In die rus van God

Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.  Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele;  want my juk is sag en my las is lig.”  Mattheus 11:28-30

Wat beteken dit om in die rus van God te wees?  In Psalm 95 sê God deur die mond van die digter dat Sy volk ’n dwalende hart het en dat hulle nie Sy weë ken nie, en daarom sal hulle in Sy rus nie ingaan nie.  Dit is dus die mense wat in skares die vals herders volg na die vaal gedeelte (Saadjie:  Kies die regte pad, vat Jesus se hand ) wat die keuse maak om by die T-pad saam met die meerderheid die maklike pad te kies wat na links gaan.  Dit is die mense met ’n dwalende hart wat nie die weë van God ken nie, en omdat hulle nie op die ware Weg saam met Jesus is nie, kan hulle nie in Sy rus ingaan nie.  As ons teruggaan na die Israeliete in die woestyn, sê God hulle sal nie in Sy rus ingaan nie… Wat was die rede?  Psalm 95:8-11 sê: 

“Verhard julle hart nie soos by Mériba, soos op die dag van Massa in die woestyn nie;  waar julle vaders My versoek het, My beproef het, alhoewel hulle my werk gesien het.  Veertig jaar het Ek ‘n afkeer gehad van hierdie geslag en gesê: Hulle is ‘n volk met ‘n dwalende hart, en hulle ken my weë nie;  sodat Ek in my toorn gesweer het: Waarlik, hulle sal in my rus nie ingaan nie!”

God het soveel wonderwerke voor hulle oë gedoen sodat hulle kon sien dat Hy waarlik God is – EK IS!” – maar nogsteeds het hulle nie met hulle harte in Hom geglo nie.  Hulle het God versoek en beproef, hulle het gedink Hy is ’n god waarmee hulle speletjies kan speel;  wat hulle kan hied en gebied…’n god wat hulle bevele moet gehoorsaam…  Hulle het duidelik geweet God lewe en dat God wonders doen, maar hullle harte was verhard deur sonde;  daarom het hulle net met die mond in God geglo, nie met die hart nie.  Hulle het net met die mond geglo en godsdiens gespeel om die goedheid van God te misbruik, want hulle het Hom versoek om in hulle vleeslike behoeftes te voorsien.  Soveel mense van vandag glo nogsteeds in God net met die mond en speel ook godsdiens deur kerk toe te gaan, maar het geen verhouding met Abba Vader nie.  Eintlik ken hulle Hom glad nie, net soos die Israeliete van ouds.  Hulle bely met mond om te glo in God, maar is dit ook net sodat God in hulle vleeslike behoeftes moet voorsien…  Net soos dit daardie tyd God se toorn laat ontvlam het, so sal dit vandag nogsteeds God se toorn laat ontvlam!  Net soos God daardie tyd gesê het dat DIT die rede is dat hulle nie in Sy rus sal ingaan nie, net so sê God vandag nogsteeds dat die mens wat hom versoek, nie in Sy rus sal inbeweeg nie.  En hoe versoek die mens God?  Deur geen verhouding met Hom te Hom te hê nie, maar met die mond in Hom te glo sodat Hy jou kan help, uit ’n verknorsings kan red, sodat jy ’n geseënde lewe kan hê;  sodat jy nie hel toe hoef te gaan nie….  Hebr 3:18,19 sê:  

   “En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames?  En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie.”

Mense wat net met die mond in God glo, sal ongehoorsaam wees aan Hom, hulle sal hulleself bo God stel en hulle dade sal getuig van hulle ongeloof in God.  Moet asseblief nie die dink jy bewys jou geloof in God omdat jy kerk toe gaan, gedoop is, nagmaal gebruik of enige ander ritueel beoefen nie, want dit presies wat dit is… dit is net godsdienstige rituele… dit is GEENSINS verhouding met Abba vader nie.  En die mens wat getuig om te glo in God, maaar wat geen verhouding verder met Hom het nie, is die mense wat op die breë pad oppad is na die hel.  Hulle versoek God om hulle gesond te maak, om hulle te beskerm teen die bose en die geweld in die land, om hulle finansiëel te sëen, om hulle huwelike te red, ensovoorts… maar omdat hulle nie ware geloof in God het nie, sal hulle ook nie in Sy rus ingaan nie.  Hulle is oppad na die vaal deel van die dood en nie na die tuin van God, waar Lewe is, nie.  Die mense op die breë pad is die mense wat God versoek, en as ons God versoek, is ons nie in Sy rus nie!  Om meer te lees oor die manier waarop ons God versoek, lees die saadjie Hoe versoek ons God?

