
(Volg op “Verbode, bose vrugte”) Glo jy die leuens van Satan of die Waarheid van God?
Eva was naïef en het die leuen van Satan geglo toe hy vir haar gesê het dat hulle nie sal sterf as hulle van die verbode boom se vrugte eet nie. Satan het vir God as ’n leuenaar afgemaak deur vir Eva te sê dat hulle geensins sal sterf nie, maar soos God sal word. Net so het Satan al ’n spul leuens in die wêreld verkondig wat die lewe vir die mens makliker maak en een van die grootste leuens is dat Jesus gesterf het om almal se sondes te vergewe en niemand ’n ewige dood sal sterf nie.
Dit gee ’n tipe “gemaklikheid” aan die mens om maar net in die genade van God te glo en vir Jesus dankie te sê dat Hy vir ons sondes gesterf het… en aan te gaan met ons sondige lewens… solank ons net kerk toe gaan, ons tiende gee en doen wat die kerk sê… maar ook sê die Skrif in Openbaring 7 dat kerke sinagoges van Satan is. Ek sê nie alle kerke is sinagoges van Satan nie, maar verseker is die meeste kerke ’n bymekaarkomplek vir mense wat geen verhouding met Abba Vader het nie – net met mekaar. Hulle glo die leuen dat hulle ALREEDS gered en verlos is, dat hulle sondes ALREEDS vergewe is, dat hulle alreeds die ewige lewe bekom het, so hoe kan hulle “doodgaan”? Kom ons kyk net gou hoekom het Jesus gesterf aan die kruis…
Sonde het die Lig van God uit die hart van die mens geblus, wat beteken die mens het nie meer die Gees van God in sy hart gehad nie. Sy hart was nou duister en ’n mens met ’n duister hart kan God nie gehoorsaam nie, want hy leef vir homself en die wêreld; om sy eie vleeslike begeertes te bevredig en nie die wil van God te leef nie. God het berou gehad dat Hy die mens gemaak het en het almal van die aarde af weggevee met die vloed, behalwe Noag en sy geliefdes. Die populasie het weer gegroei en meer geword, maar nogsteeds kon hulle God nie gehoorsaam nie. Hoekom nie? Want die Gees van God was nie in hulle harte teenwoordig nie en sonder die Gees van God in ons harte, kan niemand God behaag nie. God het wel Sy Gees aan sekere persone asook Sy profete gegee om aan die mensdom rigting en leiding te gee, maar die mensdom wou nie luister na die profete nie en het hulle eerder doodgemaak. Daarna het God besluit om Sy Seun te stuur, want deur Sy Seun se gehoorsaamheid, kon die Gees van God vrygestel word op aarde om weer Lewe te gee aan die kinders van God sodat hulle Hom kan gehoorsaam. Alleenlik wanneer die Gees van God Sy inwoning maak in die hart van die mens, is die mens in staat om gehoorsaam aan God te wees, dus om die wil van God te volg. Alleenlik met die hulp van die Gees van God in die hart van die mens, is die mens in staat om sy eie vleeslike wil teë te staan, maar sonder die Gees van God, bly die hart van die mens duister en solank as wat die hart duister is, het die mens geen wilskrag om sy eie vleeslike wil teë te staan nie. Ons het die Helper nodig! Sonder die Helper – die Gees van God – is ons mense wat bestaan uit ’n leë dop – ’n dop sonder enige ware Lewe binne ons. Ons word gebore as ’n vleeslike mens, gebore uit die wil van die mens, ons word nie gebore met die Gees van God in ons harte nie.
“Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is. Johannes 1:12,13 (Afr33/53)
Niemand word heilig gebore nie! Jy word nie gebore met die Heilge Gees nie en jy ontvang ook nie die Heilige Gees wanneer jy gedoop word as ’n baba of as ’n grootmens nie. Jy ontvang alleenlik die Gees van God wanneer jy sterf aan die ou mens en daar ’n Goddelike wedergeboorte binne jou plaasvind.
“Jesus antwoord en sê vir hom: ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Johannes 3:3 (Afr 33/53)
Jesus het dus nie gesterf sodat ieder en elkeen wat vleeslik daarna gebore word, sondeloos gebore sou word nie. Jesus het ook nie gesterf sodat elke Jan Rap en sy maat net die woorde kan sê: “Ek glo in Jesus”, en gered word nie. Jesus het nie gesterf om die wêreld vir ons ’n beter plek te maak nie – ek dink ons almal kan dit sien deur die chaos om ons. Jesus het nie gesterf sodat ons almal se sondes op die daad vergewe word en ons maar kan aanleef soos ons wil nie. Jesus het nie gesterf sodat ons die gebooie van God eenkant toe kan skuif en maak asof dit nie meer bestaan nie.
