Die mens het ’n verkeerde begrip van die woord “LIEFDE”, want Satan het die woord gevat, vir die mens iets anders daaruit gemaak en ’n stempel daarop geplaas, genaamd “Liefde”. Ons lees in boeke en sien op televisie iets wat uitgebeeld word as liefde, maar dit is Satan wat die mens flous, want dit wat ons in die media sien, is nie waarlik liefde nie. Meisies en vrouens kyk en lees liefdesverhale wat hulle ‘n verkeerde begrip van liefde gee. Ons glo in feeverhaal-liefde waar ‘n prins op ‘n wit perd ons sal red en hy ons vir ewig op die hande sal dra. Menslik gesproke is dit onmoontlik en daar is so baie jong huwelike wat op die rotse beland as gevolg van hierdie verkeerde persepsie wat vrouens het oor liefde en die huwelik! Die enigste prins op die wit perd wat ons kan red, is Jesus!
Wellus is ’n vieslike ding wat Satan gemaak het uit die woord “Liefde”! Hy het liefde gevat, dit omgesit in wellus en die hele wêreld word geflous deurdat ’n mens nie kan onderskei tussen liefde en wellus nie. Wanneer ’n mens ’n sekere emosie voel, dink hy dit is liefde, maar ware liefde is iets wat alleenlik in die gees van die mens kan gebeur. Wellus is ’n vieslike ding wat in die siel en in die liggaam van die mens plaasvind. Die wêreldse mens, wat geen Goddelike onderskeiding het nie, kan nie ware liefde en wellus van mekaar onderskei nie. Hierdie mens beskryf die goeie gevoel of emosie wat hy ondervind as liefde, maar al die tyd is dit wellus. Wellus kan ’n mens beheer en dit kan ook veroorsaak dat twee mense nie sonder mekaar kan lewe nie – al veg hulle soos kat en hond. Ek glo dat wellus ook ’n demoniese besetting kan wees, maar deur die Liefde van Jesus binne die mens, kan enige besetting oorkom word.
Het jy al die spreukwoord gehoor: “Ons soek ons anderhalf”? Dis presies wat dit is! ’n Halwe mens is op soek na die ander helfte van homself! Mense sonder die Lewe van God in hulle geesharte, is halwe mense. Hulle geesharte is dus nog in dormansie, dit is leeg. Hulle voel die leemte diep in hulle binneste wat eintlik dui op geestelike hongerte. Behalwe dat die mens sy geestelike hongerte op allerhande maniere probeer voed, begin hy op ’n stadium ook soek na die ander helfte van homself. Baie mense probeer die leemte in hulle geeshart vul met ’n huweliksmaat, maar die meeste van die tyd vind hulle ’n lewensmaat wat ook ’n halwe mens is en wat ook opsoek is na sy anderhelfte. Dink net gou bietjie of hierdie scenario kan werk – twee halwe mense wat saamsmelt, maar albei se kerngedeeltes is leeg… Hoe gaan twee leë helftes mekaar kan volmaak as albei se kerns leeg is? Die twee doppe gaan saamsmelt om ’n dubbele, deurmekaar dop te vorm, maar die deurmekaar dop gaan ’n dubbele grootte leë kern hê… so sien julle ’n man of ’n vrou kan NOOIT ons anderhelfte wees nie, want ’n man of vrou kan NOOIT die leemte van ons hart vul nie. Omdat ons geeshart deur God geskep is, kan alleenlik Jesus van ’n half funksionerende mens ’n volwaardige mens maak – ’n halfmens na ’n heelmens.
Halfmense se denke, emosies en eie wil is nog wêrelds; hulle is geneig om tradisie, kultuur en godsdiens te volg en het ook nog die waardes, beginsels en persepsies van die wêreld en nie van God nie. Wanneer ons diep in God gewortel raak, ontvang ons die Lewe van God wat in ons geeshart gedeponeer word. Dan begin ons geeshart lewe met die Lewe van God en die halfmens begin meer vervuld voel; hy kan voel hy het die ander helfte van homself gevind. Die Lewe van God spoel oor na ons sielsdimensie en dit is wat ons as mens begin verander. Skielik begin ons uit ander oë na die wêreld kyk, ons persepsies en waardes begin verander en ons doen net nie meer dinge soos die wêreld nie. Ons begin ’n oorhand oor ons emosies ontwikkel en soms kan selfs ons persoonlikhede verander. Dit is nie die mens wat self verander nie, dit is die Lewe van God wat die mens omskep in die mens wat God oorspronklik bepaal het hy of sy moet wees. Dit is die halfmens wat verander na ’n heelmens.
