Is jy gewortel in die Woord

Om hierdie saadjie mooi te verstaan, sal ek aanbeveel dat jy ook die saadjies lees oor die boom wat gewortel moet wees in die hart van Abba Vader.  Ek heg die ‘link’ onderaan.  

Om dit baie vinnig op te som, kom dit daarop neer dat ons in die hart van Abba Vader gewortel moet wees.  Abba Vader het kom leer dat ons eers in die ‘sustrata’ gewortel moet wees, waarna ons in die ‘strata’ gewortel kan word.  Dit beteken dat ons eers in die Woord van God gewortel moet raak wat ons later in staat sal stel om in die hart van God gewortel te kan wees.  Wanneer ons tot bekering kom en die keuse maak om Jesus te volg, sal ons ’n trekking voel wat ons ’n honger na die Woord van God sal gee.  Soos ons begin voed op die Woord van God begin ons fyn worteltjies in die Woord ingroei om later ’n bywortelstelsel te vorm wat die hele Woord deurgroei.  Wanneer ons goed gevestig is in die Woord,  begin die Woord ook worteltjies uitstoot om in ons wese in te groei met die doel om ons geesharte te bereik.  Aanvanklik is ons van kop tot tone vol blokasies wat keer dat die wortels van die Woord na ons hart kan groei.  Hierdie blokasies is sondes, ongeregtighede, verkeerde denkwyses, ongehoorsaamheid aan God asook goed soos tradisie, godsdiens en die inneem van dwaalleringe.  Ons het nodig om ontslae te raak van hierdie blokasies, maar hoe?  Die mens kan dit nie op sy eie doen nie;  die mens het die Lig van die Woord nodig om ’n lig te skyn op die blokasies en dit aan hom te openbaar.  Soos die mens die blokasies “raaksien” en besef dit is verkeerd, dit teëstaan en bely aan Abba Vader, breek die Lig-Woord deur die een blokasie na die volgende.  Eers is dit net ooglopende sondes wat die Lig-Woord aan ons openbaar, maar hoe dieper die Lig-worteltjies in ons wese ingroei, hoe meer openbaar die Lig-Woord sondes aan ons wat ons probeer wegsteek of waarvan ons probeer vergeet.  Die gevaarlikste blokasies lê baie diep, naby aan die hart, en dit is blokasies van tradisie, kultuur en godsdiens, maar dan is daar ook blokasies wat veroorsaak is deurdat die mens gevoed het op dwaalleringe – die suurdeegbrood van Satan. 

Kom ons begin by die begin waar ons gewortel moet raak in die Woord van God, want hoe raak ons gewortel?  Daar is  niks wat ons fisies kan DOEN om gewortel te raak in die Woord nie.  Om deel van ’n gemeente te wees, is om gewortel te wees in ’n kerk en die gevolg daarvan is blokasies van godsdiens, tradisie, kultuur en rituele.  So om deel van ’n kerk te wees, jou tiende te gee, koeke te bak vir die jaarlikse basaar of watse werk jy ookal vir die kerk verrig, wortel jou geensins in die Woord van God nie… inteendeel, jou wortels raak verstrengel met ’n spul ander ongoddelike wortels (gemeentelede) wat lei tot ’n hengse koekspul.  Jy voel dalk ‘veilig’ om deel van die groep te wees;  jy sien jouself as een van die warm kole, maar waar gaan dit jou bring as jy nie gekonnekteer is aan die Bron van hitte nie?  Jou verstrengelde wortels ketting jou vas in die duisternis en dit lei tot massiewe blokasies in jou geestelike are.  Die mens wat gewortel is in ’n kerk of ’n gemeente, is gewortel in dooie grond en daarom is daar nie wortels wat vanuit die grond in die geestelike wese van die mens kan ingroei nie.  Dit is dus nie ’n tweeledige verbintenis nie en die ergste van alles is dat daar geen Lig-wortels is wat die blokasies van die mens uitwys nie, dus bely die mens nie sy sonde nie.  Hy word gevoed met leuens soos die vals lering dat Jesus ALREEDS vir jou sondes gesterf het, so moenie bekommerd wees nie, jy is alreeds gered as jy kerk toe kom, nagmaal bywoon en gedoop is deur die kerk.  Kerke sus die mense in hulle sondes en moedig hulle aan op ’n baie subtiele manier om rustig aan te gaan met hulle lewens en net dankie te sê vir Jesus dat hulle verlos is.  Hulle is te bang om te preek oor sonde en die lou toestand van die hart van die mens, want dit is nie wat die gemeentelede wil hoor nie… kerke preek wat die mens wil hoor sodat die gemeente kan groei tesame met die bedrag in die bankrekening… en die uiteinde daarvan?  ’n Spul dooie bome met verstrengelde wortels en geen vrugte!   

