Wanneer God ons snoei…

IMG_1160

Om hierdie saadjie mooi te verstaan, stel ek voor dat jy die vorige twee saadjies ook lees, anders kan hierdie vir jou baie deurmekaar klink: As God ons nie help nie en Hoekom word ons gebede nie beantwoord nie?    In die tyd van my genesing na my ongeluk, het ek eerstens besef dat dit nie vir my saakmaak of God my gehelp het of nie, want dit het nie my geloof of liefde vir Hom beïnvloed nie. Ek het dit gesien as ’n toets waar God my hartsmotief wou toets net soos Hy Job s’n getoets het. Abba Vader het ook aan my verduidelik hoekom Hy ons ons soms as ’n oop teiken gebruik, hoekom Hy ons as mikpunt opstel. Alhoewel ek meer vrede begin ervaar het oor die doel van die ongeluk, kon ek nie help om nogsteeds vir God te vra: “Maar hoekom?” nie. Toe Abba Vader my weer die kruisiging van Jesus laat beleef het, die marteling en die Godverlatenheid van Jesus, het ek aanvaar God het ’n baie goeie doel gehad daarmee, maar nogsteeds het ek vir Abba Vader gesê: “Ek verstaan nogsteeds nie volkome nie, want hoekom?” En elke keer wanneer ek “Hoekom” aan Abba Vader gevra het, het Hy my net ’n baie kort antwoord gegee:

“Tot My verheerliking”

Ek kon glad nie die antwoord van Abba Vader verstaan nie, maar het dit neergeskryf met ’n groot vraagteken daaragter en aanvaar dat Abba Vader dit vir my mooi sal verduidelik op die regte tyd, so onthou nou hierdie woorde: “Tot My verheerliking”

Na ’n paar weke wys Abba Vader vir my ’n lang tak, maar die tak lyk asof dit net te lank gegroei het en daar is net een tipe vrug aan die tak. Ek sien hoe vat die hand van Abba Vader ’n snoeiskêr en knip die tak eensklaps net kort af. Ek hou half my asem op oor die tak wat so afgeknip is, want ek weet daar staan in die Woord van God dat elke tak wat nie vrug dra nie, afgeknip gaan word en in die vuur gegooi gaan word, maar hierdie tak het tog wel vrugte aangehad. Ek fokus op die plek waar die takkie afgesny is en tot my verbasing sien ek ’n bloeddruppel wat uit die oorblewende takkie afdrup. Hoe langer ek kyk, hoe meer bloei hierdie takkie totdat die bloed begin stol en soos ’n rofie die afgeknipte deel bedek. Dan begin daar verskeie nuwe takkies uit die tak uitgroei wat in verskillende rigtings groei en soos hierdie sytakkies groei, vorm daar verskillende vrugte aan die verskillende takkies. Terwyl ek kyk na die toneel wat voor my afspeel, sê Abba Vader skielik dat dit presies is wat Hy met my gedoen het. Ek was besig om ’n lang tak te groei met min vrugte en daarom moes Hy my snoei sodat ek meer en ’n groter verskeidenheid vrugte kon dra. God sê in Johannes 15:2 dat elke loot wat vrug dra, skoongemaak sal word sodat dit meer vrug kan dra. Hierdie skoonmaak van die tak geskied nie alleenlik deur die Woord van God nie, dit gebeur ook deurdat Abba Vader ’n mens toets deur beproewinge. Ek het dadelik die Woord van God nadergetrek en weer Johannes 15 begin lees. Kyk wat staan in vers 8:

“HIERIN IS MY VADER VERHEERLIK, dat julle veel vrug dra; en julle sal My dissipels wees.”
Johannes 15:8

Ek was in ekstase toe ek hierdie vers lees, want skielik het alles in plek begin val… Ek kon nie verstaan hoekom God vir my gesê het dat alles tot Sy heerlikheid sal geskied nie, maar nou het alles soos ’n legkaart inmekaar begin val. Volgens vers 8, is dit die Goddelike vrugte wat ons dra, wat God verheerlik! So, vir ons om God te verheerlik, moet ons Goddelike vrug dra! Hoe meer vrugte, hoe groter is die verheerliking tot God. Ek het te min Goddelike vrugte gedra om God te verheerlik en God moes my snoei sodat daar meer sytakke kon uitgroei wat meer en verskillende vrugte kon dra. Met meer Goddelike vrugte, is die verheerliking tot God groter, maar dit beteken ons moet gesnoei word en die snoeiproses is nie altyd so maklik of lekker nie.

Vir Abba Vader om ons te snoei, moet ons hart en lewe in Sy wonderbare hande wees en moet ons Hom vertrou met ons lewe. Dit moet ons begeerte wees dat God ons sal omvorm, dit moet ons begeerte wees om te leef na die wil van God, om dit uit te leef wat Hy in jou lewensboek opgeskryf het. Die mens het ’n keuse om te maak.  Jesus het geweet hoekom Hy as mens op aarde moes kom wandel, Hy het geweet daar wag vir Hom ’n lydingstyd, maar nooit het Hy opgegee nie, alles het vir Hom gegaan om die verheerliking van God. In Johannes 12:27,28 sê Hy ook:

“Nou is My siel ontsteld, en wat sal Ek sê? Vader, red My uit hierdie uur? Maar hierom het Ek in hierdie uur gekom. Vader, verheerlik U Naam!”

As jy nie jou hart en lewe in Sy hande gaan sit sodat Hy jou as klei kan omvorm nie, gaan jy ook nie verander nie. Dit moet jou begeerte wees om Goddelike vrugte te dra wat God kan verheerlik, maar dit kan nie sonder ’n snoeiproses gebeur nie. As ons in Jesus gevestig raak soos ’n loot in die wynstok, sal Sy Woord en Sy begeertes ook binne ons lewe en dan sal ons van God dit vra wat Hom sal verheerlik, ons sal nie van Hom verwag en vra om in ons vleeslike behoeftes te voorsien nie. Ek gaan vinnig weer terug na Johannes 15:7 wat sê:

“As julle in My bly en My woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.”

