Penwortel van geloof

 

“Let your roots grow down into Him, and let your lives be built on Him. Then your faith will grow strong in the truth you were taught, and you will overflow with thankfulness.”
Collosians 2:7 (NLT)

Wanneer die Lig van God op ons harte skyn sodat ons onteenseglik begin glo in Jesus en Abba Vader, begin daar weer ’n nuwe wortel vanuit ons geeshart groei. Hierdie is ’n enkele, baie sterk, stewige wortel soos ’n penwortel. Die penwortel groei ook (soos die bywortels) eers in die Woord van God in, maar hierdie wortel is so sterk dat dit dwarsdeur die Woord groei tot binne-in die hart van God in. Hierdie penwortel se naam is “Geloof” en kan alleenlik groei wanneer ‘n mens onteenseglik in God begin glo; dit anker ’n mens baie diep in die hart van God. Onder gebed sê Abba Vader:

“Raak eers gewortel in die substrata en dan in die strata. Die Woord is die substrata en God is die Strata.” 

Ek het gaan opsoek na die betekenis van die woorde “substrata” en “strata”.  Substrata is die grond waarin wortels ingroei en “strata” is die rots onder die grond! Skielik het dit alles so sin gemaak, want Abba Vader het my geleer dat ons worteltjies eers gevestig moet raak in die Woord van God – wat dan die substrata is. Soos ons gewortel raak in die Woord, groei daar worteltjies vanaf die Woord na ons geeshart om ons baie stewig te anker in die Woord van God. Wanneer die wortels van die Woord ons hart bereik, ontwaak ons geeshart uit die diepe slaap en begin ons onteenseglik glo in God. Hierdie diep, vaste geloof in God laat ’n penwortel ontstaan wat in staat is om diep in die hart van God in te groei. Hierdie geloofspenwortel is die enigste wortel wat in die Rots kan ingroei en die Rots is God. Die “Strata” is dus die Rots, wat die hart van God is. Nou verstaan ek beter hoekom Abba Vader gesê het ons moet eers in die substrata ingroei en dan kan ons in die “Strata” ingroei. Groei eers in die Woord van God in en dan in die hart van God deur middel van die geloofspenwortel. Dit is waarlik soos vers 24 van 1 Johannes 2 sê:

“Stay with what you heard from the beginning, the original message. Let it sink into your life. If what you heard from the beginning lives deeply in you, you will live deeply in both Son and Father. This is exactly what Christ promised: eternal life, real life!”
1 John 2:24 (MSG)

Die engelse vertalings sê dit vir my net soveel mooier as die Afrikaanse vertalings: “Let it ABIDE in you; let it DWELL and REMAIN in you!” Die Woord moet deel raak van ’n mens se lewe.  Net soos enige boom water, voedingstowwe en minerale benodig vir groei en oorlewing, het ons as ’n geestelike boom dit ook nodig. Geen geestelike boom kan bestaan sonder ’n geloofspenwortel wat hom stewig anker in die hart van God nie. Dit is die enigste wortel waardeur ons as boom water en voedingstowwe kan opneem, want ons ontvang dit dan direk vanaf Abba Vader. Wanneer ons penwortel in die hart van God geanker is, neem dit die Lewe van God op waar dit dan vervoer word na ons geeshart. Geen ander wortel kan in die hart van God ingroei nie, dus kan geen ander wortel die Lewe van God opneem en ons daarmee voed nie. Alleenlik die geloofspenwortel!

Die Lewe van God wat ons deur die penwortel ontvang, bestaan uit drie goed: Die Liefde van God, die Lewende Water en die bloed van Jesus Christus. Saam vorm die drie een net soos God, Heilige Gees en Jesus drie is, maar tog ook Een. Die Drie werk saam en kan nooit van mekaar geskei word nie en net so werk die Liefde van God, die bloed van Jesus Christus en die Lewende Water altyd saam en vorm dit die Lewe wat van God af kom. Net soos God, Jesus en Heilige Gees van mekaar getuig, getuig die water, bloed en liefde van mekaar en kan hulle nie afsonderlik werk nie. Al drie moet dus teenwoordig wees in die mens – as daar een afwesig is, is daar êrens ‘n fout.

Hierdie wonderbaarlike Lewe is alleenlik te kry deur gewortel te wees in die Rots. Soos ons penwortel die Lewe opneem, word dit deur die wortel vervoer na die geeshart van die mens waarvandaan dit weer deur ons hele wese versprei word deur ons geestelike are. Die Lewe van God begin ons van ’n kant af verander… Die bloed van Jesus begin in en deur ’n mens se geeshart pomp om ons te suiwer; die Lewende Water les ons geestelike dors en die Liefde van God stel ons in staat om die boom te kan begin groei wat God beplan het ons moet wees. Dus, alleenlik wanneer ons ’n penwortel van geloof in die hart van God ingroei, sal ons die Gees van God kan ontvang wat ons baie styf aan God verbind deur die band van liefde.

“Omdat julle nou God se kinders is, het Hy die Gees van Christus na ons toe gestuur. Die Heilige Gees bind ons styf aan God vas met ’n onbreekbare band van liefde. Dit is Hy wat aanhoudend hier binne-in ons uitroep: “Vader, liefdevolle Vader!”
Galasiërs 4:6 (DB)

Omdat ons nou die Lewe van God ontvang wat in en deur ons begin spoel, raak ons hart een met die hart van God. Wanneer ons een raak met God, kan ons duidelik God se hartklop vir ons lewe begin hoor, dan begin ons agterkom wat God se doel en plan met ons lewens is. Kollosense 1:28 in Die Boodskap sê dat elke mens sy Goddelike doel in sy lewe kan bereik wanneer hy in ’n intieme verhouding met Christus is. Wanneer ons so verbind is aan God, leer ken ons die ritme van God se hartklop vir ons lewe en dan begin ons hart op dieselfde ritme klop as wat God s’n vir ons klop. Dit is moontlik omdat die Lewe van God deur ons geestelike are begin pomp. Soos die Lewe van God deur ons are begin bruis, begin dit ons skoonmaak en suiwer van ’n kant af; dit begin ons genees van ’n kant af en dit laat ons groei in ’n boom wat God vooraf besluit het. Ons raak een met God! Kyk nou na die volgende Skrif… ek hoop dit het vir jou ook nuwe betekenis:

“Wie My vlees eet en My bloed drink, bly in My en Ek in hom!”
Johannes 6:56 (AFR33/53)

Hierdie Skrif beteken nie ons moet met menslike woorde die bloed van Jesus oor ons pleit nie! Dit beteken ons moet voed op die Woord van God en dan sal ons deur die geloofspenwortel die bloed van Jesus ontvang. Daar ontstaan ’n geestelike eenheid tussen ons en God, en Jesus word die fokus van ons lewe. Wanneer Sy bloed deur ons liggaam pomp, weet ons Hy is deel van ons.
Op ’n dag het Abba Vader my gevra hoe weet ek dat ek in Hom glo? Dit het my nie lank gevat om Hom te antwoord nie, want hoe kan ek NIE in Hom glo nie? Ek voel dan die Liefde en Lewe van Abba Vader so duidelik binne-in my, veral wanneer ek in gebed voor Hom neerkniel, so hoe kan ek nie in Hom glo nie? Ek glo in Abba Vader, want ek kan Hom voel hier binne-in my. Met my antwoord, gee Abba Vader vir my Romeine 10 om te gaan lees en in vers 6 in die Boodskap is die bevestiging:

“As jy in God glo, weet jy dat Christus die heeltyd naby is.”
Romeine 10:6 (DB)

As daar ’n geestelike band of eenheid tussen jou en God is, neem jy die bloed van Jesus op wat deur jou are borrel! Jy sal dit voel en daarom sal jy weet dat jy waarlik glo. Jy sal weet jy is in God en God is in jou. Kyk wat het Jesus gesê in Johannes 8:

“Julle is kinders van hierdie ou aarde. In hierdie wêreld is julle wortels ingeslaan. My wortels lê egter nie in hierdie wêreld ingeslaan nie. Nee, Ek kom uit die hemel. Daarom kan Ek vir julle sê dat julle besig is om God heeltemal mis te loop. Glo in My. Glo dat Ek is wie Ek sê Ek is. Anders gaan julle sonder God sterf. Elke sonde wat julle gedoen het, sal dan teen julle tel.”
Johannes 8:23,24 (DB)

Om geanker en gevestig te wees in die Rots, laat my dink aan die Skrif in Mattheus 7:24-27 oor hoe en waar die verstandige teenoor die dwase man sy huis bou.

“Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ’n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. Die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots!”
Mattheus 7:24,25 (AFR33/53)

Wanneer ons ’n geloofspenwortel in die Rots ingroei, sal ons ’n stewige en sterk boom groei wat enige storm kan deurstaan, maar ’n dwase man wat sy huis op sand bou, is soos ’n boom gewortel in die sand van die wêreld… Daar is geen vastigheid of sekuriteit nie en wanneer die waterstrome en winde kom, sal hierdie boom, net soos die huis op sand, nie staande kan bly nie!
Om ontwortel te word uit die wêreld, het ons die Lig van die Woord van God nodig om te kan besef waar ons gewortel is. As ons net eers tot die besef kom dat ons in die sand van die wêreld gewortel is en ons in ’n vervloeking leef wat ons self geskep het, kan ons daarop begin let en dit aan God begin bely wat ons verseker sal help. Ons kom alleenlik tot hierdie besef wanneer die Lig van die Woord ’n lig op ons blokasies en duistere harte begin skyn. Hoe meer ons die Woord begin inneem, hoe dieper groei ons in die Woord in totdat ons later ’n penwortel in die hart van God ingroei. Dan eers raak ons een met God deurdat Hy Sy Lewe in ons harte begin deponeer.
Opgesom, soos ons voed op die Woord van God, ontwikkel ons eers fyn worteltjies wat in die Woord ingroei. Soos ons worteltjies in die Woord ingroei, groei daar ook wortels vanuit die Woord in ons geestelike wese in. Soos die worteltjies in ons wese ingroei, openbaar dit aan ons al ons onheilighede wat ons by die voete van Abba Vader moet neerlê sodat die blokasies kan oopbreek. Wanneer die wortels van die Woord ons hart bereik, ontwaak ons geesmens uit die diepe slaap deurdat die Lig van die Woord ’n lig skyn op ons slapende gees. Wanneer ons gees ontwaak, groei ons ’n penwortel vanuit ons geeshart deur die Woord tot binne-in die hart van God in! Die eerste fyn worteltjies wat ons in die Woord ingegroei het, verskil van die sterk, stewige penwortel, want dit is net die geloofspenwortel wat in die hart van God kan ingroei. Met ander woorde, soos ons die Woord inneem, ontwikkel ons geloof bietjies vir bietjies, totdat ons geloof so sterk is dat dit in die hart van God kan ingroei. As ons nie genoeg voed op die Woord nie, sal ons nooit genoeg geloof kan ontwikkel om gevestig te raak in die hart van God nie en as ons nie gevestig raak in die hart van God nie, kan ons nie die Lewe van God ontvang nie. Dus, al lees ons nou en dan die Woord en al bid ons nou en dan tot God, maar ons maak staat op verlossing deur kerk toe te gaan of om ander geestelike materiaal te lees of te luister, ontvang ons nie die ware Lewe nie. Om die ware Lewe te ontvang, moet ons ’n baie naby verhouding met Abba Vader bou…in stilte by Sy voete.

“Stay with what you heard from the beginning, the original message. Let it sink into your life. If what you heard from the beginning lives deeply in you, you wil live deeply in both Son and Father!”
1 John 2:24 (MSG)

“You are my ROCK and my fortress; for Your name’s sake You lead me and guide me.”
Psalm 31:3 (AMP)

The same Good News that came to you is going out all over the world. It is bearing fruit everywhere by changing lives, just as it changed your lives from the day you first heard and understood the truth about God’s wonderful grace.”
Collosians 1:6 (NLT)

Geneem uit die boek:  Lig Saadjies

Leave a comment