Die mens skep sy eie vervloeking

“Hy het die vloek liefgehad en — dit het oor hom gekom; en hy het geen welbehae gehad in die seën nie en — dit het ver van hom af gebly.  Hy het die vloek aangetrek soos ‘n kleed en — dit het soos water in sy binneste gekom en soos olie in sy gebeente.” Psalm 109:17,18

Hierdie onderwerp maak mense baie kwaad, want hulle argumenteer dat daar vandag geen vervloeking meer kan wees nie omdat Jesus gesterf het aan die kruis, maar in die vorige hoofstuk het ons gesien dat dit ’n leuen van Satan is wat die mens WIL glo sodat hulle kan aangaan met ‘n onheilige lewe.  Hulle glo hulle is gered en verlos deur die kruisdood van Jesus, so daar kan geen vervloeking meer bestaan nie, maar nogsteeds bly die feit staan:  As ons ongehoorsaamheid saai, gaan ons ’n vervloeking maai.  Net soos Adam en Eva se sonde die aarde vervloek het, vervloek die sonde van die mens nogsteeds sy eie omgewing.  Jeremia 2:19 sê ook:

“Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerigheid sal jou straf…” 

Vandag probeer die wêreld hierdie prentjie verander met die argument dat Jesus gesterf het aan die kruis en dat Hy ALREEDS al die vloeke vir die mens gedra het, en dat die mens dus nie meer in ’n vervloeking kan leef nie.  Dit gee aan die mens vryheid om te leef soos hy wil, want Jesus het mos ALREEDS gesterf vir almal se sondes, ons sondes is ALREEDS vergewe, ons is ALREEDS verlos en gered.  Dit is ’n baie gevaarlike siening wat maak dat die mens nie die wil van God soek en leef nie, maar dat hy sy eie lewensverhaal skryf;  hy maak besluite op menslikerwyse sonder God en dit gaan hom duur te staan kom.  Hulle bely net met die mond om in God te glo, maar hulle het geen verhouding met Abba Vader nie.  Hierdie maklike verlossing-leuen stel die mens gerus in sy sonde en is ’n maklike pad na die Koninkryk van God, maar dit is so in teenstelling met dit wat Jesus op aarde kom leer het: 

“Die Pad wat na God se nuwe wêreld toe lei, is baie moeilik en ook bitter smal.  Min mense loop daarop omdat dit groot opofferings vra.  Aan die ander kant is die pad wat na die hel toe lei, maklik om op te loop en baie breed.  Baie mense loop daarop.   Span julle daarom in om op God se smal pad te bly stap.”  Mattheus 7:14 (Die Boodskap)

Hoe kon die pad na die Koninkryk van God verander het na die kruisiging van Jesus?  Die Weg het geensins verander nie;  al wat verander het, is dat Jesus vir ons die Weg weer oopgemaak het en die Helper vrygestel het wat ons in staat stel om wel op die Weg te kan wandel.  Die mens wat nie op die ware Weg wandel nie, bewandel die breë pad waar ’n vervloeking hulle voorland is.  Dink net bietjie realisties hieroor:  As die kruisdood van Jesus alle vervloeking uitgekanselleer het en die mens glad nie meer in ’n vervloeking kan leef nie, hoekom gaan dit nie goed met almal nie?  Dan sou die wêreld mos ’n wonderlike plek gewees het… 

Daar staan wel in Galasiërs 3:13 dat Jesus ons losgekoop het van die wet deur vir ons ’n vloek te word, maar dit beteken nie die hele wêreld is verlos van vervloeking nie.  Dit beteken nie die mens kan leef soos hy wil en maar net glo dat Jesus gesterf het vir sy sonde en daarom kan hy nie in ’n vervloeking leef nie.  As jy die Woord baie mooi bestudeer, sal jy sien dat die mens eers Een met God moet wees voordat dit vir ons ’n realiteit kan raak dat Jesus ons losgekoop het van die vloek.  Ons moet weergebore wees, ons moet eers Een met Jesus word voordat Sy kruisdood en vergifnis van sonde op ons van toepassing kan wees.  Lees gerus 2 Korinthiërs 5:11-21, daar sal jy sien dat die mens eers ’n nuwe skepsel moet word;  die mens moet versoen word met Abba Vader en dan eers word ons vrygespreek deur ons eenheid met Jesus Christus. 

