Onder gebed laat beleef Abba Vader my dat ek teenoor Jesus by ’n klein tafeltjie sit. Ek het ‘n pen in my hand en tussen ons is ‘n paper waarop ons kringetjies en kruisies speel. Jesus vra watter simbool ek wil gebruik en pleks van ‘n kringetjie, kies ek die simbool van liefde, wat ‘n hartjie is. Jesus glimlag en sê Hy sal die X simbool gebruik… nie in die vorm van ‘n X nie, maar in die vorm van ‘n kruis.
Hy gee my die voorreg om eerste my simbool (of merkie) te trek. Ek dink nie eers voordat ek my merk maak nie en kies die middelste blokkie… net soos wat ons dit as wêreldse mense speel… alles moet mos sentreer om ons… Jesus trek Sy kruis bo in die linkerhoek en ek pen weer ’n hartjie bo in die regterhoek, met die oog daarop om 3 hartjies skuins in ’n ry te kan kry met my volgende speelbeurt. Dit is Jesus se beurt om Sy merk te maak… dink jouself nou eers hierdie scenario in… waar sou ek en jy ons merk geplaas het? Wel, ek sou nie eers twee keer gedink het oor die situasie nie… natuurlik sou ek my merk onder links gemaak het sodat die ander persoon nie 3 merkies in ‘n ry kan kry nie, want dan wen daardie persoon… en hoekom speel ons die speletjie? Om te wen! Maar nie Jesus nie! Pleks daarvan dat Hy in my pad staan om te wen, trek Hy tot my verbasing Sy kruisie bo in die middel wat vir Hom geen voordeel inhou nie. Dit het nogal die wind uit my seile geneem en vir lank sit en dink ek eers voordat ek my volgende hartjie neerpen. Ek kom voor ‘n keuse te staan: Gaan ek die hartjie onder regs plaas en 3 in ‘n ry kry sodat ek kan wen? Of gaan ek my menslike kompeterende houding eenkant plaas en die voorbeeld van Jesus volg? Ek plaas toe my hartjie regs onder wat geen voordeel vir my inhou nie. Dit blokkies wat nou nog oop is, is links middel, links onder en regs middel. Onthou nou… Jesus se kruisie is bo in die linkerhoek, so die beste vir Hom sou wees om Sy merk links middel of links onder te plaas, maar weer plaas Jesus nie Sy kruis in een van daardie blokkies nie, maar op ’n heel ander plek waar Hy glad nie ’n kans staan om te wen nie. Nie een kruis wat Jesus trek, is gefokus om te wen nie, maar met elke kruis wat Jesus neerpen, doen Hy Sy bes om my aan te help om te wen.
Alles van God, hoe Hy te werk gaan, alles wat Hy doen, is net so andersom as wat die wêreld dit doen. Wêreldmense veg, twis en baklei om die beste te kan wees, om te wen, om eerste daardie 3 in ’n ry te kan hê, om die ander een te kan uitoorlê, maar Jesus gee nie om om te verloor nie, want Hy weet Hy het alreeds gewen. Dit wat belangrik is, het Hy alreeds oorwin! Hy het nie nodig om Homself te bewys in “nitty gritty” goed nie. Is dit nie ook wat Jesus van ons verwag nie? Dat die vyand, deur die Lig van God binne ons, oorwin sal word en dat ons die res in die hande van God sal laat? Moet ons nie ook maar laat gaan om altyd die laaste woord in te kry nie? Want as ons mos die laaste woord inkry, voel ons soos die wenner… Wat maak dit van ons? Ek is glad nie trots op my eie lewe as dit by hierdie saak kom nie. Ek faal en val so baie, sit dan met skuldgevoelens na die tyd en sukkel om weer op te staan…
Ek dink aan die Skrif in Joh 12:
“Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe”
Wie probeer wen in hierdie wêreld, gaan op die ou end verloor, maar wie nie omgee om te verloor nie, sal op die ou end wen. Is dit nie omdat ons heeltyd probeer wen, dat ons so moeilik vergewe nie? Is dit nie omdat ons altyd wil wen en die beste wil hê, dat ons in soveel argumente betrokke raak nie? Veral in die besigheidswêreld! Wat is die gevolg daarvan? Gebreekte verhoudings, rusie, nydigheid en sluheid teenoor mekaar…
Om te kan wen in die oë van God, het ons nodig om te verloor in die oë van die wêreld. Om in die wêreld gesien te word as ’n verloorder, is eintlik baie maklik… leef net ’n eerbare lewe! Wees opreg, regverdig en eerlik in ALLES wat jy doen, en laat die res oor in die hand van Abba Vader. Hierdie is veral ‘n baie belangrike saak in die besigheidswêreld, want oneerlikheid, leuens en bedrog seëvier hier… mense dink dat dit die enigste manier is om die toppunt van sukses te bereik… hulle is elke dag besig om hulle weg oop te veg na die topbestuur, maar wat gaan dit jou baat op die einde van die dag? Ontsettende uitputting (want jy spoeg teen wind), onnodige spanning (want jou gewete kla jou aan oor jou oneerlikheid), onvergenoegdheid, ‘n ongelukkige lewe gevul met onrus en ‘n hart wat net nooit vrede vind of ervaar nie… en dit alles net om in die oë van die wêreld gesien te kan word as die wenner. Hoe sien God jou? Sien Hy jou ook as die wenner as jy ‘n ongregverdige wenner is? As jy ‘n ander niks kan gun nie? As alles net om jou en jou sukses moet draai?
Nog ‘n manier hoe die wêreld mense ervaar of sien as verloorders, is wanneer jy nie deelneem aan hulle hordes samekomste nie, as jy kies om nie deel van die “crowd” te wees nie… dan word jy gesien as ’n buitestaander, ’n verloorder. As jy nie deel van hulle godsdienstige boksies wil wees nie omdat jy nie saamstem met hulle doen en late nie, gaan jy as die vyand gesien word… die verloorder. Om dinge te doen en te sê om in ander se goeie boekies opgeteken te kan wees as ‘n goeie mense, maak van ons hemelse verloorders. Wie wil jy tevrede stel? Wêreldlinge of vir God? Om God tevrede te stel, beteken om die verloorder in die wêreld te wees.
Dit help nie ons veg, argumenteer en bestry wêreldmense om ’n punt te bewys nie, want dit gaan ons kwaad maak, ons frustreer en lei tot onnodige spanning. Dit help nie ons speel speletjies met hulle nie, want ware kinders van God gaan ’n saak op die eerlike manier probeer uitsorteer – sonder leuens, sonder bedrog, sonder omkopery, maar wêreldmense sal enigiets ondergliks doen om te wen. Ek sien sommige van hulle soos ‘n baie giftige spinnekop wat ‘n taai web spin om onskuldige mense in hulle mag te kry sodat hulle op een of ander manier kan voordeel trek uit hierdie mense uit. Hulle sal jou heuning om die mond smeer, hulle sal vir jou onskuldig lyk totdat hulle gekry het wat hulle wou hê en dan het hulle skielik niks meer met jou te doen nie. Om te kry wat hulle wil hê, sal hulle jou vergiftig, jou opeet en jou bene uitspoeg. Wees baie versigtig vir hierdie tipe mense. Om hulle te kan identifiseer, het ons Goddelike onderskeidingsvermoë nodig wat ons alleenlik kry by die voete van Abba Vader.
Die wêreldsisteem word beheer deur die vyand, wat die vader is van alle leuens, daarom voed wêreldlinge op leuens en oneerlikheid. Hulle hou nie van regverdigheid, waarheid, integriteit, vaste beginsels of Goddelike waardes nie… hulle verwerp mense wat nie soos hulle optree nie. Die wêreld wil graag hê almal moet dieselfde dink, dieselfde dinge sê… soos ’n klimp robotte mekaar volg, bliksoldate sonder harte, sonder meegvoel vir ander, kinders en diere… Hou op speletjies speel met wêreldmense om ’n punt te probeer bewys, hou op veg oor “nitty gritty” goed wat in elkgeval lei na niks nie en plaas jou fokus, energie en tyd op dit wat saakmaak.
Wat saakmaak, is die Waarheid! Wanneer die Waarheid in gedrang kom of wanneer die ware Weg belaster word, mag ons nie stilbly en Satan toelaat om sy leuens te versprei nie. Dit is so ironies dat wêreldlinge sal baklei wanneer dit by hulleself kom, maar as hulle moet opstaan vir die Waarheid, is hulle skielik stom en verdwyn hulle soos mis voor die son. Dit is die tyd wat God se kinders moet opstaan om die dwaalleringe en die werk van Satan teë te staan (ek sê teëstaan, NIE “oorlogvoering” NIE), jou sê te sê! Dit is die tyd wat jy ‘n skuif moet maak in die speletjie van die wêreld… nie om jouself of jou eie behoeftes te bevoordeel nie, maar om te fokus en te veg vir DIT wat waarlik saakmaak. Om die regte keuse hier te maak en die regte merk te plaas op die regte plek, het ons nodig om die Woord van God te ken, maar meer…ons moet Abba Vader en Sy weë ken en vertrou… ons moet HOM ken! As jy gaan opstaan vir die Waarheid en regverdigheid uit ‘n opregte hart, staan jy direk in die pad van Satan. Ons gaan moet opstaan vir die verkeerde goed wat aangaan in die wêreld en ook daarom gaan die wêreld en sy mense ons haat en in die grond in probeer vertrap. Staan vir wat reg en Waarheid is, maar moenie in die wêreld se gevegte betrokke raak nie; moenie met wêreldlinge kringetjies en kruisies speel om jou eie behoeftes be bevredig nie. Ek dink nou aan Psalm 1 wat sê dat ons nie in die kring van die sptters moet sit nie….
As jy die lewe van Jesus binne jou het, het jy klaar gewen; moet daarom nie jou tyd mors met argumente om wêreldgevegte te wen nie. Die wêreld gaan ons haat sodat God ons kan liefhê. Dis nie altyd maklik nie, dis nie altyd lekker nie, dit veroorsaak verdeeldheid, maar kies ons God of die aanvaarding van die mens? As ons groot in die wêreld wil wees, gaan hierdie ’n moeilike saak wees, want diegene wat hulle lewe aflê vir God, neem ’n groot verantwoordelikheid op hande. As ’n mens hierdie verantwoordelikheid met ’n opregte hart doen, gaan jou populariteit en gewildheid geweldig afneem, want as ons in Jesus se voetspore volg, gaan jy haat wat verkeerd is en lief wees vir wat reg is. Jy gaan sukkel om verkeerdhede te duld en jou eerder onttrek. Daarom staan daar op ’n paar plekke: “Elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit red”
As jy opstaan vir die Waarheid, is die kans baie groot dat jy vriende en familie gaan verloor… dat jy beswadder en sleggesê gaan word, die skuim van die aarde genoem word omdat jy nie met hulle sonde saamstem of daarmee wil saamleef / deel wil wees daarvan nie. Die Woord sê as ons stilbly daaroor, deel ons in hulle sondes. Ons mag nie “compromise” nie. As ons ’n vriend van die wêreld wil wees, gaan ons ’n vyand van God wees, maar net so…as ons ’n vriend van God is, is ons ’n vyand van die wêreld. (Jak 4:4)
Luk 14:11: “Elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wat homself verneder,sal verhoog word”
Matt 10:39: “Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind”
Matt 16:26: “Want wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?“
Ons moet daarteen waak om speletjies te probeer speel om ‘n wenner in die wêreld te wees, want ’n wenner in die wêreld se oë, is ’n verloorder in God se oë. Net so is die een wat sy lewe verloor en oorgee aan Abba Vader, ‘n verloorder op aarde, maar ‘n wenner by God… Dan sal jy nie speletjies met die wêreld speel om ‘n wenner te wees nie, maar sal jy alleeenlik jou merk maak en jou sê sê om die Waarheid te beskerm en die leuens van die wêreld teë te staan.