Die begeertes van Jesus sal ook ons begeertes word en dan sal ons van God kan vra:

“Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees.”
Psalm 51:10

Wat ons dan eintlik van God vra, is om ons te snoei! As God ons nie snoei nie, kan ons nie groei nie, kan ons nie vrug dra nie, kan ons God nie verheerlik nie en help ons nie bou aan die Koninkryk van God nie. Ek glo hoe meer verdiep ons in die Woord en in die liefde van God raak, hoe meer sal ons begeerte raak om met ’n rein hart voor Abba Vader te kan kniel, maar ons kan nie vansself skoonkom nie, ons het die hulp van Abba Vader nodig.

Daar is ’n tweeledige doel aan die snoeiproses:
Eerstens word almal wat beweer om as loot in die wynstok gevestig te wees, getoets of daar wel lewe in hulle geesharte teenwoordig is. Ons weet mos nou dat ons nie uit ons eie Goddelike vrugte kan dra nie, maar alleenlik as Jesus binne ons geesharte teenwoordig is, dan is dit Hy wat die vrugte deur ons dra. Daar is ongelukkig baie vals bekeerdes wat beweer om soos ’n loot in Jesus gevestig te wees, maar wanneer God hulle toets deur die loot af te sny, is daar geen lewe in die loot nie. Lewe word gesimboliseer deur bloed wat teenwoordig is in die loot, so as daar geen bloed uit die gesnoeide takkie kom nie, is dit ’n bewys dat dit ’n vals takkie is. Die plek waar die tak gesnoei is, word ook nie verseël met die bloed nie en as die seël van bloed nie daar is nie, sal die takkie ook nie in verskillende sytakke kan groei nie. Daar was dus geen Lewe nie, geen Goddelik vrugte nie, geen verheerliking van God nie en daarom word hierdie afgeknipte takke in die vuur gegooi.

Lote wat waaarlik in die wynstok gevestig is en wat die Lewe van God in hulle geesharte het, sal wel vrug dra, maar dalk nie genoeg nie. Vir hierdie tak om meer vrug te dra, moet hy gesnoei word. Die teenwoordigheid van Lewe in die tak sal bewys word deur die teenwoordigheid van die bloed van Jesus wat uit die takkie sal drup wanner Abba Vader hom snoei. Die bloed sal die takkie verseël en verskeie nuwe sytakke sal uit die tak uitgroei om meer en ook meer verskillende vrugte te dra om God te verheerlik. Hierdie is ’n groot toets waardeur Abba Vader ons sit, Hy toets ons opregtheid van hart, ons liefde vir Hom, ons geloof in Hom. Hy toets wat ons reaksie gaan wees as Hy ons nie help in noodgevalle nie… gaan ons ons rug op Hom draai en nie meer in Hom glo nie? Gaan ons vir Hom kwaad raak omdat Hy slegte goed oor ons lewe bring om ons te toets? Gaan ons vir Hom kwaad raak omdat ons Hom sekere goed vra en dit nie kry nie? Vals lote het nie die Lewe van Jesus binne hulle nie, so die Woord en die begeertes van Jesus is ook nie binne hulle nie en daarom sal hulle nie ’n begeerte het om vrug te dra om God te verheerlik nie, met ander woorde, hulle sal nie ’n begeerte hê om ’n rein hart te bekom nie, hulle gaan eerder vir God vra om in hulle vleeslike behoeftes te voorsien. Die lewe draai nog vir hulle net om hulleself en daarom gaan hulle vir God kwaad raak as Hy hulle wel toets deur iets slegs oor hulle pad te bring en hulle nie te help nie. Hulle gaan glad nie daarvan hou nie, hulle gaan nie die doel daarvan probeer insien nie en hulle gaan hulle rug op God draai. Dit is die takke sonder die bloed van Jesus wat in die vuur gegooi word. Ware lote sal deur “trials en tribulations” bly glo in God en steeds vertrou, al maak dit nie sin nie.

“Gelukkig is die man wat God kasty; verwerp daarom nie die tugtiging van die Here nie. Want Hy doen smart aan, maar verbind ook; Hy verbrysel, maar Sy hande maak gesond.”
Job 5:17-18

God bedoel nie lelik as Hy ons soms verbrysel nie, want Hy doen dit met ’n goeie doel! Hy sê wel in Sy Woord dat Hy vir ons nie die sleg beplan nie, maar vrede en ’n mooi toekoms. Dit wat ons sien as sleg, is nie altyd so sleg in God se oë nie, want deurdat Hy ons deur “chastening” sit, maak Hy van ons baie mooier mense. Hy vat ons soos klei in Sy hande en omvorm ons na Sy wil sodat ons ’n instument kan wees waardeur Hy kan werk. Hierdie omvorming is nie altyd vir ons so lekker nie, want dit maak seer, maar God moet ons geloof, liefde en opregtheid van hart toets, en as ons die toets deurstaan, dra ons net nog meer vrugte om Hom te verheerlik.

Om gesnoei te word is nie maklik nie, maar as jy in daardie snoeiproses is, hou net vas aan Abba Vader, want jou nuwe takkies gaan begin groei en jy baie vrug begin dra…alles tot die heerlikheid van God. Dit is tog hoekom ons leef…tot heerlikheid van God. Mag ons begeerte wees om God elke dag meer en meer te verheerlik.

One thought on “Wanneer God ons snoei…”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s