Die tien gebooie wat God aan Moses gegee het op die berg Sinai, het God self met Sy vinger op die kliptafels geskryf, so ek sien die tien gebooie as die gebooie van God en die res van die insettinge sien ek as menslike wette wat ingestel was om orde te behou onder die volk. Daar is vir my ’n verskil in die tien gebooie wat God met Sy vinger geskryf het en die res van die wette. Die tien gebooie was vir God so belangrik dat dit ook in die allerheiligste gedeelte in die ark gebêre moes word, so hoe kan ons vandag sommer net die wet pens en pootjies by die agterdeur uitgooi en sê die gebooie is nie meer van belang nie? Jesus sê in Mattheus 15 dat die mense die gebod van God oortree ter wille van hulle eie oorlewering, en is dit nie wat vandag ook aangaan nie? Mense wil hulle nie meer steur aan die gebooie van God nie, beweer dat die gebooie van God nie meer belangrik is nie, dat dit verval het met die sterfte en opstanding van Jesus. Hulle maak dus die gebooie van God kragteloos, maar nogsteeds gehoorsaam die mens allerhande gebooie van mense. Jesus het self gesê:
“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense so leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.”
Mattheus 5:17-19
Jesus het nie gesterf sodat die gebooie van God in die niet moes verdwyn nie, Jesus het gekom om dit te vervul. Jesus was en is die enigste mens wat die gebooie van God kon onderhou, want Hy was die Seun van God, en God was binne Hom, God het deur Jesus geleef. Jesus het nie gefokus op Sy eie lewe of om Sy eie wil te laat geskied nie; Hy het ook nie gefokus op die wet nie, Hy het alleenlik gefokus op Sy Vader en om die wil van God uit te leef. Daarom het Hy die profete en gebooie van God vervul. Hy het Sy Goddelike taak kom vervul en die Gees van God vrygestel wat die mens kon help om die wil van God te gehoorsaam, want sonder die Gees van God kan die mens God nooit gehoorsaam nie.
In Mattheus 19 vra ’n ryk jong man vir Jesus watter goeie dinge moet hy doen dat hy die ewige lewe kan hê? En Jesus sê vir hom:
“As jy die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie!”
1 Johannes 5:3 sê:
“Want dit is die liefde tot God, dat ons Sy gebooie bewaar; en Sy gebooie is nie swaar nie.”
Net so sê Jesus in Johannes 14:15:
“As julle My liefhet, bewaar My gebooie.”
Johannes 14:21:
“Wie My gebooie bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hom sal My Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.”
1 Johannes 3:24:
“En hy wat Sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. Hieraan weet ons dat Hy in ons bly aan die Gees wat Hy ons gegee het.”
Ons kan nie ons blindstaar teen al die bogenoemde Skrifte nie. As jy daardie Skrifte lees, sal jy ook agterkom dat liefde vir God en gehoorsaamheid aan God, gekoppel is aan mekaar. Die mens wat God liefhet, sal Hom ook gehoorsaam, wat beteken hy kom alles na wat God van die mens verwag. Dit is die 10 gebooie, maar die mens kan nie die gebooie van God gehoorsaam nie, want daar is net Een wat dit kan gehoorsaam en dit is Jesus Christus. Die mens kan alleenlik gehoorsaam wees aan God wanneer Jesus in en deur hom leef en daarvoor moet ons gewortel wees in die hart van God en een raak met Hom. Dan ontvang ons die Lewe en die Gees van God en alleenlik deur die Gees van God, kan ons God gehoorsaam. Alleenlik die Gees van God stel ons in staat om waarlik en opreg lief te wees vir God en om Hom te behaag.
Die mens wat aanhou in sonde speel, sê eintlik daardeur dat hy God nie liefhet nie… hy kan God nie gehoorsaam nie, want die Gees van God heers nie in en deur hom nie.
“Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie. My kinders, laat niemand julle mislei nie; wie die geregtigheid doen is geregverdig soos Hy regverdig is. Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn om die werke van die duiwel te verbreek. Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore. Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie.”
1 Johannes 3:6-10
Die Fariseërs het die wet van God bestudeer, ondersoek en nog reëls en wette bygelas wat nagkom moes word in die hoop om verlossing te ontvang. Hulle het dus wortel geskiet in die wet en nie in die hart van God nie. Hulle het vasgevang geraak in wettisme, in moets en moenies, en daardeur kan niemand die liefde van God ontdek nie, want die wortels groei in die verkeerde rigiting. Om ’n spul reëls na te kom, stel nie die mens in staat om te GLO in Jesus nie. Dit stel net die mens in staat om ’n hoë boom met baie blare te groei wat bewonder kan word deur ander mense.