Kom ons kyk na huwelike… Oor die algemeen is die meeste in ’n gemors gedompel en staan so baie huwelike op die drumpel van ’n egskeiding! Nou kan ons beter verstaan hoekom… dit is twee halwe mense wat gedink het hulle het hulle “soulmate” gevind; hulle het gedink dat die pot sy deksel gevind het; hulle het gedink dat hulle hul anderhelfte gevind het. Aan die begin het die twee halwe mense vervuld gevoel deur die ander een se liefde, maar na ’n rukkie keer alles weer terug na normaal en begin die soeke weer van voor af. Met ander woorde, nie een van die twee se leë geestelike helftes is gevul of bevredig nie, alleenlik die siel en die liggaam is vir ’n kort rukkie bevredig. Mensliefde kan nie deur geesharte geabsorbeer word nie, so mensliefde kan niks aan ons honger gees doen nie; alleenlik die liefde van Jesus kan ons geestelike hongerte stil. Die twee halwe mense het gedink dat hulle liefde gevind het, maar hulle is so mislei…
Halwe mense se kerns is leeg, dit is dormant, want Jesus is nie teenwoordig in hulle harte nie. Twee halwe mense kan nooit waarlik een word nie, hulle kan nooit as ’n eenheid saamsmelt nie, want hoe smelt twee leë kerns saam? Hulle leë kerns is nou net ’n dubbele leë kern. Met ander woorde, as die Lewe van God afwesig is in een van die twee mense, kan die twee mense nooit as ’n eenheid funksioneer nie. Ons funksioneer nie uit die liggaam of siel as een nie, maar uit die gees, en as ons geeshart nie lewe nie, kan dit ook nie met ’n ander versmelt nie. Mense leef met die illusie dat wanneer hulle verbind is in die eg, hulle een is, maar in werklikheid is hulle net een in liggaam en siel wat net ’n wêreldse verbinding is en wat deur twee fisiese ringe bevestig word. Eenheid ontstaan alleenlik deur die gees; ons moet eers een raak met ons huweliksmaat deur die gees en nie deur liggaam en siel nie. Ons gees sal altyd die belangrikste deel van die mens wees. Om te kan versmelt in die gees, beteken ons geesharte moet lewendig wees met die Lewe van God, met ander woorde, ons moet heelmense wees en nie meer halwe mense nie.
Daar is baie min paartjies wat op hul huweliksdag in die gees een word, want daar is baie min jongmense wat opreg tot wedergeboorte gekom het voordat hulle die keuse gemaak het om te trou. ’n Huwelikspaartjie is gewoonlik onder die vals illusie dat liefde hulle een gemaak het, maar al die tyd is hulle geesharte nog in dormansie en is ware Liefde nie eers teenwoordig in hierdie verhouding nie (want ware Liefde is Jesus). Mense wat net in liggaam en siel verbind is, is verbind deur die giftige gom van wellus, maar die wêreld ken nie die verskil tussen liefde en wellus nie. So baie mense glo hulle het liefde gevind, net om later uit te vind dat ware Liefde (wat Jesus is) toe nooit teenwoordig was in die verhouding nie en dit is hoekom die twee mense so sukkel om oor die weg te kom. ’n Huwelik sal nooit vredevol en gelukkig wees sonder Jesus nie. Wellus, ‘n giftige gom wat twee halfmense liggaam en siel aan mekaar verkleef, kan nie die gees van die mense een maak nie; alleenlik Jesus kan twee mense se geesharte laat saamsmelt.
Ongelukkig werk alles so verkeerdom in die wêreld, want in die wêreld smelt twee mense eers saam in die liggaam deur seks. Hulle is dus een in liggaam en word aan mekaar verkleef deur die bose gom, wellus. Hierdie bose gom probeer dan ook om die twee halfmense se sielsdimensies een te maak, maar onthou nou dat halfmense se sielsdimensies nog nie deur God verander is nie. Elke persoon het nog sy eie wêreldse waardes, persepsies en beginsels waarmee hy grootgeword het en almal het verskillend grootgeword. Nou probeer twee halfmense, wie se manier van dink en doen totaal van mekaar verskil, versmelt raak in die siel en dit veroorsaak een verskriklike groot, deurmekaar gemors. Hierdie verhouding bestaan uit konflik en argumente, want hulle sukkel om mekaar te verstaan; hulle sukkel om mekaar se waardes en sienings te respekteer en aanvaar, en as daar kinders in hierdie huwelik gebore word, gaan die arme kinders nie weet wie se waardes en persepsies om aan te neem nie. Wellus, die bose gom wat die twee mense verkleef, maak dat hulle nie sonder mekaar kan lewe nie, al wil hulle mekaar vermorsel en doodmaak.
