
“Mag hulle harte vertroos word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en totale rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van God die Vader en van Christus.” Kollosense 2:2 (AFR33/53)
Vandat ons klein is, word ons geleer dat die fisiese kerk met sy lidmate die Liggaam van God is, oftewel die bruid van Jesus en daarom MOET jy deel wees van die kerk (van ‘n gemeente), anders verloor jy jou plek in die koninkryk van God. Almal word vanaf geboorte gebreinspoel en geprogrameer soos ‘n robot om soos die res van die wêreld te dink, doen en leef. Rympies word in die mens se brein ingeprent en sonder om DIEP daaroor te dink of ondersoek in te stel oor die “rympies”, lê die robot-mense sekere belydenisse van geloof af. Op dieselfde manier word Skrif uit die Woord verdraai om tot voordeel van die mens te strek en so leer die mens om Skrif aan te pas by sy lewe, en nie sy lewe aan te pas by die Woord van God nie.
Een Skrif wat byvoorbeeld deur Satan aan die mens geïnterpreteer word, is Hebreërs 10:25. Dit word in die mens se brein ingeprent dat hy dit nie moet waag om die gemeenskap met heiliges af te skeep nie, en so word daardie Skrif gebruik om mense in gevangenis te hou in kerke, want so lank as wat hulle in gevangenis gehou kan word, kan hulle gebreinspoel word met leuens. Hulle word geprogrameer om te glo dat alleenlik kerkgangers die Liggaam van God vorm en hulle sal altyd die Skrif (Hebr 10:25) gebruik om ander aan te vat wat eerder streef na ‘n verhouding met Abba Vader as om deel van ‘n groep robotte te wees. Terselfdertyd maak die kerk darem ‘n paar rand en behou die predikant sy plek op die troon. Die gevolg is ‘n groot aantal kerke wat moet sorg dat hulle gemeentelede (die robotte) op ‘n weeklikse basis gebreinspoel moet word om die leuens van die wêreld te glo en daarom kan die robotte nie onderskeid tref tussen die Waarheid en leuens nie. Hulle is klaar geprogrameer volgens die leuens van die wêreld en hulle glo dat hulle die Liggaam van God is, dat hulle deel is van die bruid van Jesus, maar dit is alles so vals!
Onder gebed beleef ek die volgende: Ek stap op die strand en sien dadelik vir Jesus wat ook op die strand stap… elke nou en dan buk Hy af en tel iets op. Ek is uit my nate wanneer ek Hom sien en soos ek in Sy arms inhardloop, oorweldig Sy Liefde my en ek voel hoe vul Sy liefde my van kop tot tone, dit voel behoorlik my hart swel op van Liefde. Ek kyk in Sy hande om te sien wat Hy optel, en al wat ek sien, is uitgedroogte seesterre… Seesterre wat uit die see uitgespoel het om in die son te lê en uitdroog – hulle is naby aan dood… Soos Jesus die uitgedroogte seesterre optel, druk Hy hulle een vir een teen Sy bors vas en net soos dit vir my gevoel het my hart swel op, net so is dit asof hierdie lewelose seesterre nuwe lewe kry en ook opswel van die Liefde van Jesus. Wanneer die seester weer lewe, ryg Jesus ‘n draadjie deur een van die punte van die ster en so ryg Hy ‘n paar seesterre aan een draad sodat hulle saamgegroepeer is. Die eens uitgedroogde seesterre is nou vol nuwe lewe deur die Liefde van Jesus, en hulle is geheg aan mekaar met die koord van Liefde. Hulle is een met Jesus deurdat hulle gevul is met Sy Liefde en omdat hulle almal met dieselfde Liefde gevul is, maak dit hulle ook een – hulle dink, doen en leef dieselfde, Dadelik gee Abba Vader vir my Kollosense 2 om te gaan lees. Kyk die wonderlike bevestiging:
“For my concern is that their hearts may be braced as they are KNIT TOGETHER IN LOVE….” Collosians 2:2 (AMPC)
“I want you woven into a tapestry of love, in touch with everything there is to know of God.” Collosians 2:2 (MSG)
Ek was dadelik so opgewonde, want hierdie Skrif bevestig baie duidelik wat Jesus besig is om met hierdie uitgespoelde seesterre te doen. Hy het hulle opgetel, lewendig gemaak met Sy liefde en toe het Hy hulle aanmekaar geweef deur die koord van Sy Liefde! ‘They are knit together in LOVE’