Ons moet ophou om die kruisdood van Jesus “for granted” te vat;  as daar nie eenheid met Abba Vader is nie, is daar geen verlossing nie.  Dit is baie arrogant van die mens wat net met die mond bely om God te ken, om die bloed van Jesus te vat en vir homself verlossing toe te staan daardeur.  As dit so maklik was, hoekom het Jesus dan gesê dat die mens wedergebore moet word om die Koninkryk van God te sien?  Hoekom het Jesus gesê dat die mens wat Hom wil volg, sy kruis moet opneem?  (Matt. 16)  Hoekom het Jesus gesê dat elkeen vergeld sal word volgens sy dade?  (Matt. 16:27) Hoekom het Jesus gesê dat die boom wat slegte vrugte dra, uitgekap en in die vuur gegooi sal word?  As dit so is dat die kruisiging van Jesus die lewe vir die mens makliker sou maak, sodat die mens kan leef soos hy wil omdat Jesus alreeds al sy sondes vergewe het, sou Jesus mos nie gewaarsku het oor al hierdie goed nie?  As jy Deuteronomium 28 lees, sal jy sien daar is ’n lys van seëninge en ’n lys van vervloekinge:

  “As jy dan goed luister na die stem van die Here jou God om sorgvuldig te hou al Sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die Here jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde.  Hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die Here jou God” Deuteronomium 28:1-2

Lees gerus die lys seëninge wat volg in Deuteronomium 28 wat oor die mens sal kom wanneer ons God gehoorsaam.  Net so sal ons ’n vervloeking smaak as ons ons nie steur aan God nie:

  “As jy nie luister na die stem van die Here jou God, om sorgvuldig te hou al Sy gebooie en Sy insettinge wat ek jou vandag  beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal…” Deuteronomium 28:15

Net soos Adam en Eva ’n keuse gehad het om God te gehoorsaam of nie, net so het die mense van die Ou Testament ’n keuse gehad om God te gehoorsaam of nie, en net so het ons vandag ’n keuse of ons God gaan gehoorsaam of nie.  Jesus het nie die vloeke uitgekanselleer met Sy kruisdood nie, maar Hy het ’n wel die ware Weg vir ons oopgemaak om te leef na die wil van God met die hulp van die Gees van God.

So ja, ons kan vandag nogsteeds ’n vervloeking leef as ons ongehoorsaam is aan God, want sonde veroorsaak nogsteeds vervloeking.  Ons skep vir onsself ’n vervloekte omgewing wanneer ons ons nie steur aan die Woord van God nie en dan kan daar allerhande slegte goed in ons lewens gebeur.  Net soos God vir Adam en Eva uit die gemaklike tuin uit weggestuur het om die vervloekte aarde te gaan bewoon en bewerk, net so gaan God vir my en jou ook oorlaat aan ons eie toedoen sodat ons self aansukkel in ons vervloekte omgewing – wat ons deur ons eie sonde geskep het.  Dit is nie God wat ons omgewing of lewe vervloek nie, dit is ons eie sonde!  Dit is ook nie Satan wat direk dinge met ons laat gebeur nie…  hy versoek die mens en die mens moet sy versoekinge kan raaksien en dit teëstaan.  Die mens wat in die slaggat van Satan se versoeking trap, veroorsaak vir homself vervloeking. 

