Is jy soos ‘n golf in die see?

Die beproewinge en versoekinge.

AG dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.   Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.  En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.  Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.  Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie —  so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë. Jakobus 1:2-8 

Wat beteken hierdie Skrif vir jou?  Beaam dit dalk vir jou al die ander Skrifte wat sê jy kan van God enigiets vra en Hy sal dit vir jou gee of doen?  Ek het al gehoor dat mense sê jy moet vertrou en glo dat God vir jou sal gee wat jy van Hom vra en dat jy dan nie moet twyfel daaroor nie.  Jy moet glo dat God wel dit vir jou sal gee.  Mense soos Joyce Meyer en Joel Olsteen is sommer baie blatant oor hierdie saak:  Jy is God se oogappel en daarom sal Hy vir jou alles gee wat jou hart begeer…. selfs die oop parkering naaste aan die ingang van die besige “mall”.  Hoe belaglik is dit!  Mense soos daardie preek dat as jy vir God gevra het wat jy wil hê, moet jy nie twyfel of Hy dit vir jou sal gee nie, want dan is jy soos ‘n golf in die see.  Jy moet sommer al in die toekoms “insien” dat jy sal ontvang wat jy van Hom gevra het.  En dan die ergste… as jy nie kry wat jy gevra het nie, het jy nie met genoeg geloof gevra nie!  So hier kom dit weereens in:  Mense wil God soos ’n “genie” gebruik soos in Alladin… as hy iets nodig het, grawe gou die Bybel vol stof onder al die ander wêreldse boeke en tydskrifte uit, vryf die stof af, maak dit oop en lees hier en daar wat hom pas.  Dan het jy ’n wens…. so nadat jy vir ’n paar minute die Woord warm gelees het, kan jy jou wens bekend maak in gebed… en woeps waps… jou gebed is beantwoord en nou moet jy net glo dat die “genie” aan jou sal gee wat jy gevra het…  Ek maak nie ’n bespotting van die Woord van God nie;  ek maak ’n bespotting van die mens wat die leuens van Satan glo en wat God wil misbruik.

Lees asseblief die hele gedeelte van Jakobus 1.  Waaroor gaan hierdie gedeelte eintlik?  Is dit regtig ook een van daardie “Vra-en-kry Skrifte”?  Alles behalwe, want hierdie gedeelte handel oor beproewinge in ons lewe;  dit gaan oor die klippe wat God op ons pad geplaas het om ons te leer om op Hom te vertrou;  om ons te suiwer van onsself sodat ons stukkie vir stukkie kan sterf aan die self.  Hierdie Skrif handel GLAD NIE  rondom die saak om vir God iets te vra en dat Hy op aandag moet staan om die mens te dien en bedien nie.  Nee mense… julle het die kat aan die verkeerde kant beet… God is daar sodat die mens Hom moet dien, nie andersom nie.  Die mens is geskep om God te verheerlik, nie sodat God die mens moet verheerlik nie.  Die mens is vir God gemaak, God is nie vir die mens gemaak nie.

God plaas klippe op ons pad – nie om ons seer te maak nie en ook nie om ons te leer hoe om die klip uit die pad uit weg te toor met allerhande rympies en oorlogvoering nie… God het die klip daar geplaas sodat jy jou oë van die klip moet afhaal en jou oë op HOM moet vestig… wat beteken dat jy op HOM sal vertrou om die klip uit die pad te rol.  Die mens is nie veronderstel om vir God te vertel hoe om die klip uit die pad uit weg te neem nie, maar die mens is veronderstel om die saak in die hand van God te plaas en vir Hom te sê:  “Laat U wil geskied.”… en dan verder op Hom te vertrou en om te weet Hy sal die beste laat gebeur… vir die goed of die sleg…  dit is God se manier om ons te help om te sterf aan die self en ons lewe stukkie vir stukkie in Sy hand te plaas.

