesus in en deur ons dra, wat God verheerlik.  So as daar nie vrugte is nie, is daar geen heerlikheid tot Abba Vader nie, dus kan mense in ou bruidsrokke God nooit verheerlik of behaag nie.  Hulle kan nooit verhouding met Abba Vader hê nie, hulle gaan Hom nooit kan voel in hulle geesharte nie, hulle gaan nooit die borrelende gevoel van die Liefde van God ervaar nie.  So wat is die antwoord?  Kom weg uit groepe, raak in jou eie tyd stil met die Woord van God en gesels met Abba Vader.  Wanneer jy die Woord bestudeer, is dit soos ’n Lig wat op jou begin skyn en wanneer ons die tradisie, godsdiens en rituele kan begin raaksien wat nie reg is in die oë van God nie, sal die ou bruidsrokke stukkie vir stukkie begin afval net soos die skille van Paulus se oë afgeval het.  Dit is dalk hier waar die vangplek inkom, want die meeste godsdienstiges is oorlaai met trots en hoogmoed wat in die pad staan tussen hulle en God.  Hierdie trots en hoogmoed veroorsaak dat die mens nie sy sonde wil raaksien nie… hy wil ook nie die godsdiens in sy lewe raaksien en erken nie.  As die mens nie hierdie boosheid in sy lewe kan raaksien nie, gaan hy dit ook nie erken aan God nie, en wanneer ons nie ons sonde bely aan God nie, word ons ook nie vergewe en bevry daarvan nie.  So ons moet die Lig van die Woord toelaat om aan ons uit te wys of ons vasgevang is in godsdienstige groepe waar rituele nie tot eer van God is nie.  

Abba Vader wys ook dat die meeste mense bang is om alleen in afsondering voor Hom te verskyn en daarom verkies hulle om in groepe die Naam van God aan te roep, maar hoekom is mense bang vir God?  Dit laat my dink aan Adam en Eva wat weggekruip het vir God, wat te bang was om in Sy teenwoordigheid in te beweeg.  Hoekom?  Hulle het skuldgevoelens gehad as gevolg van die sonde wat hulle gepleeg het, omdat hulle toegegee het aan die versoeking van Satan.  Hulle het hulleself geklee met vyeblare, maar vyeblare is werke van eie-geregtigheid.  Ons het geen rede om bang te wees vir Abba Vader nie.  Omdat mense bang is vir God, verkies hulle om te funksioneer in groepe, maar mense in groepe is geneig om soos mekaar te lyk, om dieselfde aan te trek, om dieselfde te praat, om dieselfde op te tree, om dieselfde leuens te glo…  Hulle  funksioneer in groepe omdat hulle bang is om God alleen te face.  Maar alleenlik wanneer jy Hom alleen face kan Hy aan jou die Waarheid openbaar , kan Hy jou met hemelse Brood voed wat jou geeshart gaan laat ontwaak. Dit is juis hoekom jy in afsondering voor die voete van Abba Vader moet inbeweeg.  Hy wil jou die Waarheid leer, Hy wil jou wys wie jy waarlik is onder daardie swaar, ou bruidsrok – die ware mens wat wegkruip agter godsdiens, rituele en tradisie.  Onder daardie swaar bruidsrok, binne-in jou geeshart, is ’n saadjie wat Abba Vader geplant het en in daardie saadjie is die ware jy verberg!  Maar God se Lig moet skyn op daardie saadjie om te kan begin ontkiem.  Die probleem is dat die swaar bruidsrokke die Lig van God afkeer om in die hart van die mens te skyn, so kerklike rituele en godsdiens keer die Lig van God af en keer dat jy nie die ware God leer ken nie en daarom kan jy ook nie die ware jy ontdek nie.  Dit wat God vir jou vooraf beplan het wat Hy deur jou wil werk, is ook opgesluit in daardie saadjie, so voordat ons waarlik vir God kan “werk”, moet ons ontslae raak van hierdie bruidsrokke.  Dan eers kan God deur ons werk en Sy doel bereik deur ons.  Dit begin deur tyd by die voete van Abba Vader te spandeer.  Dit beteken om dalk van jou gunsteling wêreldse bedrywighede opsy te skuif en daardie tyd aan God te gee.  God vra opofferings van ons kant af ook!  Samewerking!  Ons kan nie verander as ons nie ons samewerking gee nie en dit begin weer by ’n keuse!  Jy het ’n keuse of jy in die groep wil bly met die swaar bruidsrok en godsdiens wil speel saam met die die groep mense en of jy waarlik Abba Vader wil leer ken, want jy gaan Hom alleenlik in jou binnekamer ontmoet en leer ken vir wie Hy waarlik is. 

Hoe raak ons onslae van verslete bruidsrokke?  Om jou sokkies op te trek, hoogmoed, trots en arrogansie eenkant toe te skuif, en in die teenwoordigheid van God in te beweeg… om af te sonder by Sy voete sodat Hy jou kan voed met hemelse Brood wat Waarheid is.  Elkeen moet hierdie saak op sy eie met Abba Vader uitmaak.  Raak stil voor die voete van God en vra Hom om aan jou bekend te maak waarmee jy geklee is wat Hom nie gelukkig maak nie en  Hy sal deur die Lig van die Woord aan jou bekendmaak wat jou verkleef wat nie van Hom af is nie.  Soms vat dit tyd en sal Hy oor ’n bepaalde tydperk aan jou begin uitwys waarmee jy geklee is en soos Hy dit aan jou bekendmaak, moet jy dit aan Hom bely en die keuse maak om dit uit te trek en by Sy voete neer te lê.  God roep ons om Lig te wees in ’n donker wêreld, maar alles wat onheilig is soos vuil klere, vyeblare, verouderde bruidsrokke en sluiers moet eers van ons verwyder word, anders kan ons nooit die Lig van God na buitentoe skyn nie.  Al hierdie goed is soos ’n skerm wat keer dat die Lig van God na binne of na buite skyn. 

Opgesom:  Om die Bruilof van die Lam van God by te woon, moet ons geklee wees met die kleed van geregtigheid, wat die Lig van God is, maar die Lig van God kan nie deur ou bruidsdrokke ons harte bereik nie.  Ons moet ontslae raak van die bruidsrokke en dit kan alleenlik gebeur wanneer die Lig van die Woord die godsdiens, tradisie en rituele aan ons uitwys waarmee ons besig is;  wanneer ons dit bely aan Abba Vader en ons rug daarop draai.  Ons moet ontbloot staan in die Lig van God, want alleenlik dan kan die Lig van God deurdring tot binne-in ons geesharte en kan ons harte aan die brand slaan met die Lig van God om ’n geestelike Lig te skyn en dit is hierdie Lig van God uit ons harte, wat die kleed van geregtigheid is.  

“Whenever they turn to face God as Moses did, God removes the veil and there they are – face to face.  They suddenly recognize that God is a living, personal presence…Our faces shining with the brightness of His face.  And so we are transfigured much like the Messiah, our lives gradually becoming brighter and more beautiful as God enters our lives and we become like Him”  2 Corinthians 3:16-18  (The Message) 

Jesus is die enigste Deur

“Jesus antwoord:  ‘Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe, niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.’”  Johannes 14:6 (AFR33/53)

Daar is baie paaie wat lei na die Bruilofsfees, maar soos ons gesien het, lei ompaaie die mens op die vals weg.  Wat die mensdom nie besef nie, is dat daar net een ingang is na die Bruilofsfees en alleenlik die ware Weg lei na die korrekte ingang.  Nie een van die ompaaie lei na die korrekte ingang van die Fees nie.  Kyk wat sê Jesus in Johannes 10:9:

“Ek is die deur;  as iemand deur My ingaan, sal hy gered word…” Johannes 10:9 (AFR33/53)

Jesus is die enigste ingang.  Jesus is die DEUR na die Feesmaal!  Diegene wat nie deur die DEUR ingaan nie, probeer deur skelm plekke ingaan.  Die dief kan nie deur die deur van die skaapstal binnegaan nie, want God is die deurwagter en net soos God Sy kinders op die naam ken, ken Hy diewe ook op die naam.  Daarom moet die diewe op ’n skelm manier die skaapstal binnegaan.  Johannes 10 sê die dief kom net om te steel, te slag en te verwoes en daarom lei hy sommige skape op die verkeerde paaie.  Selfs al sien hy die wolf naderkom, laat hy die skape staan en hy vlug;  die wolf vang die skape en jaag hulle uitmekaar.  Hierdie skape het die dief gevolg as hulle herder wat hulle na die verderf gelei het.  Hy het hulle gelei na die verkeerde ingang van die Fees.  Daarom is dit van uiterste belang dat skape die stem van die goeie Herder moet ken.  Skape wat nie Sy stem ken nie, kan maklik om die bos gelei word deur die vals herder te volg op verkeerde paaie.  Hulle is verleidelike diewe en rowers, hulle maak die pad baie maklik vir die skape om op te beweeg;  hulle beloof aan die skape ewigheid, seën en verlossing, en die arme, naïewe skape glo hulle.  As hierdie skape maar net die stem van die ware Herder geken het, sou hulle dalk besef het dat hulle besig is om ’n vals herder te volg.  

Sien julle hoekom is dit so belangrik dat ons die stem van ons Herder moet ken – alleenlik Hy lei ons op die regte pad na die Bruilofsfees.  Hy lei ons ook direk na die korrekte ingang van die Fees en hierdie DEUR is Jesus.  Diewe en rowers gaan nie die feesmaal binne deur die korrekte DEUR nie, maar hulle probeer ingaan deur skelm plekke… die groot probleem waarmee hulle te doen gaan kry, is dat ’n mens alleenlik by die korrekte DEUR geklee word met die Bruilofskleed, so hulle wat deur skelm plekke ingaan, ontvang nie die Bruilofskleed nie en daarom sal hulle soos ’n seer oog uitstaan.  Alles begin by die Herder wat ons lei en die pad wat ons volg.  Die maklike paaie lei na die verkeerde ingange van die Bruilofsfees.  

Wanneer ons die stem van Jesus ken, sal ons alle ander stemme verwerp en nie daarna luister nie.  Ons het nie nodig om die stem of die werke van die vyand te leer ken nie, want hy is soos ’n engel van die lig wat mense baie maklik om die bos lei.  Hy is so slinks dat jy regtig sal dink hy is die ware Herder.  Nee, fokus net op die stem van die ware Herder, leer ken net die stem van Jesus en verwerp alle ander stemme.  Jesus het nie nodig om deur skelm plekke in die skaapstal in te gaan nie, want die Deurwagter maak vir Hom oop en die skape luister na Sy stem;  Hy roep Sy eie skape op hulle naam en lei hulle uit.  Wanneer Hy Sy eie skape uitgebring het, loop Hy voor hulle uit.  Die skape volg Hom, omdat hulle Sy stem ken.

“Ek is die deur;  as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind….  Ek het gekom dat julle lewe en oorvloed kan hê.  Ek is die goeie Herder.  Die goeie Herder lê Sy lewe af vir die skape.  Ek is die goeie Herder, Ek ken My eie en word deur My eie geken.” Johannes 10:9,11,14 (AFR33/53)

Daar is dus net een manier om by die Bruilofsfees in te gaan, en dit is deur Jesus Christus.  Alleenlik deur Hom ontvang ons verlossing en redding, op geen ander manier nie.  Wanneer ons deur Hom beweeg, ontvang ons ook die Bruilofskleed wat ons toegang verleen tot die Fees.  Die makliker paaie wat lei na die Fees, is dwaalleringe wat hulle afkoms van die vyand het en wat verlossing vir die mens baie maklik maak.  Hulle beweeg nie deur Jesus nie en ontvang dus nie die ware verlossing, redding en ewige lewe nie.  Om deur Jesus te beweeg, beteken ook om deur die kruis van Jesus te beweeg wat beteken ons moet waarlik die self afsterf.  As ons nie deur die kruis beweeg nie, sterf ons nie ons eie wil af nie en kan ons nie weergebore word nie.  So die mens wat met ompaaie na die Bruilofsfees beweeg, kan nie weergebore wees nie…  Hulle het valslik tot bekering gekom en ook met valse voorwendsels die uitnodiging onderteken, maar hulle lewens sal getuig dat hulle nie deur die kruis van Jesus beweeg het nie, want die Lewe van Jesus sal nie in hulle teenwoordig wees nie.       

