Hierdie is ‘n kort boekie oor die Uitnodiging na die Bruilofsfees van Jesus. Kortliks opgesom:
“…Mark me with your sign of love…” Psalm 25:7 (MSG)
Onder gebed wys Abba Vader my ‘n groot vertrek wat my laat dink aan ’n groot kantoor en in die middel van die vertrek staan ’n baie groot, ou, houtlessenaar. Teen die muur hang ’n groot, ronde houthorlosie. Ek hoor hoe tik-tik die sekondes af. Ek let op na die tyd en dis amper 12-uur. Iemand sit agter die lessenaar, en voor Hom op die lessenaar lê stapels en stapels papiere, asook ’n groot massiewe stempel. Hy neem ‘n stapel papiere en ondersoek papier vir papier en soos ek trane beleef wat van Sy wange afrol, word sommige papiere gestempel… en ander nie. Die groot ronde stempel interresseer my en ek rek oor die lessenaar om te sien watse merk die stempel op die papiere laat – dit laat ’n groot rooi kol – soos ’n bloedkol. Ek snak na my asem toe ek besef hierdie stempel is ’n stempel of seël van die bloed van Jesus Christus, en dan hoor ek Abba Vader helder en duidelik sê:
“Signed, sealed and saved”
Ek kyk weer na die stapels papiere wat sorteer word – diegene wat ’n seël van God ontvang, word eenkant geplaas en diegene wat nie geseël word nie, word aan die anderkant geplaas – daar is hope van hulle! Ek probeer fokus om te sien wat die verskil is tussen diegene wat wel ’n seël ontvang en diegene wat nie die seël van God ontvang nie… Elke papier of dokument word aan ’n sekere persoon gerig, want daar staan ’n naam op elke dokument en alhoewel ek nie presies kan sien wat op die dokument geskryf staan nie, kan ek wel sien dat elke dokument deur die betrokke persoon onderteken moet word. Daar is dokumente wat deur die betrokke persone onderteken is en hierdie dokumente ontvang die seël of stempel van God, waarna dit eenkant op ‘n hoop geplaas word. Dan is daar ’n hoop dokumente wat nie deur die betrokke persone onderteken is nie, dus ontvang hierdie dokumente nie die seël van God nie. Tot my verbasing is daar ook ’n derde hoop dokumente wat wel onderteken is, maar hulle ontvang ook nie die seël van God nie en hulle word ook eenkant op ’n hoop geplaas. Abba Vader gee vir my Efesiërs 1 om te gaan lees, wat ’n wonderlike bevestiging:
“It’s in Christ that you, once you heard the truth and believed it, found yourselves home free – SIGNED, SEALED, AND DELIVERED by the Holy Spirit. This signet from God is the first installment on what’s coming, a reminder that we’ll get everything God has planned for us, a praising and glorious life.” Ephesians 1:13,14 (MSG)
Hierdie dokument wat ons moet onderteken, is die uitnodiging na die Bruilof van God se Seun wat Hy aan elkeen van ons stuur. Hy roep elkeen van ons om die bruid van Jesus te wees. Elkeen het ’n keuse! Het jy al die keuse gemaak om die Bruilofsfees van die Seun van God by te woon? Is jou uitnodiging onderteken? Is jou uitnodiging gestempel met die bloed van die Lam? Of het jou uitnodiging dalk ook tussen die hoop dokumente beland wat onderteken is, maar nie gestempel word nie?
Ons gaan in hierdie kort boekie kyk na die uitnodigings wat Abba Vader aan ons stuur en hoekom sekere uitnodigings gestempel word, maar ander nie… Daar is net een pad wat lei na die Bruilofsfees, so hoe weet ons dat ons die regte pad volg? Om die Bruilofsfees by te woon, moet ons korrek geklee wees… Is jy geklee met die korrekte Bruilofsgewaad? Die tyd loop uit, die feesmaal is besig om gereed gemaak te word. God roep Sy kinders een vir een na die Bruilof van die Lam en elkeen het ’n keuse of hy die ware Weg gaan volg na die Bruilofsfees… Mag hierdie boekie jou tot oorvloedige seën wees…
“So, friends, confirm God’s invitation to you, His choice of you. Don’t put it off; do it now. Do this, and you’ll have your life on a firm footing, the streets paved and the way wide open into the eternal kingdom of our Master and Savior, Jesus Christ.” 2 Peter 1:10-11 (MSG)