Jesus het gesterf uit gehoorsaamheid aan Abba Vader om die Gees van God vry te stel wat die mens nodig het, want sonder die Gees van God in sy hart, bly sy hart duister en het Satan altyd beheer oor hom. Sonder die Gees van God, volg die mens sy eie kop en sy eie wil wat altyd vir hom vervloeking sal skep. Ons skep dus vir onsself vervloeking wanneer ons ons eie wil leef en net soos God vir Adam en Eva uit die tuin uit weggestuur het om te gaan woon in die vervloeking wat hulle vir hulleself geskep het, net so gaan God ons ook oorlaat aan ons eie lot wanneer ons vir onsself vervloeking skep deur ongehoorsaam te wees aan Hom. Ons het die Gees van God meer nodig as suurstof, maar die Gees van God sal alleenlik Sy inwoning maak in die hart van die mens wanneer die mens die keuse maak om sy lewe oor te gee in die hand van Abba Vader, wanneer die mens die ou, sondige mens afsterf. Eers as ons die ou mens afgesterf het en weergebore word, ontvang ons die Gees van God wat ons verbind aan Abba Vader en ons in staat stel om verhouding met Hom te bou. Dan sal ons ons sondes kan raaksien en as ons dit bely aan Abba Vader, is Hy getrou om ons te vergewe vir ons sondes. Kyk wat sê 1 Johannes 1:6,7:
“As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”
As ons in die Lig van God wandel, sal ons gemeenskap (verhouding) hê met Abba Vader en DAN EERS reinig die bloed van Jesus ons van alle sonde. Daar staan nie dat ons net vergifnis kan opeis en glo dat al ons sondes vergewe is omdat Jesus gesterf het aan die kruis nie. As ons nie in die Lig van God is nie, is ons in die duisternis en in die duisternis word ons sondes nie vergewe nie. So al gaan ons kerk toe of voer ons ook watse rituele uit, maar ons het nie ’n persoonlike verhouding met Abba Vader nie, is ons nogsteeds verlore in die duisternis. Jesus het vir ons ’n uitweg kom skep deur die kruis om weer in die Lig van God in te beweeg, maar weereens… ons moet eers sterf aan die self.
Die mense van die Ou Testament het nie die voorreg gehad wat ons vandag het nie, want die Gees van God was in hulle tyd nog nie uitgestort op die aarde nie. Dit is hoekom hulle nie aan God gehoorsaam kon wees nie en rituele moes beoefen in ’n poging om vergifnis vir hulle sondes te ontvang. Met die kruisdood van Jesus, is die Gees van God vrygestel wat in ons harte kan kom woon en ons wel in staat stel om gehoorsaam te kan wees aan God. Daarom hoef ons nie meer rituele te beoefen om gered en verlos te kan word nie. Daardie goed is deel van die verlede. Al wat God van ons wil hê, is verhouding met Hom! Om tyd saam met Hom te spandeer! Om die dinge van die wêreld bietjie eenkant toe te skuif en Hom ons eerste prioriteit te maak. En hierdeur sê ek nie ons moet ophou werk om ’n lewensbestaan te maak nie, want om fisies te lewe, sal ons altyd moet werk, maar ons kan ’n balans hê en God verheerlik in ons alledaagse werk, solank God net altyd eerste kom in ons lewens… en dit is wat Satan probeer voorkom. Hy wil nie hê jy moet die Lig van God uit jou geeshart skyn nie, want dan is jy nie in sy mag nie en kan hy niks aan jou doen nie! Vir so lank as wat die mens glo sy sondes is alreeds vergewe deur die kruisdood van Jesus en hy kan aangaan met sy lewe soos hy wil (want alles wat hy verkeerd doen, is mos alreeds vergewe), sal Satan ’n vrot vrug op ’n skinkbord aan hom bied om op te voed…
