Keer terug na ware verhouding met Abba Vader

Aan die begin van alle tye het God die mens gemaak om verhouding met Hom te hê, om gemeenskap met Hom te hê.  Hy het die mens gemaak om met Hom te wandel, om met Hom te kommunikeer, met Hom te gesels soos jy met ’n vriend sal gesels.  Aan die begin het God die mens gemaak om sonder sonde te wees en hulle in die tuin van Eden geplaas waar hulle saam met God gewandel en met Hom gekommunikeer het.  Dink net daaraan… om in die pragtigste tuin saam met jou Skepper te wandel en met Hom te gesels soos jy met ’n vriend sal gesels.  Wel, dit is hoe God die mens oorspronklik gemaak het en dit is hoe God nogsteeds wil hê dit moet wees en dit is nie onmoontlik nie.  Elkeen van ons kan ’n lewende, geestelike verhouding met Abba Vader hê.  Ons sal eendag weer saam met Hom in die tuin wandel, maar ons kan solank met Hom daardie goeie kommunikasie en verhouding hê.  

Ongelukkig het sonde die verhouding tussen mens en God verwoes;  die mens kon na die sondeval nie meer met God wandel en met Hom gesels soos God dit oorspronklik beplan het nie;  die verhouding tussen mens en God was uitgewis;  die Vuur was geblus uit die geeshart van die mens en die hart van die mens het so koud en hard soos ’n klip geword.  Die Gees van God was nie teenwoordig op die aarde na die sondeval in die Ou Testamentiese tyd nie en daarom kon die mense nie vervul word met die Gees van God nie.  Die Gees van God is die konneksie wat die mens nodig het om met God gekonnekteer te wees;  sonder die Gees van God kan die mens nooit met God konnekteer en met Hom kommunikeer soos God dit oorspronklik wou hê nie.  God wou so graag die God-mens-verhouding herstel en daarvoor was Hy selfs bereid om Sy Seun aarde toe te stuur. 

God stuur toe Sy Seun in die vorm van ’n mens om baie meer te kom doen as wat ons besef, maar alles wat Jesus gedoen het, het Hy gedoen om Abba Vader se wil te gehoorsaam.  Dit is vir my die mooiste eienskap van Jesus wat uitstaan in die Woord van God… Jesus se gehoorsaamheid.  Al wat Hy wou doen, was om God te behaag en Sy wil te gehoorsaam.  Jesus het net een doel voor oë gehad en dit was om dít op aarde te kom volbring wat Sy Vader opgeskryf het oor Hom, dit wat Abba Vader oor Hom beplan het.  Hy het nooit SY eie wil gevolg nie, maar in alles die wil van God.  Dit was vir Hom swaar toe Hy gekruisig moes word, maar Hy het nooit ander plannetjies beraam om die kruisiging vry te spring nie.  Hy het in afsondering in gebed voor Sy Vader neergesak en gesê:  “Nie My wil nie, Vader, maar U wil.”  Hy het geweet Hy het ’n groot taak wat Abba Vader Hom opgelê het en tot die dood toe het Hy gefokus om gehoorsaam te wees aan dit wat God van Hom verwag het… en toe gebeur die wonderbaarlikste… die gehoorsaamheid van Jesus het die die Gees van God vrygestel wat weer in en deur die harte van God se kinders kon begin lewe…amper soos aan die begin, behalwe dat ons nog nie in die tuin van Eden saam met Abba Vader wandel nie, maar die Gees van God wat Jesus kom vrystel het, stel die mens in staat om gehoorsaam te wees aan God en om ’n lewende verhouding met Abba Vader te kan hê.  So die gehoorsaamheid van Jesus het die mens weer in staat gestel om met God te konnekteer en te kommunikeer deur die Gees van God.

Wanneer die mens dink aan die kruisiging van Jesus, is sy fokus ingestel op die sondevergifnis- gedeelte, want ons word van kleins af geleer dat Jesus aan die kruis moes sterf sodat almal se sondes vergewe kon word.  Dit is nie ’n leuen nie… die dood van Jesus het sondevergifnis bewerkstellig, maar nie op die manier wat ons geleer word nie.  Ons moet hierdie ding uit ’n ander oog begin sien.  Gaan ondersoek die Woord van God waar Jesus direk aan die woord is en dan gaan kyk jy elke keer wanneer Jesus gepraat het oor Sy kruisiging wat op hande is…  Jesus het nie een keer direk gesê dat Hy moet sterf sodat almal se sondes op die daad vergewe kan word nie.  Hy het wel gesê dat die Gees van Waarheid vrygestel moet word as ’n Helper vir die mens.  Jesus was tot in die fynste besonderhede gehoorsaaam aan Sy Vader, alles wat Hy gedoen het, het Hy gedoen om SY Vader te verheerlik;  niks het ooit oor Homself gegaan nie.  Hy het die pad van gehoorsaamheid gestap na die kruis op Golgota omdat Hy gehoorsaam was aan Sy Vader, omdat Hy die wil van Abba Vader wou laat geskied.  Hier moet die mens regtig ’n kopskuif begin maak, want die mens ag homself hopeloos te belangrik.  Natuurlik was Jesus lief vir die mense, veral hulle wat Hy geweet het God se kinders is, maar Sy eerste liefde was altyd Abba Vader!  Hy was gehoorsaam uit liefde vir Abba Vader, nie uit liefde vir die mens nie.  Hy het gesterf aan die kruis uit gehoorsaamheid en uit liefde vir Sy Vader!  Jesus het geweet Sy gehoorsaamheid aan God gaan die mens in staat stel om weer ’n lewende verhouding met Abba Vader te kan hê deur die Gees wat hulle harte oorneem.  Sonder die Gees van God is dit nie mootlik nie.  Die gehoorsaamheid van Jesus het die Weg gebaan sodat die mens op die ware Weg kan wandel terug na God.  Jesus het dus die geestelike deur kom oopmaak vir die mens om weer in regstaande verhouding met Abba Vader te kan wees.  Vir so baie jare was die mens nie in staat om verhouding met Abba Vader te kon hê nie, maar ons is in die gelukkige posisie om weer ’n baie naby verhouding met Abba Vader te kan hê… om voor Hom te kan neerkniel en met Hom te kan gesels…alles te danke aan die gehoorsaamheid van die Seun van God… Dankie Jesus!  

Die enigste manier hoe ons so ’n naby verhouding met Abba Vader kan hê, is om baie tyd alleen by Sy voete te spandeer.  Om deel te wees van sommige groepe, gaan jou nie help om so ’n verhouding met Abba Vader te bou nie.  Abba Vader soek jou tyd!  Hy soek jou hart!  Hy soek opoffering van jou kant af ook!  Wees versigtig dat rituele, tradisie en godsdiens nie ’n muur bou tussen jou en Abba Vader nie.  Wees versigtig dat tradisionele gebed nie ook ’n muur word tussen jou en Abba Vader nie.  God soek nie rympiegebede nie, Hy soek die eerlikheid van jou hart.  Hy wil hê jy moet jou hart voor Hom uitpak sodat Hy jou kan help met probleme, moeilike omstandighede en sommer net die allegdaagse lewe.  Dit is wat verhouding met Abba Vader is… 

“Wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie;  want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid om deur die mense gesien te word.  Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het.”

Mattheus 6:5

      

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s