“Kyk, die winter is verby, die reëntyd is oor, dit het verbygegaan. Die bloeisels word gesien in die land, die sangtyd het aangebreek, en die tortelduif laat sy stem hoor in ons land” Hooglied 2:11,12
Alhoewel ons dadelik ’n mooi prentjie kry as ons hierdie lees, gaan dit nie vir almal op ’n mooi prentjie dui nie. Die bloeisels wat gesien word, is mooi, maar dit dui ’n tyd van gereedheid aan, ’n tyd van oordeel. Vir diegene wat goeie vrugte en bloeisels aan hulle bome het, is dit ’n goeie tyd wat wag, maar vir diegene wat nie ’n boom met goeie vrugte in God se hart gegroei het nie, dui dit aan op ’n tyd van vrees, verwoesting en oordeel, want die byl lê alreeds teen die wortel van die boom. Elke boom dan wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi (Luk 3:9). Daar is in vandag se tyd soveel dwaalleringe van godsdiens, soveel goddeloosheid, mense gee hulle oor aan bose begeerlikhede, hulle doen net wat hulle wil en dink hulle godsdienstige rituele gaan hulle red…
Die bloeisels laat my ook dink aan die Skrif in 2 Kor 2:14-17 wat gaan oor ’n reuk wat versprei word. Bome wat bloeisels dra, versprei ’n geur…vir baie is dit ’n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word, maar onder die wat verlore gaan, is dit ’n reuk van die dood…
Die tortelduif wat sy stem laat hoor in die land is God se boodskappers wat Hy uitstuur net soos Hy Noag en al die profete uitgestuur het. Hierdie tortelduiwe sing nie altyd mooi liedere nie, maar klaagliedere en gesug en wee, en daarom haat die wêreld en sy mense hulle. Hulle is vir die mensdom ’n onaangename reuk waarvan hulle niks hou nie, want die mens in die wêreld wil net mooi dinge hoor; hulle wil hoor Jesus het vir hulle sondes gesterf en dat almal daardeur gered is. Hulle wil nie hoor dat hulle die self moet kruisig, hul lewe moet aflê en Jesus moet volg nie; hulle wil nie hoor dat hulle klipharte verander moet word nie, hulle wil niks hoor van gehoorsaamheid nie en daarom preek kerke nie vir mense om hulle sondes te laat staan nie.
In 2012 het Abba Vader baie duidelik vir my gesê ’n droogte gaan SA tref vir 7 jaar. ’n 7 Jaar droogte! Hy het ook vir my duidelik die Skrif, Jeremia 14, gegee. Ek het soos gewoonlik gesnak na my asem toe ek hierdie Skrif lees:
1DIE woord van die Here wat tot Jeremia gekom het weens die groot droogte. 2Juda treur en sy poorte verval; hulle sit in rou op die grond, en die geskreeu van Jerusalem gaan op. 3En die vernames onder hulle stuur hulle ondergeskiktes na die water; hulle kom by die bakke, hulle kry geen water nie; leeg kom hulle kanne terug; hulle het beskaamd gestaan en in die skande gekom en bedek hulle hoof. 4Weens die land wat verslae is, omdat daar geen reën op die aarde is nie, kom die landbouers in die skande, hulle bedek hulle hoof. 5Want selfs die wildsbok in die veld lam en gooi haar lam weg, omdat daar geen jong gras is nie. 6En wilde-esels staan op die kaal heuwels, hulle snuif die wind op soos die jakkalse; hulle oë versmag, omdat daar geen gras is nie.
In Oktober 2016 wys Abba Vader hoe die beeste loop en stof opskop. Op sekere plekke is daar nie meer kos vir die diere nie. Van die diere begin lê en later is dit net geraamtes wat daar lê. Dit was vir my verskriklik om te besef dat dit gaan begin gebeur in SA, want ek is ’n obsessiewe diereliefhebber. Met hierdie beeld wat Abba Vader my wys, verduidelik Hy aan my dat ek nie hoef te huil vir die diere nie, want vir hulle is dit die loop van die lewe. Die dier word nie op hierdie manier gestraf nie, met ander woorde, ’n dier sien en beleef dit nie as straf nie. Maar die mens beleef dit as ’n straf, want dit is die mens wat op die ou end van die dag finansieël verloor en swaarkry. ’n Kort rukkie nadat Abba Vader vir my gewys het oor die diere, het dit ook so begin gebeur in sekere gebiede.
