Stille, sagmoedige gees van ‘n vrou

“Julle versiering moet nie uiterlik wees nie:  haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.”  1 Petrus 3:3-4 (AFR33/53)

Op ’n dag wys Abba Vader vir my ’n ontstellende prentjie:  Jesus stap met Sy volgelinge op die stowwerige, klipperige, wit pad.  Die vrouens het niks “fancy” aan nie en hulle voete is vol stof, maar dit pla hulle glad nie, want hulle is nie ingestel op hulleself nie, net op Jesus.  Hulle klere word vuil en vol stof wanneer hulle kniel by die voete van Jesus, maar dit kan hulle ook nie pla nie.  Langs die pad staan’n paar vrouens wat uitgedos is in die beste, duurste uitrustings met vreeslike hoë hakskoene.  My fokus het op hulle skoene stilgeraak en ek het begin wonder hoe ’n mens op die pad agter Jesus kan aanstap met sulke skoene.  Hulle gaan baie swaarkry op die pad, want hulle gaan OF hulle skoene moet uittrek en agterlaat, OF Jesus nie volg op Sy pad nie.  Die “grand” vrouens het die kaalvoetvrouens aangegaap met hulle hande oor hulle monde van verbasing.  Hulle kon nie glo hierdie kaalvoetvrouens gee nie om om so vuil te word op die stofpad nie.  Maar weet julle – die stowwerige vrouens lyk maar net vir die wêreld stowwerig, maar hulle het die voorreg om elke dag te kniel voor die voete van die groot almagtige Koning.  Hulle ervaar elke dag die liefde wat uit Jesus uitvloei en daarom het hulle nie nodig om te klee vir aanvaarding van die wêreld nie.  Hulle weet wie hulle is en aan wie hulle behoort.  Hulle het tot die besef gekom dat dit nutteloos is om opgetof langs die pad te staan op soek na komplimente en aanvaarding.  Hulle het die voorreg dat Jesus elke dag hulle stowwerige voete was en hulle elke dag opnuut klee met klere uit Sy hemelkas.  

Daardie dag het ek besluit ek is klaar met die modes van hierdie wêreld, ek gaan beslis nie dat modegiere en hoëhakskoene tussen my en God staan nie.  Nie een van ons het mooi skoene, klere of behangsels nodig in ons lewenswandel saam met Jesus nie.  Ek sê nie hoëhakskoene is ’n euwel nie, maar dis wel ’n euwel as ons weier om dit uit te trek om Jesus te volg.  Dis ’n euwel as dit tussen ons en Jesus staan en dis ’n euwel as jy op jou hoëhakskoene die res van die mense uit die hoogte aanstaar en ’n hand voor jou mond hou, want “kyk hoe lyk daardie mense…” 

Dit wat in ons geeshart gebeur, werk vanuit ons geeshart na ons siel, wat weer op sy beurt oorspoel na die liggaam, met ander woorde, alles wat in ons gees gebeur, spoel op sy beurt weer oor na ons siel en dan na ons liggaam.  Die verandering in ons gees, sal mettertyd weerspieël in ons siel en liggaam.  Net so sal ons nuwe bekleding van ons gees, deur Jehova Tsidkenu, op sy tyd deurspoel na ons manier van dink en doen, asook ons fisiese manier van klee.  

Daar is niks mee fout as ons mooi aantrek en onsself versorg nie, maar waar die probleem wel inkom, is tot watter mate ons optof en ook wat die motief is daaragter…  Wat is ons beweegrede?  Is dit om goed of beter oor onsself te voel?  Is dit om gekomplimenteer te word?  Is dit om eer van die wêreld te ontvang?  Die ergste van alles – Is dit om aandag te trek en mense twee keer te laat kyk, veral om mans se oog te vang?  