“Jesus antwoord:  ‘Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe, niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.’”  Johannes 14:6 (AFR33/53)

Jesus was ons seer voete

“Petrus sê vir Hom:  ‘U sal my voete in der ewigheid nie was nie.’  Jesus antwoord hom:  ‘As Ek jou nie was, het jy geen deel aan My nie’.”    Johannes 13:8 (AFR33/53)

Voordat ons op die ware Weg wandel, het ons almal die breë, maklike pad gevolg.  Die breë pad bestaan uit lekker sagte rooigrond met geen klippe of stof.  Daarteenoor is die pad van God ’n moeiliker pad… dit is wit en stowwerig met baie klippe.  Ons het gesien dat Abba Vader elke klip op sy plek lank reeds vooruit beplan het en dit is deur die klippe op die ware Weg wat God die motief van die hart van die mens toets.  Dit is deur die klippe waar God die ware en vals volgelinge van mekaar skei, want die vals volgelinge sal terugkeer na die breë pad.  Die breë pad is die maklike pad met geen klippe, en wanneer ons van die breë pad af na die smal paadjie kom, is ons almal se voetsole sag en dun.  Ons voetsole was gewoond aan die lekker sagte rooigrond van die breë pad en nie aan die klipperige pad van God nie.  Die gevolg is dat ons voete geestelik baie vinnig seer gaan raak op die pad van God.  

Aan die begin van my staproete op die ware Weg, het ek op ’n dag onder gebed inmekaargesak en gehuil en gehuil en gehuil. Ek het soveel teëstand gekry, ek het al my vriende verloor, dit voel asof mense ’n mens spot en snaaks aankyk, en boonop is my voete so rou-seer dat ek nie ’n tree verder kon gee nie.  Onder gebed het ek inmekaargesak en gesnik en gehuil. Jesus het op die pad langs my kom sit, my vertroos en my seer voete in Sy hande geneem, die stof en bloed afgewas en sagkens my voete met salf gevryf totdat al die seer weg was.  Hy het aan my verduidelik dat my voetsole nog dun is, maar elke keer wanneer my voete so seer is dat dit voel ek kan nie meer aangaan nie, moet ek kom stilsit sodat Hy my vuil voete kan was en my seer voete sagkens kan masseer met die salf van God.  Dit sal my voetsole mettertyd dikker maak sodat ek die pad vorentoe makliker sal kan aandurf.  Met tyd kon ek voel my voete kon al hoe meer verdra en hoe meer tyd ek by die voete van Jesus spandeer het, hoe langer en meer WOU ek tyd saam met Hom spandeer.  Ek kon ook duidelik agterkom dat hoe meer tyd ek by Jesus se voete deurgebring het, hoe makliker het die pad geword, hoe meer kon ek begin hanteer en hoe minder het my voete seer geraak.  Dit maak nie saak hoe goed ons voete die klipperige pad kan hanteer nie, ons moet nogsteeds elke dag gaan stilsit by die voete van Jesus waar Hy die stof van ons voete afwas en ons voete salf.  

As ons voete nie vol stof is nie, is ons op die verkeerde pad, want op die breë paaie is nie stof nie, alleenlik op die pad van God.  Dit is ook met ’n doel dat Sy pad stowwerig is – sodat ons voete MOET vuil word en ons elke dag kan gaan stilsit by die voete van Jesus sodat Hy ons kan skoonwas van die stof, asook ons sondes wat ons aan Hom bely.  Die stof aan ons voete is om ons te herinner dat ons gewas moet word deur Jesus.  Diegene wat dink hulle voete is skoon, wat dink hulle lewe is sonder sonde en dat hulle nie nodig het om elke dag by die voete van Jesus te kom sit sodat Hy hulle voete was nie, is duidelik nie op die pad van God nie.  Hierdie mense dink hulle is die gesonde mense wat nie die Geneesheer nodig het nie (Mattheus 9:12,13), maar Jesus wag juis vir die sondaars om hulle voete te was en hulle te vergewe van hulle sondes.  Lees bietjie die volgende Skrif baie mooi:

God is Lig.  Hy wat in die Lig nie wandel nie, het geen gemeenskap met Hom nie. “…God is Lig, en geen duisternis is in Hom nie.  As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.  Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar;  en die bloed van Jesus Christus, Sy Seun, reinig ons van alle sonde.  As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die Waarheid is nie in ons nie.”                                                                       1 Johannes 1:5-8 (AFR 33/53)

 Dit is belangrik dat ons daagliks ons sondes sal raaksien en bely, dat ons elke dag voor Jesus sal gaan sit sodat Hy ons voete kan was en ons kan vergewe vir ons sondes.  As jy hierdie Skrif van 1 Johannes 1 baie aandagtig lees, sal jy sien dat ons sondes vergewe word AS ons in die teenwoordigheid van die Lig is.  Wanneer ons in die teenwoordigheid van die Lig is, is ons op die ware Weg saam met Jesus.  Jesus is nie teenwoordig op die breë paaie nie, want Hy is die enigste Weg!  Die maklike, breë paaie is in die duisternis geleë en die mense op hierdie paaie sien nie waarheen hulle oppad is nie.  Jesus is nie teenwoordig op die breë paaie nie, so word die mense op breë paaie se voete gewas deur Jesus?  Nee!  Word hulle sondes vergewe?  Nee!  Baie mense gaan my veroordeel oor wat ek sê, maar dis omdat die mensdom wil lewe soos hulle wil en nogsteeds die ewige lewe daarby wil hê…  Ons kan nie ons brood aan albei kante gebotter hê nie;  ons kan nie deel hê aan die beker van die Here en terselfdertyd aan die beker van die bose nie.  Ons moet die keuse maak!  Ons moet die keuse maak op watter pad ons gaan wandel en ons moet die keuse maak om ons sondes raak te sien.  Dit is ’n keuse wat ons maak om elke dag te gaan stilsit by die voete van Jesus en Hom toe te laat om die stof van ons voete af te was en ons sondes te vergewe.  Dit gebeur alleenlik op die smal paadjie wat die ware Weg is. 

“Petrus sê vir Hom:  ‘U sal my voete in der ewigheid nie was nie’.  Jesus antwoord hom:  ‘As Ek jou nie was, het jy geen deel aan My nie’.”    Johannes 13:8 (AFR33/53)

In die Engelse vertaling staan:  

“If I don’t wash you, you don’t belong to Me.” John 13:8 (GWT)

’n Kort sinnetjie met baie betekenis!  Mense wat nie daagliks stilsit by die voete van Jesus om gewas te word nie, behoort ook nie aan Hom nie.  Hulle kom sit nie stil by Hom nie, want hulle is op die verkeerde pad.  As ons nie saam met Jesus wandel nie, wandel ons nie in die Lig nie en as ons nie in die Lig wandel nie, het ons nie gemeenskap met Jesus nie.  As ons nie gemeenskap het met Jesus nie, kan Sy bloed ons nie skoonwas nie en dit beteken ons sondes word nie vergewe nie.  Daarteenoor, wanneer ons hand aan hand saam met Jesus op die ware Weg wandel, wandel ons in die Lig;  ons het gemeenskap met Hom, Sy bloed was ons skoon en Hy verbind en maak ons seer voete heel.  

Die breë pad het nie stof nie, want dis ’n lekker sagte rooigrondpad, soos ’n kleipad.  As die mens afkyk op sy voete, sien hy geen vuilheid of stof nie, maar hy lig nooit sy voete op om te kyk hoe vuil sy voetsole is nie.  Die klei het al so aangepak om ’n vreeslike vuil laag onder op sy voetsole te vorm, maar die mens kies om dit nie raak te sien nie.  Daar is net een manier om ’n mens se vuil voete raak te sien en dit is deur die Lig-Woord op te tel en dit toe te laat om ’n lig te skyn op die vuilheid van die voete, asook die hart…  maar omdat die grootste gedeelte van die mensdom nie tyd met God en Sy Woord spandeer nie, sien hulle nie hoe vuil hulle voete en hart van sonde is nie.  Omdat hulle dink hulle is gesond en skoon, sien hulle nie die nut daarvan in om elke dag by die voete van Jesus te sit om skoongewas te word nie.  Dit is so hartseer en dit is die groot probleem met die bose “mindset” waarmee ons grootgeword het…  Ons is grootgemaak met die idee dat Jesus vir ons sondes gesterf het;  dat Hy ALREEDS al ons sondes vergewe het en dat ons ALREEDS vergewe is!  Ons word groot dat dit in die haak is om net Sondae kerk toe te gaan, om nou en dan deur die week ’n rympiegebed op te sê…  Ons is nie grootgemaak met die Waarheid dat ons ’n verhouding met Abba Vader moet hê nie.  Ons is nie geleer dat ons op die een ware Weg moet wandel om vergifnis vir ons sondes te ontvang nie.  Dit is nie dat ons iets moet DOEN om vergifnis te ontvang nie, dit is dat ons in ‘n regstaande verhouding teenoor Jesus moet staan om vergifnis te kan ontvang.  Ons moet in die Lig wandel en gemeenskap hê met Jesus, dus ’n verhouding met Jesus hê, sodat Hy ons kan skoonwas van ons sondes. (1 Johannes 1:7)  Om op die breë paaie te wandel, plaas ons nie in die regte verhouding met Jesus nie, maar dit skei ons van Jesus waar Hy nooit ons voete sal was nie.  

Ek kan nie genoeg klem daarop lê hoe uiters belangrik dit is dat ons elke dag tyd moet spandeer met Abba Vader nie.  Dit is so belangrik dat Jesus ons voete elke dag was en salf… en dan voel ek ook om vir Jesus te sê soos Petrus vir Hom gesê het:

“Here, was nie net my voete nie, maar ook my hande en my hoof.”  Johannes 13:9 (AFR33/53)

’n Wonderlike les wat ek uit die storie van Johannes 13 geleer het, is dat Jesus selfs Judas se voete gewas het.  Jesus het geweet wie Hom gaan verraai.  Die heeltyd wat Judas Hom gevolg het as ’n dissipel, het Jesus geweet hy gaan Hom verraai.  Jesus het geweet Judas is nie ’n ware dissipel nie, maar ’n vals volgeling.  Nogsteeds het Jesus Judas se voete gewas.  Hoe sal ek en jy reageer as ons weet iemand is met ons vriende net om ons te verraai?  Gaan ek en jy uit nederigheid die persoon se voete was wat ons in die rug gaan steek?  Judas was van die begin af nie ’n ware dissipel van Jesus nie en al het Jesus dit geweet, het Hy hom nogsteeds dieselfde behandel.  Jesus het wel Judas se voete gewas, maar dit kon nie sy hart verander nie.  Daar is dus mense wat op die Weg van God wandel wie se harte nie opreg is nie.  Jesus was ook hulle voete!  Die verskil in die vals volgelinge teenoor die opregte volgelinge, is dat die opregte volgelinge sal volhou op die pad van God tot by die Bruilofsfees.  Hulle sal al die toetse deurstaan, maar die vals volgelinge sal nie al die toetse op die pad van God kan hanteer en deurstaan nie;  hulle sal op een of ander stadium terugkeer na die breë pad.   

