Tag Archives: ons mag nie ons eie wil op God afdwing nie

KEUSES…

Keuses

Keuses kan maak of breek – dit bou verhoudings op of dit breek verhoudings af.  Keuses bepaal jou toekoms.  Keuses bepaal jou ewigheid…  

Die keuses wat ons maak het nie nét ’n impak op ons eie lewe en toekoms nie, maar ook op al die mense rondom ons en veral ons geliefdes.  Keuses het ‘n massiewe impak op die generasies wat volg, en dit is die persoon wat ‘n verkeerde keuse maak wat eendag voor Abba Vader gaan moet staan om verantwoording te doen vir impak wat sy keuses op die nageslag gehad het.  In Eksodus 20:5,6 staan:

“…Ek, die Here jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;  en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en My gebooie onderhou.”

Hierdie Skrif word deur vals leringe gebruik om hulle punt te staaf dat ons bloedlynvloeke moet sny, maar dit is ’n wêreldse siening.  Hierdie vers was deur die brein van die mens geinterpreer en nie deur die Gees van God nie.  Die misdade van die vaders is die sonde van die vaders wat ’n impak sal hê op die geslagte wat volg.  Sonde ontstaan uit ’n menslike keuse!  Kyk na Eva… sy het ’n keuse gemaak om te voed op die verbode vrug en hierdie keuse was ongehoorsaamheid en rebellie teen God, wat sonde is.  So, verkeerde keuses wat ons neem, is sonde!  En sonde het altyd gevolge.  Sonde verduister jou toekoms, dit bind jou stywer vas in die duistere wêreld, dit gee Satan mag en beheer oor jou en dit hou jou hart ’n onbesnede kliphart.  Die mens wat vasgevang is in die duistere wêreld en die beginsels van die wêreld volg, skep ’n bose omgewing waar hy sy kinders grootmaak… en kinders leer deur die voorbeeld van die ouers.  Hulle gaan 10 teen 1 aangaan met dieselfde sondes as hulle vaders omdat hulle daarmee grootgeword het.  So as ons kyk na die bose kringloop, gaan alles weer terug na die ongehoorsame vader wat verkeerde keuses gemaak het en op hierdie manier sy nageslag besmet het.  Om bloedlynvloeke te sny, is nie die antwoord om vrygespreek te word van die gevolge van sonde nie;  alleenlik wanneer ons waarlik weergebore word deur die Gees van God, maak dit ons vry van die sondes van die voorouers.  Ware wedergeboorte en heiligmaking maak van ons ’n nuwe mens in God;  die Gees van God raak die beheerder van ons lewe en daarom gaan ons nie keuses maak soos ons voorouers dit gedoen het nie, maar gaan ons die wil van God soek in elke keuse wat ons maak… hoe klein of groot daardie keuse is. 

Die mens word gebore met ’n wil van sy eie en hierdie wil van die mens is baie sterk.  Die wil van die mens is in stryd met die wil van God, wat dit wat die menslike natuur wil hê, is die teenoorgestelde van dit wat die geestelike natuur wil hê:  

“Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.”  Gal. 5:16-17 

Die enigste manier hoe ons volgens ons geestelike natuur kan leef, is om te sterf aan die eie wil en 100% te ‘submit’ onder die gesag van God.  Dit gaan beteken dat jy keuses gaan moet maak wat baie sterk teen jou menslike wil is, maar as jy gehoorsaam is aan God, jouself eenkant plaas en God gehoorsaam, sterf jy alreeds ’n stukkie van jou eie wil af.  Op hierdie manier toets God ons ook of ons waarlik tot bekering gekom het…  Die mens wat valslik tot bekering gekom het, sal nie sy eie emosies en menslike begeertes eenkant plaas en ’n keuse maak wat God sal verheerlik nie.  Hy sal ’n keuse maak op grond van sy eie emosies en begeertes – hierdie mens sterf nie sy eie wil af nie.  Hoe kan jy jou eie wil afsterf as jy hom die heeltyd gehoorsaam?  Daarteenoor… die mens wat tot ware bekering gekom het, sal voor keuses te staan kom waar hy moet kies om sy emosies eenkant te plaas, om nie toe te gee aan sy eie begeertes nie, maar ‘n keuse maak tot heerlikheid van God.  Dit kan klein goedjies in ons lewens wees, maar soms kan dit ook groot goed in ons lewens wees.  