Meeste mense dink hulle is in die rus van God omdat Jesus gesterf het aan die kruis, maar hulle verstaan hierdie konsep glad nie… weereens omdat hulle hulle ore uitleen aan paaiende leraars wat hulle lei op die breë pad na die vaal gedeelte.  Al die mense in die vaal gedeelte wat so lekker godsdiens beoefen en glo hulle is gered daardeur, is nie in die rus van God nie.  Die mens is alleenlik in die rus van God wanneer hy in die tuin van God teenwoordig is… daar waar hy in afsondering ware verhouding met Abba Vader het.  Die mens wat in die rus van God is, het die self – die ou, sondige mens – afgesterf, en is weergebore deur die Gees van God.  Hy leef nie meer vir homself nie, maar tot die eer van God.  Die Gees van God is teenwoordig in sy geeshart, met ander woorde, hierdie mens is diep en stewig gevestig in die hart van God.  Dit is die persoon wat nie die skares volg nie, maar wat die hand van Jesus gevat en die smal paadjie saam met Hom begin stap het.  Dit is die mens wat sy eie wil afgestef het en nie meer daarna streef om in sy vleeslike behoeftes te voorsien nie, so hy versoek God nie elke dag om te doen wat hy vra, of om vir hom te gee DIT wat hy vra nie.  Hy aanvaar die wil van God – vir die goed en die sleg – en smeek God nie om omstandighede of situasies te verander nie.  Hy streef daarna om die wil van God te leef en om die wil van God te aanvaar vir sy lewe.  Soms moet ons net ons emosies eenkant plaas om die wil van God te aanvaar en dit is nie altyd so maklik nie.  DAN eers is ons in die rus van God – eers wanneer ons die wil van God vir ons lewens aanvaar en Hom nie versoek en tart om in ons vleeslikheid te voorsien nie.  Die wonderlike om in die rus van God te wees, is dat ons God dan 100% beheer oor ons lewens gee en alles in vrede aanvaar wat Hy oor ons lewe bepan het.  Dan eers kan ons die wonderwerkende hand van God in ons lewe begin raaksien, want dit is eers wanneer ons totaal oorgegee is aan die wil van God, dat Hy vir ons die waters sal oopmaak en berge vir ons verskuif.  Moses het God nie beveel om die waters vir hulle oop te maak toe die Egiptenare op hulle hakke was nie, maar God het hulle verras deur hierdie wonderwerke.  En net so sal God jou ook verras met wonderwerke wanneer jy in Sy wil is, dus in Sy rus is.  DAN eers sal God die eer ontvang daarvoor en nie die mens nie.  Die mens is te vinnig om vir homself die eer te gee… kom ons vat ’n simpel voorbeeld…. Wanneer iemand siek is en ’n sekere persoon gaan bid oor die siek persoon vir genesing en die persoon word wel gesond, wie kry die eer daarvoor?  Hulle sê wel met woorde al die eer gaan na God, maar tog is dit die mens wat gebid het, wat die wêreldse eer daarvoor kry!  Dink jy regtig dit behaag God?  Wat nou as God wel besluit het om deur siekte die siek persoon weg te vat van die aarde af?  Gaan die persoon wat dan bid oor die siek mens, God se wil kan verander?  Gaan hy God se arm kan draai sodat God eerder na hom sal luister en hom moet gehoorsaam om die mens wel gesond te maak as God klaar besluit het Hy wil die mens op hierdie manier weer stof van die aarde maak? Ek voel dit is baie arrogant van die mens en dat mense wat dit doen, geen respek vir God en Sy planne het nie… net soos die Israeliete van ouds… hulle wil nie in die weë van God wandel nie, met ander woorde, hulle wil nie op die smal paadjie saam Jesus wandel nie, maar in groepe op die lekker breë pad.  Die breë pad lei nie na die rus van God nie, en net soos God Sy volk nie in die beloofde land laat ingaan het nie, net so sal God diegene wat nie Sy wil aanvaar en Hom gehoorsaam, in Sy rus laat inbeweeg nie.  God gaan nie met Hom laat speel nie, Hy gaan Hom nie laat versoek deur ’n mens nie!