Die daaropvolgende paar dae verduidelik Abba Vader: Hierdie seesterre is God se kinders wat geleef het in die see van die wêreld. Hulle het die beginsels, reëls, rituele en wette van die wêreld gevolg wat hulle opgelê was vandat hulle verstand gekry het – hulle het daarmee grootgeword en dit aanvaar as deel van die lewe. Hulle was deur die golwe rondgeslinger van die een kant na die ander kant; hulle was verdwaal en het nie geweet watter slim leraar, boek of profeet om te glo nie, want daar is so klomp verskillendes en almal het ’n ander storie. Van êrens het die seester ’n roepstem gehoor wat hom op die naam roep… Soos hy die keuse gemaak het om die Woord te begin inneem, het die Lig van Waarheid op sy hart begin skyn sodat hy die Waarheid van die leuen kon begin onderskei. Hy het die Waarheid begin soek; hy het begin besef daar is “iets” groters en meer belangrik as die wêreld met sy verskillende teorieë; hy het begin besef dat hy ook maar net een van die robotte was wat geprogrameer was om op ‘n sekere manier te dink en op te tree. Hy het die keuse gemaak om sy rug op dit te draai en nie langer te voed op Suurdeegbrood of heerlike vrot vrugte “Vrug van die bose boom” wat die wêreld aan die mens bied nie, want dit is die suurgdeegbrood en bose vrugte wat gebruik word om die mens gevange te hou. Hy besef dus dat hy geïndoktrineer was met vals leringe en dat hy vasgevang was in tradisie, kultuur en godsdiens. Hy maak die keuse om te soek na die Waarheid en bevry te word uit die wêreld… en hiermee bedoel ek nie om bloedlynvloeke te breek nie, maar dat hy sy rug op die wêreld met al sy reëls en godsdienstige beginsels en rituele begin draai. Wanneer hy ‘n 180 grade draai maak, draai hy dus sy rug op die valsheid van die wêreld en begin hy die Lig volg wat aan Hom rigting gee. Dit is wanneer die mens die keuse tot bekering maak.
Soos Hy na die Lig draai en die Lig volg, maak Abba Vader sy geestelike oë op skrefies oop sodat hy al die onregverdighede, leuens, vernedering, die afbreek en die lelik van die wêreld en sy mense begin raaksien en teëstaan. Later begin hy dit openlik teëstaan en daarom verwerp die wêreldlinge hom. Mense van die wêreld hou nie daarvan dat hulle duistere dade aan die lig gestel moet word nie; hulle weier om hulle eie foute raak te sien. Dit is inteendeel vir hulle makliker om altyd vinger na ander te wys en om diegene wat wel die Waarheid begin raaksien, te verneder en te verwerp. Satan en die wêreld met al sy mensgemaakte kultuur, tradisies en reëls hou nie van mense wat nie volgens hulle pype wil dans nie en daarom word hierdie seesterre een vir een uitgewerp uit die samelewing, maar ook was dit nogsteeds die keuse van die ster om uitgespoel te word.
Wanneer hy uitgespoel word, lê hy vir ‘n lang ruk in die son om uit te droog. Hierdie uitdroging is altyd ’n pynlike proses van baie toetse en beproewinge en soms kan ons dit nie verstaan nie, maar as ons nie deur die uitdroog-proses gaan nie, kan Abba Vader ons ook nie nuut maak nie. Ons moet dus eers afgebreek word om weer opgebou te kan word. Dit laat my dink aan Jeremia 31:3,4:
“Die Here het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goederteirenheid. Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel..”
Hierdie verwerping en uitwerping uit die see van die wêreld gaan gewoonlik gepaard met emosionele, fisiese of geestelike seer. God laat toe dat ons gelouter word omdat Hy ons graag van voor af wil omvorm na die persoon wat Hy nog voor ons geboorte bepaal het ons moet wees. Ons moet leeg raak van onsself sodat ons gevul kan word met die liefde en lewe van Jesus. So lank as wat ons nog vol van onsself is, is daar nie in ons hart plek vir God nie. Dan verstaan mens hoekom ons eers moet sterf aan die self. Ons moet ongelukkig afgebreek word. As ek dink aan my eie afbreekproses waardeur God my laat gaan het… In daardie tyd kon ek nie verstaan waar is die Here nie; ek het so verlate en so alleen gevoel, verwerp deur die samelewing, geskok oor alles wat ek begin raaksien het in mense. Ek was emosioneel uitgeput, opgefrommel en uitgespuug deur die see van die lewe. Dit het regtig vir my gevoel dit sou beter wees om dood te wees, want daar was niks meer van my lewe oor nie. Ek het soveel verloor en ek was ’n nul in die oë van die wêreld. God het in die tyd my trots, hoogmoed, eie eer en aansien tot op die grond platgeslaan en hoe nodig was dit!
