Welkom by Sonneblomsaadjies

Oorsprong van die Saadjies

Ek is bevoorreg om ’n instrument in Abba Vader se hand te wees waar Hy aan my stories vertel en dit is hierdie stories wat Hy met my deel, wat ek weer graag aan die wêreld wil uitdeel.  Ek noem die stories “Saadjies” omdat Hy my deur die jarelange proses altyd herinner het aan ‘n sonneblom.  Abba Vader, as die Tuinier, moes eers my hartsgrond in gereedheid bring voordat Hy kon saad saai in my hartsgrond.  Nadat Hy die saad gesaai het, het Hy uit genade die grond klam gehou sodat die eerste lewe van die saadjie deur die grond kon breek om te groei in ‘n pragtige sonneblom.  ‘n Sonneblom se natuurlike reaksie is om sy kop te draai en die son ten alle tye te volg.  Met sy kop omhoog, wag die sonneblom in spanning vir die son se strale om hom te tref en tot in sy diepste wese in te skyn.  ’n Sonneblom kan nie groei of blom sonder die strale van die son nie;  hy leer afhanklikheid van die son en later weet hy dat hy uiters afhanklik is van die son om hom vorm te gee en hom te laat blom met uitbundige, heldergeel blare.  

Later vorm die sonneblom saadjies en dan gaan daar ’n tyd aanbreek wat die sonneblom nie meer so mooi vertoon nie… Sy uitbundige, heldergeel blomblare raak dof en vaal;  sy blare verlep, verdroog en raak opgefrummel… Sy kop begin vooroor hang, so asof hy na die uitbundige blomtyd geleer het hoe om te kniel voor die Tuinier.  Dan lyk dit asof die sonneblom doodgaan, maar die Tuinier glimlag, want een sonneblom se saad kan nou talle sonneblomme oplewer… ’n honderdvoudige oes, want die lewe van die sonneblom is verdeel in die saadjies wat wyd en syd gaan versprei om talle plantasies sonneblomme te groei.  Dit is die planting van die Here, tot Sy heerlikheid (Jesaja 61:3).  Ek buig my kop, net soos die droë sonneblom, om in nabye aanbidding voor die voete van Abba Vader te kniel en alle eer aan Hom te gee.  Mag elke saadjie Abba Vader verheerlik. 

Uiteensetting van die Saadjies

Bo aan die webtuiste is verskeie kategorieë wat bestaan uit verskillende saadjies wat betrekking het op die spesifieke kategorie. Dan is daar ook ‘n hele klompie verskillende saadjies wat net as ‘posts’ op die Saadjie Bladsy is. As jy vinnig na iets spesifieks soek, kan jy dit vind deur die “Search” opsie.

Kopiereg

Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag sonder skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of langs enige elektroniese of meganiese weg weergegee word nie. Met ander woorde, geen Saadjie of selfs ‘n gedeelte van ‘n Saadjie mag ‘gecopy’ en ‘gepaste’ word om ‘n eie artikel te skryf nie.

Mag Abba Vader Sy Lig or jou skyn

%d bloggers like this: