Bou ‘n altaar met klippe

Abba Vader wys my ’n altaar van klip wat ek moet skilder.  Ek teken dit toe eers in my skryfboek, nog nie op ’n canvas nie.  Eers het ek gedink dat ek ’n lam op die klipaltaar gaan moet skilder, maar soos die tyd aangestap het, het Abba Vader al hoe meer gepraat oor ons harte wat ons moet offer aan Hom…. nie om net met die mond te sê ek gee nou my hart aan die Here soos daar in sommige kerke geleer word nie, maar om ’n waaragtige “contrite” heart aan Abba Vader te offer.  Dit beteken jy moet jou hele lewe oorgee aan Hom, jou besluite en keuses;  jy moet jou geliefdes in Sy hand kan laat en met ’n opregte hart kan sê:  “Laat U wil geskied – vir die goed en die sleg.”… en dan moet jy Abba Vader se planne en besluite respekteer en eer, want net Hy weet die beste.  Dit beteken dat jy die beproewinge op jou pad (wat Abba Vader daar geplaas het as klippe), aanvaar en Hom toelaat om jou te omvorm deur die beproewinge.  Want dit is tog hoekom Abba Vader klippe op jou pad plaas – om jou te suiwer van jouself, om jou te help om te sterf aan die self sodat jy weergebore kan word.  Niemand kan weergebore word as hy nie eers sterf aan die self nie, want ’n koringkorrel moet eers in die grond val en sterf voordat dit ’n oes kan lewer.  Die natuurlike mens moet eers sterf voordat die geestelike mens opgewek kan word… en dit beteken nie die dag wanneer ons fisies doodgaan nie… dit beteken om geestelik jou vleeslikheid en eie wil af te sterf.  Daarvoor moet jy deur die kruis van Jesus beweeg en geestelik in die graf geplaas word waar Abba Vader vir jou ’n nuwe hart sal gee.  Sonder ’n nuwe geestelike hart is jy nie waarlik gered nie.  Deesdae se mense wil nie meer DEUR die kruis beweeg nie – hulle is nog bereid om ’n pad te stap tot by die kruis en om hulle sondes te bely, maar hulle wil nie DEUR die kruis beweeg nie.  Pleks daarvan glo hulle die leuen dat hulle totaal verlos is omdat hulle gekniel het voor die kruis en daarom staan hulle op voor die kruis en gaan terug wêreld toe.  Dit beteken hulle beland nooit in die graf nie, wat beteken hulle kry nie ’n nuwe hart nie…. wat beteken hulle bekering en wedergeboorte was vals.   Hulle wil dus nie hulle kruis dra nie, maar Jesus sê in Mattheus 16:26,25: 

  “Toe sê Jesus vir sy dissipels:  ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.”

  Diegene wat nie hulle kruis wil dra nie, is ook diegene wat nie die klippe op hul pad wil aanvaar as God se manier om hulle te suiwer nie. Hulle glo dat as hulle in God glo en kerk toe gaan, hulle ’n fisiese geseënde lewe sal lei sonder enige slegte goed wat in hulle lewens gebeur.  Hulle glo dat as daar wel slegte goed in jou lewe gebeur, jy ’n oop teiken vir Satan is en dat dit hy is wat die slegte goed in jou lewe laat gebeur.  Hulle doen oorlogvoering teen Satan om die sleg uit hulle lewe uit weg te toor, maar as daar nie beproewinge in ons lewens is nie, hoe moet God ons suiwer van onsself?  

Dit is tog hoekom God die klippe op ons pad plaas… om ons te help om te sterf aan die self, om ons te help om oor te gee aan Hom, om ons te help om meer en meer op Hom te vertrou soos ons beleef dat Hy wel die klippe uit ons pad uit rol as ons dit in Sy hande plaas en Sy wil laat geskied.  En hier kom die mooi gedeelte in, want elke klip wat ons oorkom deur die krag van God, wat ons in Sy bekwame hande plaas en Hom vertrou om dit uit te sorteer, word ’n klip waarmee ons ’n altaar bou.  Sonder klippe, is daar geen altaar nie, en as daar nie ’n altaar is nie, kan ons ook nie aan God ’n geestelike offer gee nie, met ander woorde, as daar geen klippe is nie, kan ons nie ons harte aan God offer nie.  

Abba Vader het my gevra:  Wat is die belangrikste… jou offer of die altaar?  Ek het bietjie gedink daaroor, en vir Abba Vader gesê ek dink tog ons offer is die belangrikste.  En toe sê Abba Vader:  “Nou goed, as die offer gereed is, maar daar is geen altaar nie, hoe dan gemaak?  Jy het ’n altaar nodig om te offer, en daardie altaar moet eers gebou word.”  Waarmee bou jy jou altaar?  Gras?  Stokkies? Hout?  Nie een van daardie altare gaan werk nie, alleenlik ’n altaar van klip is vir God aanvaarbaar.  En waar kry jy die klippe om die altaar te bou?  Die altaar kan alleenlik gebou word met die klippe wat Abba Vader op jou pad geplaas het, en eers as jy die klip in Sy hande kon oorhandig en Sy wil aanvaar, word hierdie klip ’n deel van die altaar.  Elke klip op ons pad leer ons iets omtrent onsself… dit wys ons sondes en verkeerde denkwyses aan ons uit, dit wys ons swak punte en ons goeie punte, so dit help ons om stukkie vir stukkie te sterf aan die self.  Dit help ons om skoon te maak en ons te omvorm na die wil van God.  So, hoe meer klippe jy oorkom deur die krag van God, hoe meer vorder die bouwerk aan jou altaar.  Maar as jy die klippe gaan probeer vryspring deur dit te probeer wegbid uit jou lewe uit, word dit nie ’n klip van jou altaar nie en bou jy dus nie aan jou altaar nie.  Sien julle die leuen daarin om oorlogvoering teen Satan te probeer uitrig?  Jy doen jouself skade aan deurdat jy nie omvorm word na die wil van God nie;  jy is nie besig om ’n altaar vir God te bou sodat jy jou hart aan Hom kan offer nie.  

Aanvaar die beproewinge in jou lewe as God se plan en doel met jou lewe, sien die goed daarin raak en raak ontslae van die sleg in jouself.  Is jy besig om te bou aan jou altaar vir God sodat jy jou hart aan Hom kan offer?  Is jy bereid om die klippe op jou pad te aanvaar as God se plan vir jou lewe sodat Hy aan jou ’n ware, ewige toekoms kan gee?  Want God wil vir elkeen van Sy kinders ’n goeie en hoopvolle toekoms gee, wat beteken die ewigheid saam met Hom in Sy Koninkryk, maar ons kan alleenlik die Koninkryk binnegaan as ons nuwe skepsele is, met ander woorde as ons wedergebore is, en deel van die proses is om jou hart aan God te offer.  Maar hoe ver is jy gebou aan jou altaar van klip?

One thought on “Bou ‘n altaar met klippe”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s