Om in die rus van God in te beweeg, beteken ook om in Sy Koninkryk in te gaan en ons weet Jesus het gesê dat ons alleenlik in die Koninkryk van God sal kan ingaan wanneer ons sterf aan die self en weergebore word.  Alleenlik wanneer ons sterf aan die self, sterf ons ook ons eie wil af en sal ons die wil van God aanvaar en Hom nie versoek nie.  En alleenlik wanneer ons die wil van God leef, leef ons in Sy rus en sal ons vrede vir ons siele vind.  Alleenlik dan sal ons alle omstandighede en situasies in ons lewe met die krag van God binne ons kan oorkom.      

So hoe weet jy of jy in die rus van God is of nie?  Eerste teken is of jy God versoek… Wanneer jy bid, is dit ’n oop gesprek met Abba Vader of is dit net jy wat dinge van Hom eis en dinge van Hom vra?  Dit is nie wat gebed is nie.  Lees Wat is gebed en verhouding met God? oor wat gebed is en wat gebed nie is nie.  As jy vir God sê:  “Laat U wil geskied”, bedoel jy dit uit jou hart uit?  Of vra en smeek jy eers van God DIT wat JY graag wil hê, en sê dan op die ou end nogsteeds “Laat U wil geskied”?  Dit maak mos nie sin nie?  Mense wat God probeer hied en gebied probeer God oortuig om hulle sin vir hulle te gee, hulle sê eintlik vir God:  “Laat my wil geskied, asseblief!”  

Ek het self nou deur so ’n wortsteling gegaan… My ma is ’n paar weke terug gediagnoseer met kanker en ek was erg geskok daaroor.  My ma raak NOOIT siek nie, en nou skielik is dit sommer kanker!  ’n Mens skrik as ’n mens hoor “kanker” want dis asof dit die siekte van ons tyd is wat baie geliefdes van ons af wegneem.  Nadat ek die slegte nuus ontvang het, het ek dadelik op my knieë gaan neersak langs my bed en net gehuil by die voete van Abba Vader.  Ek het geweet die wil van God moet geskied, en hier word ek toe getoets of ek vir God gaan voorskryf of nie…  Gaan ek vir wonderbaarlike genesing smeek, vir God vra om in te spring en my ma wonderbaarlik skoon te maak van die kanker?  Of gaan ek net in die rus van God bly en Hom toelaat om te laat gebeur wat Hy weet die beste is?  Dis ’n baie moeilike situasie en dit ontlont baie argumente, want daar staan dan in die Woord dat ons enigiets van God kan vra en Hy sal dit vir ons doen.  Maar wat die mens nie raaklees nie, is dat daar staan dat AS ONS VOLGENS DIE WIL VAN GOD VRA, sal Hy dit vir ons gee en doen.  So dit beteken ons moet nogsteeds in die rus van God wees en wanneer ons gevul is met die Gees van God, sal ons wel vra na dit wat die wil van God is.  Dit is ’n groot toets, veral as iemand waarvoor ons so verskiklik lief is, siek raak.  Maar ons moet net in die rus van God bly en Hom vertrou!  Dan eers kan Hy wonderwerke in ons lewens doen en ons gebruik om Sy Waarheid uit te straal in ’n donker wêreld.               

