5 Bloedlynvloeke sny?

Hoofstuk 5

Audio “Bloedlynvloeke sny?”

“As julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;  omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenwandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos…” 1 Petrus 1:17-19 (AFR33/53)

Die mense wat die lering versprei oor die sny van bloedlynvloeke, sien die sondes van die voorouers as ’n vloek wat oor die kinders se lewens kom hang en onheil in ‘n mens se lewe veroorsaak soos huwelike wat verbrokkel, siektes, onvrugbaarheid, finansiële probleme, allerhande verslawings en ook goed soos woede, angs, depressie en so meer.  Met ander woorde, die lering oor die sny van bloedlynvloeke leer die mens dat wanneer hulle slegte omstandighede beleef, hulle vervloekinge beleef as gevolg van die sondes van hulle voorouers.  Die Skrif wat die mense gebruik om hierdie lering te staaf, is Eksodus 20:5,6:  

“Jy mag jou voor hulle (gesnede beeld) nie neerbuig en hulle nie dien nie;  want Ek, die Here jou God, is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;  en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en My gebooie onderhou” Eksodus 20:5,6 (AFR33/53)    

Hulle glo dus dat die sondes van die voorouers ’n vervloeking op die nageslag plaas sonder dat die nageslag dit verdien.  Soos Abba Vader my geleer het… die nageslag word onglukkig wel in die vervloekte boksie ingebore, maar daar is ’n manier om daarvan los te breek.  Die dwaalleer wat geleer word aan die mense is om bloedlyn- of generasievloeke te sny deur hulle voorouers se sondes te identifiseer, ’n rympie en ’n gebed op te sê en dan is die mens kwansuis losgesny van die vloek wat sy voorgeslagte se sondes op hom gelê het…  

Ek het ook hierdie leuen geglo oor die sny van bloedlynvloeke totdat Abba Vader ingegryp en my die Waarheid kom leer het.  Dat daar ’n vervloeking op ’n mens se lewe kan wees, is sonder twyfel.  Daar is verseker vloeke van verskeie aard wat op mense se lewens rus en selfs die Bybel is baie duidelik oor ’n vervloeking, so ek sê nie daar bestaan nie iets soos ’n vervloeking nie.  Wat ek wel sê, is dat die manier waarop die wêreld die vloeke wil breek, nie Bybels is nie.  Nêrens in die Woord noem God vloeke bloedlynvloeke of generasievloeke nie, maar as jy dit wil sien as bloedlynvloeke, sien dit dan so… die kwessie is nie of daar wel vloeke bestaan of nie, want ons almal leef op ’n stadium in die duisternis in ’n vervloeking;  die kwessie is hoe om die kettings gebreek te kry wat jou in die vervloeking vasgeketting…    

Lees asseblief Esegiël 18.  Jy sal sien hierdie hoofstuk lyk asof dit in teenstelling is met Eksodus 20:5 en 6.  Esegiël 18 is vir ons baie duideliker uiteengesit as Eksodus 20, veral vers 20 wat sê:

“Die siel wat sondig, die moet sterwe;  die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie;  die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.”  Esegiël 18:20 (AFR33/53) 

Ek voel mense vat die vers in Eksodus 20 en interpreteer dit soos hulle wil.  Hier is hoe Abba Vader Eksodus 20:5 en 6 aan my verduidelik het… 

God besoek die misdaad van die ouers tot aan die derde en vierde geslag van die wat Hom haat… Let wel:  VAN DIE WAT HOM HAAT!  Wat beteken dit om God te haat?  Om God te haat, is die teenoorgestelde daarvan om God lief te hê en die Woord sê as ons God liefhet, sal ons Hom gehoorsaam, dus sal ons Sy gebooie gehoorsaam.  