Soos die seester in die son lê, begin die ou, menslike natuur binne hom uitdroog en sterf. Die mens besef hy is niks sonder die Lewe van God binne hom nie; sy trots, arrogansie, soeke na eie eer en al die derglike dinge word deur die strale van die son uitgebak. Hy word minder van homself om plek te maak vir die Lewe van God binne hom. Die Gees van God woon nie in harte wat vol van hulself is nie, maar alleenlik wanneer die mens die eie ek afsterf. Die Gees van God woon nie in tempels nie, maar in harte wat gesuiwer is… so fisiese kerke of gemeentes is nie die Liggaam van God nie, want God is nie eers teenwoordig in kerke nie. Hy is teenwoordig in suiwer harte.
“Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.” Handelinge 17:24 (AFR33/53)
Wanneer die ster uitgedroog is, tel Jesus hom op en druk hom styf teen Sy bors vas. Jesus herstel dus die ster deurdat Hy hom van nuuts af vul met Goddelike Liefde – die enigste Liefde wat ons ware Lewe kan gee. Nooit weer sal hierdie ster die water van die wêreld nodig hê nie, want hy kan nou lewe in uiterste droogtes omdat hy gevul is met Liefde, Lewende Water en Bloed van Jesus. Die seester word verbind aan die ander seesterre en saam is hulle een in Jesus. Hulle harte is nou vertroos deurdat hulle saamgevoeg is in die Liefde (Kollosense 2:2). Eers wanneer die ster een is met God, kan God hom begin oprig vir sy Goddelike roeping, en kan Abba Vader deur hierdie ster werk. Elke ster het ‘n sekere Goddelike plig en saam vorm die sterre die Liggaam van God waardeur God werk. Let wel: God werk nie met of deur sterre wat nog vasgevang is in die wêreldsisteem nie. Sterre wat in die wêreld ‘n Goddelike plig probeer uitvoer, doen dit nie tot die eer van God nie, maar tot eer van die self. Hulle is nie gevul met die Liefde van Jesus nie en daarom kan die Gees van God nie in en deur hulle werk nie, met ander woorde, al die sogenaamde “Goddelike” werke is deur die mens self en dit beteken absoluut niks vir God nie. Dit laat my dadelik dink aan die Skrif in Mattheus 7:23-24:
“Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in U Naam geprofeteer en in U Naam duiwels uitgedrywe en in U Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”
God het nooit hierdie mense geken nie, want hulle het in die wêreld probeer God speel; hulle het die keuse gemaak om nie die self af te sterf nie, maar om soos God te probeer wees. Mense in hierdie toestand ken God glad nie; hulle dink hulle maak deel uit van die Liggaam van God, maar niemand kan as deel van God se Liggaam dien as hy nie een met God is nie. Dit ergste van alles is dat hierdie leraars, herders of wat hulle ookal hulself wil noem, soveel mense mislei deur hulle leuens te voer deur die bakke vol suurdeegbrood. Mattheus 23 is vol waarskuwings oor hierdie vals leraars wat eintlik maar net Fariseërs is. Ek haal sekere Skrifte aan:
Ek en jy het ‘n keuse om te maak… dit is ‘n keuse wat ons maak om te reageer op die roepstem van God, om jouself los te maak van die godsdiens, tradisie en rituele van die wêreld en die Lig te volg wat jou gaan laat uitspoel op die strand om in die son te gaan lê sodat al die gif kan uitbak. Daar is net een antwoord vir dit alles: Kom in afsondering en leer die ware Herder ken! Geen mens kan die ware wonderbaarlike God leer ken terwyl hy vasgevang is in die wêreld nie, veral nie as hy vasgevang is in kerke waar hy weekliks gebreinspoel en geprogrameer word nie. Wil jy regtig ‘n robot wees wat alles slaafs navolg?
“Don’t love the world and what it offers. Those who love the world don’t have the Father’s love in them. Not everything that the world offers – physical gratification, greed, and extravagant lifestyles – comes from the Father. It comes from the world, and the world and its evil desires are passing away. But the person who does what God wants lives forever. 1 John 2:15 (GWT)
Is jy deel van die Liggaam van God?
Jy is alleenlik deel van die Liggaam van God as jy soos ‘n seester uitgewerp is, gesterf het aan jou ou natuur en dit gebeur alleenlik deur in afsondering in te beweeg. Sonder afsondering, leer ken jy nooit die ware God nie.
Ekstra saadjies: