Aanbid ons God of Baäl

IMG_0760

daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord.”
1 Kon 17:1

Die gebeure rondom Elia en die Baälprofete van 1 Konings laat my so dink aan wat vandag in ons land aan die gang is. God het aan Elia die volgende woord gegee:

“…daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord.”
1 Kon 17:1

Voordat God die droogte oor daardie land gestuur het, het Hy vir Elia gewaarsku dat Hy dit gaan doen sodat Elia die mense kon waarsku. Waar is die profete van vandag wat hulleself profete noem? Hoekom het God die inwoners van SA nie gewaarsku deur die profete dat hier ’n droogte oppad is nie? Hoekom het Hy nie deur die groot profete en leraars die inwoners van SA gewaarsku dat SA baie duister gaan raak nie?
Dit is nie Satan wat droogtes direk veroorsaak nie, dit is omdat die mens nie Satan se versoekings teëstaan nie, en dan lei dit na ongehoorsaamheid, wat pleinweg sonde is en sonde veroorsaak ’n vervloeking… en dan gaan dit in ’n land soos wat dit nou in SA gaan. Agab het Elia beskuldig dat hy die een is wat beroering oor Israel laat kom het, maar Elia antwoord hom:

“En net toe Agab Elia sien, vra Agab vir hom: Is dit jy, jou beroerder van Israel? Toe sê hy: Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die Here verlaat het en agter die Baäls aan geloop het.”
1 Kon 17:17,18

Mense van SA het ook die gebooie van God verlaat en loop ook agter die Baäls aan, alhoewel hulle glo hulle aanbid die ware God. Jesus sê in Johannes 4:24 dat ons God in gees en waarheid moet aanbid, dit beteken dat ons gees uit dormansie moet wakker skrik en dat ons God uit ons geesharte moet aanbid. Ons moet geestelik gekonnekteer raak aan God om met Hom te kan kommunikeer.
Mense wat godsdiens beoefen, aanbid God uit hulle liggaam en siel en nie uit hulle gees nie, want hulle geesharte is nog in dormansie en hulle het geen konneksie met God nie. Hulle probeer God manipuleer deur gebed en smeking dat Hy dinge op so manier sal laat gebeur dat dit in hulle behoeftes sal voorsien – dit is wat godsdiens is. Alles draai maar net nogsteeds oor die mens. Godsdiens is om God te aanbid met oog op die self, om voorspoed, seën en vrede te kan beleef.

Ek glo dat ons elke dag in gesprek met Abba Vader moet wees, so ek het niks teen gebed nie, maar ek het wel ’n probleem met mense wat God se arm probeer draai as Hy klaar besluit het hoe dit sal wees. Die mens weier om die wil van God te aanvaar en probeer deur gebed die wil van God verander. Het jy al ooit gedink as jy hierdie woorde bid: “Laat U wil geskied”… Bedoel jy REGTIG wat jy vir God sê? Want ons bid hierdie woorde en direk daarna begin ons God smeek om allerhande situasies te verander… dan aanvaar ons mos nie die wil van God nie? Hoekom vra ons nie eerder vir God om ons te help om Sy wil te aanvaar en deur al die moeilike tye gehoorsaam te bly aan Hom nie? Om te bid, is om met God te kommunikeer, nie om heeltyd versoeke aan Hom te rig nie, want dit is wat godsdiens is. Gebed en verhouding Mense wat so versoeke aan God rig, kan nog nie die wil van God aanvaar nie, want hulle het nog nie hulle eie wil by die voete van Abba Vader neergelê nie, hulle het nog nie hulle eie wil afgesterf nie. Nou smeek hulle vir God om dinge volgens hulle eie wil te laat uitwerk. Hierdie mense het nog nie hulle vleeslikheid afgesterf nie, dus is hulle nog nie wedergebore nie en die mens wat God dien sonder om wedergebore te wees, beoefen godsdiens.