Klippe maak van jong gelowiges, volwasse gelowiges.  “The Message” sê: “Let it do its work so you become mature and well-developed, not deficient in any way.”  Wanneer jy wegkyk van die klip en jou oë op Abba Vader vestig, sal Hy in en deur jou werk om Sy wil te laat geskied, maar let wel… SY wil, nie JOU wil nie!  As Hy aan jou wysheid gee, is dit nie die mens wat so wonderlik is nie, maar die Gees van God binne die mens.  Maar dan moet jy die saak in Abba Vader se hande los en dit nie aanhoudend wil terugvat en self probeer uitsorteer nie.  Dit is wanneer jy soos ’n golf in die see is en twyfel of God regtig die klip uit die pad gaan rol.  Dit is wat hierdie Skrif beteken… nie dat jy moet twyfel dat God vir jou sal gee wat jy van Hom vra nie, maar dat jy nie moet twyfel in die vermoë van God om jou te help nie… maar dan moet jy die antwoord van God aanvaar, al is dit nie wat jy wil hê nie.

Mense wat klippe self probeer uitsorteer, doen dit gewoonlik op ’n menslike wyse wat die verkeerde manier is, en daarom sal hulle hul tone ten bloede stamp teen die klippe.  As hulle wel op die punt begin kom om die situasie aan Abba Vader oor te gee, twyfel hulle of Hy die probleem reg sal uitsorteer en daarom probeer hulle Hom voorskryf hoe om dit te doen.  Dit is wanneer hulle hulle eie wil op Abba Vader afdwing.  Hulle het nog nie genoeg geloof en vertoue in God nie en daarom twyfel hulle in Sy vermoëns en is hulle soos die golwe van die see.

Met ander woorde, wanneer is jy soos ’n golf in die see?  Is dit wanneer jy vir God iets vra om vir jou te gee of om iets vir jou te doen, of om sekere situasies te laat gebeur soos wat JY dit wil hê … en om dan te glo Hy sal dit vir jou gee of doen of laat gebeur soos wat jy dit van Hom vra?  Dat jy nie moet twyfel dat Hy enigiets vir jou sal doen nie?  Nee, om soos ’n golf in die see te wees, beteken om na die klip in jou pad te staar en moedeloos te raak, want wanneer gaan die klippe in jou pad minder raak?  Dit is om op te kyk na Abba Vader en met ’n twyfelagtige, halfhartige hart aan Abba Vader te vra:  Help asseblief! Maar onderlangs wonder ons of God ons regtig sal help.  Onthou net altyd… ons sien nie agter die skerms soos God nie.  Ons sien nie waarmee Hy regtig besig is nie, ons sien en beleef net die hier en die nou en dit maak ons benoud.  Maar dit beteken ons het nog nie in die rus van God inbeweeg nie.  Dit is so belangrik dat ons in die rus van God moet inbeweeg, want dis wanneer ons verdiep in Sy liefde raak, dat Hy begin werk in ons lewens… wanneer Hy die see vir ons oopmaak, wanneer Hy berge begin versit… maar ons sien dit nie altyd dadelik gebeur nie.  Gewoonlik sien ons dit eers raak nadat Hy ons deur die see gelei het… 

God is ’n goeie God wat nie verander nie.  Hy IS en bly altyd dieselfde.  Sy planne vir jou is goed, maar dan moet jy Hom toelaat om Sy planne te volbring in jou lewe.  Moenie God probeer voorskryf hoe om die plan van jou lewe te teken nie… aanvaar net die plan wat Hy alreeds geteken het.  En wanneer jy die volgende klip in jou pad teëkom?  Glimlag, kyk op en weet Abba Vader het ’n plan met hierdie klip… gesels met Hom oor die klip en laat Hom toe om jou gedagtes daar rondom te wysig… dit is wanneer Hy aan jou wysheid gee om die probleem te benader, Hy help jou om elke situasie uit ’n ander oogpunt te begin sien.  Vertrou Hom!  Wat ’n wonderlike God dien ons!                             

2 thoughts on “Is jy soos ‘n golf in die see?”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s