God se saadjie binne ons

(Hierdie is ‘n uittreksel uit my nuwe boek, “Die Boom” wat een van die dae beskikbaar sal wees.)

Ons word almal eers in die duistere wêreld ingebore as vleeslike mense met ’n fisiese DNA en dormante geesharte, so ons almal is eers wêreldse bome, geanker met vlak wortels in die sand van die wêreld met geen Goddelike vrugte nie, baie blare en droë kerns. Geen mens word heilig gebore nie, geen mens word gebore met die Lewe van God binne hom nie. Klein boompies word gevorm en gebuig om soos ’n sekere boom te lyk wanneer hulle groot is. Ons word grootgemaak deur ons ouers wat hulle “mindset” op ons afstempel en so word ons groot met ons ouers se gewoontes, waardes, persepsies, en ook volgens hulle reëls, wette, tradisie en kultuur. Ons word dus op ’n vleeslike manier gevorm en gebuig deur ons ouers, ons omgewing, asook ons omstandighede, maar die boom waarin ons gegroei het, is nie wat God vir ons in gedagte gehad het nie, want Hy het nog voor Sy kinders se geboorte vir elkeen ’n Goddelike DNA verweef wat diep in hulle geesharte versteek is in die vorm van ’n saadjie.

Nog voor ons geboorte het God ons al geken, want die Woord sê:

Jeremiah 1:5 (GWT)

“Before I formed you in the womb, I knew you. Before you were born, I set you apart for my holy purpose.”

Psalm 139:15,16

“My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in U boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alle bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.”

Nog voor ons geboorte het God al ons lewensboeke geskryf oor wat Sy wens vir ons lewens is. Alles wat God vir ons bepaal het, is vasgevang in DNA wat as ’n saadjie diep binne ons dormante geesharte gebêre is en wag om te begin ontkiem op die tyd wat God bepaal het. Dit is anders as ons vleeslike DNA, want die mens wat ek en jy in die wêreld is, is nie die mens wat God geskape het nie (ek bedoel nou nie hoe jy fisies lyk nie, ek bedoel die mens wat jy diep binne is) Dit is presies hoekom Jesus gesê het die mens moet weer gebore word om in die koninkryk van God te kan ingaan. Om weer gebore te word, moet ons eers sterf, nie fisies nie, maar ons moet ons vleeslikheid, die eie ek, afsterf. Ons moet die mens afsterf wat deur die wêreld gevorm en gebuig is soos ’n boom om die mens te kan word wat God bepaal het. Eers wanneer die Goddelike DNA saadjie binne ons begin ontkiem en groei, kan ons die mens word wat God oorspronklik geskep het. Ons moet dus ons vleeslike DNA afsterf om ons Goddelike DNA te kan aanneem.

Alles rondom ons menswees is vasgevang in hierdie DNA saadjie, vanaf ons ware temperament en karakter tot ons gawes om die werk van God te doen. God het selfs vooraf besluit op watse manier Hy deur ons wil werk eendag; Hy het vooraf besluit watse instument elkeen van Sy kinders in Sy hand sal wees en met die oog daarop het Hy aan elkeen ’n bepaalde karakter en temperament gegee. Ons moet daarna strewe om daardie mens te word wat God vooraf bepaal het.

Hierdie saadjie waarin ons Goddelike DNA vasgevang is, lê baie diep in ons geesharte verberg. Wanneer God Sy kinders op die naam roep op n gegewe tyd, sal Sy kinders reageer, want dis die Goddelike saadjie wat diep in hulle geesharte gedeponeer is, wat reageer op die roepstem van God. Wanneer ons dan die keuse maak om ons rug op die wêreld te draai, Jesus se hand te vat en saam met Hom op die ware weg begin wandel, is ons nog soos die boom met baie blare wie se wortels in die sand van die wêreld geanker is. Ons word nie onmiddelik in die hart van God gewortel wanneer ons die keuse maak om tot bekering te kom nie, dit is ’n proses wat baie tyd kan vat. God gaan ons eers toets en Hy gaan beproewinge oor ons pad stuur om van ons skoner mense te maak, want toetse, beproewinge en versoekinge is die goed wat ons harte ontbloot en ook die motief van ons harte toets. Mense wat om die verkeerde redes op die pad van God is, gaan glad nie hou van die toetse en beproewinge nie, want hulle het gedink die pad van God is ’n pad wat lei na ontelbare seëninge. Hulle sal die ware Weg verlaat, maar dit is maar hoe God Sy kinders skei van die res van die wêreld, want net God se kinders wat Sy saad binne hulle dra, sal deur die toetse en beproewinge kan gaan sonder om hulle geloof en liefde in God te verloor. Daar gaan dus storms in ons lewens begin losbars wat ons blare en ons takke uitmekaar gaan waai; sommige takke gaan afbreek, ander nie. God wil Sy Lig op ons geesharte skyn en ons geesharte is diep in die stomp van die boom geleë, so God moet deur al hierdie blare, takke en basse skyn om by ons geeshart uit te kom.

Efesiërs 5:13

“Al die dinge wat deur die lig bestraf word, word openbaar; want alles wat openbaar word, is lig.”