Baie jare terug, toe Abba Vader hierdie aan my geleer het, het ons voor ’n groot keuse te staan gekom.  Ek het geweet wat die wil van God vir ons lewe was daardie tyd, maar my eie emosies en my eie wil het in die pad gestaan en ek het gesukkel om die wil van God te aanvaar.  Een dag was ek weer tranerig oor die situasie en toe ek stilword by die voete van Abba Vader, het Hy vir my verduidelik:  Jesus het geweet wat Sy groot doel op aarde was, Hy het dus geweet wat die wil van God was.  Hy het geweet Hy gaan swaarkry, verwerp word, ly en gekruisig word, maar het Jesus een keer geveg daarteen en sy emosies belangriker geag as om God te gehoorsaam en daardeur Hom te verheerlik?  Nee, Hy het nie.  Die aand voordat Hy gevange geneem was, was sy hart swaar en het Hy bloed gesweet, maar nogsteeds het Hy nie toegegee aan sy eie wil en emosies nie.  Nogsteeds het Hy die wil van God gehoorsaam.  Hy het nie toegelaat dat sy emosies oor Hom heers nie.  Nadat Abba Vader dit aan my verduidelik het, stap ek af met die trappe na die TV kamer, en dadelik hoor ek Romanz sing op die televisie die volgende woorde:  

‘Ek vra nie hoe jy voel nie… As gevoelens hoegenaamd besluite raak… dan was daar nooit die pyn nie…toe die spykers deur die houkruis kraak… ‘   

Hierdie woorde het my tot stilstand geruk en weereens het ek besef en geweet dat God ook nie vir my vra hoe ek voel oor Sy wil vir ons lewens nie.  My emosies en menslike begeertes mag nie in die pad staan as dit kom by die wil van God nie.  Net soos Jesus nie toegelaat het dat menslike vrees die oorhand oor Hom kry nie, net so moet ons ook vertrou op dit wat God al lank reeds vir ons beplan het, maar dit beteken ons gaan die self, ons emosies en begeertes moet afsterf. 

God vra nie vir my of vir jou hoe ons VOEL oor Sy wil vir ons lewens nie;  ons emosies mag nie ons keuses vir ons maak nie, want as emosies besluite moes maak, was daar nooit die spykers wat deur die houtkruis gekraak het nie… dan was Jesus se bloed nooit daar waarin ons skoongewas kon raak nie.  As Jesus nie as die perfekte offer geoffer was nie, was ons almal vasgevang in die duistere wêreld en was ons almal verlore.  Daar sou geen deurgang gewees het na die Lig van God nie.  Jesus het vir ons die perfekte voorbeeld kom stel:  Plaas jou emosies eenkant as jy ’n keuse moet maak.  Maak jou keuses tot die heerlikheid van God en nie tot heerlikheid van jou emosies nie.

Maar hoe doen ons dit prakties?  Dis eintlik maklik… moet geen besluit maak sonder om stil te raak by die voete van Abba Vader nie.  Dit is ’n deel van gebed!  Dis hoekom ek altyd sê gebed mag nie ’n gesmeek en ’n gerig van  versoeke wees waar ons God probeer vertel hoe Hy dinge vir ons moet doen of hoe Hy in ons begeertes moet voldoen nie.  Ons mag dit nie doen nie!  God sê duidelik ons mag Hom nie versoek nie!  Gebed is om stil te raak en Abba Vader toe te laat om jou gedagtes te verander en te rig na Sy wil.  Wanneer jy ’n keuse moet maak van watter aard ookal, gaan na Abba Vader daarmee sonder enige verwagtinge of vooropgestelde idees;  lê dit voor Sy voete neer en jy sal wel daar – onder gebed – besef wat die regte keuse is.  Ek het al telkemale die volgende beleef:  Ek moet ’n keuse maak, en deurdink die besluit met my brein en emosies;  ek maak dus alreeds ’n “halwe” besluit.  Maar wanneer ek stilraak by die voete van Abba Vader en ek die besluit voor Hom neerlê, besef ek ek is besig om nonsens aan te jaag en dat ek totaal en al die verkeerde besluit sou neem.  Die gedagtes van die mens is nie die gedagtes van God nie.  Die wil van die mens is totaal en al nie die wil van God nie.  Soms kan ek aanvanklik nie verstaan hoekom die Here wil hê ek sommige dinge op ’n sekere manier moet doen of hanteer nie, maar na ’n paar dae, weke of maande is dit vir my baie duidelik hoekom ek dit so moes doen… 

Om hierdie gedeelte op te som:  Sterf jou menslike wil af sodat jy die wil van God kan aanvaar en uitleef.  Plaas jou emosies eenkant wanneer jy ’n besluit moet neem en maak seker jy maak ’n besluit tot gehoorsaamheid en heerlikheid van God.  Moenie vir God probeer hied en gebied hoe Hy dinge in jou lewe moet laat uitwerk nie, want dan dwing jy jou eie wil en begeertes op God af.  En onthou altyd… keuses wat jy maak uit jou menslike wil en begeertes, sal ’n negatiewe effek hê op jou nageslag en jy is die een wat verantwoording daarvoor gaan moet doen.  Maak verantwoordelike keuses wat God sal verheerlik en jy plaas nie jou nageslag in gevaar nie.

Ekstra saadjies:

Wat is gebed en verhouding met God? https://sonneblomsaadjies.com/wat-is-gebed-en-verhouding-met-god/

Hoe versoek ons God? https://sonneblomsaadjies.com/2018/11/12/hoe-versoek-ons-god/

Romanz – Houtkruis