Offers

IMG_0864

Ons lees in die Ou Testament dat die volk van God ’n dier moes offer vir hulle sondes, so die dier moes sterf in die plek van die mens. Die bloed van die dier het dan versoening gedoen vir die sondes van die mens sodat God die mens kon vergewe vir sy sondes, maar tog sê God deur die mond van Samuel:

“Het die Here behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffers, om te luister beter as die vet van ramme.”
1 Samuel 15:22 (Afr 33/53)

Jaar na jaar het die volk aan God diere geoffer, maar hier sien ons in die Skrif dat God nie tevrede was met hulle offers nie, maar wat Hy wel wou hê, was gehoorsaamheid en dit is waar die groot probleem ingekom het, want die daad om ’n dier te offer, kon nie die mens help of in staat stel om gehoorsaam aan God te wees nie. Dit voel so vir my dat die offer van ’n dier vir die mense meer gewoontevormend geraak het en as iets net ’n gewoonte raak, raak dit ’n ritueel wat weer deel van tradisie word. As jy so lief is vir diere soos ek, wil ek nie eers daaraan dink om ’n dier dood te maak vir my ongehoorsaamheid nie. Dit moes verskriklik gewees het om ’n dier dood te maak, maar wanneer ’n mens ’n sekere daad keer op keer moet doen, raak dit al hoe makliker om dit te doen, en net so met die offer van ’n dier – dit het ’n gewoonte geraak, dit het maklik geraak en dit het deel van tradisie geraak. Tradisie betrek nie die hart en emosies nie, dit het net ’n ritueel geword sonder enige emosie, sonder berouvolle harte en sonder die begeerte om gehoorsaam te wees aan God. Die fokus van die mens was nie op God of om gehoorsaam te wees aan God nie, die fokus van die mens was net om die dier te offer sodat die hy of sy versoening vir sy sondes kon kry. Dit het weereens net om die mens gegaan en nie om God nie…die hartsmotief van die mens was weereens nie opreg nie, want hulle wou net iets uit die ritueel kry tot voordeel van hulleself, maar self wou hulle nie iets gee of prysgee nie. Het hulle offers vir God iets beteken? God, wat die hart en die gedagtes van die mens ken? Het hulle offers vir hulle ware vergifnis besorg? Die mense het dalk gedink dat hulle vergifnis ontvang deur die offer, maar God kyk altyd na die hart van die mens en ’n skynheilige offer tot voordeel van die mens self, ontvang nie vergifnis nie. Die offer van ’n dier in die Ou Testament het ’n skynheilige gespuis geraak, dit is dalk hoekom God in Jesaja 1 sê:

“Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers?” sê die Here. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie. As julle kom om voor My aangesig te verskyn, wie het dit van julle hand geëis – om My voorhowe te vertrap? Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My. ”
Jesaja 1:11-13

Al het God die offers ingestel vir die mens as ’n manier om vir God jammer te sê oor sy sondes, het dit ’n gruwel voor die aangesig van God geword, want die mens se hartsmotief was boos. Die mens het weereens dit wat God ingestel het, verdraai en iets daaruit gemaak wat God nie behaag nie. Daarom:

“En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie; julle hande is vol bloed. Was julle, reinig julle en neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen…”
Jesaja 1:14

In vers 14 sê God dat Hy Sy oë bedek vir hierdie mense, want terwyl hulle offers aan die Here bring, was hulle hande nog vol bloed, hulle was vuil en besig met booshede. God se doel met die offers was dat die mens sy sondes moet raaksien en bely, dat hy sal sleg voel oor sy sonde en die keuse sal maak om dit te laat staan, om sy rug daarop te draai! God wou hê hulle moes hulle reinig, hulle bose handelinge stopsit, ophou om kwaad te doen, maar hulle het met die kwaad in hulle harte aan God ’n dier gaan offer. Dit het net ’n ritueel geword sonder enige emosie, sonder berouvolle harte en sonder die begeerte om gehoorsaam te wees aan God. Hulle kon nie omgee hoe vuil hulle harte en hande is nie, solank God net hulle sondes vergewe, maar hier sien ons duidelik in die Skrif dat hierdie mense se sondes nie vergewe word nie, want God vergewe mense alleenlik as hulle met ’n berouvolle hart kom jammer sê oor hulle sondige bestaan, as hulle die keuse maak om hulle rug daarop te draai.

Hoe het hierdie scenario ’n invloed op ons vandag? Ons hoef nie meer fisies offers vir God op die altaar te offer nie, want die bloed van Jesus het vir ons versoening gedoen, maar nogsteeds kan elke Jan Rap en sy maat nie sommer net die bloed van Jesus vanselfsprekend aanvaar en aanneem hy is vergewe, gered en verlos omdat Jesus gesterf het aan die kruis nie. Ek weet dit is die gewildste lering van die wêreld, maar dit is ook die grootste lering wat die meeste mense op die verkeerde pad lei. Sonder ’n geestelike offer, is daar geen versoening nie en al hoef ons nie meer fisies ’n dier te offer nie, moet ons nogsteeds vir God ’n offer bring, want Romeine 12:1,2 sê:

“Ek vermaan julle…dat julle jul liggaam stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvorming nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”

Sonder ’n offer, is daar geen vergifnis van sonde nie. Ons kan nie sommer net aanvaar dat Jesus gesterf het as die perfekte offer en daarom is ALMAL se sondes op die daad vergewe nie… Dit is wat die valse wêreld aan die mensdom leer, maar dit is maklike verlossing en dit is niks anders as misleiding nie. Die wêreld leer ook dat jy niks hoef te doen om verlossing te ontvang nie, jy moet net glo, maar gaan dink net ’n bietjie dieper wat beteken dit om waarlik te GLO. Om met die mond te sê jy glo in Jesus, word aan ons geleer vandat ons klein is, maar dit is weereens net deel van tradisie. Daar is ’n verskil om met die mond te sê jy glo en om waarlik met die hart in Jesus te GLO. Die mens wat uit sy hart in Jesus GLO, het ’n lewende verhouding met Abba Vader en die bewys daarvan sal wees in die vrugte wat hy dra. Die Ou Testament mense het na die tabernakel gegaan om te offer, maar het geen verhouding met God gehad nie, daarom kon daar geen hartsverandering plaasgevind het nie. Hoeveel mense wat van kerkbyeenkoms ’n tradisie of ritueel gemaak het, het verhouding met Abba Vader? God soek verhouding met Sy kinders, Hy wil hê Sy kinders moet Hom leer ken, God soek nie rituele nie.