Onthou nou, Satan doen enigiets in sy vermoë om die mens se geestelike are geblok te hou sodat die Lig van God nie kan skyn op die geeshart nie.  Hoekom doen hy dit?  Want hy weet as die Lig van God skyn op jou hart, gaan jy ’n hartsverandering ondergaan waarna jy die Lig van God gaan reflekteer en Satan kan nie vat of werk aan ’n mens wat die Lig van God reflekteer nie… nie omdat die mens outoriteit oor hom het nie, maar omdat Jesus in en deur die mens leef – dit is Jesus in ’n mens wat mag en outoriteit het oor Satan, nie die mens self nie.  Satan gebruik kerke om talle mense in sy mag te hou, dis die maklikste plek waar hy hulle suurdeegbrood kan voer wat hulle laat rys tot hul eie heerlikheid.  Daar is so baie vals leringe wat ontstaan uit verskeie denominasies, ek noem net ’n paar waaraan ek vinnig kan dink wat Abba Vader al openbaar het.  Vra jouself die volgende vrae:

Bely jy om te glo in God?  Daar is ’n verskil om te glo en om oneentseglik te GLO in God.  Glo jy omdat jy so grootgemaak en so geleer is van kleins af?  Sodat jy gered kan wees en nie hel toe hoef te gaan nie?  Wees net versigtig, want die duiwel glo ook daar is ’n God en hy sidder.  Om in God te glo, is om Hom te ken.  Ken jy Hom waarlik?  Het jy “holy communion” met Hom?  Kan jy Hom voel?  As jy God ken, sal jy Hom vrees, sal jy Hom in alles wil gehoorsaam en behaag, sal jy jou lewe in Sy hande wil plaas en alleenlik Sy wil vir jou lewe wil hê.  Dan sal jy nie versoeke rig aan God en Hom smeek om sekere dinge volgens jou eie wil en behoeftes te laat uitwerk nie.  Want dit is wat die meerderheid Christene doen… wanneer hulle bid, sê hulle rympies op, hulle werk vanaf ’n lysie vir wie hulle moet bid en waarvoor hulle moet bid.  Dink julle regtig ons moet die allermagstigste God herinner aan sekere mense of sekere situasies waar Hy moet ingryp?  God sit nie en wag sodat jy Hom moet herinner aan iets wat Hy moet doen nie.  Ek het al soveel mense gehoor sê dat God eers iets in ons lewe sal doen wanneer ons dit van Hom vra, met ander woorde, as ons dit van Hom vereis.  Wie dink die mens is hy?  Dis bitter arrogant van enige mens met hierdie siening.  So, vra jy God vir fisiese genesing, beter finansies, om jou huwelik te red, om jou kinders te verander?  Wat van die wil van God?  Leef jy volgens die wil van God?  Hoekom aanvaar jy dan nie dat God ’n wil vir jou lewe het en dat jy dit moet aanvaar en daarvolgens moet lewe nie?  Eers as ons oneentseglik in God GLO, aanvaar ons Hy is almagtig en in beheer en is ons in staat om totaal oor te gee aan Hom – vir die goed en die sleg…  As daar dan slegte goed in ons lewe gebeur, aanvaar ons God het ’n doel daarmee en blameer ons Hom nie daarvoor nie.

Breek jy bloedlynvloeke sodat dit beter in jou lewe moet gaan?  Jaag jy vir Satan om elke hoek en draai weg sodat hy nie verder slegte goed in jou lewe moet laat gebeur nie?  Pleit jy die bloed van Jesus oor jouself, familie en besittings?  Glo jy jy is soos God?  Dat jy sekere goed kan spreek en dat jou woorde krag het?  Dat die woorde uit jou mond iets of iemand sal verander?Dan het jy verseker sterk gegroeide wortels in dwaalleringe en is jy deurtrek met blokasies.  Behaag jy God?  Of moet God jou behaag?  

Om gewortel te wees in die Woord van God, beteken om te voed op suiwer Woord alleen.  Suiwer Woord beteken nie dat ’n mens of een of ander studie die Woord aan jou interpreteer nie, maar om in afsondering stil te raak met die Woord van God sodat die Gees van God jou leiding kan gee en die Skrif aan jou kan interpreteer.  Dit vat tyd, en as jy nie jou tyd wil opoffer daarvoor nie, sal jy ook nooit die Waarheid ontvang of in die Woord wortels kan ingroei nie.  As jy luister na ander mense se interpretasie van die Woord, neem jy nie suiwer Woord in nie en is die kans baie goed dat jy suurdeegbrood gaan inkry wat van die sterkste blokasies vorm.  Die enigste manier om in die Woord gevestig te raak, is in afsondering met die Woord van God in jou hand.  Vermy geestelike boeke en praatjies wat interessant klink, want dit is Satan se beste taktiek om jou te vul met suurdeegbrood om blokasies te vorm.  Hy weet dat hoe meer blokasies hy in jou wese kan vestig, hoe moeiliker gaan dit vir jou wees om op die ou end in die hart van God gewortel te raak.  