“As julle My liefhet, bewaar My gebooie.” Johannes 14:15

“Wie My gebooie het en die bewaar, dit is hy wat My liefhet…” Johannes 14:21

“Want dit is die liefde tot God, dat ons Sy gebooie bewaar;  en Sy gebooie is nie swaar nie. 1 Johannes 5:3

Die mens wat God liefhet, sal Sy gebooie bewaar, maar ons kan alleenlik Sy gebooie gehoorsaam as ons een is met Abba Vader, as Sy Gees in ons “dwell”, as die LEWE van God in en deur ons werk… want dit is die Gees van God binne ons wat God gehoorsaam, nie die mens nie.  Wanneer ons een raak met Abba Vader deur Sy Gees, sal hierdie mens se waardes, persepsies en beginsels Goddelik van aard wees.  Omdat hulle God gehoorsaam, sal hulle nie hulle omgewing vervloek deur sonde nie, so hulle maak nie hulle kinders groot in ’n vervloekte boksie nie.  Hierdie kinders word van jongs af met Goddelike waardes, persepsies en beginsels grootgemaak;  hulle sal deur die voorbeeld van hulle ouers leer wat dit beteken om God waarlik lief te hê en om ’n verhouding met Hom te hê.

Aan die anderkant van die munt is die mense wat ongehoorsaam is aan God en God vergelyk ongehoorsaamheid met haat.  Ongehoorsames sal nie God se gebooie nakom nie en hulle waardes, persepsies en beginsels gaan nie Goddelik van aard wees nie.  Hulle gaan nie fout sien met klein (of groot) sondes in hulle lewens nie en hulle gaan hierdie ongoddelike waardes, beginsels en persepsies oordra aan hulle kinders.  Hulle kinders word dus groot met ongoddelike beginsels en hulle sal nie fout sien met die sondes van hulle ouers nie.    

Met ander woorde, as daar in die voorgeslagte ’n voorouer was wat God nie gehoorsaam het nie, is dit ’n bewys van afwesigheid van liefde vir God (God sien dit as haat) en dan het hierdie voorouer sy kinders grootgemaak met dieselfde waardes en persepsies as hyself.  Die kinders word dus groot met dieselfde “mindset” as die ouers en hulle sal ook niks met ongehoorsaamheid en sondes verkeerd kan sien nie.  Hulle sal dalk wel elke Sondag in die kerk sit en godsdiens beoefen wat klink asof hulle God dien, maar sonder gehoorsaamheid aan God asook verhouding met God, beteken dit niks.  Hulle sal tien teen een in die voetspore van hulle ouers volg, ongehoorsaam wees aan God en ook hierdie “mindset”, godsdiens en reëls weer aan hulle kinders leer.  Omdat hulle dan van geslag tot geslag vasgeketting sit in boksies, leef hulle van geslag tot geslag in ’n vervloeking, want as ons vasgeketting is in boksies, leef ons in ’n vervloeking.  Dus vorm dit ’n bose kringloop waar hierdie geslag tot in die soveelste geslag vervloek sal wees – dis nie God wat hulle vervloek nie, dis die mens se ongehoorsaamheid wat vir homself en sy kinders ’n vervloeking skep.  Dit is ook nie die kinders wat direk gestraf word omdat hulle voorouers ongehoorsaam was nie;  daar rus dus nie direk ’n vloek op die kinders as gevolg van die ouers se ongehoorsaamheid nie, want elke mens word aanspreeklik gehou vir sy eie dade.  (Esegiël 18)  Ongelukkig word die meeste van ons grootgemaak in ’n vervloekte omgewing waar ons ons ouers se voorbeeld van waardes, persepsies en beginsels gaan volg.  Ons gaan dus aan met godsdiens, tradisie en al die ander goed wat ons geleer is en as ons nie daarmee breek nie, gaan ons dit weer oordra aan ons eie kinders… op so ‘n manier gee ons aan vervloeking ’n deurloop in ons familie.  

Nou leer die wêreld ons om hierdie bloedlynvloeke met woorde te breek, maar is dit regtig die antwoord?  Ek het al soveel mense gesien waarmee dit sleggaan, wat bloedlynvloeke breek met die hoop dat dit beter met hulle sal gaan, maar hulle omstandighede verander net nooit…  Is dit nie dalk net ’n maklike uitkoms nie? 

“Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul.  Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en yster OMDAT hulle wederstewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het, het Hy hulle hart deur moeite verneder;  hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie.  Toe het hulle die Here aangeroep in hulle benoudheid;  uit hul angste het Hy hulle verlos.  Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek.”     Psalm 107:9-14  (AFR33/53)  

Uit hierdie Skrif is dit duidelik dat mense in duisternis vasgekluister is OMDAT hulle wederstrewig is teen die Woord van God en omdat hulle die raad van Abba Vader verwerp en hulle eie wil gehoorsaam, met ander woorde, mense wat ongehoorsaam is aan God.  Hulle is nie vasgeketting in die duisternis as gevolg van hulle voorouers se sondes wat ’n vervloeking oor hulle lewe geplaas het nie;  hulle is vasgeketting in die duisternis omdat hulle die voorbeeld van hulle ouers volg en aangaan met dieselfde sondes as die ouers.  Hulle is ongelukkig grootgemaak met dieselfde, verkeerde “mindset” as hulle ouers en dit is hierdie “mindset” wat moet verander.  Solank as wat hulle gaan vasklou aan die maniere van die voorouers, so lank gaan hulle in vervloeking bly leef.  Die mens moet tot die besef kom dat dit nie gaan help om die skuld vir die gemors in sy lewe op sy ouers of voorouers te pak en sommer net bloedlynvloeke te sny nie.  Dit is die mens wat moet verander!  Die mens moet sy eie sondes laat staan!  Dit is die “mindset” van die mens self wat oorgegee moet word in die hande van Abba Vader.   

Om bloedlynvloeke te breek, gaan ons nie help nie.  Dit is tyd dat elke mens verantwoordelikheid vat vir sy eie lewe;  ons moet breek met ons eie sondes en dit sluit in die sondes wat ons by ons ouers aangeleer het.  Die probleem is dat ons gewoonlik sukkel om die spesifieke sondes en verkeerde leefwyses (soos byvoorbeeld godsdiens) raak te sien in ons lewens.  Dit is omdat ons grootgeword het daarmee en half gewoond is daaraan dat ons dit nie sien as sonde nie.  Dit is net Abba Vader wat ons kan oortuig van ons sondes en verkeerde leefwyse deur die Woord en gebed.     

Die enigste manier om los te breek van hierdie kettings en bande, is om die keuse te maak om jou eie lewe in perspektief te neem, om voor die voete van Abba Vader selfondersoek te doen, verantwoordelikheid te begin vat vir jou eie lewe en dade, en die keuse te maak om jou rug op sondes en ongeregtighede te draai en jou te bekeer daarvan.  Jy moet sterf daaraan.  Dan ontvang jy vergifnis van God daarvoor.  Dit is die mens se eie verantwoordelikheid om die sondes van sy voorouers waarmee hy aangaan, raak te kan sien en totaal daarmee te breek.  Ons moet deur Jesus heers oor ons sondes en dan eers sal die persoon nie verder in ’n vervloeking leef nie, want dan het die persoon die lewe gekies.  Alles in ons lewe draai om keuses…

“Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle;  die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou.  Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag…” Deuteronomium 30:19  (AFR33/53)

Mense leef dus in ‘n vervloeking omdat hulle nie hulle rug op die sondes van hulle ouers draai nie, maar aangaan daarmee, hulle hou daardie sonde as’t ware lewendig.  Dit moet afgesterf word en dit is die mens se eie verantwoordelikheid om die Waarheid teenoor die leuens (of sonde) raak te sien, en die keuse te maak om daarmee te breek deur Jesus Christus.  Solank as wat ons aangaan daarmee en nie breek met hierdie sondes nie, sal dit ’n effek op ons lewens hê en sal ons in ’n vervloeking leef.  

 Hoe maklik is dit om die skuld vir jou vervloekte lewe op jou voorgeslagte te pak en hulle verantwoordelik te hou vir alles wat verkeerd loop in jou lewe…  Hoe maklik is dit om ’n paar woorde te uiter en die vloeke is gebreek sodat dit van nou af goed kan gaan in jou lewe…  Dit is teenstrydig met  Esegiël 18 wat duidelik sê die kinders sal nie betaal vir die ouers se sondes nie en die ouers sal ook nie betaal vir die kinders se sondes nie, maar elkeen sal gestraf word vir sy eie ongeregtighede, dus moet die kinders seker maak hulle gaan nie aan met hulle ouers se sondes nie.  

Kom ons dink net vir ’n oomblik openhartig en eerlik oor hierdie saak…  Wat is die grootste rede hoekom mense bloedlynvloeke sny?  Dalk gaan dit moeilik in hulle lewe… dalk is daar siektes, huweliksprobleme, finansiële probleme of wat ookal.  Nou hoor hulle hierdie “wonderlike” lering dat hulle bloedlynvloeke moet sny om te verseker dat dit beter in hulle lewens gaan… so wat is die hooffokus van hierdie mens?  Is die fokus ingestel op die self en ’n beter (meer geseënde) lewe?  Of is die fokus om nader aan God te leef?  Die meeste mense se diep innerlike motief is vals en verkeerd in die oë van die Here, want die sny van bloedlynvloeke is vir hulle ’n kitsoplossing om nie net verlossing te ontvang nie, maar ook om ’n geseënde lewe te kan lei!  Nêrens in die Woord van God leer Abba Vader ons om bloedlynvloeke te sny nie.  Wat God wel deur die Woord aan ons leer, is dat ons Hom met alles in ons moet liefhê  en gehoorsaam – dan sal dit met ons goed gaan.  Dit is tyd dat ons verantwoordelikheid vat vir ons eie lewe, dit onder ’n vergrootglas sal plaas en Abba Vader vra om ons sondes aan ons uit te wys.  Vir die meeste mense is dit baie makliker om nie verantwoordelikheid vir hulle eie dade te vat nie, maar eerder die skuld op die voorouers se sondes te blameer en hulle die skuld te gee vir die vervloeking in hulle lewens.  As daar voorouers was wat omgegaan het met waarsêery en toordery en die kind gaan ook daarmee aan deur mense te vervloek, leef hierdie kind in dieselfde vervloeking as die voorouer.  Dis nie die voorouer wat ’n vervloeking op die kind geplaas het nie, maar dis die kind wat in dieselfde voetspore van die voorouer volg en daarom sal hierdie kind in dieselfde vervloeking leef as die voorouer.  Ons moet breek met die gewoontes van ons voorouers en ophou om in hulle voetspore te volg;  ons moet eerder in die voetspore van Jesus begin volg.  Kom ons kyk net eers gou weer na Adam en Eva…

Hulle was die eerste geslag, hulle was direk van God, dus was daar geen bloedlynvloeke en sulke snaakse goed op hulle lewens nie.  Al was hulle deel van God se Lig, het Satan hulle nogsteeds versoek om te eet van die verbode vrug.  Eva het ongelukkig nie die regte keuse gemaak nie en het haar eie wil gehoorsaam deur te eet van die aanloklike vrug.  Sy kon nie haar voorgeslagte vir haar swakheid blameer en sê sy kon dit nie help nie, want daar was geen menslike voorgeslagte nie en daar was beslis geen swakheid in God nie.  Sy het wel probeer om die slang te blameer, maar as sy eerlik was, kon sy maar net haarself blameer omdat sy haar eie wil gehoorsaam en die verbode vrug genuttig het.  Verwydering van God, asook vervloeking, het ingetree…Dalk moet ons ophou vinger wys na ons voorouers en die fout by onsself begin soek.  

In die tyd wat Abba Vader my die waarheid kom leer het oor bloedlynvloeke en dat dit nie Sy wil is dat ons dit links en regs moet sny nie, het ek Hom gesmeek vir ’n antwoord uit die Woord en hierdie Skrif het Hy vir my gegee:

“As julle Hom as Vader aanroep, wat sonder aanneming van die persoon oordeel VOLGENS ELKEEN SE WERK, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;  omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos!”   1 Petrus 1:17,18  (AFR33/53) 

God oordeel elkeen volgens sy eie werke!  Ons word nie deur verganklike dinge losgekoop nie, dus word ons nie bevry deur menslike woorde in ’n poging om bloedlynvloeke te sny nie.  Ons word alleenlik losgekoop deur die bloed van die Lam!  Daar is geen kortpaaie na verlossing van hierdie kettings en bande nie.  Daar is net een manier en dit is deur Jesus Christus.

“Don’t look for shortcuts to God.  The market is flooded with surefire, easy-going formulas for a successful life that can be practiced in your spare time.  Don’t fall for that stuff, even though crowds of people do.  The way to life – to God – is vigorous and requires total attention.”    Matthew 7:13-14 (MSG)

Bestudeer asseblief Titus 1, veral vanaf vers 10-16.  Die Boodskap sit dit baie mooi uiteen, ek haal dele aan:

“Daar is baie mense wat in opstand is teen die gesag van die Here.  Dis veral diegene wat vroeër aan die Joodse geloof behoort het wat nou die grootste klomp kaf praat.  Boonop beïnvloed hulle baie ander mense om dit te glo.  Julle moet hulle so gou as moontlik stilmaak en hulle leuens stopsit, want hulle keer omtrent al wat huis is met hulle vals praatjies om.  Hulle doen dit om onskuldige mense se geld in die hande te kry.  Daardie mense wat die goeie nuus verdraai, moet jy asseblief vasvat.  Sê hard en duidelik vir hulle dat hulle op die verkeerde pad is.  Dalk maak dit hulle oë oop sodat hulle reg in God kan begin glo.  Hulle moet al daardie Joodse bygelowe en storietjies van hulle laat staan.  Hulle hou hulle nog altyd besig met mensgemaakte reëls en wette wat glad nie die waarheid is nie. AS DIE HERE ’N MENS VRYGEMAAK HET, HOEF JY NIE MEER AL DIE WETTE EN REËLS VAN DAARDIE MENSE TE GEHOORSAAM NIE.  Hierdie mense en ander ongelowiges is die gevangenes van hulle selfgemaakte godsdiens.  Hulle kom dit nie eers agter nie, want hulle gedagtes is in die mag van die sonde.  Hulle maak asof hulle God ken, maar hulle lieg…”  Titus 1:10-16 (DB)

Hierdie nuwe “wet” om bloedlynvloeke te sny, is ‘n mensgemaakte reël en wet wat deur mense uitgedink is.  As dit van God af kom, sou dit vir ons in die Woord ook gestaan het.  Die mense wat hierdie lerings uitgedink het en verkondig, is gevangenes van hulle eie selfgemaakte godsdiens.  Ons moet onthou dat Satan enigiets in sy vermoë sal doen om ons vryheid en geloof in Jesus weg te vat en daarom sal hy ons altyd slawe probeer maak van wette en reëls, want solank ons wette en reëls volg vir verlossing, verwerp ons die genade van God. 

“Hierdie spul vals mense het die kerk skelm-skelm binnegesluip om te kom kyk of ons al die reëls en wette van die Jode nakom.  Hulle wou die vryheid waarmee Jesus Christus ons vrygemaak het, van ons af wegvat en ons weer van voor af slawe van al hulle wette en reëls maak.”   Galasiërs 2:4  (DB)

“Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie.  Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie;  hulle probeer dit op hulle eie manier kry.  Christus is die einde van die wet, sodat elkeen wat  glo, vrygespreek kan word.”  Romeine 10:3,4  (AFR33/53) 

Kortliks, niemand kan verlos word van die bande en kettings in die duistere boksies of in die regte verhouding met God staan deur bloedlynvloeke te sny nie;  niemand kan redding bekom deur die wet van God na te kom nie, want geen mens kan in elkgeval sonder die Gees van God die gebooie nakom nie.  Ons kan niks sonder die Gees van God doen nie.  Lees gerus die volgende saadjie om te sien hoe ons verlossing kan bekom…

4 thoughts on “5 Bloedlynvloeke sny?”

  1. Na dertig jaar van pinkstertoordery het ek al die bygeloof oor my linkerskouer gegooi en uitgestap uit daai “sad” plekkie uit wat mense “kerk” noem. Kerk is waar jy en Jesus is en die witchcraft wat charismate rondsaai is onwelkom waar ek is.

    1. Jy stel dit so mooi, Pete! Dit is so lekker om te sien hoe al hoe meer mense se oë oopgemaak word vir die Waarheid en hoe hulle geepad uit Babilon (kerk). Baie dankie vir die kommentaar!

Leave a reply to the OP Cancel reply