Die ou mense moes ’n offer bring, so hulle moes fisies iets doen om verlossing te ontvang, maar nogsteeds het hulle nie verlossing ontvang nie, want die daad van die offer was net ’n daad, ’n gewoonte, ’n ritueel, deel van tradisie – dit het niks met die hart van die mens te doen gehad nie… Net soos vandag se mense sê hulle glo, maar al die tyd het hulle harte niks daarmee te doen nie, want hulle glo net met die mond – hulle sal ook nie vergifnis en verlossing ontvang nie, want die motief van hulle harte is nie reg nie. Dit het nog altyd boos gebly. Die kruisdood van Jesus het nie die mensdom se bose harte verander nie! God soek ’n hartsverandering, want alleenlik dan kan die mens gehoorsaam wees aan God. God was die mens meer as genadig toe Hy besluit het om Sy Seun te laat sterf sodat Sy Gees in die vorm van ’n Helper vrygestel kon word. Die mens het die Helper nodig om op die pad gelei te word om ’n hartsverandering te ondergaan. Sonder die Gees van God kan geen mens ’n hartsverandering ondergaan nie, so sonder die Gees van God kan niemand verlossing of vergifnis ontvang nie, maar dit bly nogsteeds ’n keuse van die mens of hy bereid gaan wees om sy rug op sonde te draai. God deel nie Sy Gees sommer links en regs uit nie en jy kry ook nie die Gees van God omdat jy kerk toe gaan of omdat jy met die mond sê jy glo in God nie. Lees gerus die saadjie: Signed, sealed and saved.

Vandag moet die mens geestelik sy hart aan God offer en dit beteken ons moet sterf aan die self, die eie ek. Ons moet eie behoeftes, ons eie wil ’n bietjie eenkant toe skuif. Mense wat met die mond bely om te glo en verder die tradisies van sy voorouers aanhang, offer geestelik nie hulle harte aan God nie…en sonder ’n offer is daar geen vergifnis nie. Tradisie betrek nie die hart en emosies nie, dit is net ’n ritueel sonder enige emosie, sonder berouvolle harte en sonder die begeerte om gehoorsaam te wees aan God. Net soos die motief van die ou mens se harte nie opreg was nie, is die motief van vandag se mense ook nie opreg nie, want hulle probeer iets uit ‘n ritueel kry wat tot voordeel van hulleself kan strek, maar self hulle wil niks gee of prysgee nie. Self wil hulle nie hulle lewens en harte aan God offer en toelaat dat Sy wil geskied in hulle lewens nie. Hulle wil nog hulle eie lewe leef, hulle wil nog hulle eie lewensboeke skryf, hulle wil nogsteeds deel hê aan die wêreld se genietinge, maar nogsteeds wil hulle vergifnis van God ook ontvang. Ons het ’n keuse om te maak…ons kan nie die wêreld dien en God dien nie.

Mense wat uit tradisie met die mond glo, wat kerk toe gaan en offers na die kerk vat, maar wie se hande nie skoon is nie, wie se harte nie oorgegee is aan God sodat Hy dit kan skoonbrand nie, vir hulle tel hierdie woorde van Jesaja 1 nogsteeds:

…wie het dit van julle hand geëis – om My voorhowe te vertrap? Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My. ”

God se oorspronklike doel met die offers was dat die mens sy sondes moet raaksien en bely, dat hy sal sleg voel oor sy sonde en die keuse sal maak om dit te laat staan en om sy rug daarop te draai! Dit het nie verander nie! God wil nogsteeds hê ons moet die sondige eie ek raaksien, sal sleg voel oor die mens wat ons was, en is, en die keuse maak om ons rug op sonde en die eie ek te draai. Wanneer ons dit doen, sterf ons die sonde in ons af en was die bloed van Jesus ons skoon. Ons moet die motief van ons harte in orde kry! Om kerk toe gaan, gaan vir niemand verlossing bied nie, om nagmaal te hou, verseker ook nie vir jou vergifnis van sonde nie, want hoe lyk ons harte? Het ons harte al ’n verandering ondergaan? Dit kan alleenlik ’n verandering ondergaan as ons op die punt kom om ons lewe en harte waaragtig in die hand van Abba Vader plaas en met ’n opregte hart kan sê: “Laat U wil geskied in my lewe.”

Oordeel jouself: Glo jy in Jesus Christus met die mond omdat jy so geleer is vandat jy klein is? Beoefen jy godsdiens deur elke week kerk toe gaan omdat dit deel van jou tradisie is? Het dit ’n ritueel geword wat sonder enige emosie plaasvind? Het jy ’n berouvolle hart oor die mens was jy was of is? Het jy ’n verhouding met Abba Vader wat plaasvind in die stilte van jou binnekamer? Het jy al een geword met Jesus? Want alleenlik dan is Sy genesende, heiligmakende bloed op jou van toepassing.

“Wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God TOT ‘N LIEFLIKE GEUR”
Efes 5:2

Leave a comment