Om die bogenoemde reguit op te som: Die mens wat nog nie tot ware wedergeboorte gekom het nie, wat nog nie verander is deur die Lewe van God nie; die mens wat nog leef volgens die beginsels van die wêreld, is nog ’n halwe mens wat tien teen een gaan trou met ’n ander halwe mens. Die mense glo valslik dat hulle as ’n eenheid funksioneer wanneer hulle trou, maar halfmense wat trou, kan nie deur die gees as ’n eenheid funksioneer nie. Dit is net wellus wat hulle aan mekaar koppel, nie die Liefde van God nie en dit is hoekom hulle nie in vrede kan leef nie. Hulle is net vleeslik een, nie in die gees nie. Met ander woorde, het God hierdie twee mense aan mekaar verbind? Nee, Hy het nie, want Hy is nie teenwoordig in een van die twee halfmense se harte nie, dus was God nie deel van die huweliksverbond nie. Al het ons in ’n kerk getrou en ’n plegtige eed afgelê aan mekaar… as die Lewe van God nie in die mens se hart teenwoordig is nie, is die aanwesigheid van God ook nie teenwoordig in hierdie huwelik nie.
Nou gebeur dit in baie gevalle dat een van die twee halfmense op ’n stadium in hulle lewe tot ware bekering en wedergeboorte kom. Dit kan ’n moeilike situasie raak, want soos ons gesien het, begin die Lewe van God ’n mens verander soos ons gewortel raak in Hom en die “anderhelfte” gaan dalk nie van hierdie verandering in sy maat hou nie. Die wedergebore persoon begin sy/haar lewe anders lewe, alles rondom die persoon gaan begin verander en dit kan gebeur dat ’n mens net al hoe verder van mekaar verwyderd raak. Die grootste fout wat ons kan maak, is om die halfmens toe te gooi met die Woord, vir hulle te preek of om hulle te probeer saamsleep na geestelike praatjies. In die meeste gevalle, stoot ons die ander een weg van ons af en ook weg van God af. Gee hom/haar net oor in die hand van Abba Vader en fokus jy op jou verhouding met Abba Vader. God sal op Sy bepaalde tyd die halfmens nader trek. Sorg jy net dat jy elke dag opnuut gevul raak met die Liefde van God sodat jy weer ware Jesusliefde aan jou huweliksmaat en kinders kan uitdeel.
“As daar ’n man is wat nie na die Woord van God wil luister nie, moet die manier waarop jy as vrou leef, hom oortuig dat dit waarin jy glo, die waarheid is. Jou lewe praat baie harder as jou woorde. Dit is eintlik nie eens nodig om baie met jou man oor God te praat as jy leef soos Hy wil hê nie. So sal jy vir jou man wys hoe wonderlik God is.”
1 Petrus 3:1,2 (DB)
As jou maat God verag, kan dit regtig in ’n moeilike situasie ontaard, want as jy gevul raak met Jesus, kan dit gebeur dat hy jou ook in ’n mate gaan begin verag. Dit kan dus gebeur dat jou maat nie gaan hou van die verandering binne jou nie, maar hier moet ons sterk staan en nie ingee nie! Ons kan nie weer terug verander na die beeld van die wêreld nie. As ons kan sterk staan in hierdie saak en nie ons Goddelike waardes en beginsels prysgee nie, kan dit gebeur dat ons maat besluit om ons sienings te respekteer en dalk kan hy later ook die keuse maak om sy hand in Abba Vader se hand te plaas.
“Oor wat verwag word van ’n Christen wat met ’n nie-Christen getroud is, het die Here nie destyds met ons gepraat toe Hy op aarde was nie. Laat ek vir julle sê wat ek dink: As die nie-Christen gewillig is om met die Christen getroud te bly, moet hulle nie skei nie (As hy die volmens se waardes kan respekteer). As ’n nie-Christen met ’n Christen getrou is, beteken dit nie dat die Here daardie huisgesin verwerp nie. Dit sou mos beteken dat Hy die kinders van die huisgesin ook verwerp. Dit doen die Here nie. Die Here aanvaar daardie huisgesin en daardie kinders behoort aan Hom. Maar as die nie-Christen wil skei, laat hy dit doen. Die Christen hoef in so ’n geval nie te voel hy doen iets verkeerds as die nie-Christen sy goed vat en loop nie. Dit is beter so as om in onmin saam te leef, want God wil hê sy kinders moet in vrede leef. As jy sê dat jy in onvrede getroud wil bly om so jou ongelowige huweliksmaat ’n Christen te probeer maak, waag jy ’n goot kans. Hoe weet jy of jou plan sal uitwerk?”