Dit bly vir my wonderlik hoe God alles met ’n doel beplan – as ek dink aan die stowwerige pad…  God kon dit ook seker ’n mooi, gladde pad, sonder stof gemaak het, maar met ’n doel het Hy dit baie stowwerig en vol klippe gemaak – sodat ons MOET gaan stilsit by Jesus om skoongewas en gesalf te word. Sonder die stof en die klippe in die pad, sou ons nie nodig gehad het om te gaan stilsit by Jesus nie.

Mag elkeen die regte keuse maak om die breë paaie te verlaat en Jesus te volg op die ware Weg.  Al raak jou voete seer, moenie moed verloor nie, want Jesus is altyd langs jou om jou moed in te praat en jou seer voete in Sy tere hande te neem waar Hy dit sagkens met helende water was.

Om sover op te som:  Ons word gesuiwer op die pad van bekering.  Ons hartsmotief word getoets op die pad van God…  Ek kom weer terug na die vraag:  Hoekom het jy die uitnodiging na die Bruilofsfees onderteken?  Die vals volgelinge gaan nie hou van die moddergooiers, die verwerping en die doringkroon nie… hulle het die pad gekies om gekroon te word as ’n kind van die Koning sodat dit kan goedgaan met hulle.  Hulle gaan nie daarvan hou om ’n punt daarvan te maak om hulle sondes te bely aan Abba Vader nie en hulle gaan nie hulle ou lewe wil agterlaat nie.  Hulle sal wel die ware Weg verlaat en terugkeer na breë paaie.  Hulle glo dat die breë paaie ook lei na die Bruilofsfees, maar die probleem is dat as ons nie deur die kruis van Jesus beweeg nie, ons nie die Fees binnegaan deur die korrekte ingang nie…

“Don’t lazily slip back into those old grooves of evil, doing just what you feel like doing.  You didn’t know any better then;  you do now.  As obedient children, let yourselves be pulled into a way of life shaped by God’s life, a life energetic and blazing with holiness.  God said, “I am holy;  you be holy.” 1 Peter 1:14-16  (MSG) 

Net een ware Weg

“Die Pad wat na God se nuwe wêreld toe lei, is baie moeilik en ook bitter smal.  Min mense loop daarop omdat dit groot opofferings vra.  Aan die ander kant is die pad wat na die hel toe lei, maklik om op te loop en baie breed.  Baie mense loop daarop.  Span julle daarom in om op God se smal pad te bly stap.”  Mattheus 7:14 (Die Boodskap)

Daar is net een ware Weg wat lei na die Bruilofsfees en dit is nie ’n maklike pad nie.  Ons het gesien Jesus sê in Lukas 14 en in Mattheus 10 dat dit nie maklik is om ‘n volgeling van Hom te wees nie en dat ons mooi moet bereken wat die prys is om hierdie pad te stap.  As ons in ons hart nie honderd persent bereid is om ons kruis op te tel en ons lewe totaal te oorhandig aan Abba Vader nie, moet ons dit eerder los.  Hierdie pad is die pad van bekering.  Wanneer ons tot ware, opregte bekering kom en ons rug op die wêreld draai, lei Jesus ons op hierdie pad wat lei na die kruis wat op die kop van Golgota geleë is.  Dit is ’n lang pad om te stap en hierdie pad is vol leringe, teregwysings, beproewinge en baie gesprekke met die Lig van die lewe.  Daar is baie klippe op die pad van God en elke klip is deur God op ’n bepaalde plek geplaas om ons lesse uit die lewe te leer, maar ook om ons te leer om op Hom te vertrou om die klippe uit ons pad te rol.  God het nie klippe op die breë paaie geplaas nie, alleenlik op Sy pad.  Ons moet leer om nie die weë van die wêreld te volg nie, maar die eerbare lewe te lei;  om dinge nie soos die wêreld en sy mense te doen nie, maar om elke dingetjie tot in die fynste besonderhede op God se eerbare manier te doen en om die voorbeeld van Jesus te volg.  1 Petrus 1 vanaf vers 13 handel oor die vermaning om heilig te wees en vers 15,16 sê:

“Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is:  ‘Wees heilig, want Ek is heilig.’” 1 Petrus 1:15,16 (AFR33/53)

Dit is ’n smal pad en niemand dra ’n goue kroon op die hierdie paadjie nie, alleenlik ‘n doringkroon.  Daar sal altyd verwerping, spottery en moddergooiery wees vanaf die toeskouers aan die kant van die pad, maar ons moet leer om dit op Jesus se manier te hanteer en die ander wang te draai.  Net soos Jesus die pad na Golgota met al die vernedering, pyn en lyding moes stap, moet ons ook bereid wees om hierdie pad te stap.  Ons is nie meer spesiaal as Jesus dat ons omstandighede enigsins gaan verskil van Syne of dat die wêreld ons enigsins beter gaan behandel as wat hulle Hom behandel het nie.  Jesus sê ook vir soveel wat hulle aan Hom gedoen het, sal hulle ook aan ons doen.  Dit is ’n smal pad vir sondaars en siek mense, nie vir mense wat hulleself regverdig en gesond ag nie.  Vals volgelinge se trots en hoogmoed veroorsaak dat hulle hulleself as regverdig beskou en daarom sien hulle nie hulleself as sondaars nie.  Hulle sien nie die nut daarvan in om  hulle sondes te bely nie.  Baie wettiese godsdienstiges sien hulleself as heilig omdat hulle hulle eie wette gehoorsaam en diegene wat nie hulle mensgemaakte wette wil gehoorsaam nie, word deur hulle veroordeel.  Hierdie mense volg eintlik maar net hulle eie pad na onwettige ingange van die Bruilofsfees.  Dan is daar ook diegene wat reken hulle is op die ware Weg, maar hulle lewe net soos hulle wil.  Hoekom staan daar dan in 1 Petrus 1 dat ons heilig moet word in ons lewenswandel?  Ons moet gesuiwer word van onsself en dit kan alleenlik op die ware Weg gebeur. 

Daar is baie ompaaie wat baie makliker is om te volg as die Weg van God.  Dit is makliker omdat daar nie van die mense verwag word om die vleeslikheid af te sterf nie.  Daar word nie van die mense verwag om hulle sondes te erken en te bely nie.  Hulle glo die leuen dat Jesus alreeds al hulle sondes vergewe het en dat hulle net moet glo dat hulle gered is.  Verder kan hulle aangaan met hulle wêreldse lewe soos hulle wil.  As ’n mens die Woord mooi lees, veral waar Jesus aan die woord is, maak dit glad nie sin dat ons kan leef soos ons wil en net aanvaar dat Jesus vir ons gesterf het nie.  Ons moet geestelik dieselfde pad as Jesus stap en ons moet die vleeslike self met die vleeslike begeertes kruisig, want as ons nie die ou mens afsterf nie, kan daar nie ’n geboorte van ’n nuwe geestelike mens wees nie.  Ons moet dus by die kruis van Jesus uitkom en Sy kruis is alleenlik op die ware Weg.  Die kruis van Jesus is nie op ompaaie nie en dit is hoekom mense op die ompaaie nie tot wedergeboorte kan kom nie.  As die kruis van Jesus nie teenwoordig is nie, kan daar nie ’n sterfte en ’n nuwe geboorte plaasvind nie.  Ompaaie en kortpaaie loop nie deur Golgota nie, maar ’n ompad verby dit, die kruis op Golgota word dus vermy.  Daar is ook geen sondebelydenis op hierdie paaie nie;  dalk net ’n kort gebed wat agter die dominee aangebid word en dan is hulle kwansuis gered.  Die meeste kerke funksioneer op die ompaaie en kortpaaie;  hulle skep ’n goeie mikro-klimaat vir bakterieë en kieme om te vermeerder in hulle kerke;  dit raak vermaaklikheids-samekomste en die mensdom is mal daaroor – hoe lekkerder die vermaak, hoe groter is die samekomste;  hoe lekkerder die “worship”, hoe groter groei die ledetal.  Ek het ’n kerk verlaat waar ’n leraar gesê het dat hy alleenlik sal preek oor die liefde van God, en as daar iemand in sy gemeente is wat wil hê hy moet vir hulle preek oor sonde en hoe verkeerd dit is, moet hulle eerder uit sy kerk uitstap en ’n ander kerk gaan soek.  Hy het geweier om sonde op die naam te noem en mense te vermaan om hulle sondige lewe te laat staan, want God is ’n God van liefde wat mense vergewe vir hulle sondes.  Hierdie kerk en leraar is nie op die pad van God nie, want op die pad van God, gaan dit grotendeels oor sondebelydenis, om jou sondes vas te vat en die keuse te maak om dit te laat staan;  om dit te bely aan Abba Vader sodat Hy jou kan skoonmaak daarvan.  Die ware Weg is ‘n pad van heiligmaking en hoe kan God ons skoonmaak as ons nie ons sondes aan Hom bely nie?  So enige kerk of leraar wat die siening het dat hulle nie oor sonde hoef te praat nie, is verseker op ’n ompad.  Op ompaaie word die leuen ook aan die mensdom geleer dat Jesus ALREEDS vir die sondes van die mens gesterf het, so jou sondes is ALREEDS vergewe, jy kan net glo in Jesus.  Ek stry nie dat God ’n God van Liefde is nie, Hy is vol vergifnis en genade vir ons, maar God is ook ’n heilige God en dit is Sy begeerte dat ons ook heilig sal leef soos Hy heilig is.  God haat sonde, want sonde bou ’n muur tussen mens en God en dit verwyder die mens van God deurdat dit die hart van die mens verduister.  Sonde moet vasgevat word.  God wil hê die mens moet sy sonde raaksien en daaroor begin heers.  As ons nie ons sonde afsterf nie, neem ons nie ons kruis op nie en as ons nie ons kruis opneem nie, is ons op die verkeerde pad.  As jou kerk jou leer dat Jesus alreeds vir jou sondes gesterf het sodat jy gered is as jy dit glo, is ek bevrees jy is alreeds saam met daardie kerk op ’n verkeerde pad.  Kerke is veronderstel om mense te lei na sondebelydenis en om ’n ware verhouding met Jesus te bou, maar die meeste lei eerder die mens om dieper in die kerk in te groei, om eerder verhouding met gemeentelede te bou as met God…  Kerke is vermaaklikheidsbyeenkomste wat slaappille aan die mense bedien wat die mensdom in ’n heerlike beswyming hou.  Kerke sus die mensdom aan die slaap deur hulle gerus te stel in hulle sonde.  Niemand is lus om te hoor dat daar straf is vir sonde nie, maar almal hou daarvan om te hoor dat al hulle sondes alreeds vergewe is en daarom is die ledetal van hierdie gewilde vermaaklikheidsbyeenkomste so hoog.  Die hartseer uiteinde van hierdie byeenkomste is die hel, want hierdie kerke lei niksvermoedende, naïewe mense reguit na die pit van die hel en die beheerder agter hierdie bose komplot, is Satan.   

Daarteenoor sal die mens op die pad van God alles in sy vermoë doen om Abba Vader te behaag, om verhouding te bou met Abba Vader en om Hom te gehoorsaam, want al wat vir hierdie mens belangrik is, is dat God oor hom sal glimlag.

“You’re blessed when you stay on course, walking steadily on the road revealed by God.  You’re blessed when you follow His directions, doing your best to find Him.  That’s right – you don’t go off on your own;  you walk straight along the road He set.  You, God, prescribed the right way to live; now You expect us to live it…”  Psalm 119:1-8 (MSG)

Moet asseblief nie die fout maak om te dink dat die groot skare mense op die regte pad is nie, want alleenlik die breë pad is breed genoeg vir skares om op te loop.  Die pad van God is smal en daar kan nie skares op een slag daarop stap nie. 

“…do not go along with the crowd, the empty-headed, mindless crowd…”  Ephesians 4:17 (MSG)  

Ons is baie vinnig om onsself te veroordeel deur te dink ons is verkeerd omdat almal om ons anders dink en optree as ons.  Dit is ’n ingebore karaktertrek van die mens om nie stroom-op te beweeg nie, maar om eerder die skare na te boots en die oorgrote meerderheid te volg.  Dit is mos baie makliker om met die stroom te beweeg as teen die stroom, maar die probleem lê in die afgronde waarheen die stroom oppad is!  Die mensdom in die stroom word so besig gehou met onbenullige, wêreldse dinge dat hulle nie agterkom dat die afgronde van die hel aan die kom is nie…  

Daar is net een ware Weg wat lei na die Bruilofsfees en dit is die Weg van die Waarheid en die Lewe.  God verwag van ons om ons lewenswandel skoon te hou en heilig te lewe:

“Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;  en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.” 1 Petrus 2:11-12  (AFR33/53)

Dit is nie moeilik om die pad van God te volg nie, want God is ons baie genadig deurdat Hy aan ons ’n Lig bied wat die pad vir ons verlig om ons te help om nie verder in duisternis te wandel nie.  Daarom is dit nie vir ons nodig om ‘n leraar of ’n kerk te volg nie, maar is ons veilig wanneer ons die pad volg wat die Lig aan ons uitwys.  Geen mens het ’n medium nodig nie!  Dit is hoekom Jesus gesterf het aan die kruis… Hy het daardeur die pad oopgemaak vir jou en vir my om direk met Abba Vader verhouding te kan hê.  Moenie dat ’n kerk of ’n leraar jou verbind aan Abba Vader nie, jy kan self ’n verbinding met Abba Vader hê en dit ontwikkel alleenlik in afsondering in ons binnekamers. 

“U Woord is ’n lamp vir my voet en ’n Lig vir my pad.” Psalm 119:105  (AFR33/53)

“Wees gehoorsaam aan die boodskap van God wat julle goed ken.  Daardie boodskap hou julle soos ’n padkaart op die regte pad en daardie pad sal julle vir altyd by God uitbring.” Jakobus 1:21 (DB) 

“Jesus het gesê:  “Ek is die Lig van die wêreld;  wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die Lig van die lewe hê.” Johannes 8:12  (AFR33/53)

As ons op die ware Weg is, hoef ons nooit bekommerd te wees dat ons sal verdwaal nie, want oral langs die pad is aanwysings wat God vir ons stel deur die Woord wat Hy aan ons bied.  Ons moet net die keuse maak om Jesus se hand te vat en Hom te volg. 

“Take me by the hand;  lead me down the path of truth…  He gives the rejects His hand, and leads them step-by-step.  From now on every road you travel will take you to God.  Follow the Covenant signs;  read the charted directions.”  Psalm 25:5,9,10 (MSG)

As ons die keuse maak om Jesus se hand te vat en die pad saam met Hom aan te durf, sal Hy ons nooit alleen los nie.  God sal almal wat Hom liefhet, wat Hom dien en gehoorsaam, se hande vat en help om die regte keuses te maak.

Moddergooiers  

Daar is baie spotters en moddergooiers langs die pad wat ons uitjou en dink ons is baie eensaam omdat ons nie deel van die skare is nie, maar die ironie van die saak is dat hulle nie vir Jesus langs ons kan sien nie.  Die moddergooiers gaan nie hou van dit wat ons sê of dit wat ons doen nie en daarom gaan hulle ons keer op keer bestook met modder.  Hulle gaan nie daarvan hou as ons ’n leuen op die naam noem nie;  hulle gaan nie daarvan hou dat ons hulle aanvat oor sonde nie;  hulle gaan nie hou van die waarheid wat uit ons monde kom nie, want die waarheid kla hulle gewete aan en die waarheid is soms bitter.  Die modder wat hulle ons mee gooi, kan in elkgeval niks aan ons doen nie, want as ons die salwing van God oor ons het, kan niks aan ons vassit nie.  Dit drup van ons af en daar sal geen teken van modder op ons wees nie.  Ons moet leer om nie te fokus op die moddergooiers langs die pad nie en ons mag hulle nooit teruggooi met modder nie.  Psalm 37 in Die Boodskap sê ons moenie eers ons energie mors om oor hulle te praat nie.  Fokus net op Jesus en die goeie dinge wat jy vir ander kan doen en Abba Vader sal jou op die regte pad hou.  Vers 12-14 van Psalm 37 sê dat slegte mense niks van God se kinders hou nie en dat die boosdoeners altyd sal probeer om God se kinders uit die weg te ruim, maar God lag vir hulle, want Hy weet hulle tyd raak min.  Hulle dag sal kom.  Slegte mense sal altyd mense wat op die regte pad is, probeer doodmaak – nie fisies nie, maar geestelik.  Saam met die moddergooiers en spotters, is daar ook baie wolwe langs die pad wat geklee is in skaapsklere – hulle is die vals profete en vals leraars wat enigiets in hulle vermoë sal probeer doen om ons te oortuig om die afdraaipaaie te kies wat ons sal teruglei na die skares.  Lees Deuteronomium 13:1-5.  Vers 5 in The Message staan vir my uit: 

“… that prophet or visionary must be put to death.  He has urged mutiny against God, your God, WHO RESCUED YOU FROM EGYPT, WHO REDEEMED YOU FROM A WORLD OF SLAVERY AND PUT YOU ON THE ROAD ON WHICH GOD, YOUR GOD, HAS COMMANDED YOU TO WALK!”   Deuteronomy 13:5 (MSG)

Vermy kortpaaie, ompaaie en breë paaie!  Nie een van daardie paaie lei deur die kruis van Jesus oppad na die korrekte ingang van die Bruilofsfees nie.  Dit is hoekom al die ander paaie maklike paaie is om te stap – die mens hoef nie te sterf aan die self nie… maar as daar nie ’n sterfte nie, is daar ook nie ’n opstanding vir die mens deur Jesus nie.  Om deur die kruis te beweeg, beteken om deur Jesus te beweeg;  dit beteken om te sterf aan die self sodat Jesus in en deur ons kan leef.  Nie een van die ander paaie kan dit aan ons bied nie. Hou Jesus se woorde in gedagte:

“Wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.  Wie sy lewe vind, sal dit verloor;  en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.” Mattheus 10:38,39 (AFR33/53)  

Klippe op ons pad

“God, your God, is testing you to find out if you totally love Him with everything you have in you.  You are to follow only God, your God, hold Him in deep reverence, keep His commandments, listen obediently to what He says, serve Him – hold onto Him for dear life!”  Deuteronomy 13:4 (MSG)

“The purpose of these troubles is to test your faith as fire tests how geniune gold is.  Your faith is more precious than gold, and by passing the test, it gives praise, glory and honor to God”   1 Peter 1:7 (GWT)

Op die pad wat ons saam met Jesus stap, is baie klippe en elke nou en dan vermaan Jesus my om nie na die klippe in die pad te kyk nie, maar my kop omhoog te hou en my oë alleenlik op Hom gevestig te hou.  Ek moes leer om nie na die klippe in die pad te kyk nie;  om glad nie daarop te fokus nie.  Aan die beginstadium van my wandel saam met Jesus op die ware Weg, het die klippe my begin ontsenu en ek het begin wonder waar hierdie klippe vandaan kom en of dit dalk Satan is wat hierdie klippe op my pad geplaas het.  Ek het met Jesus daaroor begin praat, maar Hy het aan my verduidelik dat die klippe nie deur Satan op ons pad geplaas is nie, maar deur God self.  Nog voor ons geboorte het God alreeds ons pad beplan en uitgelê, met elke klip presies op die plek waar Hy dit wou hê.  Hierdie klippe is die beproewings wat oor ons pad kom;  dit is die struikelblokke in ons lewe, die probleme en moeilike omstandighede, maar moenie mismoedig raak nie, want 1 Korintiërs 10:13 sê dat God ons nooit in die steek sal laat nie.  Hy sal ons ook nie beproef bo ons kragte nie.  Deur die klippe wat God op ons pad geplaas het, wil Hy ons omvorm na Sy wil, en hoe kan God ons omvorm na Sy beeld deur dit altyd net goed met ons te laat gaan?  Romeine 5:3-4 sê al kry ons nou baie swaar, moet dit nie ons blydskap wegvat nie, want swaarkry vorm en slyp ons om nog meer op God te vertrou.  Wanneer ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ’n sterk, Christelike karakter te vorm wat maak dat ons deur dik en dun glo dat God se nuwe wêreld op ons wag. 

Abba Vader het my deur die tyd geleer om geensins my fokus op die klippe te plaas nie, maar heeltyd my oog op Jesus te hou.  Ek moes leer om nie te fokus op die probleme in my lewe nie, want die oomblik wanneer ons op ons probleme begin fokus, ontsenu dit ons en begin ons allerhande menslike plannetjies uitdink om dit op te los.  Dan is dit die “eie ek” wat die probleem op ’n menslike vlak probeer uitsorteer en die kans is baie groot dat ons ’n groter gemors gaan maak daarvan en ons tone ten bloede teen die klippe gaan stamp.  Maar wanneer ons ons oë afhaal van die klippe en alleenlik op Jesus fokus, met Hom praat oor ons probleme en die keuse maak om die probleem aan Hom te oorhandig sodat dit opgelos kan word na Sy wil, dan sal Hy dit vir ons uitsorteer op ’n Goddelike manier wat altyd die regte manier is.  Ons bid:  “Laat U wil geskied”, maar laat ons regtig ons probleme en omstandighede in die hand van Abba Vader?  Laat ons God regtig toe om ons probleme op Sy manier op te los?  Ons vra Hom dat Sy wil moet geskied, maar tog prewel ons ook hier onderlangs wat ons graag wil hê.  Ons eie wil en die wil van God stem nie altyd ooreen nie, so dit vat baie van ons om met ’n opregte hart vir God te kan sê:  “Abba Vader, hier is hierdie probleem in my lewe – vir die goed of die sleg, ek sal vertrou dat dit sal geskied volgens U wil.” 

Die oomblik wanneer ons afkyk na die klippe in ons pad, is ons so intens op die probleem gefokus dat ons skoon van Jesus langs ons vergeet.  Sommige klippe is regtig groot en ons gaan sukkel om hulle uit die pad gerol te kry.  Onthou net, hierdie pad is regtig baie smal – so smal dat sommige klippe regtig die hele pad vol lê.  Die mens kan nie self so ’n groot klip uit die pad uit wegrol nie, maar wanneer ons gefokus is op Jesus en Hom vertrou, sal Hy die klip uit ons pad wegrol voordat ons ons tone stukkend stamp daarteen.  Soms faal ons en fokus ons te erg op die probleem en nie op Jesus nie;  ons probeer ons eie wil afdwing op God en op die ou end stamp ons ons tone ten bloede teen die massiewe klippe.  Dit gebeur met ons almal, maar Abba Vader sal ons nooit verlaat nie…  Wanneer ons faal en ons tone is so stukkend, sal Jesus maar net weer ons stukkende tone heelmaak… Wat ’n wonderlike genadige God dien ons!  Kyk wat sê Jakobus 1 in Die Boodskap:

Slegte dinge in jou lewe is nie altyd sleg nie  “My liewe mede-Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word.  Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees.  Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef.  Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou, kom wat wil.  So sal julle geestelike grootmense word wat weet hoe om in elke situasie reg op te tree.” Jakobus 1:2-4 (DB)

1 Petrus 1:6,7 sê daar gaan allerhande dinge in ons lewe gebeur wat nie vir ons lekker is nie, maar God toets ons geloof daardeur.  Ons moenie dat slegte omstandighede ons van stryk bring nie.  Kyk wat gebeur met goud – om die vuil en onsuiwerhede uit goud te kry, word dit in ’n warm vuur geplaas om die vuil weg te smelt.  Op hierdie manier moet ons geloof ook getoets en gesuiwer word en as ons geloof sterk bly deur moeilike tye, behaag ons God.  God het dus ’n plan met elke dingetjie wat in ons lewe gebeur.  God is nie ’n nare God wat ons aspris probeer seermaak nie.  Soms ervaar ons ’n sekere situasie as onregverdig teenoor ons en raak ons kwaad vir God omdat Hy sekere dinge toelaat in ons lewens;   soms is dit vir ons moeilik om te verstaan waar God is in die seer van hierdie wêreld, maar deur al die “trials and tribulations” moet ons net altyd onthou dat God ons probeer suiwer.  Net soos goud gesuiwer moet word deur vuur, moet ons ook gesuiwer word.   

