
Voed jy dalk onwetend op die vrot, bose vrugte van Satan?
“Hulle het toegelaat dat die god van hierdie donker wêreld hulle blind maak. Omdat hulle nie glo nie, is hulle lewe nou pikdonker. Daarom sien hulle nie die lig wat die goeie nuus oor Christus in mense se lewe bring nie.” 2 Korinthiërs 4:4 (DB)
Die boom van kennis van goed en kwaad is nie beperk tot die tuin van Eden nie, want Satan het daardie boom in die wêreld kom plant en hy versprei die bose saad oor die hele wêreld sodat die wêreld besmet is met bose vrugte. Ons moet aanvaar dat geen mens heilig gebore word nie, geen mens word gebore met die Heilige Gees wat dadelik in sy hart werkend is nie, en dit is hoekom Jesus ook in Johannes 3 gesê het dat die mens tot wedergeboorte moet kom. Die mens moet die self afsterf op ’n stadium in sy lewe en weer gebore word om die Gees van God te ontvang. Mense word dus met dormante geesharte gebore en is geestelik doof en blind met geen geestelike onderskeidingsvermoë nie. Daarom is dit baie maklik vir Satan om hierdie vrot, gefermenteerde vrugte van jongs af aan die mens uit te deel. Omdat die mens daarop voed vandat hy baie jonk is, is dit vir hom niks snaaks nie; om vasgevang te wees in godsdiens, tradisie en kultuur is “reg” vir die mens en diegene wat losbreek daarvan, word gesien as buitestaanders!
Soos die Boom van die Lewe 12 maande van die jaar vrugte dra, so dra Satan se boom ook reg deur die jaar vrugte; hy is nie seisoensgebonde nie en hy het ook nie ’n voorkeur ouderdom aan wie hy die vrugte bied nie. Hy weet presies hoe honger elke mens in die gees is en hy hou die bose vrugte op ’n goue skinkbord na die mens toe uit om daarop te voed. Hoe meer die mens daarop voed, hoe meer wil hy hê – totdat obsessiewe gedragspatrone soos verslawings ontstaan. Mens dink dadelik aan goed soos drank, dwelms of seks as ’n verslawing, maar daar is ook verslawings soos soeke na liefde, erkenning, aanvaarding, eer, roem en aansien. Satan weet waar elkeen se swak punte lê en hy weet presies wat dit is wat tussen die mens en God staan – en presies dit sal hy altyd aan die mens bied. Die vrugte van Satan laat die mens opsetlik en bewustelik sondig en rebelleer teen die wil van God.
Die bose boom se vrugte is altyd ’n lus vir die fisiese oog, dit is soet op die tong, sag op die maag en laat nooit ’n bitter smaak in die mond nie. Hoeveel mense vergryp hulle aan die boom van goed en kwaad sonder om dit te besef? Omdat die mens nie gebore word met geestelike onderskeidingsvermoë nie, kan hulle nie die planne van Satan raaksien nie. Daarby is die bose vrugte so lekker dat die meeste mense in elkgeval kies om nie die sleg daarin raak te sien nie. Die gevolg is dat Satan die mens so besig hou met allerhande nonsens sodat die mens nie tyd kry om God te soek nie; hy kry nie tyd om alleen met God te spandeer nie – dit is omdat Satan hom so besig hou met die onbenullighede van die wêreld. Dit is die mens se keuse of hy hom gaan besig hou met die dinge van Satan en of hy net vir ’n oomblik gaan terugstaan, kyk waarmee hy besig is en rekonsilieër… Is dit waarmee jy besig is, God se wil? Of is dit onbenullighede waarmee Satan jou besig hou? Hy is ’n tydrower, ’n dief! Hy weet hoe belangrik dit is dat ons tyd met God moet spandeer. Dit is presies hoekom hy alles in sy vermoë doen om ons besig te hou, veral met dinge van die self, want hoe meer ons besig is met die self, hoe verder beweeg ons van God af weg.
Gaan dink ’n bietjie watse vrugte dit is wat Satan jou voer… Dalk wêreldse kennis en insig, televisie, musiek, sport, oefening, om die self mooier te maak vir die wêreld, drank, dwelms, rykdom, eer, roem, aansien op verskeie vlakke van die lewe, vriende en mooi uitloklike vroue… Seksuele sondes is in vandag se tyd so algemeen, dis niks meer snaaks nie, dis oop en bloot op televisie, ons is almal blootgestel daaraan en ons arme kinders…
Die gevolge van die bose vrugte is nog presies dieselfde as in die tyd van Adam en Eva… dit verduister ons harte en vervreem ons van God. Wanneer ons toegee aan die versoekings van Satan, voed ons eintlik op die verbode boom se vrugte wat die geeshart van die mens in duisternis hou. Dit weerhou ons om ’n verhouding met Abba Vader te hê en dit is presies wat Satan wil hê, want hy probeer alles in sy vermoë dat ons nie gekoppel moet wees aan Abba Vader nie. Wanneer sonde die Lig van God uit die hart van die mens blus, verloor die mens sy geestelike ingesteldheid en kan hy nie meer daardie noue kontak met Abba Vader hê nie. Hy is dan geestelik blind en doof.