 Alleenlik wanneer ons in Sy rus is, kan ons deur enige probleem stil wees, want ons sal weet dat God vir ons sal veg.  Mense wat in God se rus inbeweeg het, het in die wil van God inbeweeg en laat God toe om Sy wil te laat geskied in hulle lewens.  Wanneer hulle bid:  “Laat U wil geskied” bedoel hulle dit regtig uit hulle harte uit en daarom kan hulle probleme en moeilike situasies in Sy hand plaas en dit daar los dat HY dit uitstorteer.   Dit is hulle wat geleer het om hulle oë af te haal van die klippe op hulle pad en te fokus op Jesus.  Mense in God se rus het aanvaar dat God die beste weet en dat Hy altyd vir ons net die beste beplan.  (Jer. 29)  Hulle aanvaar God het klaar hulle Lewensboeke geskryf en hulle streef daarna om dit te leef wat God beplan het, nie dit wat die mens wil hê nie.

Mense wat nie in God se rus is nie, sukkel om die wil van God te aanvaar, hulle probeer heeltyd God se arm draai om sekere goed te laat gebeur in hulle lewens.  Hulle wil hê God moet in hulle eie wil voorsien en voldoen, hulle wil nie leef volgens die wil van God nie, maar volgens hulle eie wil.  Wanneer ons nie ten volle oorgegee is aan Abba Vader nie, gee jy Hom ook nie ruimte om te werk in jou lewe nie.  Jou hart en jou lewe moet in SY wonderbare hande wees, dan maak Abba Vader vir ons deure oop op die regte tyd;  dan maak Abba Vader die see vir ons op die regte tyd oop om deur te beweeg en ons te verlos van die vyand;  dan verskuif God berge vir ons;  dan veg God vir ons!  Dan vertel ons nie meer vir God wat Hy moet doen en laat gebeur in ons lewens nie, maar laat ons Hom toe om dinge te laat gebeur soos Hy dit beplan het. 

Nadat ek hierdie saadjie geskryf het, het ek dit net nog ’n keer deurgegaan om my spelfoute reg maak, en toe vra Abba Vader vir my:  

“Hoekom glo jy My?”  

Want Abba Vader is My Pa, Hy is my Maker;  ek kan voel ek is gekonnekteer aan Hom, hoe kan ek anders as om Hom lief te hê met alles binne my?  Dit is die lekkerste lekker om in Sy teenwoordigheid stil te wees, niemand en niks kan my daardie gevoel van tevredenheid gee wanneer ek in Sy teenwoordigheid is nie.  Niemand kan my so breed laat glimlag nie en niemand kan my soveel trane van vreugde gee nie.  Ek glo in my Vader, want ek het Hom met my hele wese lief en ek wil in alles wat ek doen, Hom behaag. 

Raak stil met hierdie vraag:  “Hoekom glo jy in God?” Wees eerlik met jouself, dit is die enigste manier hoe ons kan sterf aan die ou mens… wanneer ons eerlik is met ons dieper self.  Glo jy in Hom omdat jy so geleer en grootgemaak is en jy weet dit is die “regte” ding om in Hom te glo?  Glo jy in God omdat Hy die enigste hoop op redding is?  Sodat jy nie hel toe hoef te gaan nie?  Sodat Hy jou kan help en beskerm in moeilike tye?  Sodat hy jou of iemand na aan jou kan gesond maak?  Sodat Hy dit en dat vir jou kan gee en doen?  Sodat jy enigiets van Hom kan bid en Hy dit vir jou sal gee?  Omdat Hy jou lewe makliker kan maak?  Dat HY in jou vleeslike behoeftes kan voorsien?  Ek is jammer, maar al die bogenoemde redes is bewyse dat jy nie in die rus van God is nie, maar op die breë pad waar jy Hom net versoek om in jou vleeslikheid te voorsien.  Die mens met geen persoonlike verhouding met Abba Vader nie, is nie in Hom gewortel nie, en is nie in Sy rus nie.  Hulle leef nie die wil van God nie, maar versoek God om in hulle wil te voldoen.  Godsdiens kan jou nie in die rus van God plaas nie.  Ons is alleenlik in die rus van God wanneer die ou, sondige mens afgesterf het en die Gees van God ons harte oorgeneem het.  Lees asseblief Romeine 8 

“Wees stil en weet Ek is God!”  Ps. 46:11

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s