Net soos die mens nie Goddelike vrugte kan dra sonder die Lewe van God binne hom nie, net so is geen mens in staat om die gebooie van God te gehoorsaam sonder die Lewe van Jesus binne hom nie. Die mens wat in die wêreld gewortel is en wat beweer om God te ken, maar nie die gebooie bewaar nie, is ’n leuenaar. 1 Johannes 2:4 sê:
“Hy wat sê: “Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie.”
V9 sê diegene wat uit God gebore is, doen geen sonde nie – hier moet ons mooi onderskei tussen ’n boom wat gewortel is in die sonde en ’n God-gewortelde boom. Ons weet mos nou ’n boom wat gewortel is in die wêreld, is in sonde gewortel en die Lewe van God kan nie teenwoordig wees in hierdie boom nie, dus kan hy nie die gebooie gehoorsaam nie en kan hy ook nie Goddelike vrugte dra nie. Die boom dra takke van sonde wat mooi groot, groen blare dra om al die verwoesters in sy siel weg te steek. Die mooi blare is ook net daar vir vertoon sodat niemand kan agterkom hoe droog die kern van die boom is nie. Hierdie boom leef en teer op sonde en die Lig van God kan nie deur sy blare skyn nie, want hy kies om in die duister te konkel. Hierdie bome hou nie van die Lig van God nie, want die Lig openbaar sy dade en vrot vrugte. Al manier hoe hierdie mens vergifnis kan ontvang, is om na God te draai, sy sondes te bely en oor te gee aan God sodat God sy digte takke kan oopsny en die Lig van God in hom kan inskyn. Soos hy die Woord van God begin inneem, begin die Lig van God werk in sy binneste totdat hy later worteltjies in die Woord begin ingroei. Later raak hy gewortel in die hart van God waar hy die Lewe van God begin opneem en daarop begin leef. Goddelike takke gaan begin groei wat Goddelike vrugte dra; hierdie boom is nou nie meer in die sonde gewortel nie, maar in die Liefde van God. Wanneer hy wel ’n sondetakkie groei, sal die Gees van God hom baie vinnig vermaan en wanneer hierdie sonde aan God bely word en die wortel van kwaad word uitgeroei, sny God dadelik die sondetakkie af voordat dit ongoddelike vrugte dra.
Wanneer ons in God gewortel is, sien God ons nie meer as sondige mense nie, maar omdat Hy ons heeltyd snoei, sien Hy ons as skoon bome. Die onderskeid wat ek wil tref tussen hierdie twee bome, is dat die Goddelike boom nie meer IN die sonde soos ’n wêreldse boom leef nie. Hy bly in God en God in hom en die bewys daarvan is dat hy God se Woord bewaar deur die Lewe binne hom. God sien nie hierdie boom as ’n sondige boom nie, want solank as wat God die Lewe van Sy Seun raaksien in die boom, sien Hy nie ’n boom gewortel in die sonde nie, maar ’n boom gebore uit die Lewe van Sy Seun. Hierdie boom is uit God se saad gebore en hy leef nie meer in sonde nie. Hy gehoorsaam die gebooie van God deurdat die Lewe van God teenwoordig is binne hom.
Lukas 16:19-31 gaan oor die ryk man en Lasarus wat gesterf het. Lasarus is deur die engele weggedra na die boesem van Abraham, maar die ryk man het in die doderyk beland. Die ryk man het vader Abraham gesmeek dat Lasarus net die punt van sy vinger in water kan insteek en sy tong verkoel, want hy ly smarte in die vlam. Maar Abraham sê aan hom dat daar ’n groot kloof tussen hulle is sodat hulle nie na mekaar kan gaan nie. Die ryk man smeek vir Abraham dat sy gesin op aarde gewaarsku kan word dat hulle nie ook in die plek van pyniging moet beland nie, maar Abraham antwoord hom:
“Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na die luister.”
Lukas 16:29
En weer in vers 31 sê Abraham:
“As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.”
Jesus het self bogenoemde gelykenis vertel, so as Jesus geweet het dat Sy sterfte die Ou Testamentiese gebooie, verhale en profete eenkant toe skuif sodat die sogenaamde “Nuwe Testamentiese Christene” hulle nie hoef te steur aan die gebooie van God nie, sou Jesus mos nie hierdie woorde in ’n gelykenis aan die mensdom gegee het nie? Maar Jesus is duidelik hier dat die mensdom hulle wel moet steur aan die profete en die gebooie van God. In Jesaja 8:20 staan ook:
“Tot die wet en tot die getuienis!”