Onder gebed wys Abba Vader vir my die mooiste, sagste pienk blom en vra ek moet die blom aan Hom beskryf.  Die eerste woord wat by my opgekom het, was die woord “sag”.  Daardie blom het vir my alles wat mooi, sagmoedig, liefdevol, vredevol en vroulik is, verteenwoordig.  Abba Vader gee toe vir my 1 Petrus 3 om te gaan lees en sê Hy wil graag hê Sy vrouens op aarde moet soos hierdie blom lyk en dit verteenwoordig…

“Julle versiering moet nie uiterlik wees nie:  haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.”  1 Petrus 3:3-4 (AFR33/53)

“Wanneer is ’n vrou regtig mooi?  Vir ’n Christen sit skoonheid nie aan die buitekant nie, maar dit kom van binne.  Moenie julle te veel daaroor bekommer of julle klere in die mode is en julle hare pragtig versorg is nie.  Mooi juweliersware is ook nie nodig om julle mooi te maak nie.  Nee, ’n vrou se eintlike skoonheid kom van binne af.  Hoe mooi is dit nie as ’n vrou sag en vriendelik optree nie.  Of ’n vrou nou oud of jonk is, hierdie soort mooiheid kan jy nie van haar af wegvat nie.  In God se oë is dit die kosbaarste juwele wat ’n vrou kan dra.” (DB)

Ek is jammer oor wat ek nou gaan sê, maar dis die reine waarheid…  Ek is ook ’n vrou, so ek wys nie vinger na ander nie, maar ek hoop dat elke vrou wat hier lees, selfondersoek sal gaan doen.  Vanaf Eva se tyd is dit so maklik vir die vrou om die man te verlei – om hom agter haar aan te lei die sonde in en om haar gode te dien.  Onthou net, mans verloor half kop as hy ’n mooi vrou sien, veral as sy nog sensueel geklee is daarby.  Sommige mans het al mooi geleer – hulle kyk eerder weg as hulle so ‘n vrou sien, maar daar is mans wat nie hulle oë in toom kan hou nie.  Ongelukkig is daar te veel vrouens wat versot daarop is om mans se koppe te laat draai.  Dit laat die vrou beter voel oor haarself, dit doen iets binne haar, dit voed ook seker haar honger gees, maar dit is ’n bose daad uit die pit van die hel!  Mans is swak as dit by vrouens kom, want hulle sien net een ding…  soveel mans loop nie agter ’n mooi vrou aan vir hoe sy lyk nie, maar vir dit wat sy hom kan bied – of dit seksueel van aard is en of sy vir hom ’n trofee is om hom beter oor homself te laat voel…  Ek weet alle mans is nie so nie, daar is egter min wat uitloklike vrouens kan teëstaan en ’n doelbewuste besluit maak dat ’n vrou hom nie sal mislei nie.  Daar is vrouens wat die vermoë het om mans se fokus weg te vat van God en hulle werk vir God – hierdie vrouens doen die werke van Satan!  Dit is in teenstelling met wat God van ons vrouens vra!  Hy vra van ons ’n sagte, stille en sagmoedige gees wat nie mans uitlok met die uiterlike nie, maar wat mooi van binne is.  Ons kan dit alleenlik by Abba Vader ontvang;  alleenlik Hy kan ons omvorm in die mooi, sagte, pienk blom.  ’n Vrou by die voete van die Meester gaan beslis nie uitloklik aantrek nie, dit is so in teenstelling…

 “…want ’n mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie.”       Mattheus 7:16  (AFR33/53)   

God duld nie goed wat in teenstelling met mekaar is nie, want hy duld nie lig en duisternis wat vermeng word met mekaar nie – dit is presies wat satan wil hê, nie God nie.  Ek was gekonfronteer met die argument dat ’n vrou se voorkoms en die manier waarop sy aantrek, niks met haar hart te doen het nie, maar as ek die Bybel lees en ek let op dit wat Abba Vader my leer, kan ek geensins daarmee saamstem nie!  ’n Boom word geken aan sy vrugte!  As ’n boom gewortel is in God, gaan hy vrug dra wat God verheerlik – die vrou wat gewortel is in God, sal klee om God te verheerlik.

“Julle is duur gekoop.  Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” 1 Korinthiërs 6:20  (AFR33/53)

As ons hart, siel en gees aan God uitverkoop is, gaan ons klee volgens ons hart om God te behaag en nie om die mens se oë te behaag nie;  ons gaan WIL lyk soos die pienk blom.  Ek oordeel geen vrou oor haar kleding nie, maar deur die kleding van ’n vrou oordeel sy haarself.  Ons liggaam is ’n tempel van die Heilige Gees, dit huisves die Gees van God en ons liggaam behoort nie aan onsself nie.  As die Gees van God binne ons woonbaar is, gaan ons gewete ons aankla wanneer ons klee om die fokus op ons liggame te plaas, want dan verheerlik ons God beslis nie.  Daarom moet en sal ons klee met die oog op Jesus, om Hom te verheerlik deur ons liggaam, nie om ons eie liggame te verheerlik nie.  As ons beweer ons behoort aan God, maar tog uitloklik klee, is ons besig om onsself te flous.  As ons harte deur God verander is, as ons deur Jehova Tsidkenu die kleed van geregtigheid ontvang het, gaan ons in elk geval geen behoefte hê om te klee met die doel om koppe te laat draai nie!  Ons gaan geen behoefte hê om mans te verlei nie, en as ons dit wel doen met die punt om mans te laat struikel, gaan ons moet verduidelik eendag…