“The purpose of these troubles is to test your faith as fire tests how geniune gold is.  Your faith is more precious than gold, and by passing the test, it gives praise, glory and honor to God.”   1 Peter 1:7 (GWT)

Ons almal sou beproewinge wou vryspring as ons kon.  Beproewinge kom nie van Satan af nie en dit is ook nie oorgedra deur die sondes van ons voorouers nie.  Mense wat dit glo, maak staat op die sny van bloedlynvloeke of ander snaakse goed om die beproewinge vry te spring, maar as ons dit doen, word ons nooit gesuiwer van ons onsuiwerhede nie!  Om bloedlynvloeke te sny, gaan in elkgeval ook nie beproewinge uit jou lewe uit “wegtoor” nie.  Beproewinge is broodnodig!  Om in ’n put gegooi te word soos Josef is soms nodig!  Kyk waar het dit Josef op die ou end laat uitkom…  Kyk wat het God deur Josef vir Sy volk gedoen omdat Josef op God bly vertrou het, maak nie saak deur watse sleg hy moes gegaan het nie.  Hy het nie vir Satan die skuld gegee en om elke hoek en draai vir Satan probeer wegjaag uit sy omstandighede nie;  hy het ook nie die skuld op sy bloedlyne gepak en bloedlynvloeke probeer sny sodat sy omstandighede moet verander nie.  Hy het net op God bly vertrou en dit is wat ons ook moet doen wanneer ons die klippe op ons pad teëkom.  Op daardie tydstip is dit baie sleg en vra ons baie vrae aan God, want baie keer voel Hy so ver van ons.  Dit voel asof Hy ons nie wil help nie, maar dit is glad nie die geval nie.  God sal ons nooit verlaat nie, Hy laat alles gebeur met ’n doel.  Dit is juis daardie moeilike tye wat ons moet leer en fokus om op God te vertrou.  Hebreërs 12:5-6 leer ons ook dat ons nie moet tou opgooi as God ons teregwys op ons foute deur soms bietjie hard op te tree teenoor ons nie.  Hy doen dit omdat Hy ons liefhet, net soos ons ook ons eie kinders tugtig wanneer hulle stout is.   

Die klippe op ons pad is juis daar geplaas om die vals en ware bekeerdes van mekaar te skei (met ander woorde, die ware en vals volgelinge), want die vals volgelinge of vals bekeerdes gaan nie die klippe in die pad kan hanteer nie.  Onthou net, hulle het gekies om na die Bruilof toe te gaan vir voorspoed, sodat dit met hulle goed moet gaan, om die Fees te gaan geniet en feeskos te eet;  hulle het nie die prys wat dit kos om die Weg van God te volg, in berekening gebring nie.  Hulle gaan nie hou van die verwerping en moddergooiery van die wêreldlinge nie.  Hulle gaan nie daarvan hou om hulle lewe op die spel te plaas en alles oor te gee aan God nie.  Hulle gaan nie hou van die probleme wat op hulle wag nie en daarom gaan hulle vinnig ’n afdraaipad soek wat teruglei na die makliker paaie wat lei na die Fees.  Hulle gaan die pad soek wat sonder klippe is!  Sommige mense gaan God blameer as ’n slegte God wat net slegte goed in ’n mens se lewe wil laat gebeur, want hulle besef nie God wil ons suiwer van onsself nie.  Die klippe toets dus die hartsmotief van die mens en vals bekeerdes sal dit nie slaag nie.  Beproewinge toets die beproefdheid van ons geloof (1 Petrus 1:7).  Die klippe op die pad is daar geplaas om die koring en die kaf van mekaar te skei. 

God doen net goed aan jou, maar gebruik tog die slegte om jou te toets “Die Here gebruik slegte of moeilike dinge in ons lewe om te kyk of ons lojaal aan Hom gaan bly.  Ware geluk is om dié toets met vlieënde vaandels te slaag.  God noem sulke mense wenners in die lewe.  Hy sal hulle deel van sy familie maak.  Hulle sal vir altyd by God kan bly omdat hulle deur hulle optrede gewys het hoe lief hulle Hom het.  Een fout moet ons egter nie maak nie.  Ek kan nie sê dat God die Een is wat al die slegte dinge oor my bring net om my te toets nie.  Met sulke speletjies hou God Hom nie op nie.  Dit is nie asof die een of ander bose mag God aan sulke toetse kan onderwerp of dat God mense daaraan onderwerp nie.  Nee, dinge wat ’n geestelike stryd in jou lewe veroorsaak, is jou eie skuld.  Die mens begin aan allerhande verkeerde dinge dink en wil dit dan net doen.  Soos ’n kind wat agter ’n skoenlapper aanhardloop, lok die verkeerde gedagtes die persoon al hoe dieper die moeilikheid in.  Dan word jou Christenskap voor ’n toets gestel.  Jy moet kies.  As jy kies om op die verkeerde pad aan te gaan, sal jy later nie net oor die verkeerde dinge dink nie, maar dit ook begin doen.  En hoe meer jy dit doen, hoe meer sal jy dit wil doen.  So werk die sonde met ’n mens.  Dit is die pad na die afgrond, die afgrond van godverlatenheid en die dood.  Liewe broers en susters, moenie toelaat dat mense julle allerhande stories hieroor vertel nie.  God het niks slegs in Hom nie.  Hy is ook nie die een dag in ’n goeie bui en die volgende dag in ’n slegte bui nie.  Hy bly altyd dieselfde.  Hy het alles gemaak, ook die sterre in die hemel.  Dit is ook Hy wat goeie dinge met julle laat gebeur.  As sulke mooi dinge met julle gebeur waaroor julle maar net kon droom, moet julle weet:  dit kom van God af.” Jakobus 1:12-17  (DB)

Alhoewel God beproewinge in die vorm van klippe oor ons pad brind, kan ons ook nie sê dat dit God is wat ALLE slegte dinge oor ons bring nie, want baie van die slegte goed wat in ons lewe gebeur, bring ons oor onsself deur ons eie sonde.  Ek gaan nie nou hieroor uitbrei nie;  daar is ’n boek waaraan ek skryf wat handel oor ons lewensboeke wat net oor hierdie onderwerp gaan, maar om dit vinnig op te som… Wanneer ons die besluit maak om eerder ons eie wil te gehoorsaam as die wil van God, skep ons vir onsself vervloekte omstandighede en dan gaan ons maai wat ons gesaai het.  Dit is dan nie God wat dit oor ons gebring het nie, maar dan het ons dit oor onnsself gebring deurdat ons toegegee het aan versoekings…

Versoekings

Daar is ’n groot verskil tussen beproewing en versoeking, en dit kom ook vanaf verskillende bronne.  Ons weet nou beproewinge is klippe wat God op ons pad geplaas het:  Eerstens om vals volgelinge van ware volgelinge te onderskei en tweedens gebruik God die beproewinge om ons te suiwer van onsself en ons te leer om in elke situasie net op Hom te vertrou.  Versoekings is nie klippe op ons pad nie, dit is goed wat Satan gebruik om die mens te lok om sonde te doen, so Satan versoek ons om te sondig.  God sal ons nooit versoek nie.  Dit is die mens se verantwoordelikheid om die versoekings van Satan te kan raaksien en te kan teëstaan, maar ons kan dit alleenlik teëstaan deur die krag van God.  Jesus moet in en deur ons leef en ons in staat stel om dit te kan teëstaan.  

Aan die begin van tye het Satan vir Eva versoek met ’n heerlike vrug en sy het die keuse gemaak om eerder haar eie wil te gehoorsaam, pleks van die wil van God.  Dit het hulle duur te staan gekom, want dit het veroorsaak dat hulle nie meer verhouding met God kon hê en in die tuin van Eden kon woon nie.  In Genesis 3 sê God vir Kain dat die sonde altyd voor sy deur sal lê en na hom sal bly loer, maar dit is sy verantwoordelikheid om daaroor te heers.  Net so lê en loer die sonde altyd voor ons deur, maar dis elkeen se eie verantwoordelikheid om deur die krag van Jesus daaroor te heers.  Dit is ook die mens se eie verantwoordelikheid om ’n naby verhouding met God te hê sodat ons onderskeiding van God kan ontvang en ons die versoeking van Satan kan raaksien en teëstaan.  

Sien julle die verskil tussen beproewing en versoeking?  Beproewing kom van God af, maar versoeking kom van Satan af.  Satan het selfs vir Jesus versoek om sonde te doen toe Jesus uit die woestyn gekom het, maar wat het Jesus gedoen?  Hy het die vyand prontuit teëgestaan met die Woord van God.  Hy het nie ’n bekgeveg en vreeslike oorlogsverklaring teen Satan opgedis nie.  Jesus het Sy Vader so goed geken dat Hy dadelik geweet het dat Satan Hom leuens probeer voer om Hom in sy mag te kry.  Wat het Jesus gedoen?  Hy het Satan teëgestaan met die Waarheid uit die Woord en ons moet die voorbeeld van Jesus volg.  Dit is nie vir ons nodig om Satan met vreeslike oorlogvoering teë te staan en hom weg te jaag om elke hoek en draai nie, want hy en sy werkers is in elkgeval oral!  Die Woord leer nie vir ons om dit te doen nie, maar wanneer hy ons versoek, kan ons die vrug wat hy aan ons probeer bied, ignoreer en weier.  Daarvoor moet ons die Woord van God baie goed ken, want dan sal ons dadelik ‘n versoeking van Satan kan raaksien.  Dit is so belangrik om te kan onderskei tussen die stem van God en die versoeking van Satan, want hy is soos ’n engel van die lig wat alles van God naboots.  As ons alles toets aan die Woord van God, kan ons nie verkeerd gaan nie.  Lees asseblief Hebreërs 12:1-17. 

Daar is baie mense met die opinie dat daar niks in ’n mens se lewe kan foutgaan as ons op die pad van God is nie.  Hierdie is ’n baie naïewe siening en dit kom nie ooreen met die Woord van God nie.  Hulle sien hulleself as die heiliges waarmee niks verkeerd kan loop nie en verhef hulleself bo diegene wat teëspoed ervaar.  Hulle hou glad nie in berekening dat God wel dinge in ons lewe kan laat gebeur om ons te suiwer nie.  Al is ons op die pad van God, kan daar nogsteeds dinge in ons lewe skeefloop.  Dink bietjie hieroor:  Het dit altyd goed gegaan met Jesus?  Het Hy ’n pad van uitsonderlike sukses en voorspoed gestap?  Nou hoekom dink die mens dat hy altyd ’n lewe van voorspoed en sukses gaan lei deur Jesus te volg?  As ons in Jesus se voetspore volg, gaan ons dieselfde pad as Jesus stap.  As daar nie beproewinge of klippe op ons pad is nie, moet ons eintlik bekommerd raak en wonder of ons wel op die pad van God is…

As God beproewinge oor ons pad bring in die vorm van klippe, wat gaan dit ons help om vir Satan die skuld te gee daarvoor?  As God bepaal het dat die klippe op ’n sekere plek in ons lewenspad moet wees, gaan dit ons mos niks help om oorlogvoering teen Satan toe te pas en die klippe uit ons pad te probeer “toor” nie?  Dan tree ons mos teen God se wil op, want God se plan met die klippe is om ons te suiwer.  Hy wil ons leer om elke ding wat in ons lewe gebeur, in Sy hand te plaas en Hom te vertrou… so om beproewinge (klippe) aan te spreek in ons lewe, gee vir Satan rede om te giggel langs die pad, want hy weet as ons nie die klippe kan oorkom en leer om dit in die hand van Abba Vader te plaas nie, ons dit op die wêreld se manier gaan probeer uitsorteer… wat ook Satan se manier is.  Dan kry hy maar net weer die oorhand oor die mens…  

Daar is sekere sondes en maniere in elkeen van ons se lewens wat God graag wil hê ons moet oorkom;  daar is sekere sondes waaroor ons moet heers deur die krag van God en dit is wat God ons probeer leer.  In Hebreërs 12 sê God ook ons het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in ons stryd teen die sonde nie, met ander woorde, ons moet heers oor sonde.  Om vir Satan die skuld vir alles te gee en ’n vreeslike geveg met hom op te sit, is ’n vermorsing van tyd en energie.  Die tyd wat ons spandeer om in geestelike boeke te leer oor oorlogvoering en die manier om dit uit te rig, is tyd wat ons eerder by die voete van Abba Vader kon spandeer sodat Hy ons kan leer om op te staan teen die sonde in onsself.  God maak ons sterker deur ons voller te maak van Homself.  ALLES gaan oor ’n persoonlike verhouding met Abba Vader!  Dan sal Hy ook aan ons onderskeidingsvermoë gee om te kan onderskei tussen beproewinge en versoekings.

Om hierdie gedeelte op te som… elke klip op ons pad is deur God met ’n doel daar geplaas.  Elke klip gaan jou antwoord op die vraag:  “Hoekom volg jy Jesus?” toets.  As jy die uitnodiging onderteken het met welvaart in gedagte, het jy met die verkeerde hartsmotief die uitnodiging onderteken, want dan gaan jy elke klip op jou pad haat en vir God kwaad raak daaroor…  Dit is mos nie hoekom jy besluit het om Hom te volg nie… jy het besluit om Sy Naam aan te roep en Hom te volg sodat dit moet goedgaan in jou lewe, nie sodat daar nóg slegte goed moet gebeur nie!  Die mens met hierdie gedagtegang en vals hartsmotief is op die pad van God net om Sy goedheid te misbruik.  Hy verskil geensins van die vals volgelinge van Johannes 6 nie.  Niemand gaan God flous nie en vals volgelinge se uitnodigings sal ook nie gestempel word met die Gees van God nie.  Verstaan julle hoekom God klippe op ons pad moet plaas?  Hy moet die vals en ware volgelinge van mekaar skei.  Die vals volgelinge gaan net soos die skare in Johannes 6 omdraai en wegloop, hulle gaan die pad van God verlaat en teruggaan na die breë paaie waar die wêreld hulle aanvaar.  Nog ’n rede hoekom God klippe op ons pad plaas, is om ons te suiwer van al ons onsuiwerhede en om ons te leer om op Hom te vertrou.  Op so ’n manier help God ons om die self af te sterf, want as ons nie die self afsterf nie, kan ons nooit by die Bruilofsfees ingaan nie.

Volgeling van Jesus

“My vertroue in die Here is nie afhanklik daarvan dat dit met my goed gaan nie.  Al dra die vyeboom nie vye nie en is daar nie druiwe aan die wingerd nie;  al misluk die olyfoes en lewer die landerye geen oes op nie;  of al vrek die skape en die beeskrale is leeg, sal ek die Here met n hart vol blydskap dien.” Habakuk 3:17 (DB) 

Ons moet baie versigtig wees om nie dieselfde fout te maak as die mense van Johannes 6 nie.  Hulle het Jesus gevolg, maar om die verkeerde redes:  Dit het glad nie oor Jesus gegaan of dat Hy die Seun van God is nie, dit het alleenlik oor hulleself gegaan.  Hulle wou fisies brood hê, hulle wou genesing hê, hulle het die hand van God gesoek en nie die hart van God nie.  Hulle is soos die mense wat die uitnodiging na die Bruilofsfees onderteken, nie met die oog op Jesus nie, maar met die oog op die self en wat hulle daaruit kan kry…  

As jy Johannes 6 lees, sal jy sien ’n groot skare mense het Jesus opgesoek en Hom gevolg omdat hulle gehoor en gesien het hoe Hy siekes genees.  Jesus het die honger mense jammer gekry en aan hulle wonderbrood en vis gegee om hulle fisiese honger te stil.  Daardie dag en nag het die woord baie vinnig versprei tussen die mense in die dorpie oor die Man van Nasaret wat mense genees en ook vir hulle brood en vis gegee het, met die gevolg dat die skare mense nog groter was die volgende dag.  Hulle het sommer al vroegdag na Jesus begin soek – nog meer siek mense wat hoop op genesing, nog meer fisies honger mense wat kos soek… miskien kan Hy weer aan hulle brood gee om hierdie dag se honger te stil…  miskien kan Hy hulle vandag genees…  Toe Jesus sien die skare volgelinge is nog groter as die vorige dag, vra Hy reguit vir hulle hoekom hulle Hom volg?  Hy weet hulle volg Hom nie oor wie Hy is nie, maar vir wat Hy vir hulle kan gee en doen…

“Waarom doen julle al die moeite om My so te volg?  Dit is definitief nie omdat julle God in My dade raakgesien het nie.  Nee, julle doen dit maar net omdat Ek vir julle kos gegee en julle lekker geëet het.”  Johannes 6:26 (DB)

 “You’ve come looking for Me not because you saw God in My actions but because I fed you, filled your stomachs – and for free.”  John 6:26 (MSG) 

 Jesus het geweet die mense se hartsmotief was vals en daarom het Hy daardie dag nie weer aan hulle wonderbrood gegee nie, maar het Hy Homself aan hulle as die Brood van die Lewe gebied waarop hulle moet voed en waarin hulle moet glo…en wat het gebeur?  Omtrent die hele skare het hulle rug op Hom gedraai en weggeloop.  Skielik het Jesus nie meer so baie volgelinge gehad nie…

Dit is vir my baie hartseer om so daaroor te dink:  Jesus is die Woord,  Hy is die Brood wat uit die hemel neergedaal het aarde toe.  God het Sy Seun direk uit die hemel gestuur sodat die mense aan Hom kon raak, Hom fisies kon sien, Hom fisies kon hoor… wat ’n massiewe groot voorreg het hulle nie gehad nie, maar al wanneer hulle egter bereid was om Jesus te volg, was wanneer Jesus bereid was om in hulle vleeslike behoeftes te voorsien.  Hulle wou nie in Hom glo as die Brood van die Lewe nie en hulle wou nie glo dat hulle moes voed op Hom nie.  Nee, hulle wou net Sy wondertekens beleef as dit vir hulle iets sou beteken – as dit hulle kon genees of as dit hulle fisiese hongerte kon voed.  Hulle het Jesus net gevolg vir wat hulle daaruit kon kry… ’n spul vals volgelinge. 

Enige iemand kan Jesus volg, want enige iemand kan met die mond bely om ’n bekeerde volgeling van Jesus te wees.  Net so maklik kan enige iemand die keuse maak om die uitnodiging na die Bruilof te onderteken, maar wat is die mens se onderliggende motief?  In Jesus se tyd het die skare volgelinge van Jesus in ’n oogwink gegroei tot ’n massiewe skare van ’n paar duisend mense.  Is dit omdat hulle in Hom geglo het?  Nee, dis omdat hulle deel wou hê aan Sy wonderwerke.  Die oomblik toe Hy nie wonderwerke vir hulle doen nie, maar vir hulle verduidelik dat hulle in Hom moet glo, het die skare van ’n paar duisend volgelinge gekrimp tot ’n skrale twaalf ware volgelinge. 

Hoeveel volgelinge het Jesus vandag?  Mense wat met die mond bely om te glo in Jesus omdat hulle so geleer en so grootgemaak is…  Mense wat met die mond getuig om te glo in Jesus met die hoop dat daar dan in hulle fisiese behoeftes voorsien sal word…  Mense wat in hulle finansies, huwelike, gesondheid of watter deel van hulle lewe ookal hulp nodig het en dan skielik ’n volgeling van Jesus word met die hoop dat Hy in hulle fisiese behoeftes sal voorsien?  Wat as Jesus van hulle vra om eers hulle rug op die wêreld en sonde te draai, om op Hom te begin voed en hulle totale lewe in Sy hand te plaas?  Hoeveel ware volgelinge van Jesus gaan dan agterbly?  Ook ’n handjie vol?  

Daar is in vandag se tyd ook baie volgelinge wat geen ware liefde vir Jesus het nie, maar Hom volg vir die verkeerde redes.  Dit is diegene wat die uitnodiging na die Bruilof onderteken met die oog op hulle eie welvaart.  Hulle oog en fokus is nie op Jesus nie, maar op hulle eie behoeftes en begeertes;  hulle steur hulle nie aan dit wat God van hulle vra nie, hulle fokus net op dit wat hulle van God vra.  Hulle probeer Jesus afbring en Hom een maak met die self, pleks van om een met Hom te word.  Ons moet eerstens in die hart van Abba Vader ingroei en nie Hy in ons in nie.  Wanneer ons in Hom ingroei, dan sal Hy ook in ons ingroei.  Ons moet met Abba Vader en Sy planne saamsmelt, Hy moenie met ons en ons planne saamsmelt nie.  Dit is so belangrik dat elkeen van ons selfondersoek doen voor die voete van Jesus en mooi besin oor die redes hoekom ons Jesus volg en hoekom ons die Bruilofsfees wil bywoon…  Hoekom het ons die uitnodiging na die Bruilofsfees onderteken?  

Jesus het die skare volgelinge se geloof in Hom getoets deurdat Hy die volgende dag nie aan hulle kos voorsien of hulle genees het nie en wat het gebeur?  Hulle het omgedraai en weggeloop!  As Jesus nie in hulle fisiese behoeftes wou voorsien nie, wou hulle Hom ook nie verder volg nie, dus het hulle net met die mond geglo Hy is die Seun van God vir die voordele wat hulle daaruit kon kry.  Dit is verskriklik!  Het hierdie mense waarlik in Jesus geglo?  Geensins!  Het hulle Hom gevolg vir die ware Koning wat Hy is?  Glad nie!  Het hulle Hom gevolg uit liefde vir Hom of uit liefde vir hulleself?  G’n wonder Jesus sê geen mens kan die Koninkryk van God binnegaan as hy nie eers gesterf het aan homself nie, want eers wanneer ons gesterf het aan die self, is die self nie meer so belangrik nie en kan ons ons fokus instel op Jesus.    

As God vandag of vir ’n bepaalde tyd jou geloof toets en nie in jou fisiese behoeftes voorsien nie, gaan jy Hom nogsteeds sien as goed?  Gaan jy nogsteeds in Jesus glo en Hom volg?  Gaan jy nogsteeds die Bruilofsfees wil bywoon?  Of gaan jy maak soos die skare mense in Johannes 6 en jou rug op Hom draai en ’n beter heenkome soek?  Gaan jy nogsteeds kan sê:  

“My vertroue in die Here is nie afhanklik daarvan dat dit met my goed gaan nie.  Al dra die vyeboom nie vye nie en is daar nie druiwe aan die wingerd nie;  al misluk die olyfoes en lewer die landerye geen oes op nie;  of al vrek die skape en die beeskrale is leeg, sal ek die Here met n hart vol blydskap dien.” Habakuk 3:17 (DB)

Wanneer die mens met die mond bely om in Jesus te glo en Hom te volg, het hy die uitnodiging na die Bruilofsfees onderteken, maar die uitnodiging is nog nie gestempel met die Gees van God nie, want daar is eers ’n pad van geloof en heiligmaking om te stap saam met Jesus voordat God ons uitnodiging stempel.  Diegene wat net met die mond bely om in Jesus te glo, sal nie die pad kan volhou nie, want hulle sal nie die toetse kan deurstaan nie.  Alleenlik hulle wat met die hart in Jesus glo, sal Hom enduit kan volg en alleenlik hulle uitnodigings sal gestempel word met die Gees van God.  Hulle is die ware volgelinge van Jesus wat Hom nie volg net om wondertekens te sien en te beleef nie, maar omdat hulle in Hom glo.  Hulle volg Hom nie met bose bymotiewe of om te sien hoe voorspoedig dit met hulle kan gaan nie.  Hulle volg Jesus uit liefde vir Hom! 