1 Korinthiërs 7:12-15 (DB)
Hierdie kan regtig ’n baie moeilike situasie raak, want dit wat God in die gees saamgebind het, mag ’n mens nie verbreek nie. Met ander woorde, twee mense wat in die gees verbind is en nie net vleeslik nie, mag nie skei nie, want hulle is een in God. Twee heelmense wat in die gees verbind is, sal in vrede leef, want albei is gekonnekteer aan die ware Liefde. Die Lewe van God sou albei se sielsdimensies verander het sodat albei God se waardes, persepsies en beginsels begin aanneem. Hulle dink en voel dieselfde oor die meeste kwessies, dus sal daar nie baie konflik wees nie. Laastens word die twee heelmense ook een in vlees. Met ander woorde, alleenlik twee heelmense wat gekonnekteer is aan die ware Liefde, en wat die Lewe van God ontvang, kan saamselt in die gees. Dit is omdat die Lewe in hulle harte vanaf dieselfde Bron afkomstig is en dit vorm ’n eenheid in Jesus Christus. Maar ’n heelmens en ’n halfmens kan nie in die gees saamsmelt nie, want die een se geeshart is gevul met die Liefde van God en die ander een se geeshart is dolleeg. ’n Leemte kan nie versmelt met gevuldheid nie, daar sal altyd ’n leemte bly.
Nou is daar dalk ’n heelmens wat verlief raak op ’n halfmens en dalk met hom/haar wil trou, maar kyk wat sê die Woord rondom hierdie kwessie:
“Don’t become partners with those who reject God. How can you make a partnership out of right and wrong? That’s not partnership; that’s war. Is light best friends with dark? Do Christ go strolling with the devil? Do trust and mistrust hold hands? Who would think of setting up pagan idols in God’s holy Temple? But that is exactly what we are, each of us a temple in whom God lives. God himself put it this way: ‘I’ll live in them, move into them; I’ll be their God and they’ll be my people. So leave the corruption and compromise; leave it for good’, says God. ‘Don’t link up with those who will pollute you. I want you all for myself. I’ll be a Father to you; you’ll be sons and daughters to Me’.”
2 Corinthiërs 6:14-18 (MSG)
Dit help nie ’n mens kom met die argument dat ons die halwe mense sal help om God te vind nie, want as die halwe mens God verag, kan dit so maklik gebeur dat hy/sy die gelowige ook gaan verag. As die halfmens nie bereid is om sy hart aan Abba Vader te gee nie, kan die heelmens ’n baie alleen mens in die huwelik raak, want die heelmens is geneig om die ware persoon wat hy/sy is, half weg te steek van die halwe mens in ’n poging om nie verwerp te word nie. Hier ontstaan dan ’n baie oppervlakkige verhouding tussen halfmens en heelmens omdat ’n mens nie jou hart met die halfmens kan deel nie. Die halfmens leer ken dus nie die heelmens vir die ware mens wat hy/sy is nie en dit is ’n baie hartseer saak. En wat as daar kinders gebore word in so huwelik? Die een ouer glo in God en wil graag die kind grootmaak volgens God se beginsels en waardes, maar die ongelowige gee nie om oor goeie beginsels en waardes nie en leer weer die kind die teendeel. Die kinders ontvang dus lering uit twee totaal verskillende oorde en dit is natuurlik dat die kind op ’n stadium gaan stilstaan en wonder wie om te glo? Gaan hy die beginsels en waardes van die gelowige aanneem, of gaan hy die beginsels en waardes van die ongelowige ouer aanneem en uitleef? Ek dink nie ons as ouers verstaan die groot verantwoordelikheid as dit by ons kinders kom nie…en jongmense verstaan ook nie hoe belangrik dit is wanneer hulle ’n keuse moet maak oor ‘n lewensmaat nie.
Die mens wat waarlik wedergebore is voordat hy ’n huweliksmaat kies, is geseënd. As hierdie persoon waarlik aan God behoort, sal hy/sy nie trou met ’n halwe mense wat nie die Lewe van God in Sy hart het nie. Soort soek soort! ’n Wedergebore heelmens sal ’n wedergebore heelmens soek as sy huweliksmaat en ek bid dat elkeen wat hierdie saadjie lees, dit sal uitdeel aan ’n jongmens dat die jongmens nie die leuens van die wêreld sal aanhang in verband met die huwelik nie, maar dat die jongmens sal besef hoe belangrik dit is om Jesus eerste as sy/haar “anderhalf” te ontvang. Jesus moet ons eerste Liefde wees en dan sal Hy aan ons elkeen ’n huweliksmaat gee volgens Sy plan.
Soek die anderhelfte van jouself in Jesus en nooit in ’n mens nie. Al is jy alreeds getroud, vind die ander stuk van jou, in Jesus. Moenie fokus op jou man of jou huwelik nie, maar rig jou oë op die enigste Lewegewer. Moet asseblief nie jou maat probeer verander nie, dis die grootste fout wat ons kan maak. Plaas jou huwelik, jou maat en jou hele lewe in die hand van God sodat Hy die uitsorteerwerk kan doen. Ons moet vertrou op God om die werk te doen en nie op ons eie vermoëns nie.