Bitter wortels veroorsaak vrot vrugte

 

F9F6D73B-9C0A-4F8D-99AE-10A6DD0FC866


’n Boom gewortel in die hart van God (Hoe word ons in God gewortel -AUDIO) ontvang alles waarop hy lewe vanaf God. Die Goddelike takke wat die boom groei, dra die vrugte van die Gees deur Jesus Christus. Al is ’n boom gewortel in die hart van God en al leef ’n boom op die liefde van God, kan so persoon nogsteeds sondig, want daar is nie een mens wat nie versoek word deur die vyand nie. Selfs Jesus, wat die Seun van God is, was versoek deur Satan om te sondig, maar Jesus se wil was totaal oorgegee aan die wil van God en daarom het Hy God altyd gehoorsaam en het Hy nooit gesondig nie. Kan die mens sy wil totaal oorgee aan die wil van God en nooit sondig nie? God sê deur Sy Woord daar is nie een mens wat nie sondig nie en as daar wel iemand is wat beweer dat hy nooit sondig nie, is die Waarheid nie in die persoon nie (1 Johannes 1:8 ) Gelukkig is ons in die bevoorregte posisie dat ons ons sondes kan bely aan Jesus wat vir ons voorspraak doen by Abba Vader en wanneer ons gemeenskap het met God en ons sondes bely, was die bloed van Jesus ons skoon van ons sonde (1 Johannes 1:7). Om gemeenskap met Abba Vader te kan hê, moet daar ’n band of ’n verbintenis wees tussen ons en God en die verbinding is die penwortel van geloof. Deur die penwortel, dus deur geloof, ontvang ons die Lewe vanaf God en is ons in staat om gemeenskap met God te hê. Die Gees van God sal dan vinnig ons gewete aankla wanneer ons sondig sodat ons ons sonde kan bely en vergifnis ontvang.

Wanneer ons wel sondig, al is dit hoe klein en gering, groei daar ’n worteltjie weg van die res van die wortels wat in God se hart gewortel is. Hierdie worteltjie teer op ons sonde en groei ’n tak wat vrot vrugte dra. Dus, al is ons gewortel in God, kan ons nogsteeds sondig en kan ons nogsteeds ongoddelike vrugte dra. Sondetakke is geneig om baie blare te dra in ’n poging om sonde en vrot vrugte weg te steek en ons het gesien baie blare is dooie werke. So ons moet baie versigtig wees om nie ’n sondetak te groei en dit deur godsdienstige werke vir God te probeer wegsteek nie. As ’n tak of takke te veel blare begin dra, kan die Lig van God nie meer deur daardie gedeelte van die blaredos skyn op die siel van die mens nie, en gaan hierdie gedeelte van die sielsdimensie begin verduister wat dit ‘n welkome plek maak vir verwoesters om nes te kom skrop! So ja, ons wil dit nie weet of hoor nie, maar al is ’n boom gewortel in die hart van God en al ontvang ’n boom die liefde, bloed en lewende water vanaf God, kan so ’n boom deur sonde (soos onvergewensgesindheid) wat hy nie aan God bely nie, sondetakke groei wat ’n deel van sy siel gaan verduister, wat gaan maak dat hy bose vrugte dra… en ’n donker siel nooi bose verwoesters…

“Pas op dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.”
Hebreërs 12:15 (Afr. 33/53)

Godsdienstige mense, of selfs mense wat wel ’n verhouding met Abba Vader het, is geneig om te dink hulle is skoon en het geen sonde nie, maar wees versigtig vir sonde wat nie so ooglopend is nie en wat ons mooi kan wegsteek agter blare soos byvoorbeeld trots, hoogmoed en onvergewensgesindheid. Hierdie goed vorm bitter wortels wat ons op die ou end van God kan vervreem. ‘n Boom wat nie sy sondetakke raaksien en bely aan God nie, ontvang ook nie vergifnis nie en as hy nie vergifnis ontvang nie, word hierdie tak ook nie afgesny nie. God sal alleenlik die sondetakke wegsnoei wanneer ons die einste sonde teëstaan en dit aan Hom bely, maar dit beteken ons moet eers by die bitter worteltjie begin en God toelaat om aan ons te openbaar wat hierdie bitter wortel is. My sondetak het ontstaan uit onvergewensgesindheid wat ook vrot vrugte begin dra het soos woede, geïrriteerdheid en vleeslike siekte. Die ergste van dit alles is dat ons hierdie vrot vrugte uitdeel aan die mense wat die naaste aan ons is wat dit glad nie verdien nie.

Die tyd wat Abba Vader my geleer het oor die bitter wortel, het ek Hom gevra of Hy nie sommer net hierdie slegte tak eenklaps kan afsny nie? Hy het my geantwoord dat Hy nie die tak kan afsny en dan groei die wortel maar net weer ’n tak nie… Nee, Hy sny nie die sondetakke sommer net af sonder dat ons eers die bitter wortel uitgeroei het nie. Ons moet ons kant ook bring. Of ons dit nou wil weet of nie, hierdie wortel gaan ons baie siek maak – eers in die gees, dan in die siel en dan ook in die liggaam. Ons moet hierdie bitter wortels herken, die mense vergewe, dit bely aan God en die situasie met die mense regtig agter ons sit. Dan sal die worteltjie nie weer groei nie, en eers as die wortel uitgeroei is, sal God die lelike tak van sonde afsny.

“Dit het niks met jou te doen nie”

Terwyl ek praat van onvergewensgesindheid, wil ek net een vinnige ding met julle deel wat Abba Vader my geleer het wat my ’n totale kopskuif gegee het oor onvergewensgesindheid. Ons het gewoonlik onvergewensgesindheid teenoor iemand wat ons leed aangedoen het, iemand wat ons seergemaak het of iemand wat ons te na gekom het. Wanneer ons hierdie onvergewensgesindheid koester, het ons aanhoudend negatiewe gedagtes oor hierdie persoon en dan groei ons ’n bitter wortel wat nie in die hart van God gewortel is nie, maar doer eenkant. Hierdie wortel teer op ons eie sonde. Ek het eendag met Abba Vader gesels oor ’n sekere insident en persoon in my lewe wat my in die verlede seergemaak het. Ek het gedink aan die betrokke situasie en wou-wou net weer kwaad word daaroor toe Abba Vader baie hard en duidelik vir my sê:

“DIT HET NIKS MET JOU TE DOEN NIE!”

Abba Vader se woorde het my gedagtes tot stilstand geruk en weereens het ek net met ’n frons op my gesig voor Sy voete gesit, want hoe kan dit niks met my te doen hê nie? Hierdie persoon het my gevoelens seergemaak, dit het tog baie met my te doen…en lieflike Abba Vader troos en stel my toe gerus deur dit op die volgende manier vir my te verduidelik…

Dit wat die persoon gedoen het wat my seergemaak het, het hy wel aan my gedoen, maar die ergste van alles, is dat hierdie persoon dit eendag aan Abba Vader gaan moet verduidelik. Dit wat die persoon gedoen het, was baie verkeerd in die oë van God; dit was teen die Woord en die wil van God. Wanneer ons iets doen wat teen die wil van God is, sondig ons en ons sonde skep altyd vir ons ’n vervloeking wat vorentoe vir ons lê en wag. So eintlik moet ek hierdie persoon baie jammer kry, want hy het my wel seergemaak daardeur, maar hy gaan baie seerder kry deur die vervloeking wat hy vir homself geskep het. Dit wat ons saai, gaan ons ook maai. Die seer wat my aangedoen is, kan nog genees word deur Abba Vader, maar die persoon gaan ’n ander tipe seer ondervind. Ons moet al hierdie seer situasies in die hand van Abba Vader plaas en die keuse maak om die situasie in Sy hande te los. Ons mag nie vergelding soek nie, want die enigste rede hoekom ons dit doen, is omdat ons onsself bejammer en ons dink ons gaan beter voel as ons daardie persoon kan “terugkry”. Om wraak te neem, is ook teen die wil van God, so as ons wel wraak neem, staan ons ook skuldig voor God en skep ons weer vir onsself ’n vervloeking. Dit is so dom!

Ons moet ons “mindset” omtrent dit verander en ophou om te “dwell” in die verlede en weer kwaad te raak vir iemand oor dit wat hulle aan ons gedoen het. Dit is ’n saak tussen hom en God, DIT HET NIKS MET JOU TE DOEN NIE! Ons moet ons selfbejammering laat staan, ons moet dit afsterf in onsself, want dit lei net na meer ongeregtighede soos onvergewensgesindheid, bitterheid en wraak. Dit wat daardie persoon gedoen het, het inherent niks met jou te doen nie; dis ’n saak tussen hom en God. Dit is hy wat die sonde gepleeg het en as jy gaan kwaad bly daaroor, pleeg jy net so sonde. As iemand agter jou rug van jou praat, moenie toelaat dat dit jou raak nie! Dit het niks met jou te doen nie! As jy die keuse maak dat dit niks aan jou hart kan doen nie, kan dit niks aan jou hart en gevoelens doen nie. Daardie persoon versamel vir homself vervloeking vir die toekoms.

Hou op fokus op dit wat ander aan jou gedoen het of nog gaan doen en fokus eerder op jou verhouding met Abba Vader, want hoe dieper jy in ’n verhouding met Abba Vader is, hoe minder gaan jou gedagtes dwaal oor ander mense en die onreg wat hulle jou aangedoen het. Wanneer jy ’n negatiewe gedagte kry van iemand anders, sit die negatiwiteit dadelik eenkant en dink aan die persoon se goeie punte (almal het goeie punte). Kort voor lank sal jy begin glimlag as jy aan hierdie persoon dink. Op hierdie manier gee jy die bitter wortel gif, want ’n bitter wortel soek nie mooi, positiewe gedagtes nie; hy soek negatiewe, lelike gedagtes, want dis waarop hy floreer. Gee vir hom wraak, woede, onvergewensgesindheid en hy groei ’n tak vol vrot vrugte van woede, frustrasies, humeurigheid ensovoorts wat jy aan die mense naaste aan jou gaan uitdeel. Dis eintlik so onregverdig, want ons huweliksmaat en kinders lei gewoonlik onder hierdie vrot vrugte. Maak die keuse om die mense en situasies in die hand van Abba Vader te plaas en dit daar te los, dink of onthou die mooi gedagtes oor die mense en op hierdie manier roei jy die bitter wortel uit. Wanneer ons op hierdie manier saam met Abba Vader werk en ons samewerking gee om die wortel uit te roei, sal Hy ook die tak vol vrot vrugte afsny.

Ons moet dus daarop fokus om die sondetakke in ons lewe te soek, dit raak te sien en dit te bely aan God. As ons dit nie doen nie, gaan die een bitter wortel na die volgende vorm en gaan die een sondetak na die volgende sondetak uit ons hart groei. As hierdie bitter wortels te veel word, gaan dit die penwortel laat sterf, en as daar nie meer ’n penwortel in die hart van God is nie, beteken dit die boom ontvang nie meer liefde, bloed of lewende water van God nie…hierdie boom gaan geestelik sterf. Hebreërs 6:4-6 sê ons moenie dink ons kan met God speel nie!

“Dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het – om die weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande gemaak.”