Mense wat dink hulle gaan Jesus volg vir voorspoed, maak ’n groot fout, want Jesus sê in Mattheus 16:24-28 dat dit glad nie so maklik is om ’n ware volgeling van Hom te wees nie.  As mense Hom waarlik wil volg, moet hulle hele lewe daarvan getuig en nie net ’n gedeelte van hulle lewe nie, met ander woorde, nie net Sondae wat ons in die kerk sit nie;  nie net daardie kort tydjies van die dag wat ons gou Bybel lees om ons gewete te sus nie…  Ons moet bereid wees om ons hele lewe vir Abba Vader te gee.  Dit beteken om die voorbeeld van Jesus te volg en jou kruis te dra na die plek van teregstelling.  Iemand wat net vir homself wil lewe of vir Jesus wil volg vir sy eie gewin, sal sy lewe verloor en in die doderyk beland. 

“Toe sê Jesus vir Sy dissipels:  ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor;  maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind’.”  Mattheus 16:24,25 (AFR33/53) 

Jesus sê in Lukas 14 ons moet mooi dink voordat ons die keuse maak om Hom te volg, met ander woorde, ons moet mooi dink voor ons die uitnodiging na die Bruilofsfees onderteken, want die regte pad na die Bruilof is nie altyd so maklik nie.  Ons moet regtig eers mooi dink of ons waarlik kans sien vir alles wat voorlê, want alles wat die mense aan Jesus gedoen het, sal hulle aan ons ook doen.  Moenie dink dis ’n maklike pad waar jy deur almal aanvaar gaan word nie.  Dan het jy die verkeerde persepsie oor die Weg van God.  Lees asseblief Mattheus 10:16-42 waar Jesus Sy dissipels waarsku, en dit tel vir ons ook…

Nadenke… Wat gaan jou antwoord en reaksie wees as Jesus vir jou vra hoekom jy Hom volg?  Wat gaan jou reaksie wees as Jesus jou antwoord toets deur beproewinge op jou pad te plaas?  Wat as Abba Vader nie in jou fisiese behoeftes voorsien nie?  As dit vir jou geen voordeel inhou nie?  Gaan jy nogsteeds een van Sy volgelinge wees?  Gaan jy nogsteeds die uitnodiging na die Bruilofsfees onderteken?  Ons kan nie ons hartsmotiewe vir Hom wegsteek nie, Hy weet wie Hom volg vir dit wat hulle daaruit kan kry en wie Hom volg uit ware liefde.  Hoekom volg jy Jesus?

Dit kos ’n hoë prys om ’n volgeling van Jesus te wees “ Jesus was teen daardie tyd so bekend dat ’n groot skare agter Hom aangestap het.  Op ’n dag het Hy vir hulle almal gesê:  ‘Dink julle regtig dat dit so maklik is om een van My volgelinge te wees?  Wel, kom Ek sê reguit vir julle, as jy meer omgee vir jou ouers of vir jou vrou of jou kinders of vir  enigiemand anders, moet jy nie eens probeer om agter My aan te kom nie.  As jy My wil volg, moet jy alles wat vir jou baie belangrik is, laat staan.  Stel dit tweede.  So nie, bly dan weg!  Ek moet die belangrikste van alles in jou lewe wees.  En dit is baie moeilik.  Ja, dis so moeilik soos om jou eie doodsvonnis te onderteken.  Om My te volg, moet jy maak soos iemand wat die doodsvonnis opgelê is:  Jy moet jou kruis optel en agter My aanstap.  As jy nie daarvoor kans sien nie, bly liewer weg.” Lukas 14:25-27 (DB)

Bekering

“Maar selfs nou nog, spreek die Here, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag.  En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil;  wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy ’n seën sal agterlaat — ’n spysoffer en ’n drankoffer aan die Here julle God. Joël 2:12-14 (AFR33/53)

In Handelinge 2 wou die skare mense weet wat hulle moes doen om deel te hê aan die Koninkryk van God, met ander woorde, hulle wou weet wat hulle moes doen om die Bruilof van die Seun van God by te woon.  Petrus antwoord hulle:

“Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” Handelinge 2:38 (Afr. 33/53) 

Petrus het die mense geleer dat hulle tot bekering moet kom en gedoop moet word.  Bekering begin by ’n keuse.  Dit is ‘n keuse wat ons maak om ons rug op ons ou lewenswyse, die wêreld en sonde te draai en Jesus te volg op die ware Weg.  Dit is ’n keuse wat ons maak of ons WIL breek met ons lewenswyse en ons sondes, en wanneer ons die keuse maak met die regte motief in die hart, maak ons die keuse om die uitnodiging na die Bruilofsfees te onderteken of nie.  

Joël 2 sê om tot bekering te kom, beteken ons moet ons manier van lewe totaal verander en terugdraai na God.  Ons moet ware berou hê oor ons sondes en oor die mens wat ons is of was.  Dit is belangrik dat hierdie berou uit ons harte sal kom en dat ons nie net volgelinge van mense is en met die mond sê ons het berou omdat dit die “regte” ding in die oë van die wêreld of kerk is nie.  Dit help nie ons wil ons klere skeur en as op ons koppe gooi as teken dat ons berou toon nie, want dit is net van buite, maar ware berou kom uit die hart – die hart moet geskeur word.  As ons berou opreg is, sal ons uit die diepte van ons hart regtig sleg voel oor ons verlede en sal ons regtig WIL verander.  Daar sal ’n begeerte in ons hart wees om te sterf aan die self.  Daarteenoor het mense met vals berou eintlik geen begeerte om te verander nie.  Hulle wil tot bekering kom om Jesus te volg tot voordeel van hulleself en hulle eie lewe (en dalk om die ewige lewe te bekom), maar hulle is nie bereid om hulle ou lewe agter te laat en hulle hart en lewe aan God te offer nie.  Hulle onderteken die uitnodiging na die Bruilofsfees, maar sonder ware berou… As daar nie ware berou is nie, is dit ook nie ware bekering nie.  Dit is die uitnodigings wat onderteken is, maar nie gestempel word nie. 

Vrugte van bekering

As jy Mattheus 3 lees, sal jy sien Johannes sê dat ons vrugte van bekering moet dra.  Mense het na hom toe gestroom waar hulle hulle sondes bely en dan gedoop is deur hom.  Johannes vermaan die mense om hulle lewens radikaal te verander, want God se nuwe wêreld is op hande – BEKERING GAAN GEPAARD MET VERANDERING.  Daar het ook baie Fariseërs en Sadduseërs na hom gegaan om gedoop te word, maar hy het vir hulle  gesê:

“Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?  Dra dan vrugte wat by die bekering pas.” Mattheus 3:7  (AFR33/53)

Johannes verduidelik aan die mense dat hulle eers tot bekering moet kom voordat hy hulle doop.  Hulle moet eers vrugte van bekering dra, met ander woorde, bekering moet in die lewe van die mens gesien kan word.  Die Fariseërs en Saduseërs het nie waarlik tot bekering gekom nie, maar wou gedoop word om veilig te speel.  Net soos in die tyd van Johannes, is dit in vandag se tyd…  Daar is mense wat uit die hart tot bekering kom en wat waaragtige sondebelydenis toon, wat regtig hulle ou lewe wil agterlaat en wat dit uit hulle hart bedoel as hulle vir God vra om hulle te verander.  Daarteenoor is daar mense wat net met die mond tot bekering kom om veilig te speel, om die ewige lewe te bekom of om nie in die hel te beland nie.  Hulle het nie ware en opregte sondebelydenis uit hulle harte nie, maar nogsteeds stroom hulle ook na die doopwater… sonder vrugte van bekering.  Hulle is nie regtig bereid om hulle ou lewe agter te laat nie en hulle gaan ook nie maklik saamwerk sodat God hulle verander nie.  Hulle wil graag die Bruilofsfees bywoon, maar om die verkeerde redes.  Gaan hulle toegelaat word by die Bruilofsfees, dus in die Koninkryk van God?  Word hulle uitnodigings gestempel?  Dit bring my by dit wat Jesus geleer het…

Jesus onderrig Nikodémus aangaande die wedergeboorte. “Daar was ’n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ’n owerste van die Jode.  Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê:  ‘Rabbi, ons weet dat U ’n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.’  Jesus antwoord en sê vir hom:  ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.’  Nikodémus sê vir Hom:  Hoe kan ’n mens as hy oud is, gebore word?  Hy kan tog nie ’n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?   Jesus antwoord:  ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.  Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.  Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie.  Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” Johannes 3:1-8 (AFR33/53)

Jesus leer die mense dat daar net een manier is om die Koninkryk van God binne te gaan en dit is deur wedergeboorte.  Is bekering en wedergeboorte dieselfde?  Glad nie!  Bekering begin by ’n keuse en is dan ’n proses van suiwering en heiligmaking.  Dit is ’n proses waar die Woord van God ons sondes aan ons openbaar sodat ons dit kan erken en bely aan Abba Vader sodat Hy ons daarvoor kan vergewe.  Ons moet deur die krag van Jesus die keuse maak om die sonde te laat staan en nie weer terug te keer daarheen nie.  Soos ons ons sondes agterlaat, werk Abba Vader al hoe meer in ons en dit is wat ons verander en ons in staat stel om vrugte van bekering te dra.  As daar geen verandering in ons is nie, is daar geen vrugte van bekering nie, wat beteken ons het tot vals bekering gekom.  Vals bekeerdes gaan nie omgee om hulle sondes te laat staan nie, dit kan hulle nie pla om heilig voor God te leef nie.  Hulle het die uitnodiging onderteken vir welvaart in hulle eie lewe, nie om God te behaag nie.  Hulle het geen ware berou oor hulle lewe nie en hulle weier ook om hulle sondes raak te sien en te erken.  Hulle pak altyd die skuld op iemand anders, want hulle kan kwansuis niks verkeerd doen nie.  Hulle is nie bereid om die ou, sondige, vleeslike mens af te sterf nie  Hulle is met die verkeede hartsmotief oppad na die Bruilofsfees, maar dit sal nie ongesiens verbygaan nie, want God stempel nie die uitnodigings van diegene wat geen ware berou het nie, dus sal hulle ook nie toegelaat word tot die Bruilofsfees nie.  Sonder ware berou, kan die ou, sondige vleeslike mens nie geestelik sterf nie en sonder ’n sterfte kan daar nie wedergeboorte plaasvind nie.  Sonder wedergeboorte, is die persoon verlore. 

Die pad van bekering is ’n moeilike pad om te stap en vals bekeerdes hou nie van ’n moeilike pad nie.  Dit is hier waar Abba Vader die toestand en motief van ons harte toets… was ons hartsmotief opreg toe ons die uitnodiging na die Bruilofsfees onderteken het of nie?  Volgens die bevinding van Abba Vader, sal ons uitnodiging gestempel word met die Gees van God… of nie.  God gaan toets of ons met die mond tot bekering gekom het, en of ons met die hart tot bekering gekom het.  Alleenlik hulle wat met die hart tot bekering gekom het, sal op God se tyd gestempel word met die Gees van God.  

Om die stempel van God op ons hart te ontvang, moet ons hart in Sy hand wees en dit beteken ons moet ons hart offer aan God.  Daar is baie mense wat beweer om bekeer te wees, maar nie bereid is om hulle lewe en harte aan God te offer nie.  Hulle wil nog hulle eie wil volg en nie hulle eie wil oorhandig in die hand van Abba Vader nie.  Vals bekeerlinge kom alleenlik met die mond tot bekering;  hulle hart is nie deel van die proses nie, en as hulle hart nie deel is van die proses nie, hoe kan daar iets in hulle geeshart gebeur?  Om jou te laat doop, is ook nie die antwoord om gestempel te word met die Gees van God nie, want daar is geen magiese werking aan die doopwater wat dit in staat stel om vir iemand die merk of die Gees van God te gee nie.  Daarom glo ek nie dat elke persoon wat met water gedoop word, die Heilige Gees ontvang nie.  Ons kan nie God en Sy werke in ’n boksie plaas nie, want God kan Sy Gees aan ’n mens skenk nog voor ons met water gedoop is, of eers ’n ruk nadat ons met water gedoop is, maar God skenk Sy Gees aan die mens op Sy tyd – wanneer Hy weet die tyd is reg vir die mens om Sy Gees te ontvang!  God het immers nie die doopwater nodig om ’n mens te vul met Sy Gees nie. Hierdeur sê ek nie dit is verkeerd om gedoop te word nie, want ek glo dat ons gedoop moet word wanneer ons die keuse gemaak het om ons ou lewe agter te laat.  Tesame met die doop, moet ons ons harte in die hand van Abba Vader plaas. 

Opgesom, dit is baie maklik vir ons om met woorde te sê ons het tot bekering gekom.  Net so is dit baie maklik vir ons om die uitnodiging na die Bruilofsfees te onderteken, maar as ons hart nie deel is van die proses nie, tel dit vir ons niks.  Ons dade sal getuig of ons hart deel daarvan is of nie…  Wat sê ons lewe?  Wat sê ons dade?  Dra ons vrugte van bekering?  Om tot bekering te kom, beteken ons het die uitnodiging na die Bruilofsfees onderteken, maar dis nie te sê die uitnodiging is gestempel met die bloed van die Lam nie.  Alleenlik die ware bekeerdes, hulle wat berou uit die hart het, wat bereid is om hulle ou lewe agter te laat en hulle harte aan God te offer, se harte sal gestempel word met die merk van God.  Hulle sal welkom wees by die Bruilofsfees.  Ware bekering loop hand aan hand met ’n terugblik op die mens wat ons is;  om ons foute, sonde en tekortkominge te kan raaksien en neer te val voor die voete van Abba Vader… om ons sondes aan Hom te bely en Hom te smeek vir vergifnis.  Die mens kan tot vals bekering ook kom deur met die mond te getuig om in Jesus te glo, maar ware bekering gaan altyd gepaard met ’n begeerte om te verander en om God te behaag.  Vals bekeerdes sien nie die kwaad in hulleself raak nie en het nie ’n begeerte om te verander nie.  Ons moet ook net altyd onthou dat ons nie onsself kan verander nie;  alleenlik God kan ons van binne af verander wanneer  ons bereid is om ons hart en lewe in Sy wonderbare hande te plaas.  Diegene wat nie bereid is om hulle totale lewe in die hand van God te plaas nie, is vals volgelinge… 

“…Gee julle hele lewe aan Hom.  Julle moet lewende offers in God se Hand wees.  ’n Lewe wat voltyd afgesonder is vir Hom is presies waaroor godsdiens gaan.  Moenie tuis raak in hierdie wêreld met al sy boosheid nie.  Nee, laat God julle van binne af nuutmaak.  Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet wat Hy van julle verwag.  Dan sal julle ook weet wat Sy wil is en hoe julle julle hele lewe elke dag aan Hom moet oorgee.”  Romeine 12:1-2: (DB)

Uitnodiging na die Bruilofsfees

Hoofstuk 1

“Die koninkryk van die hemele is soos ’n koning wat ’n bruilof vir sy seun berei het en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep en hulle wou nie kom nie.  Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap:  Sê vir die genooides:  ‘Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed.  Kom na die bruilof.’  Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en ’n ander na sy handelsaak.  En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak.  Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek. Daarop sê hy vir sy diensknegte:  ‘Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof.’  En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword.  En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ’n builofskleed aan het nie.  En hy sê vir hom:  ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ’n bruilofskleed aan?’  En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars:  ‘Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.  Want baie is geroep, maar min is uitverkies.”    Mattheus 22:2-14 (DB)

Net soos die koning ’n uitnodiging stuur na die mense om hulle te nooi na die bruilof van y seun, net so nooi God elkeen van ons ook uit om deel te wees van die Bruilof van Sy Seun.  God roep elkeen van ons om saam met Hom aan die tafel te kom sit en fees te vier saam met Hom.  God rig alreeds uitnodigings aan elkeen van ons en Hy doen dit op verskeie maniere – soms laat gebeur Hy slegte goed in ons lewens wat ons op ons knieë dwing en besef God roep ons;  soms stuur Hy iemand na ons met ‘n Woord van Hom af, en soms hoor jy sommer net Sy roepstem hier diep in jou hart, maar een ding is verseker:  ’n Mens weet en voel duidelik as Abba Vader jou inroep na die Feesmaal… en dan is die bal in jou hande en moet jy die keuse maak of jy die Bruilof van die Seun van God gaan bywoon of nie…  Is daar dalk nog te veel dinge van die lewe wat jy eers wil geniet voordat jy na die Bruilofsfees gaan?  Die ware Bruilofsfees waarheen Abba Vader ons nooi, sal wel eers werklik geskied met die voleinding van die wêreld, maar dan moes ons geestelik al by die Bruilofsfees opgedaag het.  Ons moet nou al gereed maak vir die Fees, net soos die tien maagde in Mattheus 25.  Vyf van hulle het in gereedheid gewag vir die bruidegom met hulle lampies vol olie, maar vyf onverstandige maagde het geen olie in hulle lampies oorgehad nie.  Hulle moes  loop om olie te gaan haal en in daardie tyd het hulle die koms van die bruidegom gemis.  Hulle het te laat by die bruilofsfees opgedaag en aan die deur geklop, maar die deurwagter het hulle nie geken nie.  Is jy gereed vir die Bruilofsfees?

JY HET ’N KEUSE!

Daar is mense wat die keuse prontuit en maklik maak om nie die Bruilof by te woon nie, maar wat eerder wil aangaan met die dinge in hul eie lewe en die wêreld.  Hulle steur hul glad nie aan die uitnodiging van God nie en dink nie eers daaraan om die uitnodiging te onderteken nie.  Jesaja 65:12 van The Message sê dit presies:

“When I invited you, you ignored Me! When I spoke to you, you brushed Me off.  You did the very things I exposed as evil, YOU CHOSE  what I hate!Isaiah 65:12 (MSG)

  Die mens het ’n keuse!  Hierdie mense kies om aan te gaan met hulle wêreldse lewe en om nie die wil van God te leef nie.  Hulle uitnodigings word nie onderteken nie, dus word dit ook nie gestempel met die seël van God nie.  Hierdie ongetekende en ongestempelde papiere word op een hoop geplaas om weggegooi te word. 

Dan is daar nog ’n stapel papiere wat deur mense onderteken is, maar tot my verbasing word hierdie dokumente ook nie gestempel met die seël van God nie.  Die dokument word ondersoek en sonder om dit te stempel, word die dokument saam met ander ongestempeldes op ‘n hoop geplaas.  Hulle het die uitnodiging na die Bruilof onderteken, maar ontvang nie die stempel van God nie.  Ek verstaan nie…  en dan verduidelik Abba Vader dat Hy die motief van elke mens se hart ken.  Hierdie hoop uitnodigings is onderteken deur mense wat met ’n sekere motief in die agterkop die uitnodiging aanvaar het –  hulle dink dalk die Fees kan vir hulle baie voordele inhou;  hulle dink dat hulle ’n lewe van seën sal hê wanneer hulle die uitnodiging onderteken, dat dit met hulle goed sal gaan… en met hierdie vals motief in die agterkop, onderteken hulle die uitnodiging.  Hulle ondersoek en lees nie die uitnodiging noukeurig deur nie, maar onderteken dit haastig sodat hulle kan aangaan met hulle wêreldse genietinge.  Hulle noem hulleself Christene;  hulle sê hulle is bekeerd en weergebore;  hulle glo hulle is gered, maar nogsteeds is hulle vasgevang in die wêreld en geniet hulle dit om deel van die wêreld en sy dinge te wees.  

Die mens kan dalk die res van die mensdom bluf, maar niemand kan vir God bluf nie.  Hy ken elke mens se hart en Hy weet presies hoekom elke mens die uitnodiging onderteken.  God weet wie die mense is wat nog nie met hulle volle hart Sy wil volg nie omdat die wêreldse lewe vir hulle nog te lekker is.  Hulle wil met een voet by die Fees en die ander voet in die wêreld staan.  Hulle aanvaar nie die uitnodiging na die Bruilof uit liefde vir Jesus nie, maar om persoonlike welvaart;  alles draai weereens om die self… 

Dan is daar nog ’n groep uitnodigings wat opmekaar geplaas word en hierdie uitnodigings is onderteken, sowel as gestempel.  Hierdie mense aanvaar die uitnodiging na die Bruilof van God se Seun, nie uit ’n oogpunt van persoonlike welvaart nie, maar uit diepe respek en liefde vir Jesus Christus.  Hulle maak die keuse om Jesus met alles in hulle te volg en om Sy voorbeeld te volg.  Omdat Abba Vader weet hierdie mense se harte is opreg in hulle keuse sonder enige bymotiewe om die lewe vir hulleself lekkerder te maak, word hulle uitnodigings op ’n sekere tyd gestempel met die bloed van die Lam.  

“…in wie julle ook, nadat julle die Woord van die Waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte…” Efesiërs 1:13  (AFR33/53)

Psalm 25:7 in The Message sê dit so mooi:  

“…mark me with your sign of love…” Psalm 27:7 (MSG) 

Is ek en jy bereid om ons harte en ons lewens aan God te offer?  Want dit is wat ons doen wanneer ons die uitnodiging onderteken met ’n opregte hart;  dan is ons waarlik bereid om ons totale lewe en hart in die hand van God te plaas en om God toe te laat om Sy wil te laat geskied in ons lewens.  Diegene wat die uitnodiging onderteken met vals motiewe, sal nie bereid wees om hulle harte en lewens te oorhandig in die hande van Abba Vader nie.  Hulle wil gered wees, maar op hulle eie terme.  

Waar pas ek en jy in hierdie prentjie in?  Het jy al die keuse gemaak om die Bruilof van die Seun van God by te woon?  Het jy al jou uitnodiging onderteken?  As jy het, wat was jou rede of die motief van jou hart toe jy die uitnodiging onderteken het?  Ek dink elkeen van ons kan in afsondering voor die voete van Abba Vader hierdie vrae vir onsself gaan uitwerk…

Opgesom, nie almal se uitnodigings word gestempel met die Gees van God nie, alleenlik diegene wat waarlik uit die hart tot bekering gekom het.  Dan verstaan ’n mens die Skrif beter wat sê:

“Want baie is geroep, maar min is uitverkies.” Mattheus 22:14 (DB)

Daar is baie “Christene” wat baie godsdienstig is wat die uitnodiging onderteken het, maar dit is nie deur God verseël nie, want God weet wat die motief van elkeen se hart is, Hy weet wie waarlik en opreg tot bekering gekom het en wie nie…