
“Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee; en as hy ‘n vis vra, aan hom ‘n slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” Mattheus 7:7-11
Hierdie is weereens een van daardie Skrifte wat baie oppervlakkig aan die wêreld geleer word en wat soveel mense lei na die afgronde van die hel. Vanoggend wys die Here vir my die volgende onder gebed:
Daar is ’n baie lang gang – ’n gang wat so ver strek dat ek nie die einde daarvan kan sien nie. Aan die linkerkant van die gang is deure wat op mekaar volg. Elke deur lyk anders, is ’n ander kleur, elkeen het ’n ander deurknop of handvatsel. Sommige deure het klokkies wat gelui kan word, ander het ’n swaar metaal struktuur waarmee geklop kan word. Op elke deur staan ’n sekere Skrif en elke deur se Skrif verskil van die ander een. Ek begin die gang afstap… Buite elke deur staan mense wat besig is om te klop aan die deur… sommiges is sommer brutaal en hamer aan die deur! Die mense lyk vir my baie senuweeagtig, amper soos die mense in die prent ‘Titanic’ toe hulle besef die skip is besig om te sink. Sommiges hardloop rond van deur tot derur om die deur te soek met die regte Skrif op – ’n Skrif wat hulle sal pas, ’n Skrif wat aan hulle sal gee wat hulle wil hê, ’n Skrif wat hulle sal red…
Dan is daar ook mense wat gehoor het dat jy moet klop en daar vir jou oopgemaak sal word; soek, en jy sal vind… hierdie mense begin by deur nommer 1 en klop… klop weer, want dalk het God daar binne hom nie gehoor nie. Na die derde keer gee die persoon moed op en beweeg na die volgende deur, want dalk was hy net by die verkeerde deur… dalk is God besig by een van die ander deure… en so klop hierdie mens by elke deur… later word hy ongeduldig en begin met die vuis teen die deure hamer… later begin hy skree: ‘Maak oop die deur!’ maar niks gebeur nie. Geen deur gaan vir hom oop nie. Dan vererg die mens hom, uiter ’n paar godslasterlike woorde, draai om en loop weg. Hierdie persoon het nie gkry wat hy wou gehad het nie… hoekom? Want hy wou God eintlik net gou misbruik om in sy eie wil te voldoen. Hy het geklop omdat hy iets wou hê uit God uit. Hy het dit gesien as ’n kitsmanier om sy sin te kry… what a shame… En daar is nie net een mens wat hierdie voorbeeld volg nie, want so lank as wat hierdie gang is – tot in ewigheid – is daar heeltyd mense by elke deur wat klop om ingelaat te word; wat vra, maar nooit genoeg kan kry nie…
Dan kom ek tot stilstand by een spesifieke deur. Abba Vader laat my toe om te sien watse Skrif staan op die deur. Psalm 91 staan in baie mooi skrif geskryf op die deur. Daar staan ’n skare mense voor daardie deur wat wil ingaan. Hulle sê die Psalm op om beskerming te kan kry in ’n tyd soos hierdie waar vrees aangewakker word; hulle klop aan die deur, ander hamer aan die deur, ander begin skree dat God die deur vir hulle moet oopmaak… maar die deur bly toe en gesluit. Die mense verduk mekaar behoorlik om aan die voorkant van die deur te kan staan en te klop… so erg dat hulle saam teen die deur begin druk totdat hulle die deur uit sy skaniere losbreek. Skielik val die deur en hierdie hele groot skare mense tuimel meteens na binne… en toe kom die skok… want nadat die skare mense ingetuimel het die kamer in, probeer ek inkyk by die deur… maar daar is NIKS! Geen mense, geen kamer… net pikswart duisternis! Hierdie mense wou die Woord van God gebruik tot hulle beskerming. Hulle het nie vir God gesoek nie; hulle het alleenlik beskerming gesoek omdat hulle vreesbevange was. Hulle wou God se Woord dus misbruik en daarom het hulle alreeds vergaan tot in die ewigheid. Dit is baie hartseer…
Dan vat Abba Vader my terug in my eie lewe waar ons as gesin deur ’n erge traumatiese gebeurtenis gegaan het. Ek was nog nie een met Jesus nie, ek het Hom nog nie geken nie, ek het nog nie Sy werke verstaan nie. Ek het elke oggendd in trane gekniel, gesmeek vir hulp en God gevra om sake te laat gebeur soos ek dit wou hê… maar dit het nie. Net mooi die teenoorgestelde het gebeur… Abba Vader het my nie my sin gegee nie, want dit was nie Sy wil nie. Hy wou my leer om te ‘submit’ onder Hom, om Sy wil te leer ken en te verstaan, en Hom toe te laat om Sy wil te laat geskied in my lewe. Na ’n jaar se gesmeek het ek dit besef en begin vrede maak daarmee. Ek het ook dalk van deur tot deur geloop en geklop en gesoek en gesoebat dat die regte deur vir my moet oopgaan sodat ek my sin kon kry, maar nie een deur het oopgegaan nie. Ek het dit begin aanvaar en neergesak teen ’n deur met my rug teen die deur, knieë opgetrek, arms om my bene en met my kop op my kniee. En so het ek gaan sit, opgehou smeek en net stil geraak en oorgegee aan Abba Vader… vir ’n baie lang tyd het ek net so gesit en toe ek na ’n lang ruk my oë oopmaak, het daar lig onderdeur die deur geskyn. Terwyl ek kyk na die lig wat deurskyn, het ek vingers gesien wat onder deur die deur begin verskyn. Ek het dadelik geweet dit is Jesus se vingers en ek my vingers op Syne geplaas. En Jesus sê:
“EK IS DIE DEUR, MY KIND!
Beweeg DEUR My, raak een met My!”
“Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.” Johannes 10:7,9,28,29
Verheug jou daarin as jy van God sekere dinge afgesmeek het, maar Hy dit nie aan jou gegee het nie, want Hy weet die beste! As Hy vir jou alles moet gee wat jy van Hom vra, gaan jy Hom nooit leer ken nie. Jy gaan nooit die lig onder die deur sien uitskyn nie, jy gaan nooit Jesus se vingers kan aanraak nie en jy gaan nooit een met Hom raak nie. Alleenlik wanneer ons tot die besef kom dat God nie ’n “genie” is wat ons kan hied en gebied om vir ons te gee wat ons wil hê nie, sal ons Hom vind. Hou op klop en hamer aan die deur, gaan sit voor daardie deur en aanvaar die wil van God. Dan sal Hy vir jou die BESTE gee en dit is om een met Hom te word.
Wees op die uitkyk vir die wolwe in skaapsklere, want hulle is ORAL! Hulle gaan jou leer dat jy nie moet ophou klop en vra nie, want as jy aanhou sal God vir jou gee wat jy vra. Dit is hierdie wolwe wat die mense leer om van deur na deur te beweeg en te smeek na die welbehae van hulle eie wil. Ons as mense, verstaan Skrifte uit die Bybel so verkeerd as ons dit menslik gesproke met die brein probeer verstaan en uitredeneer. Dit is wanneer ons die woord “klop” verkeerd verstaan, want God vra nie van ons om Hom op so ’n manier te soek nie. Hou op smeek, hou op om God te hied en gebied oor jou behoeftes, hou op met die valshede… raak net een met Jesus!