Die mens is geestelik so blind dat hy nie eers besef hy voed op verbode vrugte van Satan nie. Die verbode boom se vrugte is nie beperk tot die tuin van Eden nie, want Satan en sy werkers bied vandag nogsteeds verbode vrugte aan die mensdom op verskeie maniere. Die mens word daagliks deur Satan versoek om toe te gee aan die vereistes van sy eie wil, om in sy vleeslike behoeftes te voorsien, en wanneer hulle wel hulle eie wil gehoorsaam, is dit presies dieselfde as om op die verbode boom se vrugte te voed… en wat het gebeur met Adam en Eva toe hulle eet van die verbode vrug? Hulle het geestelik gesterf en hulle sonde het vervloeking oor die aarde laat losbars. Wanneer ons toegee aan die versoekinge van Satan, sondig ons en is die gevolg nogsteeds geestelike sterfte asook vervloeking oor ons eie lewe. Ons kan nie Jesus se kruisdood en sy bloed net opeis en meen dat dinge nou anders is nie… met ander woorde, ons kan nie ons eie wil gehoorsaam en voed op die bose vrugte, en verwag dat dit altyd sal goedgaan met ons nie. Wat ons saai, gaan ons maai. Dit het in Adam en Eva se tyd so gebeur en dit is vandag se tyd nog presies dieselfde. Ek sê weer: Jesus het nie kom ly en sterf op aarde sodat ons kan aanleef soos ons wil nie; Hy het kom ly en sterf om die Gees van God vry te stel wat weer in ons harte kan kom woon en ons help om die wil van God te leef, om verhouding met Hom te kan hê en godsdiens eenkant toe te skuif. Niemand is gered en verlos omdat hy kerk toe gaan, gedoop is as baba of as grootmens, nagmaal gebruik of enige ander rituele uitoefen nie. Hierdie goed is alles godsdiens, dit is nie verhouding met Abba Vader nie. Dit is presies dieselfde as die mense van die Ou Testament wat aan God offers gebring het om jammer te sê vir hulle sondes, maar het dit enigsins hulle harte verander? As jy deel is van die groep mense wat glo dat jy gered is omdat jy ’n kerkmens is en met die mond sê: “Ek glo in Jesus”, maar geen verhouding met Abba Vader het nie, is jy deel van die groot aantal mense wat die leuen van Satan glo. Net soos Eva die slang geglo het dat sy nie sal sterf as sy voed op die verbode vrugte nie, net so glo die meeste mense vandag dat hulle kan leef soos hulle wil, solank hulle kerk toe gaan, en dan sal hulle nie die ewige dood sterf nie, want Jesus het mos ALREEDS gesterf en hulle sondes vergewe. Mense wat dit glo, is nie NET geestelik dood nie, maar skep vir hulleself ook vervloeking, en sal ook die ewige dood sterf.
Ons lewenswyse en dade sal getuig of ons gesterf het aan die self, of ons waarlik en opreg tot wedergeboorte gekom het, en of ons waarlik kinders van God is. Die mens wat in sonde bly leef, maar glo hy is gered deur die kruisdood van Jesus en die genade van God, is nie gered deur die kruisdood van Jesus nie. Hy glo (net soos Eva) die leuen van Satan, en hy skep vandag nogsteeds vir homself vervloeking. Die Waarheid is dat die mens wat voortleef in sonde, in sy sonde sal sterf. Alleenlik die mens wat sy eie wil afsterf, sal weergebore word en die wil van God begin leef wat aan Hom die ewigheid kan bied. Glo jy die leuen van Satan of die Waarheid van God? Glo jy dat die mens vandag nogsteeds sy eie vervloeking kan skep of is jy ook deel van die skare wat glo dat daar geen vervloeking oor jou kan wees nie omdat Jesus gesterf het aan die kruis?
“It wasn’t so long ago that you were mired in that old stagnant life of sin. You let the world, which doesn’t know the first thing about living, tell you how to live. You filled your lungs with polluted unbelief, and then exhaled disobedience. We all did it, all of us doing what we felt like doing, when we felt like doing it, all of us in the same boat. It’s a wonder God didn’t lose his temper and do away with the whole lot of us. Instead, immense in mercy and with an incredible love, he embraced us. He took our sin-dead lives and made us alive in Christ.” Ephesians 2:1-5 (MSG)
Godsdienstige mense glo die leuens van Satan en lewe ook daarvolgens. Sy leuens maak dit vir hulle maklik om hulle eie lewensverhale te skryf, want hulle glo hulle kan hulle eie lewe bepaal, dat hulle kan voed op die bose boom, solank hulle net hulle godsdienstige pligte nakom. Hulle glo eintlik in die kerk en in godsdiens en nie in God nie.