Die ander probleem lê by mense wat wil voed alleenlik op die mooi verse in die Bybel… Skrif wat iets vir hulle kan beteken… wat hulle kan opbou… wat in hulle vleeslike behoeftes kan voorsien byvoorbeeld Skrifte wat handel oor fisiese genesing en ’n voorspoedige lewe.  Skrif wat nie deur die Gees van God aan ons geïnterpreteer word nie, word verdraai en verkeerd verstaan.  God is Gees, die Woord is Gees-geïnspireerd en daarom moet die Skrif op ’n geestelike manier aan ons geopenbaar word, nie fisies nie.  As die Woord byvoorbeeld praat van genesing, beteken dit nie fisiese genesing nie, maar wel geestelike genesing… want ons almal het eers ’n siek gees wat genees moet word voordat ons ’n penwortel in die hart van God kan ingroei.  Die mens  wat net die goeie wil inneem, is soos die mense van Johannes 6 wat wou voed alleenlik op dit wat hulle fisiese behoeftes kon bevredig… dit wat hulle fisiese hongerte kon vul en hulle fisies kon genees.  Toe Jesus uit ’n geestelike oogpunt vir hulle verduidelik dat hulle op Hom moet voed, het hulle hulle rug op Hom gedraai en weggeloop, met ander woorde, hulle wou nie luister na Woord wat hulle geestelik kon genees nie;  hulle wou net DIT hê wat hulle vleeslikheid kon bevredig.  Met ander woorde, hulle wou net die mooi woorde by Jesus hoor, hulle wou nie die harder woorde hoor dat hulle moet GLO in Jesus nie.  Die Message sê hierdie woorde van Jesus “was too tough to swallow”.  Mense wat wil voed alleenlik op die “mooi” Skrifte, groei net hier en daar ’n worteltjie in die Woord van God in.  Hulle wortels groei dus net om sekere verse;  hulle word nie in die hele Woord gewortel nie… en as ons nie in die hele Woord gewortel raak nie, kan die wortels van die Woord nie in ons wese ingroei nie… as die wortels van die Woord nie in ons diepste wese ingroei nie, is daar nie Lig-worteltjies wat ons blokasies aan ons openbaar nie, dus word die blokasies nooit oopgebreek nie en kan die mens nie die Lig van God op sy geeshart ontvang wat sy geeshart uit dormansie kan wakker maak nie.  Hierdie mens sal met al sy blokasies geestelik sterf met geen hoop vir die toekoms (hiernamaals) nie. 

Soveel Christene DINK hulle is gewortel in die Woord of in die hart van God, maar dan is daar nie ’n enkele Goddelike vrug aan hulle as ’n geestelike boom nie, wat ’n bewys is dat hulle NIE in die hart van God gewortel is NIE.  As daar geen Goddelike vrugte is nie, verheerlik hierdie mense God glad nie.  Hierdie mense beweer dat hulle God ken sodat hulle as ’n heilige, ’n profeet of ’n man / vrou van God bekend kan staan in die wêreld… hy ywer dus vir sy eie heerlikheid en nie tot die heerlikheid van God nie.  Hulle staan bekend vir die “regte” woorde wat uit hulle monde kom, maar God steur Hom nie aan “regte” of “mooi” woorde uit die mond nie, want Hy let op die hart waaruit die woorde kom… die toestand van die hart bepaal die vrugte wat die mens dra, want alleenlik die boom wat in God gewortel is, kan Goddelike vrugte dra.  Afwesigheid van Goddelike vrugte dui dus op ’n boom met ’n vlak wortelstelsel in een of ander medium, maar die medium is nie die Woord van God nie.

Waarin is jou worteltjies geanker?  In ’n kerk of gemeente?  In geestelike boeke?  Dan is jy gewortel in ’n dooie medium en maak dit nie saak hoe sterk jy gewortel is in hierdie medium nie, maar dis ’n dooie medium wat nie wortels in jou kan ingroei nie, met die gevolg dat jou blokasies nooit aan jou geopenbaar word sodat jy dit kan bely nie.  Daar is geen wortels wat na jou hart kan groei om jou geeshart wakker te maak nie, dus kan jy nooit ’n penwortel in die hart van God ingroei nie. 

 Of is die Woord deurtrek met jou bywortelstelsel wat deur die hele Woord vertak?  Alleenlik dan sal die wortels van die Woord soos liggies in jou wese ingroei om jou blokasies aan jou te openbaar en soos jy dit bely, breek die Lig deur die blokasies oppad na jou geeshart.  Wanneer die Lig-wortels op jou hart skyn, word die geesmens wakker en alleenlik as ons gees ontwaak, kan ons oneentseglik in God begin glo.  Dit is wanneer ons ’n penwortel in die hart van God ingroei.

So wat is die antwoord?  KOM WEG UIT BABILON!  WORD ONTWORTEL UIT BABILON EN SOEK DIE WARE GOD!

“May you, having been [deeply] rooted and [securely] grounded in love, 18 be fully capable of comprehending with all the saints (God’s people) the width and length and height and depth of His love [fully experiencing that amazing, endless love]; 19 and [that you may come] to know [practically, through personal experience] the love of Christ which far surpasses [mere] knowledge [without experience], that you may be filled up [throughout your being] to all the fullness of God [so that you may have the richest experience of God’s presence in your lives, completely filled and flooded with God Himself].” Ephesians 3

Ekstra saadjies:  

Manna in afsondering

Suurdeegbrood

God-gewortelde boom

Audio – Is jy ‘n warm of koue kool?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s