“Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van Sy hande. Die een dag stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ader kennis aan: daar is geen spraak en daar is geen woorde nie – onhoorbaar is hulle stem.”
Psalm 19:2-4
Die laaste paar weke, of selfs maande, is ek intens bewus van die grootheid van die skeppende hand van God wat oral om ons te sien is. God wys Homself en Sy wonderbare krag aan die mensdom deur alles wat Hy geskep het deur alleenlik ’n woord te spreek. Nou dink net as Hy ’n woord oor jou en my spreek – as Hy die natuur so wonderskoon kon skep met ’n woord, wat kan Hy nie met my en jou doen deur ’n woord oor ons lewens te spreek nie? Jesaja 55 sê God dink en doen dinge heeltemal anders as ons, die manier waarop Hy dinge doen en hoe Hy dink, is baie ver van die manier waarop ons dink en dinge doen. Net soos God reën op die aarde laat val – dit val op die grond, en die grond drink dit in vir die plante om te groei en vrug te dra – net so gaan God se woord wat Hy spreek, nie leeg terug na Hom nie. Die woord wat God in ons harte inspreek, sal dus presies doen wat God beveel het om te doen, maar daarvoor moet ons in nederigheid en stilte, in aanbidding en eerbied voor God neerkniel sodat Sy Woord op ons kan neerdaal en Sy werk binne ons kan kom doen. Dit gebeur alleenlik wanneer ons ons harte, ons lewens, met ’n opregte hart voor God op die altaar neersit. Ons hart moet in die hand van God wees voordat Hy met ons kan werk. Ons het dit so nodig dat God in ons harte sal werk, want alleenlik dan sal ons harte straal soos die son, maan en sterre en sal ons ook die boodskap van God kan uitstraal – nie uitbasuin sodat ons die eer kan eer kan kry nie, maar die wonderbaarheid van God uitstraal in ’n duister wêreld sonder klank, sonder ’n geraas. Op hierdie manier sal ons saam met die natuur aan die duistere wêreld die heerlikheid van God kan verkondig.
Om die grootheid en goedheid van God raak te kan sien, moet ons uit ander oë begin kyk, ons moet uit geestelike oë na die natuur kan kyk, want alleenlik dan sal ons die grootheid van God kan raaksien. Daar is so baie mense wat nie die kragtige hand van God kan raaksien in die natuur nie en solank as wat hulle net deur fisiese, vleeslike oë gaan kyk, sal hulle ook nie die krag en grootheid van God kan raaksien nie en dis so hartseer, want as ’n mens nie die hand van God in die natuur kan raaksien nie, gaan Hy ook nie die kragtige hand van God in sy eie lewe kan raaksien en ervaar nie. Ons moet tot die besef dat ons dit nodig het dat God oor ons harte Woord moet spreek, want sonder Woord van God wat in ons harte gespreek word, kan ons harte geensins verander nie. God spreek nie sommer net Woord links en regs in mense se harte in nie, ons harte moet in Sy wonderbaarlike hande wees waar Hy dan aan ons begin werk.
Soveel mense wil nie die grootheid van God raaksien nie omdat hulle hulleself groter as God ag, hulle verhewe hulle bo God, hulle wil nie erkenning aan God gee nie, want hulle wil eerder die erkenning en eer vir hulleself ontvang. Mense doen die snaakste goed om erkenning en eer te ontvang en dit is so hartseer hoe baie mense daar buite funksioneer onder die Naam van God, maar al die tyd het hulle nogsteeds nie hulle harte aan God oorhandig sodat Hy hulle kan verander nie. Hulle probeer hulle swart harte wegsteek agter ’n godsdienstige masker. Die gevaarlikste wapen van hierdie masker is die pratende mond – daar kom baie godsdienstige, geleerde woorde uit hulle monde uit, maar dit is wêreldse, menslike insig en wysheid, dit is nie woorde wat uit die hart kom nie en daarom ontbreek die krag van God in hulle woorde. (1 Kor. 2) Moenie staatmaak op iemand se voorkoms en dit wat hy uit eie krag probeer uitstraal nie, want daar is talle der talle mense wat net ’n gedaante van godsaligheid het, maar Goddelike krag en ’n lewende verhouding met Abba Vader ontbreek geheel en al (2 Tim 3:5). Hulle woorde is oorredende woorde van menslike wysheid en daarom kan hulle woorde nie met die gees van die mens “praat” nie, maar alleenlik met die brein van die mens. Hulle uiter ’n klomp hoë woorde wat hulle vreeslik geestelik en geleerd laat klink, maar al hierdie woorde is aan hulle geleer deur een of ander wêreldsisteem. Hulle beoefen niks anders as godsdiens nie, want godsdiens is om God te probeer dien deur liggaam en siel, maar God sê uitdruklik ons moet Hom in die Gees aanbid. (Joh 4:24) Maskermense se leringe klink ook sommer oppervlakkig, dit roer nie aan ’n mens se hartsnare nie, mens kan sommer hoor dit is aangeleerde woorde soos Jesaja 28:10 sê:
“Dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ’n bietjie, daar ’n bietjie…”
Maskermense kan naïewe gelowiges baie maklik lok om hulle te agtervolg, want jong gelowiges het nog nie onderskeidingsvermoë om te kan raaksien dat hierdie maskermens eintlik ’n wolf in skaapsklere is nie. Hoe ken ’n mens hulle uit? Die dade van die mens en die woorde wat uit die masker se mond kom, stem nie met mekaar ooreen nie. Die woorde gaan dalk baie mooi en verskriklik geleerd klink, maar die dade van die mens weerspieël nie in sy woorde nie. Alles is ’n godsdienstige gemompel met geen vrugte van bekering nie. ’n Skrif wat dit baie mooi bevestig is 1 Johannes 2:3,4:
“If someone claims, “I know Him well” but doesn’t keep His commandments, he’s obviously a liar. HIS LIFE DOESN’T MATCH HIS WORDS!”
1 John 2:4 (Mes)
Maskermense se geesharte gaan verseker nie die Lig van God uitstraal nie, want hulle het net met die mond tot bekering gekom en toe vir hulle ’n masker gekies om op te sit vir die wêreld, sodat die wêreld kan sien hulle is bekeerde Christene. Ware bekering en wedergeboorte gaan nooit gepaard met ’n masker nie, want God kan Hom nie laat flous nie en Hy sal nie Sy Gees in ’n vals berekene se hart laat woon nie. Net soos God die son, maan en sterre gemaak het om van Sy heerlikheid te getuig, net so moet ons ook van Hom getuig…nie met gebabbel en vals leë woorde nie, maar deur die Lig van God wat uit ons harte skyn. Ons kan nie tot by hierdie punt kom as ons maskers dra nie, want alleenlik die Lig wat uit ons harte straal, getuig van die heerlikheid van God. Vals, nagemaakte woorde kan nooit God verheerlik nie. Die son, maan en sterre kan nie gehoor word nie, maar nogsteeds dra hulle ’n boodskap uit van die glorie van God, van ons wonderbare almagtige Skepper. Net soos God die son, maan en sterre geskep het om ’n boodskap uit te dra en te getuig van Hom, net so wil Hy ons harte omskep van duisternis na Lig om ’n boodskap uit te straal, nie uit te basuin nie! Dis nie nodig om met groot, harde woorde en stemme God se boodskap uit te trompetter nie, maar soos die son, maan en sterre moet ons net God se boodskap uitstraal. Ons moet die boodskap van God kan versprei sonder klank en as ons nie kan nie, is daar ’n masker in die pad. As ons alleenlik deur woorde die heerlikheid van God kan verkondig, is daar groot fout en moet ons selfondersoek doen oor die masker wat ons dra.
Dit is baie belangrik dat ons eerstens selfondersoek sal doen, maar dan moet ons ook op die uitkyk wees vir maskermense. Ek glo die meeste van ons het al te doen gekry met ’n maskermens. Die een wat oor my pad gekom het, het my amper laat struikel toe ek my lewe aan Abba Vader oorgegee het. Dit is baie interessant hoe hierdie mense oor ons pad kom sodra ons Abba Vader begin soek en leer ken. Hulle is regtig soos wolwe in skaapwol toegedraai. Hulle hou hulle vreeslik geestelik en heilig, al wat by hulle monde uitkom, is “Halleluja” en “Prys die Here” – moenie dat vals woorde jou flous nie. Soveel van hulle doen die “werk van God”, besit selfs ’n kerk met ’n gemeente, maar agter geslote deure is dit nie baie snaaks dat die persoon verhoudings kan hê met dieselfde geslag nie; ’n paar gevalle van kindermolestering was ook aangemeld teen sulke hoog heilige mense. Wanneer hulle in ’n hoek gedruk word en hulle leuenlewe openbaar gemaak word, kom hulle wolftande en naels uit en gee hulle nie om om hulle tande in onskuldige mense in te slaan nie. Dan kom hulle bose vrugte mooi na vore, hulle erken nooit hulle foute nie en sal altyd die blaam op iemand anders probeer plaas. Dit is so jammer dat die Naam van God so baie as ’n masker gebruik word, daar is so baie wat wegkruip agter die wonderbare Naam van God. Ons moet uiters versigtig wees vir hierdie mense.
Soveel van God se skape is alreeds verlore, want hulle oë het hulle verlei en hulle het groener gras gesien. (1 Petr 2:25: “… julle was soos dwalende skape…”) Hulle het ander, beter, groener weiding gaan soek en word dan toegesluit saam met ander skape in ‘n kraal wat nie aan God behoort nie. Dit is wat gebeur wanneer naïewe mense na wolwe in skaapsklere luister en hulle begin volg. Hulle glo wat uit hierdie masker so mond kom, maar al die tyd is hierdie maskermens se harte duister. Ons het regtig nodig om te begin oplet of die Lig van God uit mense se harte skyn, want soveel van God se skape is verlore en versprei oor die hele wêreld omdat hulle geglo het wat uit ’n maskermens se mond uitkom. Lees asseblief 2 Thess 2
In die tyd toe Abba Vader vir my geleer het oor Sy verlore skape, het ek gewonder of dit ons plig is om die verlore skape terug te bring na die kraal van God? Maar hoe kan een skaap ’n ander skaap red? Al behoort ons aan Abba Vader, is ons nogsteeds ’n skaap wat deel is van Sy weide. God alleen red! Hy alleen kan in mense se harte werk. Dit is net maskermense wat met harde woorde en snaakse leringe ander probeer red. Die probleem hiermee is dat hulle dalk met woorde die eer aan God gee, maar tog swel hulle harte op van trots, hoogmoed en eer wanneer hulle ander “red”. In Mattheus 10:5,6 staan:
“Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie; maar gaan liewer na die VERLORE SKAPE van die huis van Israel”.
Hierdie Skrif bevestig dit wat Abba Vader my geleer het oor Sy skape wat verlore is. Wat ek nie kon verstaan nie, is hoekom Abba Vader my keer op keer vermaan dat ons nie hier is om die verlore skape te RED nie, Hy self red Sy skape. Die eer gaan aan Hom, God gee nie Sy eer aan ’n mens nie. In Mattheus 28:18,19 stuur Jesus weer die mense uit na die nasies toe:
“En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
Die mag in die hemel en aarde was aan Jesus gegee – Hy alleen het die mag om Sy verlore skape te red. Die mens kan nie ’n ander red nie, maar wanneer Jesus in en deur ons leef, verander die situasie. Maskermense probeer ander red vir die eer wat hulle daaruit kan kry, dit is nie Jesus wat in en deur hulle werk nie. Hulle werk deur valse woorde, hulle skyn geen Lig uit hulle harte nie, so daar kan ook geen krag in hulle woorde wees nie. Hulle red ook nie regtig ’n verlorene nie, hulle lei eintlik net die mens weer na ’n ander kraal waar hy vasgeketting word. Dit is nie wat God van ons wil hê nie, maar wat God wil hê, is verhouding met Sy kinders, want wanneer ons verhouding het met Abba Vader, kom skyn Sy Lig deur ons en kan ons verlorenes bereik sonder hoë woorde. Wanneer Jesus in en deur ons leef, dra ons ook Goddelike vrugte en sonder dat ons dit besef, voed ander op hierdie vrugte en kry hulle ’n proeseltjie van die Liefde van God. So eintlik het Abba Vader dit so maklik gemaak vir ons: Fokus op God en Hy sal deur jou verlorenes bereik sodat hulle tot die besef kan kom dat hulle verlore is en ’n daadwerklike poging kan aanwend om God te begin soek.
Alleenlik God se woorde het krag, alleenlik God kan red, ons het nodig dat Abba Vader Woord in ons harte inspreek, want alleenlik dan ontvang ons die Lig van God en verander God ons. Alleenlik dan dra Jesus in en deur ons vrugte wat ons kan bied aan ’n donker, duistere wêreld.
Waar lê ons fokus? Om ander te red sodat ons die eer kan kry? Dan het ons nodig om die masker neer te sit, want dan probeer ons ander red deur woorde wat onaanvaarbaar is vir Abba Vader. As ons fokus op Abba Vader bly, verhelder Sy Lig wat uit ons skyn en kan ons soos die son, maan en sterre die heerlikheid van God verkondig sonder om ’n geraas te maak.
“Let the words of my mouth and the meditation of my heart be accepable and pleasing in Your sight, O Lord, my Rock and my Redeemer.”
Psalm 19:14