Mense het begin bid en smeek vir reën, soveel mense het geprofeteer oor reën wat val; sommige mense het Satan beskuldig dat dit hy is wat die droogte veroorsaak en hom met leë woorde probeer beveg. Sommige mense het selfs die arrogansie gehad om die natuur aan te spreek met “heilige woorde” en die natuur probeer beheer sodat die wolke reën moet bring. Maar God het die droogte beplan! God beheer die natuur, nie Satan nie. Die natuur gehoorsaam God altyd, God besluit waar die wolke bymekaar sal kom en waar dit sal reën. Ek het op ’n stadium vir Abba Vader gevra hoekom dit so sleg gaan in SA ten opsigte van die droogte en Hy het gesê die geestelike duisternis wat hang oor SA, is die gevolg daarvan. Die valsheid van die mense! Die godsdiens van die mense! Mense ken nie vir God nie, hulle aanbid Hom nie uit liefde vir Hom nie, maar vir wat hulle daaruit kan kry. Hy het my ’n prentjie van motte gewys en gesê SA se mense is soos ‘n klomp motte om ’n lig. Hulle vergader in groot groepe om ’n lig om te smeek vir dit wat hulle wil hê, byvoorbeeld reën, maar wanneer hulle wel reën kry, verdywn die motte baie vinnig om die lig. Dan is daar nie meer ’n mot in sig nie! Waar is die mens se verhouding dan met Abba Vader? Hy wil nie hê ons moet wees soos ’n mot om ’n lig wat smeek en wanneer ons ons sin gekry het, gaan ons aan met ons goddelose lewe nie… al die derduisende mense wat so saamgeroep word en wat hulle harte en klere skeur voor God sodat Hy dit beter met SA moet laat gaan, sodat Hy reën kan gee… waar is daardie derduisende mense se verhouding met Abba Vader wanneer hulle terugkeer na hulle normale lewe? Abba Vader soek verhouding met die mens! Hy wil hê jy moet Sy hart ken! Moenie net God se hand soek vir help nie, soek Sy hart! Raak verlore in Sy hart!
Kyk wat sê Jeremia 14 ook oor die vals profete wat in die tyd van die droogte reën en voorspoed vir SA voorspel het…
“13 Toe sê ek: Ag, Here Here, kyk, die profete sê vir hulle: Julle sal geen swaard sien en geen hongersnood hê nie; maar Ek sal julle ‘n duursame vrede gee in hierdie plek. 14En die Here het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle ‘n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart. 15Daarom, so spreek die Here: Aangaande die profete wat profeteer in my Naam sonder dat Ek hulle gestuur het, en wat sê: Daar sal geen swaard of hongersnood in hierdie land wees nie — dié profete sal deur die swaard en die hongersnood omkom.”
Ek glo dat die droogte besig is om te begin breek, want 7 jaar is nou verby, maar dit beteken nie voorspoed nie, want Abba Vader wys baie waters…. oorstromings, hael en vuur. Abba Vader gee vir my Jesaja 8 om te gaan lees, ek skryf die vertaling van The Message neer, gaan lees dit gerus in die ander vertalings:
God spoke to me again, saying: “Because this people has turned its back on the gently flowing stream of Shiloah, And gotten all excited over Rezin and the son of Remaliah, I’m stepping in and facing them with the wild floodwaters of the Euphrates, The king of Assyria and all his fanfare, a river in flood, bursting its banks, Pouring into Judah, sweeping everything before it, water up to your necks, A huge wingspan of a raging river O Immanuel, spreading across your land.” Isaiah 8:5-8
Dit help nie ons wil paranoïes raak en op hol gaan nie, al wat ons kan doen om skuiling te vind by Abba Vader. Die eindtye is verseker op ons, God het dit lank reeds so bepaal en ons gaan nie God se arm kan draai om Sy planne en gedagtes te verander nie. Al wat ons kan doen, is om te sorg dat ons stewig in Hom geanker en gevestig is. Soek die hart van Abba Vader, nie Sy hand nie!