Nou is hier soveel groot leraars en profete in SA wat samekoms na samekoms reël waar daar gebid word vir reën, met ander woorde, hulle probeer God se arm draai om dit wat Hy alreeds besluit het, te verander. Ons weet vir God is niks onmoontlik nie en Hy kan môre besluit die droogte is verby en vir ons reën stuur, maar dan sal dit nie wees omdat Hy aan die biddendes se versoeke voldoen het nie, want God sê duidelik deur die Ou Testament dat Hy omstandighede sal verander wanneer die mens tot ware bekering kom en ophou met hulle sonde. So lank as wat die mense nie terugdraai na die ware God en met hulle hart tot bekering kom nie, sal hulle ook nie die wil van God aanvaar nie, maar sal hulle die wil van God probeer verander sodat daar in hulle behoeftes voorsien kan word – dit is niks anders as godsdiens nie. Dit is nie die planne van God wat moet verander nie, dit is die harte van die mense wat verandering nodig het.
As hierdie leraar, profeet of man waarlik ’n man van God was, hoekom het God hom nie voor die droogte al gewaarsku dat hier ’n droogte oppad was nie? God waarsku altyd vooraf sodat Sy kinders sodat hulle kan regmaak, so hoekom het God nie deur hierdie groot ouens die mensdom van SA gewaarsku nie? Ek glo daar is mense deur wie God die nasie wou waarsku, maar die mensdom wil nie luister na negatiwiteit nie, hulle druk hulle ore toe daarvoor, hulle wil eerder luister na die vals profeet wat net voorspoed en vrede voorspel. Ek het nog nie gehoor dat een van die groot leraars of profete die mense waarsku teen moeilike omstandighede nie, hulle praat altyd net die mooi om hulle gehoor te sus. Hulle voorspel net voorspoed en seën, maar God sê in Sy Woord dat alles net moeiliker sal gaan na die eindtye toe. Lees Mattheus 24, ek haal sekere verse aan:

6 Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maaar dit is nog nie die einde nie. 8 Dit is ’n begin van die smarte. 11 Vals profete sal opstaan en baie mense mislei… ”

Diegene wat ’n konneksie met God het, sal weet dat dit wat in SA gebeur, die gevolg is van al die sonde en valsheid wat in SA aangaan. Hier is die grootste konsentraat van vals Christene, mense wat God kwansuis dien, maar geen verhouding met Hom het nie, hulle aanbid Hom net vir dit wat hulle daaruit kan kry. Hulle besef dit nie, maar hulle aanbid eintlik vir Baäl! Breek weg uit Babilon! Mense wat God probeer dien uit die liggaam en siel, aanbid nie die ware lewende God nie, maar vir Baäl, dit is net hulle wat dink en glo hulle aanbid vir God. Hulle noem die god wat hulle aanbid, ook God, maar daar is geen verbinding nie. Kom ons gaan net gou weer terug na die tyd van Elia…

Elia was Godvresend en hy moes vir so lank wegkruip omdat almal hom wou doodmaak, want hulle het geglo hy aanbid die verkeerde God. Elia was stoksielalleen teen die groot groepe mense. Wees versigtig vir die groot groepe mense, vir die skares… die pad van God is nie gemaak vir skares nie, dit is ’n smal paadjie…
Elia het die Baälprofete uitgedaag om tot hulle god te bid dat hy vuur stuur om hulle offer aan die brand te steek. Hulle het van die oggend tot die middag hulle god aangeroep, maar niks het gebeur nie, hulle god wou nie gehoor gee nie…hulle god kon nie gehoor gee nie, want hulle het ’n lewelose god aanbid. Hulle het wel gedink dat hulle die ware lewende God aanbid, maar as hulle die ware God aanbid het, sou Hy gehoor gegee het aan hulle smekinge om Homself te bewys as die ware God.
Daarna het Elia sy offer op die altaar van God voorberei en God gevra om vuur te stuur en dadelik het God vuur laat neerval. God het Homself aan die volk bewys en dit het bekend geword dat Elia die ware lewende God aanbid…

As jy bietjie dieper oor hierdie saak dink… is dit nie dalk wat in SA aan die gang is nie? Samekoms na samekoms waar God aangeroep word vir vrede en reën, maar die droogte kruip verder oor SA, nog meer geweld en plaasaanvalle… Dis nie omdat God nie ag gee op die mensdom van SA nie, maar meeste kerke aanbid vir Baäl en is deel van die Babiloniese sisteem. Hulle dink hulle roep die ware lewende God aan, net soos die Baälprofete vasbeslote was hulle aanbid die ware God, maar in werklikheid roep hulle ’n god aan wat nie eers bestaan nie. Hulle beoefen godsdiens net soos die Baälprofete, en godsdiens is om hul god te aanbid uit die liggaam en siel. Hulle kan nie aanbid uit hulle geesharte nie, want hulle geesharte lewe nie, so die mens wat aanbid uit sy liggaam en siel, beoefen godsdiens en God het niks met godsdiens te doen nie…God gaan nie antwoord nie…