Dit is baie belangrik dat ons besef dat al is ons ’n boom gewortel in die hart van God, ons nogsteeds daagliks God moet vra om ons bewus te maak van ons sondes sodat ons dit aan Hom kan bely voordat ons ’n aaklige sondetak groei met baie blare wat verwoesters in ons siel innooi…

Met bogenoemde in die agterkop, dink net gou bietjie oor hierdie saak… Ons hoor dat God se kinders glad nie verwoesters (demone) kan hê nie, en ja, ons almal wil dit graag glo, maar wat gebeur wanneer ons ’n bitter wortel groei? Niemand is te goed om ’n bitter wortel te groei nie, dit gaan met ons almal gebeur! ’n Bitter wortel veroorsaak ’n sondetak met baie blare wat ’n gedeelte van ons sielsdimensie gaan verduister… dit is presies wat Satan soek om op ’n manier ’n houvas op ons te kan kry, hy soek ’n donker kolletjie in ons siel om verwoesting te kom aanrig. Nou kan jy dink as een sondetak twee sondetakke tot ’n paar sondetakke word wat nie bely word aan God nie… ’n groot deel van jou siel gaan verseker verduister en dit gaan verwoesters innooi… dit laat ’n mens dink, né?
Maar wanneer ons die bitter wortel binne ons ontdek, dit aan God bely en ons rug daarop draai sodat die wortel doodgaan, sal God die sondetak afsny wat weer Sy Lig in daardie gedeelte van ons sielsdimensie inskyn en verwoesters sal vlug waar die Lig van God teenwoordig is. As daar dan wel verwoesters in daardie deel van jou siel was, sal hulle baie vinnig geepad. So ons het nie bevryding nodig nie, ons het die Lig van God nodig, ons het verhouding met God nodig. Ek glo daar is seker gevalle waar bevryding nodig is sodat die persoon nugter kan dink, maar dit moenie ’n algemene verskynsel wees nie, veral nie as die persoon nog nie bekeerd en wedergebore is nie. Skrif sê baie duidelik dat verwoesters sal terugkeer na so persoon.

Ek glo nie daarin dat ’n mens wat sopas sy hart vir die Here gegee het, dadelik moet gaan vir bevryding nie. Die demone word uitgejaag sonder dat die bitter wortels uitgeroei en die sondetakke afgesny word. Daarom is dit so gevaarlik om vir bevryding te gaan as die mens nog nie in die hart van God gewortel is nie. Al wat demone permanent laat padgee is die ware Lig van God, want daar waar God se Lig teenwoordig is, vlug die bose. Ek verstaan daar is sekere gevalle waar demone eers uitgejaag moet word sodat die mens nugter kan dink, maar dis net in erge gevalle.

Dit is so belangrik dat ons elke dag selfondersoek sal doen en aan Abba Vader vra dat Hy aan ons sal openbaar as daar bitter wortels in ons diepste wese is wat sondetakke dra. Sodra ons die bitter wortel kan identifiseer en aan Abba Vader bely, sal Hy die sondetak afsny sodat Sy Lig op daardie gedeelte van ons siel kan skyn wat die onheilswerkers sal wegjaag. Net so moet ons ontslae raak van die groot, mooi groen blare waarmee ons die wêreld wil flous, want ons sal nooit Abba Vader kan flous nie. Hy weet wat gaan aan in ons harte. Maleagi 4:1,2 sê:

“Die dag kom en hy brand soos n oond. Die wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal soos kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie n WORTEL, NIE N TAK OORBLY NIE. 2 Maar vir julle wat eerbied het vir My Naam, sal die SON VAN REDDING SKYN MET GENESING IN SY STRALE.”

Die Boodskap sê vers 2 vir my baie mooi:

“Vir die van julle wat My liefhet en aan My gehoorsaam is, sal My verlossing soos die son wees. Wanneer dit opkom, jaag dit die donker weg en gee Lig. Daar waar die son se strale op ’n seerplek skyn, word dit vinnig gesond.”

Mag die Son van Redding inskyn in elkeen van julle se lewens!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s