Wanneer ons begin voed op die Woord, begin ons worteltjies in die Woord van God ingroei. Die Woord is ook ’n Lig wat aan ons al ons sonde, ongeregtighede en verkeerdhede uitwys. Soos die Lig dit aan ons openbaar en ons die keuse maak om ons rug daarop te draai, sny God die groot takke van die boom af. Elke keer skyn Sy Lig bietjie dieper ons wese in totdat ons takke so oopgesny is dat Sy Lig op ons geesharte val. Die verblindende Lig van God skud ons geeshart wakker uit die diepe slaap…

Efesiërs 5:14

“Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.”

…dan begin die saadjie, wat diep binne ons lê, ontkiem. Stadig begin hierdie saadjie ’n worteltjie uitskiet wat direk in die rigting van God se hart groei, maar hierdie worteltjie word ’n baie sterk wortel wat deur die Woord van God breek tot binne-in die hart van God. Dit is die penwortel van geloof en dit ontstaan uit die saadjie wat God diep binne ons geplant het. Die penwortel ontvang nou die Lewe uit die hart van God en begin dit deur die hele boom versprei en soos die Lewe van God deur die boom versprei, verander die boom in die pragtige boom wat God vooraf besluit het, ’n boom wat nie verduister is deur sondetakke en baie blare nie; ’n boom wat die vrug van God sal dra tot Sy heerlikheid. In ’n prentjie sien ek dit soos ’n jong boompie wat deur die saad begin groei en soos die boom groter word, breek die boom bas van die ouer boom om die nuwe boom af totdat dit later net die nuwe boom is wat staan in die Lig van Abba Vader. AL die ou bas sal lê om die nuwe boom, dit is soos ou klere wat uitgetrek is, want die boom is nou nuut geklee. Lees gerus Kollosense 3:1-17

Hierdie hele proses is nie iets wat maar net gebeur omdat ons kerk toe gaan nie, of omdat ons ’n selgroep of Bybelstudie bywoon nie, want hierdie totale proses vind plaas soos ons gemeenskap met Abba Vader het. Dit gebeur alleenlik wanneer ons dinge in die wêreld afstaan om tyd by die voete van Abba Vader deur te bring, om in Sy teenwoordigheid te sit, met Hom te gesels en Hom toe te laat om ons te omvorm. Ons moet bereid wees om ons lewe en ons hart in die hand van Abba Vader te plaas en met ’n opregte hart vir Hom te kan sê: “Here, nie my wil nie, maar U wil!” Ons moet bereid wees om in gehoorsaamheid dinge in ons lewe te begin teëstaan, om deur die krag van God te begin heers oor sonde. Ons moet die verlede in die hand van Abba Vader sit, want dit gaan nie help jy tob daaroor nie, dit kan nie gedaan gemaak word nie, maar Abba Vader kan jou vergewe en jou vrymaak van jou verlede. Om te teer op die verlede kan lei na ’n siek liggaam, siel en gees, maar wanneer ons die keuse maak om mense te vergewe, sit ons daardie situasie en mense in die hand van Abba Vader en Hy weet die beste hoe om dit uit te sorteer, maar as ons dit nie in Sy bekwame hande wil plaas nie, kan Hy dit ook nie vir ons uitsorteer nie en sal dit altyd aan jou bly knaag. Die mens sal altyd ’n keuse hê! God dwing ons nie in ’n besluit in nie, Hy laat die keuse aan die mens oor, maar daarom moet ons sorg dat ons eie wil ook in die hand van Abba Vader is, want dan sal ons keuses maak wat die wil van God is en nie teen Sy wil nie. Dit is moontlik omdat die Lewe van God, wat deur ons hele wese spoel, ook aan ons ’n nuwe “mindset” kom gee. As klein boompie het die manier hoe ons grootgemaak is asook ons omgewing en omstandighede aan ons ’n sekere “mindset” gegee, dit het ons geleer dink op ’n sekere manier, maar selfs ons gedagtes en ons manier van dink moet ons oorgee in die hand van Abba Vader. Met tyd gee Hy dan aan ons ’n nuwe manier van dink wat regtig die teenoorgestelde is van die manier waarop die wêreld dink.

Die nuwe boom gaan nie weer lyk soos die ou boom nie, hy gaan totaal anders lyk en hy gaan ook ander tipe vrugte dra. Hy gaan nie baie blare hê om sondes te probeer wegsteek nie en sy takke gaan op so ’n manier geposisioneer wees dat die Lig van God deur Sy takke gaan kan skyn tot binne-in sy diepste wese. Hy gaan gekonnekteer wees met Abba Vader en ’n lewende verhouding met Abba Vader hê. Tradisie, kultuur en veral godsdiens sal nie meer teenwoordig wees by hierdie boom nie. Kyk hoe mooi maak hierdie Skrifte nou sin:

Psalm 1:

Hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie, en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.

Jeremiah 17:7-8 (The Message)

“Blessed is the man who trusts Me, God, the woman who sticks with God. They’re like trees replanted in Eden, putting down roots near the rivers – never a worry through the hottest of summers, never dropping a leaf, serene and calm through droughts, bearing fresh fruit every season.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s