As ons mooi aantrek en ons behang met versiersels met die doel om mooi te lyk aan die buitekant, wat gaan aan in ons binnekant?  Ek sê weereens:  Ek wys vinger na niemand, want ek het ook deur hierdie proses gegaan, so ek weet!  Ons plaas die fokus op die buitekant sodat ander nie moet fokus op ons harte nie….  laat hulle eerder ons buitekant bewonder en nie loer wat aangaan in ons hart nie.  As ons klee om raakgesien te word, doen ons dit om aanvaar en gekomplimenteer te word, maar niemand op aarde kan vir ons die aanvaarding gee wat ons nodig het nie.  En wie se aanvaarding wil ons regtig hê?  Die mens s’n, of God s’n?

 Wanneer ons geestelike klere van God ontvang, gaan ons nie meer WIL klee om ander te beïndruk nie, want as ons ons harte aan die enigste Geneesheer gee en Hy dit heelmaak, gaan ons self begin fokus op wat in ons hart aangaan en nie meer fokus op ons buitekant nie.  Jehova Tsidkenu maak ons so vol van binne, Hy voldoen in al ons behoeftes, soos liefde en aanvaarding, dat ons nie nodig het om dit in die wêreld te soek nie.  Ons hoef nie meer onsself te verkoop aan die wêreld nie, want ons is uitverkoop aan Jesus Christus en Hy verander ons van binne af buitentoe.  Hy klee ons met Homself wat liefde, vrede, vreugde en sagmoedigheid uitstraal – dan eers kan ons die pienk blom verteenwoordig wat God van ons verwag.   

“Verder het die Here gesê:  ‘Omdat die dogters van Sion trots is en loop met uitgerekte nek en met die oë lok, wegstap met trippelgang en hulle voetringe laat rinkel, daarom sal die Here die skedel van die dogters van Sion skurf maak, en die Here sal hulle skaamte ontbloot.  In die dag sal die Here wegneem die sieraad van die voetringe en die sonnetjies en die maantjies;  die oorversiersels en die armbande en die sluiers, die hoofversiersels en die voetkettinkies en die pronkgordels en die reuklflessies en die towermiddels;  die vingerringe en die neusringe;  die feesklere en die manteltjies en die tjalies en die handsakkies;  die handspieëltjies en die hemde en die tulbande en die wye mantels.  Dan sal daar in plaas van ‘n balsemgeur mufheid wees, en in plaas van ’n gordel ’n tou, en in plaas van gevlegte hare kaalheid, en in plaas van ’n pronkgewaad ’n roukleed, brandmerk in plaas van skoonheid’.” 

Jesaja 13:16-24 (AFR33/53)

Mag ons as vrouens klee om God te verheerlik met ons liggame en nie om eer aan onsself te bring nie!  Mag ons kniel voor die voete van Jesus sodat Hy ons kan skoonwas van binne sodat ons nie meer ons harte sal probeer wegsteek deur die fokus te plaas op die uiterlike nie.  Mag ons bereid wees om die juwele, handsakkies, reukwerk, mooi klere en hoëhakskoene eenkant te plaas sodat ons die stowwerige, wit grondpad sal aandurf saam met Jesus.  Mag ons oorgee aan God dat Sy saad binne ons sal begin groei sodat ons kan begin blom na buite met ’n stille, sagmoedige gees.  Mag God ons krag en sterkte gee om nie te fokus op die toeskouers wat ons met verbasing aangaap nie, maar om altyd ons fokus op Jesus te hou en om eerder te bid dat Abba Vader aan die toeskouers ’n hongerte en brandende begeerte na Hom sal gee.

“What matters is not your outer appearance – the styling of your hair, the jewelry you wear, the cut of your clothes –  but your inner disposition.”   1 Peter 3:3,4 (MSG) 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s