Romeine 13
8 Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.
9 Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
10 Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.
11 En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.
12 Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.
13 Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie.
14 Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.
Ek is stil op my blog, want ek is besig om aan ’n paar boeke te skryf. Abba Vader bly net so getrou en lei my elke dag deur omstandighede en situasies om die lesse van die lewe neer te skryf. Vir die laaste paar dae is ek besig oor die onderwerp oor vervloeking in ons lewe. Daar is so baie mense wat kwaad raak oor hierdie onderwerp en niks daarvan wil hoor nie, want hulle meen dat Jesus gesterf het vir ons sondes en dat Hy alle vloeke gekanselleer het, maar as jy tyd by die voete van Abba Vader spandeer en die Gees van God toelaat om die Woord van God aan jou te verduidelik en interpreteer, sal jy baie vinnig die teendeel sien wat verkondig word in die wêreld.
Vanoggend het ek ’n sterk gevoel gekry om Romeine 13 te lees en die laaste vers sê presies DIT waaraan ek skryf: Ons moet ophou om in ons vleeslike behoeftes te probeer voorsien, want daardeur maak ons keuses sonder om die wil van God te soek, en as ons keuses maak teen die wil van God, skep ons vir onsself vervloeking. Dit kom neer op ongehoorsaamheid aan God en wanneer ons ongehoorsaam is aan God, oortree ons die 10 gebooie van God. Baie mense meen die gebooie van God het verval, maar dit het nie! Om meer te lees oor die gebooie, lees gerus die saadjie: Het die gebooie van God verval? Wat wel verval het, is die al die ander wette wat God aan sy volk gegee het – al die tradisie, rituele en godsdiens. Dit is nie meer nodig vir ons om ’n dier te offer aan God nie, om al daardie feeste te hou of om al die rituele uit te voer wat hulle destyds gedoen het nie. Maar ons kan nie die gebooie van God eenkant toe gooi en maak asof dit nie meer bestaan nie. Mense wat die leuens van die wêreld glo, glo dat hulle maar kan leef soos hulle wil, want Jesus het mos alreeds vir hulle sondes gesterf…. hulle glo dat as hulle hou by die tradisie om kerk toe te gaan, hulle babas te laat doop, nagmaal gebruik ensovoorts, wys dit mos hulle ’n Christen is en gered is… verder kan hulle leef soos hulle wil… die deur na die koninkryk van God is mos alreeds vir hulle oopgemaak deur Jesus, maar tog sê Jesus baie duidelik dat die mens nie die Koninkryk van God sal sien as hy nie wedergebore is nie. Om kerk toe te gaan, as ’n baba of volwassene gedoop te wees, om ’n rympie op te sê agter die dominee aan, om bloedlynvloeke te breek…. nie een van hierdie wêreldse gebruike gee aan jou toegang tot die Koninkryk van God nie; alleenlik wedergeboorte! Alleenlik wanneer ons wedergebore is, het ons gesterf aan die self en leef Jesus in en deur ons. Alleenlik wanneer Jesus in en deur ons leef, kan ons God gehoorsaam, kan ons dus die gebooie van God nakom en word die wet deur ons vervul.
Kyk weer vers 8 van Romeine 13… om ’n ander lief te hê, vervul ons die wet. In Mattheus 5 sê Jesus Hy het nie gekom om die gebooie te ontbind nie, maar om dit te vervul. Geen mens op aarde kon die wet van God (gebooie) vervul nie, alleenlik ’n Goddelike mens en daarom moes God Sy Seun in die vorm van ’n mens stuur. Deur Sy gehoorsaamheid het Hy die wet vervul en ook die Gees van God vrygestel. Die Gees van God kan die hart van die mens oorneem alleenlik wanneer die mens die self afsterf en dan leef die Gees van Jesus in en deur ons. Alleenlik dan kan ons die gebooie gehoorsaam, maar dis weereens nie die mens wat so wonderlik is om die gebooie te gehoorsaam nie, dit is die Lewe van Jesus binne ons wat ons in staat stel om gehoorsaam te wees aan God. Om jou naaste lief te hê soos jouself, beteken om nie ’n ander te na te kom nie; om jou naaste lief te hê, is nie ’n emosie of ’n gevoel nie, dit is om ’n ander met respek te behandel, om nie vir mekaar te jok, te moor, te steel van n ander nie, ensovoorts. Maar nie een van ons kan dit uit ons eie regkry nie, alleenlik as Jesus in en deur ons leef! Dan vervul Jesus deur ons die gebooie van God en dit is hoekom Jesus gekruisig moes word… Hy is nie gekruisig sodat almal se sondes op die daad vergewe word en jy maar kan lewe soos jy wil nie… Hy het gesterf om die wet te vervul en Sy Gees vry te stel sodat Sy Gees in ons harte kan kom woon en ons in staat stel om ons naaste lief te hê, want as ons ons naaste liefhet, is dit ’n bewys dat ons kinders van God is. 1 Johannes 3 is baie harde woorde oor hierdie saak, gaan raak asseblief stil daarmee.
Dis tyd om wakker te skrik! God se geduld is besig om min te raak met die mensdom. Dit is tyd om te besef hoeveel mense in die duisternis vasgeketting is, maar glo hulle is gered! Word wakker uit die diepe slaap; hou op met rituele, godsdiens en allerhande snaakse tradisie-maniere wat oorgerdra is van die voorouers. Hou op om die leuens van die wêreld te glo en kry die Waarheid by die voete van Abba Vader in afsondering. Die mens is nie outomaties gered wanneer hy beweer om Jesus te glo nie; die mens se sondes is nie outomaties vergewe omdat Jesus gesterf het aan die kruis nie. As die wet nie deur jou vervul word nie, is dit ’n bewys dat jy nie wedergebore is nie, want dit bewys dat Jesus nie in en deur jou lewe nie….en as jy nie wedergebore is nie, sal jy nie die Koninkryk van God kan ingaan nie… dan behoort jy nie aan God nie. Jammer vir die harde woorde, maar soms het ons harde woorde nodig om wakker te skrik en te reflekteer wat in ons lewe aan die gang is. As ons die self en ons eie wil afgesterf het, sal ons die wil van God vir ons lewens aanvaar en Hom gehoorsaam… nie uit ons eie krag of “goedheid” nie, maar deur Jesus wat in en deur ons leef… dan vervul Jesus deur ons die wet van God (gebooie) en sal ons in alles wat ons doen, God gehoorsaam.
Tekens dat die self nog nie afgesterf het nie, is om nog vas te hou aan die voorouers se tradisies, kultuur en godsdiens met al sy rituele. Om te glo jy is gered omdat jy kerk toe gaan, omdat jy met die mond getuig om te glo in Jesus, maar waarvan getuig jou lewe? ‘n Lewe vol sonde, al is dit ook hoe gering, getuig van ‘n boom wat vrot vrugte dra, want die vrugte getuig waar jy gewortel is. Vrot vrugte, dus sonde, getuig dat die mens nog nie wedergebore is nie, dus is die persoon nie gered nie, maak nie saak hoeveel werk jy vir die kerk doen, en of jy die dominee of pastoor van ‘n kerk is nie. Word die wet deur jou vervul?