Ons lewens sal getuig of ons God liefhet of nie, want die mens wat God liefhet, sal Sy gebooie bewaar, nie uit sy eie uit nie, maar deur die Gees van God. Ons hoef nie te ywer om die gebooie van God te onderhou nie, maar as God ons harte oorgeneem het, begin Hy ons van ’n kant af skoonmaak en verander. Ons sal outomaties die gebooie van God begin nakom, sonder om daarop te fokus. Dit is so in teenstelling met die wêreld wat die kruisdood van Jesus sommer net “for granted” vat en reken dat almal se sondes vergewe is, maak nie saak hoe hulle lewe nie; dit gee so half vrye toegang tot die mens om te maak soos hy wil, want “Jesus het mos ALREEDS vir my sondes gesterf”. Die mens wat God nie liefhet nie, sal ook nie Sy gebooie nakom nie, want hy kan ook nie, omdat hy nie die Lewe van God binne hom het nie. Nou is dit vir die wêreld makliker om te maak asof die gebooie van God totaal weggeval het omdat Jesus aan die kruis gesterf het, maar die gebooie het nie verval of verdwyn nie, daar het net ’n verandering in die gebooie gekom deurdat die gebooie wat fisies was, nou vergeestlik het. Alleenlik die mens wat die gebooie van God op sy hart ingeëts het, sal God kan gehoorsaam. (Ek verduidelik meer hieroor in ’n volgende saadjie).
Ek wil hierdie hoofstuk afsluit met hoop in 1 Joh 2:1-2 (DB) wat sê:
“My liewe kinders, daar is ’n goeie rede waarom ek hierdie dinge aan julle skryf. Julle moet nooit iets doen waarvan God nie hou nie. As een van ons egter wel so ’n fout maak, kan ons daarvan seker wees: ons het Iemand wat ons op ’n baie besondere manier sal help. Hy sal vir ons gaan mooipraat by ons hemelse Vader. Ek praat natuurlik van Jesus Christus. Hy is die ideale Een om dit te doen, want die verhouding tussen Hom en die Vader is baie goed. Omdat Jesus dit vra, sal die Vader ons sondes oorsien. Jesus Chrstus is nie net bereid om dit vir ons te vra nie, maar ook vir elke mens op aarde wat bereid is om na Hom toe te kom”
Deur seer, deur sonde en deur baie skuld het ek geleer dit maak nie saak watse hoë boom ons in die wêreld was of is nie, dit maak nie saak hoeveel groot groen blare ons gedra het om wat ookal weg te steek nie; dit maak nie saak in hoeveel sonde ons gewortel was of is nie; dit maak dus nie saak hoe erg ons besmet wa of is met sonde en skuld nie… As ons tot Abba Vader nader…Hy is ALTYD daar! Hy sal tot jou ook nader. Hy wag vir elkeen van ons om net met Hom te begin praat, om ons harte voor Hom uit te pak. Hy het elkeen van Sy kinders so baie lief dat Hy wil hê jy op Sy skoot moet klouter soos ’n klein kindjie! Doen dit onder gebed! Hy maak Sy sagte mantel oop vir elkeen van ons, maak nie saak hoe vuil ons was of is nie! Hy is LIEFDE, en Hy wil Sy liefde met jou deel; Hy wil jou volmaak met Sy liefde, maar daarvoor het Hy nodig dat jy Hom moet vertrou met jou hele lewe; dat jy Hom sal soek met alles binne jou. Ons moet alles neersit waarmee ons so besig, besig, besig is; al daardie goed van die wêreld beteken NIKS, dit gaan ons nêrens bring nie! Die liefde wat ons by Abba Vader kan kry, oorskry al die goed van die wêreld.
In Mattheus 22 vra ’n wetgeleerde vir Jesus wat is die grootste gebod? En Jesus antwoord hom:
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en grootste gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liehê soos jouself.”
In die bogenoemde Skrif het Jesus die tien gebooie baie mooi saamgevat, Hy het nie gesê dat die gebooie verval of in die niet verdwyn nie. Inteendeel, die sterfte van Jesus het nou die gebooie van God op die harte van Sy kinders laat skryf.
DIE MENS WAT GOD LIEFHET, SAL SY GEBOOIE BEWAAR. DIE MENS WAT GOD LIEFHET, SE GROOTSTE BEGEERTE SAL WEES DAT GOD OP HOM NEERKYK EN OOR HOM GLIMLAG.