“Wie onreg saai, sal onheil maai…” Spreuke 22:8

As jy glo dat Jesus se kruisdood alle vervloeking gekanselleer het en dat jy nie onder die juk van ’n vloek kan leef nie, glo jy ongelukkig, net soos Eva, een van die leuens van Satan!  As jy glo dat dit genoeg is om met die mond te bely om in Jesus te glo, om nou en dan kerk toe te gaan om te bewys jy is ’n Christen, maar jou Bybel lê êrens vol stof en jou knieë is nie lam en vol stof soos jy kniel voor die voete van Abba Vader nie, het jy geen verhouding met Abba Vader nie, en word jy net soos Eva om die bos gelei met een van die leuens van Satan.  Adam en Eva het die leuen van Satan geglo dat hulle nie sou sterf as hulle van die verbode boom se vrugte eet nie, maar dat hulle soos God sal word… Net so glo die grootste gedeelte van die mensdom vandag dat hulle nie die ewige dood sal sterf nie, want Jesus het mos alreeds gesterf vir hulle sondes;  hulle glo dat hulle kan aangaan met hulle lewe soos hulle wil en dat vervloeking nie meer bestaan nie, maar uitgekanselleer is deur Jesus se dood.  Hulle glo dit is genoeg om te bely om in Jesus te glo, hulle glo dat hulle die Heilige Gees daardeur het en dat hulle verlos is van alle vervloeking … al is hulle Bybels vol stof en knieë sonder stof!  Hulle glo die leuens van Satan!  Hy is die vader van alle leuens en hy wil hê die mens moet gemaklik in sy sonde leef en glo dat al sy sonde reeds vergewe is, en dat hy nie in ’n vervloeking kan leef nie.  Hoekom wil Satan hê die mens moet dit glo?  Want as die mens hierdie leuen glo, gaan hulle lekker gemaklik aan met ’n rustige lewe wat besmet is met sonde.  En wat doen sonde?  Dit weerhou die Lig van God uit jou hart!  So… so lank as wat jy rustig aangaan en dink jou kerklewe gaan jou red, bly jou hart duister en kan Satan jou beheer net soos hy wil – sonder dat jy dit besef!  Hy wil hê die mens moet glo dat God se genade genoeg is en dat dit al is wat hy nodig het;  hierdie leuens sus die mense in hulle godsdiens.  Hulle glo as hulle kerk toe gaan, (dalk) gedoop is en met die mond en bely om in Jesus te glo, dan het Sy kruisdood ALREEDS al hulle sondes vergewe..  die sonde wat hulle gister gepleeg het, die sonde wat hulle vandag pleeg en al die sonde wat hulle in die toekoms gaan pleeg… alles is ALREEDS vergewe.  As jy die Woord van God noukeurig bestudeer, sal jy die teendeel sien.  As jy die eerste 4 boeke van die Nuwe Testament lees waar Jesus se woorde aangehaal word, sal jy nie een keer vind dat Jesus direk gesê het dat Hy moet sterf om die wêreld se sondes te vergewe nie;  Hy het nie een keer gesê dat Hy moet sterf om die vervloeking van die wêreld uit te kanselleer of dat die mens nie meer ’n vervloeking sal kan leef nie.  Doen jouself ’n guns en gaan som Jesus se woorde op, dan sal jy sien hoeveel keer het Jesus eerder die mense vermaan om hulle sonde te laat staan en tot bekering te kom.  Wanneer Jesus gepraat het oor die dood wat Hy moes sterf, het Hy soveel keer gesê dat Hy moet sterf sodat die Gees van Waarheid, die Trooster, vrygestel kon word om ’n hulp vir die mens te wees.  Hy het nie een keer gesê dat die sonde van die mens sommer net in die niet gaan verdwyn nie;  Hy het nooit gesê dat Hy moet sterf sodat die mens nie vervloeking oor sy eie lewe kan bring nie;  Hy het nooit gesê dat die gebooie van God of die profete ontbind sal word nie.   As jy jou ore begin toedruk vir die praatjies van die wêreld en die antwoorde by die voete van Abba Vader en in Sy Woord begin soek, sal jy sien hoeveel leuens Satan aan die mensdom uitdeel.  Sy leuens gee aan die mens vals hoop en help hulle om rustig aan te gaan met godsdiens, kultuur en rituele in die duistere wêreld.

Maar wanneer is ons dan losgekoop van die vloek?

“Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word…” Galasiërs 3:13

Ons is eers losgekoop van die vloek wanneer ons een word met die kruisiging van Jesus;  wanneer ons die eie ek, die vleeslike egoïstiese mens afsterf en ons weergebore word deur die krag en liefde van God.  Dan is die Lewe van God teenwoordig in ons geesharte en dan is ons eers verlos van die vloek van die dood, maar dit gee nogsteeds aan niemand die vryheid om te leef soos hy wil nie.  Inteendeel, die mens wat beweer hy is weergebore, maar nogsteeds in die sonde van die wêreld baljaar, is vals, want die mens wat deur God weergebore is, sal die voorbeeld van Jesus volg.  Ons sal nooit sonder sonde wees nie, maar die kinders van God sal hulle gedra soos kinders van God en nie kinders van die duiwel nie.  

My kinders, laat niemand julle mislei nie: wie die geregtigheid doen, is regverdig soos Hy regverdig is.  Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.  Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.  Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie. 1 Johannes 3:7-10 (Afr 33/5)

Die mens wat glo dat hy verlos en gered is van vervloeking, maar die pad stap waar bekering, heiligmaking, wedergeboorte en verhouding met Abba Vader nie noodsaaklik is nie, glo een van die grootste leuens van Satan.  Die Waarheid van God is dat die mens wat sonder die Gees van God leef, nie verhouding met Hom kan hê nie en hulle sal sterf in hulle sonde!  Sonde verwyder die mens van God en die mens wat ongehoorsaam is aan God, gaan die vrugte daarvan pluk.  Jakobus 1:14,15 sê:

“Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word.  Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde;  en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.”

As dit die waarheid is dat Jesus gesterf het om alle vervloeking te kanselleer en dat die mens se sondes totaal vergewe is, hoekom anders leer die Woord ons dat ons sonde moet teëstaan?  As al ons sondes ALREEDS vergewe is, hoef ons mos nie die moeite te doen om die sonde teë te staan nie?  Hoekom anders sê Jakobus 4:7,8:

“Onderwerp julle aan God;  WEERSTAAN die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.  Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.  Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges.  Weeklaag, treur en ween.  Laat jule gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid.  Verneder julle voor die Here en Hy sal julle verhoog.”

Satan sal nooit ophou om leuens aan die wêreld te verkondig nie en ons opdrag is om sy leuens en versoekinge te kan raaksien en dit teë te staan;  om te heers oor sonde.  Om sonde te kan uitken, het ons die gebooie van God nodig, want hoe anders gaan ons weet wat is sonde?  Nou wil die sogenaamde Nuwe Testamentiese Christene die gebooie van God by die agterdeur uitgooi.  Hulle verwerp die Waarheid van God, glo die leuen van Satan en dit skep ’n verdere vervloeking oor hulle eie lewe;  dit ketting hulle stewiger vas in die duisternis wat lei na die dood.  Ongelukkig is hulle alreeds so verblind deur Satan dat hulle dit nie raaksien of agterkom nie.  2 Korinthiërs 4 sê dat die god van hierdie wêreld die sinne van die ongelowiges verblind:

“Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan.  Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.” 2 Korinthiërs 4:2-4  

Die Boodskap stel dit so:

“As dit wat ek oor Christus sê vir party mense onverstaanbaar is, is dit net hulle eie skuld.  Dit is omdat hulle op pad is na die doderyk toe.  Hulle het toegelaat dat die god van hierdie donker wêreld hulle blind maak.  Omdat hulle nie glo nie, is hulle lewe nou pikdonker.  Daarom sien hulle nie die lig wat die goeie nuus oor Christus in mense se lewe bring nie.  Hierdie goeie nuus handel oor Christus, Hy wat so vol glorie en heerlikheid is.  Christus is ook die ewebeeld van God.  Hy wys vir ons wie God regtig is.”

Moet asseblief nie die fout maak om te dink die ongelowiges is hulle wat nie in God glo nie… Nee, die ongelowiges sluit diegene in wat met die mond bely om in God te glo, wat bely om Christene te wees omdat hulle so grootgemaak is en omdat dit die regte ding is om te sê.  Hulle is besig met godsdiens en alhoewel hulle beweer om God te aanbid, is hulle eintlik besig met Baälisme…  Die god van hierdie wêreld het hulle verstand verduister en hulle geestelik verblind en daarom glo hulle so maklik die leuens van Satan.

“Die aarde treur, dit verwelk;  die wêreld versmag, dit verwelk;  en die hoogstes van die mense van die aarde versmag.  Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners;  want hulle het die wette oortree, die insettinge geskend, die ewige verbond verbreek.  Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet…” Jesaja 24:4-6

“…As the serpent beguiled Eva by his cunning, your minds may be corrupted and led away fom the simplicity of pure devotion to Christ.” 2 Corinthians 11:3

As jy gaan toegee aan die versoekinge van Satan, voed jy op sy bose vrugte wat teen die wil van God is en skep jy vir jouself vervloeking wat in die toekoms vir jou lê en wag – net soos met Adam en Eva.  Dit het nie verander omdat Jesus gesterf het nie.  Wanneer jy keuses maak sonder om God te raadpleeg, maar jy die keuse maak om eerder in jou vleeslike behoeftes te voorsien, is jy besig om jou eie lewensverhale te skryf – dit is die boeke wat ingepak is teen die rak van die muur in jou lewenskamer.  Jy leef dan nie dit wat God vir jou beplan het nie, maar jy skryf jou eie boeke wat nie ’n goeie ding is nie.  Verkeerde keuses lei na vervloeking, dus slegte goed wat in ons lewens gaan gebeur –  God het nie hierdie sleg vir ons bepaal en beplan nie, maar ons eie verkeerde keuses het dit veroorsaak.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s