Daar is mense wat in moeilike omstandighede vasgevang word, wat dan die keuse maak om God te begin aanroep, om God te begin dien, maar hoekom? Wat is die motief van die mens se hart? Is dit om God regtig te leer ken? Of is dit sodat God hulle uit hulle moeilike omstandighede moet help? God ken die motief van ons hart en Hy gaan nie met Hom laat speel nie, God is nie daar sodat ons woer-woer met Hom kan speel nie. Dink jy God gaan skielik in ’n mens se lewe ingryp en sy omstandighede makliker maak net omdat die mens met die mond Sy Naam aangeroep het? Dit is weereens godsdiens, dit is weereens om God aan te roep en te begin dien uit die liggaam en siel met ’n sekere motief in die agterkop, sodat God sal ingryp in sy lewe en is sy vleeslike behoeftes sal voorsien. Al sê mense hulle aanbid die ware God, die God van Abraham, Isak en Jakob, luister God nie as Hy weet die mens is vals nie.

Is jy seker jou hart is waarlik bekeerd? Is jy seker jy het tot ware wedergeboorte gekom? Is die Lewe van God teenwoordig binne jou? Jy sal dit weet, want jy sal dit voel! As die Lewe van God teenwoordig is in jou, sal jy baie tyd WIL spandeer in die geselskap van Abba Vader, om met Hom te gesels, nie om versoeke aan Hom te rig nie. Maar soveel mense dink die tyd wat hulle afstaan om kerk toe te gaan, is genoeg tyd wat hulle afstaan aan God… Hulle is der waarheid besig met godsdiens wat niks met God te doen het nie, hulle is deel van die sekte van die vals profete wat Baäl aanbid, maar hom ook god noem. Is dit wat in ons land aangaan nie ’n teken daarvan nie? Die kerke is op hulle knieë, die vals profete is in groot groepe op hulle knieë en aanbid en smeek God vir reën, vir voorspoed, maar gebeur daar iets? Verander iets in SA? Daar het ook niks gebeur toe die Baälprofete hulle vals god aangeroep het nie…

Ek is seker tydens die droogte in Elia se tyd het die mense ook groot samekomste gehou en tot hulle god gebid vir reën, maar niks het gebeur nie, want God het vir Elia gesê alleenlik op Sy woord sal dit reën. Hulle het nie tot die ware lewende God gebid nie. Maar in elkgeval, kinders van God aanvaar dat God weet wat Hy doen en probeer Hom nie hied en gebied nie, hulle aanvaar die wil van God.

Dit klink nou so asof ek se dat as ons vir God iets vra en Hy dit nie vir ons gee of doen nie, dan aanbid ons die verkeerde God – al het jy watse goeie verhouding met Abba Vader. Ek probeeer nie hiermee sê dat as ons die ware God aanbid, met Hom verhouding het, Hy dadelik gaan spring en doen wat ons vra nie. Die verskil kom net in by die “vra”…mense is mal oor die Skrif wat se dat ons enigiets in die Naam van Jesus mag vra en dat ons dit sal kry as ons glo… Maar ek dink tog mense vat hierdie Skrif ’n titseltjie te ver. God ken ons harte! Hy sal gee soos Hy weet nodig is. Dit is so ironies dat hoe nader ons aan God beweeg, hoe minder raak ons vrae en versoeke en hoe meer raak ons dankies, hoe meer en makliker begin ons die wil van Abba Vader aanvaar.

Dit is interessant dat nadat Elia die Baälprofete doodgemaak en hulle altare verwoes het, God die hemele toegespan het met wolke en het God reën gestuur vir die land. Miskien moet ons ook net al die Baälprofete van SA aanvat…maar intussen lê ons land in chaos. Wat moet ons doen? Ons kan nie vir God voorskryf wat om te doen nie, ons moet die wil van God aanvaar, ons moet uit ons hart gekonnekteer raak aan God sodat ons eie wil kan sterf en ons die wil van God sal aanvaar. Al wat ons verder kan doen, is om te skuil onder die vleuels van die almagtige, lewende Abba Vader.
Met hierdie lering het Abba Vader vir my Psalm 34 gegee, die hoofopskrif is: “Die Here beskerm die gelowige!” Lees gerus die hele psalm.

“Die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s