“…Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van die volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.” Mattheus 13:14,15 (AFR33/53)
Ons word in die wêreld ingebore met ons vleeslike natuur wat oor ons heers. Ons word ongelukkig nie heilig gebore soos baie mense glo of hoop nie. Vanaf ons geboorte is ons geestelike oë geslote en ons vleeslike oë oop. Satan voer ons verbode vrugte vandat ons klein is sodat ons gewoond kan wees daaraan en dit vir ons half “normaal” is, dis vir ons deel van die lewe. Sy doel daarmee is om ons vleeslike oë oop te hou, want solank ons vleeslike oë wawyd oop is, is dit moeilik vir ons geestelike oë om oop te gaan. Dan is ons intens gefokus en ingestel op die self en ons vleeslike behoeftes, so erg dat ons nie eers bewus is van ons geestelike behoeftes nie. Ons voel die diepe honger binne ons, maar besef nie dit is eintlik ons gees wat uitskree van die honger nie. So gaan ons aan om die honger te probeer stil met wêreldse voedsel (wat bose vrugte is) en die gevolg is dat die bose vrugte ons gees in diepe dormansie hou wat ons ook in geestelike blindheid en doofheid vasgevang hou. Mense wie se gees nog in dormansie is, lees en hoor die Woord van God met hulle vleeslike ore. Die inligting word gestuur na die menslike brein wat dit interpreteer en omsit in logiese data, dus verstaan hulle die Woord van God met die brein, maar God sê in die Woord ons moet Hom met die Gees aanbid. In hierdie geval, waar die brein van die mens al die inligting prosesseer, is die gees van die mens glad nie betrokke nie. Omdat hulle geesharte nog in dormansie is, kan hierdie mense nie met hulle harte waarlik in God glo nie. Hulle praat uit die brein wanneer hulle oor God praat, alles is vir hulle feite en daarom is daar so baie goed wat hulle nie glo of verstaan nie, want alles moet vir hulle logies en realisties wees. Die probleem lê nie by die Woord nie, dit lê by die geestelike dormansie van die mens. 1 Korinthiërs 2:14 sê:
“Iemand wat net op ’n menslike vlak bly dink en net glo wat mens kan verklaar, sal nie ’n woord van God se geestelike boodskap wil aanvaar nie. Dit sal nie vir hom sin maak nie en hy sal nie kan verstaan hoe op aarde dit moontlik kan wees nie. Die fout lê by hom en nie by die dinge wat hy nie kan verstaan nie. Hy is die een wie se oë heeltemal toe is vir die geestelike dinge. Net die Heilige Gees kan hierdie dinge vir ’n mens duidelik maak.” 1 Korinthiërs 2:14 (DB)
Geestelike blindheid en doofheid veroorsaak dat ’n mens nie die Waarheid van die leuen kan onderskei nie; die mense is lief om dit te hoor wat die ore paai en wil glad nie hoor dat hulle hulle lewens radikaal moet verander, ’n ommekeer moet maak en hulle sondes laat staan nie. Hulle is oorgegee aan godsdiens. Bose vrugte maak ons blind en doof om God te kan beleef en om Sy stem te kan hoor.
“Hulle het toegelaat dat die god van hierdie donker wêreld hulle blind maak. Omdat hulle nie glo nie, is hulle lewe nou pikdonker. Daarom sien hulle nie die lig wat die goeie nuus oor Christus in mense se lewe bring nie.” 2 Korinthiërs 4:4 (Die Boodskap)
Vandag oorreed Satan nogsteeds ontelbare siele om te nuttig van die verkeerde boom… Is dit nie waar ’n groot deel van die mensdom se probleme lê nie? Ons voed op alles in die wêreld wat Satan ons bied om gelukkiger, mooier en beter te wees; om meer sukses te behaal en belangriker in die oë van die wêreld te wees. Gehoorsaamheid aan ons eie wil laat ons oorgee om te voed op die bose boom wat net ons liggaam en siel kan voed, nooit ons gees nie, maar dis nie deel van God se plan vir een van ons nie. God weet dit maak ons harte duister, en dit maak Hom hartseer, want Sy oorspronklike plan was dat ons harte Lig moet wees, deurdat ons moet voed op die Boom van die Lewe.
Die vraag wat elkeen homself moet afvra, is waarop voed ons? Voed ons op dit wat God ons bied, of aanvaar ons die bose vrugte wat Satan op ’n skinkbord na ons toe uithou? Ek dink ons kan nou beter begin verstaan hoekom die grootste gedeelte van die mensdom geestelik blind en doof vir God en Sy werke is… Dit is elkeen se eie verantwoordelikheid om te sorg dat sy gees gesond is, dat sy gees gevoed word met die regte Voedsel, want Satan weet presies wie se gees honger is en hy sal altyd sy kans vat. As ons ingee en voed op die verbode vrugte, gaan ons die prys daarvoor betaal en ongoddelike vrugte dra. Ons vrugte se saad gaan die wêreld net nog meer besmet en besoedel! Ons moet Satan teëstaan en hy sal dan van ons wegvlug. Die enigste manier hoe ons dit kan doen, is om ons eie wil te onderwerp aan God en te voed alleenlik op DIT wat Hy aan ons bied. As ons voed op dit wat God ons bied, sal ons onderskeidingsvermoë van God ontvang om Satan se vrugte te kan herken en te verwerp. Moenie trap in die slaggate wat Satan vir jou stel nie. Voed op die Woord van God sodat jy kan weet wanneer Satan jou in die versoeking probeer lei. Ons herken nie vir Satan, sy werkers of hulle werke nie, want ons ken nie die Woord van God nie!